DUISTERNIS RETIREER NIE SONDER ‘N GEVEG NIE

Carter Conlon

Wanneer God ook al op die punt is om iets deurslaggewends te doen, sal sy kinders onvermydelik teenstand beleef. Die apostel Petrus het dit op hierdie manier gesê: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13).

Petrus het in wese vir die mense van daardie tyd gesê, “Moenie dink dit is vreemd wanneer ons teen opposisie moet stry as ons ten doel het om goddelikheid in ons land te herwin nie.” Net so, as ek en jy bid vir ‘n ontwaking in ons stede en in ons platteland, moet ons gereed wees vir die feit dat die duisternis eenvoudig nie sonder ‘n geveg sal retireer nie.

Die boek Exodus vertel vir ons van die tyd toe die Israeliete naby was om uit die hand van die Egiptenaars verlos te word. ‘n Nuwe koning, wat Josef nie geken het nie, het aan bewind gekom en baie onderdrukkend geword. Hy het vir die volk gesê, “Ons sal vir julle sê wat julle kan bou, en julle moet dit bou volgens ons spesifikasies. Julle kan na julle huis van aanbidding gaan, maar julle moet op ons manier aanbid. Julle sal die knie buig voor ons wil, en as julle weier, gaan dit julle kos!” (sien Exodus 1:8-11).

Dit is baie soortgelyk aan die opposisie wat ek en jy tans beleef en in ‘n groter mate sal beleef in die dae wat kom. Die vryhede wat ons ken, is nou in gedrang; wette gaan binnekort verander ten kwade. Die dreigemente het die potensiaal om die Kerk van Jesus Christus te keer om die krag te besef wat sy werklik het.

Laat ons God glo om ons opnuut te vul met Sy Heilige Gees sodat ons nie sal buig voor enige dreigement van die bose nie. Soos die Here ons in staat stel om te staan en Sy Woord met vrymoedigheid te spreek, sal ons vind dat ons getuienis nie uit onsself sal wees nie, maar uit God en Sy groot krag binne-in ons!

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.