FAAL OM ONS EIE SONDE RAAK TE SIEN

David Wilkerson (1931-2011)

“En een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan. En toe ’n vrou in die stad, wat ’n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ’n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf” (Luke 7:36-38).

Simon, hierdie Fariseër, het ook ‘n sekere groep godsdienstige leiers uitgenooi om by die etenstafel aan te sluit. Dit was duidelik ‘n godsdienstige vergadering, bestaande uit manne wat hulleself beskou het as die heilige manne van hulle geslag. Toe het ‘n “vrou in die stad” die toneel binnegedring en gekniel by die voete van Jesus. Sy het sy stowwerige voete gewas met haar trane en dit afgedroog met haar hare – iets wat geen ordentlike vrou van daardie dae in die publiek sou gedoen het nie. Uiteindelik het sy ‘n albaste fles oopgemaak en parfuum op Jesus te voete uitgegiet.

Die Fariseërs was verontwaardig en het gedink, “Hoe skandalig! As Jesus werklik ‘n profeet van God gestuur was, sou Hy geweet het hierdie vrou was goddeloos en haar gekeer het.” Trouens, die Skrif sê dit was presies wat Simon gedink het (lees Lukas 7:39). Jesus het sy gedagtes gelees en aangekondig, “Simon, Ek het iets om aan jou te sê” (7:40). Jesus het die storie vertel van die twee skuldenaars, een met ‘n groot skuld en een wat minder geskuld het, wat vrylik vergewe was deur hulle krediteur. Toe het die Here Simon se arrogansie, veroordelende gees en gebrek aan deernis uitgewys. “Simon, jy sien die verdorwenheid van jou eie hart nie raak nie. Jy veroordeel hierdie gebroke vrou maar besef nie dat jy net soveel, of selfs meer genade nodig het nie.”

Jesus het die gees van vergifnis en herstel getoon in die Fariseër’s se huis daardie nag toe hy na die vrou gedraai en gesê het, “Jou sondes is vergewe” (7:48). Hy het gekom om die afvalliges, die vriendelose, diegene wat met sonde oorval is te herstel en Hy sê vandag vir ons, “Dit is waaroor My bediening gaan. Laat My jou hart verruim om hartseer, gebroke mense raak te sien sodat jy my genade ook na hulle sal neem.”