EK WIL DIT NIE HOOR NIE

David Wilkerson (1931-2011)

Het jy al ooit gewonder waarom die dissipels so onkundig was oor die weë van Christus en die ewige planne van God? Waarom het hulle, nadat hulle drie jaar onder die geseënde prediking van die Verlosser van die wêreld gesit het, blind en onvoorbereid gebly teenoor die dinge wat sou kom? Waarom was hulle begrip van die kruis en die opstanding so beperk?

Dit was omdat hulle nie met geloof gehoor het nie! Op verskeie geleenthede moes Jesus hulle bestraf: “o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het” (Lukas 24:25).

“Waarom is julle bang, kleingelowiges?” (Matthéüs 8:26). Hulle het min geloof gehad – harte wat stadig was om Sy Woord te glo! En hulle was leeg, onvoorbereid en verward – deur ongeloof verblind agtergelaat!

As Jesus verwonderd was oor die ongeloof van die dissipels gedurende sy tyd op die aarde, wat moet Hy van ons dink vandag? Ninevé het hulle bekeer ná slegs een preek en het elke woord geglo wat Jona verkondig het. Amerika het egter duisende soortgelyke waarskuwings gehoor vanaf talle ware profete, maar menigtes sogenaamde Gees-vervulde gelowiges luister nie na hulle nie! Hulle sê, “Ek wil niks meer hoor nie.” En hulle haal dit alles uit hulle gedagtes uit!

Hoeveel van dit wat jy gehoor het, onthou jy? Hoe diep het jy dit in jou geestelike wese ingewerk? As God se Woord nie ingeneem word deur geloof nie – as ons Hom nie in geloof vra om ons te help om dit te ontvang en te gebruik nie – sal ons op die ou end net kies en keur waarvan ons hou. En gewoonlik kies ons die seëninge, barmhartighede en vertroostinge en skud die eise, tugtigings en waarskuwings af.

Vertroue laat God se Woord sy pad na ons gees werk. En geloof stamp dit vas in ons persoonlikheid en gedagtes in, sodat dit nooit vergeet word nie.