Eenheid in Christus Nastreef

David Wilkerson (1931-2011)

“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal” (2 Korinthiërs 13:13). Hierdie bekende vers word dikwels as ‘n seën in kerkdienste gebruik, maar dit is meer as ‘n seën. Dit is Paulus se opsomming van alles wat hy die Korinthiërs oor God se liefde geleer het.

1. Die genade van Jesus Christus
Paulus sê genade “leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:12). Om heilige en rein lewens te kan lei, het ons die Heilige Gees nodig om ons siele te verlig met die grondwaarheid van hierdie leer. Dank die Here, Hy beoordeel ons nie volgens ons toestand nie. In plaas daarvan, beoordeel hy ons volgens ons posisie. Jy sien, hoewel ons swak en sondig is, het ons ons harte aan Jesus gegee, en deur die geloof het die Vader ons by Christus in die hemele laat sit.

2. Die liefde van God
“Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Korinthiërs 13: 4-8). Hoewel dit dikwels geïnterpreteer word dat hierdie verse oor gelowiges gaan, is dit God se liefde wat nooit teleurstel nie! Sy liefde is ‘n liefde wat onvoorwaardelik is en nooit moed opgee nie. Die liefde van die almagtige God is onbeskryflik.

3. Die gemeenskap van die Heilige Gees
Die Griekse frase wat Paulus gebruik, word vertaal as “die gemeenskap van die Heilige Gees.” Aanvanklik het die Korinthiërs niks van so ‘n gemeenskap geweet nie, omdat die kerk vol individualisme was. Paulus het selfs van hulle gesê: “Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus” (1 Korinthiërs 1:12). Hulle het hul geestelike gawes gebruik om net hulself te bedien. Die diepste werk van die Heilige Gees handel egter oor meer as geestelike gawes. Hy poog om gemeenskap met God se kinders te vestig deur sy verenigende krag.

Die maatstaf van Christus se genade en die liefde van God in jou lewe word bepaal deur jou bereidwilligheid om in volle eenheid en eengesindheid met die hele liggaam van Christus te wees. Wat beteken dit om eenheid en eengesindheid te hê? Dit beteken om alle jaloesie en mededinging te laat vaar en jouself nie langer met ‘n ander te vergelyk nie. In plaas daarvan, is almal bly as ‘n broer of suster geseën word. En almal is gretig om te gee eerder as om te neem. Slegs hierdie soort gemeenskap openbaar waarlik Christus se genade en God se liefde.

Tags