FERM IN GOD SE GREEP

David Wilkerson (1931-2011)

“Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig julle hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges” (Jakobus 4:8).

Dit is ‘n groot belofte van oorwinning oor alle sonde. Jy kan nie hierdie oorwinning self behaal nie. Jy kan nie jou eie hande reinig of jou eie hart suiwer nie. Jakobus sê in wese, “As jy rein hande en ‘n suiwer hart wil hê – as jy oorwinning wil hê oor skuldgevoelens, versoeking en alle bose vervolgers wat teen jou kom – dan moet jy tot God nader en glo dat Hy by jou is!”

Dit alles hang hiervan af! Nader bloot tot God en glo Hy is by jou. As jy dit doen, sal Hy afreken met al die vyande in jou vlees.

Jy mag vra, “Maar hoe nader ek tot God?” Die antwoord is ‘n eenvoudige, kinderlike ding. Gaan bloot na die Here en praat met Hom – enige tyd, enige plek, die hele dag lank. Op pad werk toe, by die werk, oral. Praat met Hom, nader tot Hom met volle versekering van geloof.

‘n Groot evangelis, die oorlede Kathryn Kuhlman, was gewoond daaraan om sewentien uur van die dag te werk. Ek het dikwels gewonder, “Wanneer het sy ooit tyd om haarself af te sonder in haar binnekamer om te bid?” Toe het ek besef dat dit gelyk het of sy altyd met haarself gepraat het. Sy het gebid! Sy het gebid terwyl sy haar kar bestuur het, terwyl sy in hysbakke gery het, oral waarheen sy gegaan het.

Eendag het sy vir my gesê, “Dawid, die Bybel sê ons moet bid sonder ophou. Ek praat die hele dag lank met die Here. Hy is net so werklik vir my as wat jy is. Ons is vriende.”

Dierbare heilige, God is ook altyd daar vir jou! Ek glo daaraan om in afsondering te bid in die binnekamer, maar jou binnekamer kan op enige plek wees waar jy jouself met Hom afsonder.

Praat met God – oefen jouself in sy nabyheid – en Hy sal groot dinge vir jou doen. Jy sal die greep van sy hand te alle tye ken. Halleluja!