Eer Die Sabbat!

"Jy mag geen las dra op die sabbat nie!"
David Wilkerson

Ek is ‘n outydse prediker wat daarin glo om die sabbat te eer. En een rede agter my oortuiging is dat ek grootgeword het in ‘n prediker se huis, waar die sabbat godsdienstiglik geëer is.

Die sabbat het vir ons begin wanneer ons kinders vroeg op ‘n Sondag oggend wakker geword het vir ‘n vol dag in die kerk. Eers het Sondagoggend kerk gekom, gevolg deur middagete. En na middagete, moes ons almal ‘n middagslapie neem, of ons nou wou of nie. (Soms het dit net te verskriklik gevoel. Ons moes gaan lê terwyl ons vol lewe gevoel het!)

Nadat ons van ons middagslapies af opgestaan het, was ons toegelaat om stil te lees of miskien na christelike musiek te luister. Sondagaand, het ons dan almal weer kerktoe gegaan. En nadat ons huistoe gekom het, het ons reguit bed toe gegaan.

Dit was alles ‘n tipiese sabbat tydens my grootword jare. En elke Sondag, die hele dag lank, mag ons glad nie enigiets lewendig gedoen het, soos bal speel of rond te baljaar nie. Ons was nie eers toegelaat om ‘n skêr te gebruik om papier te sny vir skool nie. Ons ouers het ons die heeltyd herinner, “Dit is die Here se dag en dit is ‘n dag van rus.” En daarom het ons dit heilig gehou.

In daardie dae, was “blou wette” in werking. Dit het beteken geen besighede was toegelaat om op ‘n Sondag handel te dryf nie, behalwe lewensnoodsaaklikes soos hospitale of petrolstasies. Bitter min winkels was oop. Trouens, as ‘n winkeleienaar sy winkel oopgemaak het om een of ander rede, sou mense fluister, “Daardie man het sy godsdiens versaak!” Selfs die flagrantste sondaar het nie eers daaraan gedink om iets op ‘n Sondag te koop nie.

‘n Eeu gelede, het die groot evangelis D.L. Moody ‘n vurig boodskap, wat elke vorm van skending van die sabbat betreur het, verkondig. Moody se preek het verliefdes wat op fietse-gebou-vir-twee rondgery het op Sondagmiddae, veroordeel. Hy het ook beswaar aangeteken teen mense wat koerante gelees het op die sabbat. Hy het selfs hard gepraat teen vroue wat in mooi rokke en deftige hoede geparadeer het op Sondae. Hy het hulle almal gewaarsku: “Julle breek die sabbat. Alles wat julle doen is ‘n saak van trots en arrogansie teenoor God se heilige instelling!”

Vir Christene wat vandag leef, mag dit ekstreem klink. Maar Moody het in werklikheid die diep gevoelens en menings van ‘n menigte van gelowiges van sy dag verwoord. Die sabbat was die Here se dag – en dit was nie bedoel vir plesier of selfbevrediging nie. Dit was ‘n dag om God te aanbid en te rus van alle ander aktiwiteite.

Vandag, is Sondag egter nie meer ‘n heilige dag nie. In teendeel, dit het die grootste inkopie dag van die week geword. Meer geld word op Sondae gespandeer as op enige ander dag. As jy verby enige voorstedelike inkopiesentrum ry op ‘n Sondagmiddag, sal jy die parkeerarea volgeparkeer sien. Blou wette is nou ‘n ding van die verlede.

Sondag het ook ‘n tyd geword vir plesier en vermaak. Mense vul die dag met voetbal, sport, inkopies en pieknieke. En as dit nie hulle ontspanningsaktiwiteit onderbreek nie, sal hulle ‘n uur indruk vir kerk, net om hulle gewetens te sus.

Dit is jammer dat Sondag as die sabbat nie meer iets beteken vir ‘n groot deel van Christene nie. Op enige gegewe Vrydag, kan miljoene gelowiges gesien word waar hulle op pad is na hulle familie wegbreekplek – ‘n hut in die berge, ‘n huis op die platteland of ‘n chalet by die meer. Vir hulle is Sondag een groot dag van genieting – ‘n tyd opsy gesit vir bootry, swem, ski, of om op vaarte of uitstappies te gaan.

Jy mag wonder – is al hierdie aktiwiteite bloot ‘n wegbreek van rigiede wettiesheid? Is dit werklik goed dat ons die sabbat ‘n geestelike viering maak, eerder as net ‘n uiterlike, wettiese gehoorsaamheid? Kan dit selfs ‘n teken van geestelike volwassenheid wees?

In die Ou Testament, het God hierdie heilige dag jaloers beskerm!

Die Here het dwarsdeur die Ou Testament eer aan sy sabbat gegee. In een gedeelte, het Moses gesê, “Kyk, omdat die HERE julle die sabbat gegee het...” (Exodus 16:29). Met ander woorde, die sabbat was bedoel as ‘n gawe van God aan die mens. En dit het ‘n heilige doel gehad.

Jy sien, die woord “sabbat” beteken letterlik, “om op te hou,” of “om dit wat jy doen stop te sit.” En as die vierde gebod ons beveel, “Gedenk die sabbat, dat jy dit heilig” (Exodus 20:8), beskryf dit gehoorsaamheid op hierdie manier:

“Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want is ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Exodus 20:9-11).

Vir die antieke Israeliet, het “sabbat” beteken om op te hou met feitlik alle aksies. In Numeri 15, lees ons egter dat ‘n sekere Israeliet hierdie gebod ligtelik opgeneem het. Hy was buite die kamp gevang waar hy brandhout opgetel het op die sabbat.

Toe die mense hom na Moses gebring het, was Israel se leier egter nie seker hoe om hierdie man te straf nie. Elke Israeliet het geweet dat God sy volk beveel het om die sabbat heilig te hou. Maar daar was geen duidelike riglyn oor hoe om iemand wat daardie gebod oortree het, te straf nie.

Terwyl Moses gewonder het wat om te doen, het die Here vir hom ‘n verstommende woord gegee: “Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer stenig” (Numeri 15:35).

Agnostici het hierdie gedeelte gebruik om die geregtigheid van God te bespot. Hulle sê, “Dit is ‘n duidelik beeld van presies hoe wreed God is. Hy sou iemand dood stenig net omdat hy stokkies opgetel het op die sabbat!”

Nee! Dit is ‘n verdraaiing van hierdie gedeelte se betekenis. God het in werklikheid vir sy volk geleer dat sy wette regverdig is en dat dit altyd die mens se beste belange op die hart dra. God het in wese gesê, “Ek gee vir jou die beginsels om die laste van die lewe van jou af te haal. Maar as jy aanhou om hierdie beginsels te verbreek, sal jy uitbrand. En uiteindelik sal jy die karakter van jou samelewing afbreek!”

God se woord maak dit baie duidelik dat die sabbatsgebod ‘n ewige verbond was, om nooit te breek nie: “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond” (Exodus 31:16).

Jy mag dink, “Maar dit klink asof ons veronderstel is om terug te keer na wettiese viering van die sabbat. Het Jesus nie gesê die sabbat was vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbat nie? En het Hy en sy dissipels nie ‘gewerk’ op die Sondag waar hulle in die lande graan opgetel het om te eet nie?”

Dit is waar – Jesus het geëet, gereis en selfs gesond gemaak op die sabbat. Die Fariseërs se grootste beskuldiging teen Hom was dat Hy ‘n “sabbatskender” was.

Ek moet egter erken – ek het steeds groot respek vir die sabbat as ‘n dag van voorskriftelike rus. Vir my, is Sondag steeds ‘n heilige dag. En ek glo God eer diegene wat die dag vir Hom gee om dit heilig te hou.

Ek is nie van plan om in ‘n bespreking in te gaan oor Saterdag wat die eintlike sabbat is nie, omdat dit wettiglik die sewende dag van die week is. Dit is eenvoudig, die rede waarom Christene die Sondag as sabbat vier, is omdat dit die dag was waarop Jesus opgestaan het.

(Lukas bevestig die Sondag as die sabbat onder die vroeë Christene: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek...” [Handelinge 20:7]. Ook stel Paulus dit in Eerste Korinthiërs 16:2 dat gelowiges op die eerste dag van die week bymekaargekom het.)

Nadat ek dit alles gesê het, wat beteken dit om die sabbat te heilig? Wat vereis God van ons om hierdie vierde gebod te onderhou? As dit nie net ‘n saak van wettiese gehoorsaamheid is nie en dit eerder ‘n geestelike viering is, wat moet ons dan doen?

In die tyd van die Ou Testament Profete, het sabbatskending te doen gehad met laste dra.

Elke sabbat het lang rye diere – muile, donkies, kamele – in en uit Jerusalem geparadeer en die handelsware vir die doel van handeldrywe gedra. Hierdie praktyk was so algemeen dat die sabbat gou geïdentifiseer was met laste dra.

God se profete se harte was gebroke ter aanskoue hiervan: Hordes kopers en verkopers, wat hulle swaarbelaaide diere aangekeer het, het gekom en gegaan met algehele minagting van God se gebod. Stadsbewoners het hulle huise verlaat om te gaan inkopies doen, dan huistoe gekom terwyl hulle swaar laste op hulle rûe gedra het. En plattelandse mense het die stadspoorte binnegegaan en al hulle handewerk en goedere na die mark gebring. Al God se kinders het swaar laste op die Here se sabbat gedra!

Terwyl Jeremia hierdie toneel aanskou het een sabbat, het die Gees van God hom kragtig aangeraak. En, skielik, het die profeet alle verkeer met ‘n harde roep tot stilstand gebring:

“So spreek die HERE: Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die sabbatdag en dit inbring deur die poorte van Jerusalem nie. Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het” (Jeremia 17:21-22).

Ek stel my voor ‘n groot verkeersknoop, met lang rye muile en donkies wat bulk, terwyl Jeremia geprofeteer het: “Dit is die sabbat – en volgens God se woord, word julle nie toegelaat om ‘n las te dra nie. Julle kan niks na of van julle huise neem sonder om te wet te breek nie. Dit is ‘n heilige dag – en julle sondig!”

Geliefde, soos alle Ou Testament stories, verskaf hierdie een ‘n les vir ons in hierdie laaste dae. Trouens, ek glo dit bevat ‘n lewensveranderende boodskap vir ons, as ons oë het om te sien en ore het om dit te hoor.

Hier is was ek glo God wil vir ons sê oor hierdie heilige sabbat:

As die Skrif sê God het gerus op die sewende dag, het dit niks daarmee te doen gehad dat Hy moeg geword het nie!

“Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie...” (Jesaja 40:28).

Die Bybel maak dit baie duidelik: God slaap nooit nie. Die Skrif sê sy arm is nooit te kort om te help en sy ore is nooit toe vir ons hulpgeroep nie. So, as Génesis sê God het “gerus,” beteken dit nie dat Hy bloot teruggesit het en vier-en-twinting uur afgevat het omdat Hy moeg was nie.

Soos voorheen genoem, beteken “sabbat” om “op te hou” of “klaar te maak.” Ek glo dat hoewel die Here sy skepping ten volle in plek gehad het na ses dae, kon Hy nie rus nie – omdat sy werk nie werklik klaar was nie. Ja, Hy kon sy wonderlike skepping aanskou – die son, die planete, die aarde en sy maan, die sterre, die sonnestelsels, sowel as die lewende beeld van Homself, die mens. Maar God kon steeds nie sê, “Dit is goed” nie. Waarom nie?

God se skepping – so volmaak as wat dit was – kon in werklikheid steeds misluk. En dit is omdat die mens in die middelpunt van alles was – ‘n skepsel gemaak om in onskuld en heerlikheid te leef, maar wat ook die potensiaal gehad het om uit sy eie vrye wil te sondig. Eenvoudig gestel, die mens het die vermoë gehad om God se werk te ruïneer.

Daarom kon die Here nie rus nie, totdat Hy ‘n plan gemaak het om sy skepping te red, sou dit misluk. Hy het geweet dat as die mens sou misluk, deur te sondig as gevolg van sy eie vrye wil, sou hy nie in staat wees om die swaar las van sy sonde te dra nie; hy sou eenvoudig van wanhoop ineenstort. En so, in sy volmaakte voorkennis, het God ‘n plan van verlossing bedink – die sluisteen van sy skeppingswerk.

Hier was die plan: As die eerste Adam misluk het, sou God ‘n tweede Adam voortbring – sy eie Seun. En Hy sou Hom beklee met sy eie krag oor die skepping. God kon sê, “Niks kan nou my skepping vernietig nie! Wanneer mans en vroue belas raak het met hulle eie sonde, sou hulle nie die las hoef te dra nie – omdat ek vir hulle ‘n Lasdraer sou gee!”

Daarom was Jesus uit die Vader gebore – om elke las wat op die mensdom gelaai is te dra. Trouens, Dawid het die Here as die Lasdraer van die hele mensdom gesien: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). En Dawid het sy eie behoefte vir ‘n lasdraer erken: “Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ‘n swaar pak het hulle vir my te swaar geword” (Psalm 38:4).

Nee, Jesus se koms na die aarde was nie ‘n nagedagte nie. Hy was van die begin af uit die Vader gebore as die sluitsteen van die hele skepping. En op daardie punt, het God – soos ‘n argitek wat die laaste lyn getrek het op sy projek – sy werk beskou en toe daarvan af teruggetree. Dit was uiteindelik klaar. Nou kon Hy rus van sy skepping!

Dit is waarom Jesus by die kruis uitgeroep het, “Dit is volbring!” Hy het in wese gesê, “Vader, die verlossende plan wat U uitgelê het toe U die mens aanvanklik geskep het, is volbring. Alles is nou volmaak!”

God het gerus die oomblik toe Hy die dag van genade ingestel het – dit is, Christus se dag – as die sewende dag van sy skepping. Trouens, die ses dae voor dit, was tye van werke – en verteenwoordig die hele geskiedenis voor die kruis. Maar vandag is die dag van geloof. En sedert die tyd van Christus se opstanding, leef ons in God se rusdag – die heilige sabbat!

As God van rus praat, sluit dit fisieke rus in. Maar die Here se heilige rus begin in die siel: “Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:9). Wat is hierdie rus? Dit is om al ons sondelaste op Christus te werp!

Jesus self het gesê, “Kom na My toe, almal wat vemoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matthéüs 11:28). Hy sê in wese, “Deur geloof moet julle in die Vader se sabbatsrus ingaan. Julle moet weier om langer julle laste na en van julle huise te dra en dit eerder alles op My werp. Ek is die Here van die sabbat. Ek is die enigste Een wat jou laste kan dra!”

Ek vra vir jou – waarom weier soveel mense Christus se aanbod? Ek glo dat as Jeremia vandag geleef het, sou hy verstom gewees het oor al die Christene wat aanhou om hulle eie laste van sonde en stryd met versoeking te dra. Hy sou waarskynlik uitgeroep het:

“Waarom dra julle al hierdie laste op so ‘n glorieryke Sondag? Het Jesus nie vir julle gesê soos wat ek vir Israel gesê het nie, ‘Jy mag geen laste in jou huis inbring nie’? So, waarom gaan julle voort om so ‘n las rond te dra? Julle mag geen las op die sabbat dra nie – want dit is ‘n heilige dag vir die Here!”

Die punt is hier, dat die sabbat beteken dat ons veronderstel is om op te hou met ons eie werk – ons strewinge in menslike krag – om God se verlossing te verdien: “Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het” (Jeremia 17:22).

Hier is die geheim van hoe ons die sabbat moet heilig: Ons moet al ons laste oorgee aan Jesus en vertrou op sy Heilige Gees om vir ons krag te gee om te lewe. Dit is reg – ons eer die sabbat deur alle eie pogings af te lê om te probeer om ons weg te vind deur sonde en versoeking.

Dit is ‘n gebod wat ons moet onderhou nie net op Sondag nie – maar elke dag!

Ek glo hierdie hele gedeelte in Jeremia is profeties oor Christus en sy kerk!

“As julle dan aandagtig na My luister, spreek die HERE, om geen las deur die poorte van hierdie stad op die sabbatdag in te bring nie en om die sabbatdag te heilig deur daarop géén werk te doen nie,

“Dan sal deur die poorte van hierdie stad konings en vorste ingaan wat op die troon van Dawid sit, wat op strydwaens en op perde ry, hulle en hulle vorste, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem; en hierdie stad sal vir ewig bewoon word” (Jeremia 17:24-25).

Ons weet Christus is die Seun van Dawid. En ons weet Hy sit as Koning op Dawid se troon. Maar wie is die konings en prinse wat Jeremia hier beskryf – die inwoners van Jerusalem wat op perde en strydwaens ry?

Ons is daardie mense! En hier word vir ons ‘n ontsaglike belofte gegee: Deur al ons laste na die Lasdraer te neem, sal ons in vrede leef vir ewig. Sy plan vir ons is om vry van alle slawerny te lewe!

Trouens, Jesus se opdrag om ons laste op Hom te lê, is nie ‘n opsie nie. Ons moet dit doen as ‘n saak van vertroue in Hom. Slegs wanneer ons Hom sal toelaat om ons laste te dra, sal Hy waarlik Koning en Here van ons lewens wees:

“Maar as julle na My nie luister om die sabbatdag te heilig nie en om geen las te dra of deur die poorte van Jerusalem op die sabbatdag in te gaan nie, sal Ek ‘n vuur in sy poorte aansteek, wat die paleise van Jersusalem sal verteer en nie uitgeblus sal word nie” (Jeremia 17:27).

Die profeet sê in wese, “As jy nie God se gebod gehoorsaam om op te hou om jou laste te dra op sy sabbat nie, sal jy op die ou end verteer word daardeur! Jy sal al jou tyd spandeer om oor jou pyn, spanning en smart te praat. ‘n Vuur sal binne-in jou brand en dit sal nie uitgeblus word nie. En op die ou end, sal jy vernietig word – omdat jy jou eie las gedra het!”

Dit is tragies dat dit talle gelowiges beskryf vandag. Sommige kan skaars slaap in die nag, omdat hulle nooit ophou dink aan hulle probleme nie. Hulle draai dinge om en om in hulle gedagtes en wonder, “Wat het ek verkeerd gedoen? En hoe kan ek dit alles regmaak?”

Wanneer hulle wakker word, gaan hulle gedagtes reguit na hulle laste toe. Hulle dink aan een terwyl hulle in die stort staan...dan aan ‘n ander terwyl hulle aantrek...dan aan nog een by die ontbyttafel. Uiteindelik, teen die tyd wat hulle by die voordeur uitstap, is hulle so belas dat hulle nie eers kan glimlag nie. Hulle is soos donkies – swaar belas, het nooit vrede nie en dra hulle laste van plek tot plek.

Baie sulke Christene ken glad nie selfs ‘n uur van rus in Jesus nie. Wat ‘n ongelooflike treurige getuienis! Hulle vertel vir die wêreld dat Christus geen krag het om ons van ons laste te verlos nie!

Om jou laste neer te lê, is glad nie maklik nie.

Jy kan vir jouself sê, “Hier, Here – neem al my bekommernisse en sorge. Ek werp dit alles op U. Ek wil dit nie één dag verder dra nie!”

Dit is egter nie so maklik as wat dit mag klink nie. Om al jou laste neer te lê, verg drastiese optrede. Dit verg ‘n kragtige daad van vasbeslotenheid – en ‘n soort geestelike operasie wat slegs die Heilige Gees kan uitvoer.

Ons sien dit geïllustreer in die boek van Nehemia. Op daardie tydstip, het die Israeliete getrou en ywerig Jerusalem se poorte herbou. Maar toe die deure terug in plek geplaas het, het die mense heeltemal van die sabbatsonderhouding vergeet. Elke week het lang rye swaargelaaide diere deur Jerusalem se poorte na en van die stadsmark gegaan met allerhande soorte handelsware.

Soos Jeremia, was Nehemia kwaad toe hy al hierdie aktiwiteite sien plaasvind het op die sabbat. Hy skryf:

“In dié dae het ek in Juda mense gesien wat op die sabbat die parskuipe trap en vragte koring, op esels gelaai, inbring, en ook wyn, druiwe en vye en allerhande vragte met goed, en dit op die sabbatdag in Jerusalem inbring; en ek het hulle gewaarsku op die dag toe hulle lewensmiddele verkoop het” (Nehemia 13:15).

Die profeet het die mense gewaarsku om al hulle laste neer te lê en God se sabbat te eer. Maar hulle wou nie luister nie. Daarom het Nehemia die graad van sy beswaar verhoog: “En ek het met die edeles van Juda getwis en vir hulle gesê: Watter verkeerde ding is dit wat julle doen dat julle die sabbatdag ontheilig?” (Nehemia 13:17). Hy het in wese gesê, “Ek het hulle bestraf, vir hulle gepreek, hulle gewaarsku. Maar niks het gewerk nie!”

Uiteindelik het Nehemia genoeg gehad. Hy het geweet dat die mense ‘n geestelike operasie nodig gehad het. Daarom het hy drastiese aksie geneem:

“En sodra dit in die poorte van Jerusalem voor die sabbat donker was, het ek gesê dat die deure gesluit moes word; en ek het gesê dat hulle dit nie mag oopmaak tot ná die sabbat nie, en van my mense het ek by die poorte aangestel: geen vrag het op die sabbatdag mag inkom nie” (Nehemia 13:19).

Nehemia het wagte by die poorte aangestel. Maar selfs dit het die lasdraende mense nie afgeskrik nie! Hulle het die hele nag lank gekampeer en hulle laste rondgedra, terwyl hulle gewag het vir die poorte om oop te gaan: “Toe het die koopmans en handelaars in allerhande koopware ‘n paar keer buitekant Jerusalem vernag” (Nehemia 13:20).

Geliefde, jou laste sal altyd buitekant jou gedagtes kampeer – en wag vir ‘n geleentheid om weer binne te kom. Jy mag hulle moontlik neerlê in die nag. Maar in die oggend, sal hulle weer daar wees – dieselfde ou bekommernisse en sorge – en vir jou wag om hulle weer op te neem. Geen preek kan hulle uitjaag nie en geen waarskuwing kan hulle uitdryf nie.

So, wat het Nehemia gedoen om al die lasdraery stop te sit? Hy sê, “Maar ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: Waarom vernag julle voor die muur? As julle dit weer doen, sal ek die hand aan julle slaan. Van dié tyd af het hulle nie meer op die sabbat gekom nie” (Nehemia 13:21).

Toe Nehemia by die einde van sy geduld gekom het, het hy met geweld gedreig. En, geliefde, dit is wat ons moet doen om al die laste buite die poorte van ons gedagtes te hou! Net soos die profeet, moet ons vanuit ons siele roep, “Dit is nie God se weg nie! Ek leef in die dag van sabbatsrus – maar my siel is alles behalwe met rus. Al my sorge en bekommernisse kom en gaan soos hulle wil. Ek moet heerskappy oor hierdie laste neem, ten alle koste!”

Soos Nehemia, moet ons met ons sorge en bekommernis praat – en hulle direk aanspreek, in God se taal: “Julle kan my nie meer uitput nie – omdat ek ‘n Lasdraer het! Jesus het belowe om alles van my af te haal. En ek dryf julle nou uit, in sy kosbare Naam!

“Ek sluit die poorte van my verstand vir julle. Julle het nie meer toegang nie. En as julle probeer terugkom om my te teister, sal ek julle almal vasbind en julle in die buitenste duisternis werp!”

Die Skrif sê, “...hulle [het] nie meer op die sabbat gekom nie” (Nehemia 13:21). Geliefde, as ons getrou bly om ons laste af te gooi, sal hulle “nie meer op die sabbat kom nie.” En dit sal genoeg bewys wees dat ons waarlik vry van alle laste leef!

Toe het Nehemia gesê, “...dat die deur gesluit moes word; en...dat dit nie mag oopgaan tot ná die sabbat nie...” (Nehemia 13:19). Wat beteken hierdie frase – “ná die sabbat”? Dit beteken “hemel” – ons uiteindelike tuiste! Jy sien, God se sabbat roep ons om ons dae vry van vrees, bekommernis en angs te leef – om in die Gees te wandel, met geen swaar laste nie – totdat Jesus kom en ons huistoe neem!

Ek vra vir jou – onderhou jy tans die sabbat in jou lewe? Of breek jy die sabbat? Geliefde, jy het in der waarheid geen reg meer om een enkele las te dra nie.

Bid nou saam met my: “Jesus, deur geloof druk ek al hierdie bekommernisse en laste uit my gedagtes uit. Ek sal hulle nie langer duld nie. Hier, Here – neem my finansiële las, my bedroefde hart, my fisieke pyn, my versoeking. Dit is alles U s’n. Dit is die dag van u sabbat – en ek sal U gebod eerbiedig!”