Dit is Oestyd

David Wilkerson

“En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Matthéüs 9:36–38).

Jesus het verklaar, “Die lande is gereed en die oes is groot. Dit is tyd om te begin insamel.” Op daardie oomblik het die groot, laaste geestelike oes begin. Dit het begin as ‘n oes tussen die Jode en die Heidene van Jesus se generasie. En dieselfde oes gaan aanhou totdat Christus terugkom.

Terwyl ek hierdie gedeelte lees, wonder ek: wat het Jesus in sy tyd gesien wat veroorsaak het dat Hy gesê het, “Die oes is gereed, daarom is dit nou die tyd om te begin insamel’? Het Hy ‘n geestelike ontwaking in Israel gesien? Was daar herlewing in die sinagoges? Het priesters teruggekeer na God? Was daar skrifgeleerdes en Fariseërs wat onder sondebesef gekom het? Watter bewyse was daar dat die oes gereed was?

Die Evangelies openbaar nie veel bewyse van enige geestelike beweging na God toe nie. Dit was die teenoorgestelde. Jesus was in die sinagoges gespot. Die nasie se geestelike leiers het Hom verwerp en sy integriteit en Godheid bevraagteken. Een godsdienstige skare het probeer om Hom van ‘n krans af te gooi. En Christus self het Israel se stede verwyt omdat hulle nie hulself bekeer het op sy boodskap nie: “Wee jou, Górasin! Wee jou Betsáida! Wee jou Tirus en Sidon! Wee jou Kapérnaüm!”

Wat die menigtes betref, hulle was gewikkel in chaotiese wanhoop. Die Skrif vertel vir ons, “En toe Hy die skare sien...omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.” Hier was ‘n samelewing wat bang, gespanne en depressief was. Die mense het wild rondgehardloop soos verstrooide skape, soekend na hulp waar hulle dit ookal kon vind. Tog was dit op hierdie punt van groot ontsteltenis wat Christus verklaar, “Die lande is gereed en die oes is groot.”

Dink jy Jesus se woorde oor ‘n ryp oes is vandag van toepassing? Waar sien ons die bewyse dat die lande wit is en gereed is om geoes te word? Bekeer die nasies hulle? Is daar ‘n groot beroerings in ons samelewing? En ontwaak die georganiseerde kerk? Smag godsdienstige leiers na herlewing en soek hulle Christus opnuut? Is daar ‘n uitroep vir heiligheid in hierdie generasie?

Met ‘n paar uitsonderings, sien ek nie sulke dinge gebeur nie. Tog is dit nie een van hierdie dinge wat Jesus in sy tyd aangeraak het nie. Hy was eerder aangeraak deur die jammerlike toestand wat hy oral gesien het. Oral waar Hy gekyk het, was mense oorweldig deur angs.

In werklikheid, terwyl Christus oor Jerusalem uitgekyk het, het Hy geween. Sy trane was oor die hardheid en geestelike blindheid wat Hy gesien het. Hier was ‘n volk op pad na oordeel, met geen vrede nie, met vrees en depressie. En Hy het oor hierdie toneel geprofeteer, “Jou huis sal woes en verlate word.”

Jesus gee ons in werklikheid ‘n beeld van hoe die laaste dae sal lyk. Hierdie tydperk het met sy opvaarding begin en dit sal slegs eindig wanneer Hy weer kom. Ons kom nou baie naby aan daardie tyd. En Jesus het dit aan sy dissipels beskryf toe hulle Hom gevra het na watter tekens hulle moet kyk. Hulle wou die toestand van sake weet, want die laaste dae het nader gekom.

Christus het geantwoord deur te praat van hongersnode, aardbewings, vervolging en verdeelde nasies. Valse profete en valse christusse sou baie mislei en menigtes laat afdwaal. Gelowiges sou gehaat word vir selfs die noem van Christus se naam. En die liefde van baie sou koud word, met sommige wat afvallig raak weens die gure toename van sonde en wetteloosheid.

“En daar sal tekens wees aan die son en maan en sterre, en op die aarde beboudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:25–26). Kortliks, Jesus beskryf hier die mees anstige, depressiewe, gespanne generasie van alle tye.

So, word sy profesieë nou vervul, voor ons oë? Dink daaraan: hierdie geslag is vol angs en bekommernis. Menigtes is vreesbevange as hulle ongelooflike rampe sien gebeur: orkane, aardbewings, tsunami’s, modderstortings en tornado’s. Nasies bewe van vrees oor die groot bedreiging van terrorisme. En hartversaking is die nommer een oorsaak van sterftes in die wêreld vandag.

Valse godsdienste, valse profete en valse christusse laat baie mense dwaal. Miljoene wend hulle tot Islam met nasie vir nasie wat deur Islamiete geïnfiltreer word. Jy moet in algehele onkenning wees as jy nie sien dat alles op hierdie oomblik geskud word nie.

Te midde van al hierdie omwentelinge en onrus, hoor ek Jesus se woorde: “Die lande is wit. Die oes is groot.” Ek is oortuig Hy vertel vir sy kerk, “Mense is gereed om te hoor. Dit is die tyd om vir ‘n oes te glo. Nou is die tyd vir jou om te begin insamel.”

Christus is die Here van die oes. En as Hy verklaar dat die oes gereed is, moet ons glo dat dit is. Dit maak nie saak hoe goddeloos hierdie geslag geword het nie. Dit maak nie saak hoe magtig Satan skynbaar geword het nie. Ons Here sê vir ons, “Hou op om op die probleme rondom jou te fokus. In plaas daarvan, kyk op. Dit is nou vir jou tyd om te sien dat die oes gereed is.”

Christus het geweet dat in tye van benoudheid en teenspoed, mense geforseer word om die ewigheid te konfronteer. Lyding, vrees en swaarkry maak mense gereed om die evangelie te hoor en te ontvang. Beskou die konteks van sy woorde: “En toe Hy die skare sien...omdat hulle moeg en uitgeput was…toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot” (Matthéüs 9:36–37, kursief myne).

Hierdie waarheid word regdeur die geskiedenis van God se volk gedemonstreer. Moses het sy geslag berispe en gesê, “God het julle gelei. Hy het julle getalle laat groei. En Hy het julle grootliks geseën en vir julle groen velde, heuning, botter, melk, skape, olie en vrugte gegee. Maar julle het ryk geword en gerebelleer. Julle het die Rots van julle heil geminag en Hom verlaat.”

“Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop – jy het vet geword, dik geword, spekvet geword – en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag” (Deuteronómium 32:15).

Die Skrif vertel vir ons dat Israel hierna verneder is. Tog, in hulle benoudheid, het hulle na die Here geroep en Hy het hulle verlos: “Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hulle angste het Hy hulle gered” (Psalm 107:6, kursief myne).

Dink ook aan Dawid se getuienis: “Bande van die dood het my omring, en strome van onheil het my oorval. Bande van die dodery was rondom my; strikke van die dood het my teëgekom. Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp: Hy het my stem uit sy paleis gehoor. En my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom” (Psalm 18:5–7, kursief myne).

Probleme, benoudheid en radeloosheid het nog altyd geboorte gegee aan ‘n hulpgeroep. Dit was die patroon deur die eeue heen. Jy onthou seker wat gebeur het toe die “twin towers” in New York geval het: kerke was gepak. Gebedsbyeenkomste was in Yankee Stadion gehou. Kongresleiers het op die stoepe van die Capitol in Washington bymekaargekom in gebed en sang, “God Seën Amerika.”

Vir ‘n tydperk was God die onderwerp van gesprek in die nasie. Vrees en angs het mense daaraan laat dink om die waarheid te vind. En dit som die wet van die oes op: HOE DONKERDER DIE DAE, HOE WITTER IS DIE OES.

In Indonesië en Sri Lanka, het radikale Islamiete geweier om enige buitestanders in hulle gebied toe te laat. Maar na die tsunami ramp, het baie hulle deure oopgemaak vir Christen hulpverleners. Waarom? God het velde gesien wat wit was en gereed was om te oes.

In werklikheid is geen land geslote vir Christus nie. En geen godsdienstige mag op aarde kan die oes keer nie. Dit is hoekom Jesus vir ons vertel om nie te vrees nie, selfs nie deur berge wat in die see mag val nie.

Dink aan die rampspoedige gebeure van die onlangse wêreld geskiedenis. Die Kommuniste in Rusland het gedink hulle het God uit hulle land verwyder. Maar Jesus het vir hulle gesê, “Al wat julle gedoen het, was om te help om die oes gereed te maak.” Christus se boodskap is lewendig en dit gaan goed daarmee in Rusland vandag.

Sjina het ook probeer om God te verbied, net om ‘n oes van miljoene gelowiges gereed te maak. Onlangs het die Ukraïne uit korrupte hande gekom en word gelei deur ‘n man wat van Christus praat. Die New York Times noem Belarus nou die mees Kommunistiese-gedomineerde nasie op die aarde, maar Christene daar bid dat hulle land volgende is. God sien al hiedie lande as gereed vir die oes!

Toe Moses vir Farao vertel het, “Laat my mense gaan,” was dit omdat God die oestyd aangekondig het. Die oomblik het gekom vir Israel se verlossing uit slawerny.

Maar Farao het gereageer, “Wie is die HERE na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die HERE nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie” (Exodus 5:2). Farao verteenwoordig Satan se demoniese stelsel, insluitende vals godsdienste en verdrukking wat mense in slawerny hou.

Voor Israel verlos kon word, moes die kragte van die duisternis geskud word. Daarom het God Egipte met nege natuurlike rampe getref. Daardie nege rampe het egter net Farao se hart verhard.

Op die ou end het daar ‘n ramp so verwoestend gekom dat almal in Egipte — van die heersers tot die gewone burgers — geweet het dit was nie net die natuur wat buite beheer was nie. Dit was God wat gepraat het. Die Here het ‘n engel van die dood gestuur. En in een nag, het die oudste seun in elke Egiptiese familie gesterf. Farao se seun was by hulle ingesluit. Net die volgende dag het Israel uit Egipte geparadeer. Dit was die oes wat net voor die oordeel gekom het.

Eeue later, toe Jesus aangekondig het dat die oes in Jerusalem gereed was, het Hy geweet dat oordeel op pad was. Jare later, sou Titus en sy leër die stad binne val en 1.2 miljoen mense sou doodgemaak word. Baie mense sou aan kruise gehang word en die stad self sou tot op die grond afgebrand word.

Dit is waarom Jesus sy geslag gewaarsku het, “Julle sê daar is vier maande voor die oes. Maar ek sê vir julle, die oes moet nou begin. Julle moet die wil van God eerste stel. Ek gee julle opdrag om nou my werk te voltooi. Die tyd om te begin oes, is vandag.”

Hoe het Jesus die rampe wat sou kom, beskryf? “Want daar sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matthéüs 24:21). Voor daardie verdrukking kom, sal dit egter tyd wees vir die oes.

Meer as twee dekades gelede, het kerkgroei kenners begin fokus op nuwe metodes om die oes in te samel. Hulle het verklaar, “Die kerk is nie meer relevant vir die moderne samelewing nie. Dit is te tradisioneel, te uit voeling en moet op datum gebring word. Ons moet meer kontemporêr word. Ons kan nie meer bekostig om klein te dink nie.”

So, die 1980s was verklaar as “Die Dekade van die Oes.” En uit hierdie mentaliteit, is die “soeker sensitiewe” mega-kerk beweging gebore. So te sê oornag, het groot kerke regoor die land tot stand begin kom. Baie sodanige kerke het skielik gemeentes gehad met getalle in die duisende of tienduisende. Sommige het groot kampusse, wat winkelsentrums, insluitende restaurante en ander geriewe ingesluit het, gebou.

Wat “eng denke” genoem was, was nou vervang met korporatiewe denke. Die mense se morele waardes was nie meer bevraagteken nie. In plaas daarvan, het die kerk “behoefte gesentreerd” geword en het mense se behoeftes aangespreek soos wat hulle dit in opnames verklaar het.

Aanbiddingsdienste het die nuutste tegnologieë geïnkorporeer, die musiek is kontemporêr gemaak en teatrale uitvoerings is aangebied. Predikers het hulle preke geïllustreer met film uittreksels van die nuutste films, waarvan die meeste R-gegradeer was. Dit het gelyk of die groot oes op pad was.

Maar dit het geblyk dat die “Dekade van Oes” op die verkeerde fondament gebou is. ‘n Prediker genaamd William Chadwick het ‘n kerk, wat op hierdie beginsels gefloreer het, gelei. Maar met verloop van tyd, het om so getalle georiënteerd te wees, hom begin oortuig van sonde. Hy het ‘n boek geskryf getiteld “Stealing Sheep,” waarin hy sekere kommerwekkende statistiek genoem het.

Die mees merkwaardige waarneming was dat daar in tien jaar se tyd, geen noemenswaardige groei onder evangeliese kerke was nie. In plaas daarvan, het mega-kerke meestal bestaan uit mense wat van kleiner kerke oorgekom het. Mense het gekom vir die opwindende nuwe kontemporêre aanbidding en die programme wat vir baby boomers voorsiening gemaak het. Baie van hierdie mense het uit die Pinkster kerke gekom.

Wat sleg was, is dat die mega-kerk beweging ‘n verskriklike effek op kleiner kerke gehad het. Hulle het nie die hulpbronne gehad om te kompeteer met die groot kerke, wat allerhande tierlantyntjies gehad het vir hulle behoefte gesentreerde programme nie. Stadig het die  kleiner kerke se getalle afgeneem en baie moes op die ou end hulle deure sluit.

‘n Onlangse studie deur die gerespekteerde Barna Research Group, wys dat die kerk nie net stagneer het nie, maar dit word erger. Een kommerwekkende feit is dat minder baby boomers die kerk bywoon as ooit tevore. Eenvoudig gestel, die kerkgroei beweging het op die ou einde agteruit gegroei in plaas van vorentoe.

Ten slotte, daar is een statistiek wat my meer skok as enige ander. Dit is dat net ‘n bitter klein aantal Christene ooit ‘n siel vir Christus gewen het. Dit maak Jesus se woorde dat die “arbeiders min” is, van pas.

In elke stad waar ek deesdae reis, vra predikers vir my hoe om ‘n sterk, groeiende kerk te bou. Terwyl ek in hulle stad rondkyk, sien ek arm buurte met bedrukte mense onder slawerny van die sonde. Ek weet dat God belowe het om ons as bedienaars mag te gee, as ons net sal gaan na hierdie naaste oeslande om die siele te wen. Jy kan ‘n groot kerk bou met daardie armes en swakkes wat vrygemaak word van Satan se slawerny.

Jare gelede het ek die oes in die ghetto gereed gevind. Dit het gebeur toe ek gegaan het na die woonbuurtes waar bendeleiers, dwelmverslaafdes, arm weduwees, alkoholiste en prostitute geleef het. Tans is baie van die kragtigste sielewenners wat ek ken, vorige bendelede soos Nicky Cruz. Oral oor die wêreld wen hulle menigtes vir Christus.

Veronderstel dat net voor Jesus opgevaar het — sien Hy die kerk en die oes voor sy terugkoms — en Hy sien ‘n groot wegval. Sy siel is bedroef, omdat Hy afvalligheid sien hoogty vier. In plaas van ‘n wit oes insamel, spandeer sy mense hulle tyd en energie om wêreldse sukses en materiële dinge na te jaag.

Daarom sê Jesus vir die Vader, “Hulle sal nie oes ingesamel kry nie. Al die wit lande lê dormant. Ek gaan ‘n leër engele instuur om die insameling te doen.” Die Vader stem saam en skielik verskyn duisende hemelse wesens, glinsterend met ‘n bonatuurlike skynsel, op die aarde.

Wat ‘n gesig sou dit nie wees nie:  wesens nie van hierdie wêreld nie, in heerlikheid geklee, wat in kerke en in die publiek praat. Jy sien dat daar met hulle onderhoude gevoer word deur verslaggewers in die koerante, op die radio en op TV. Hulle praat van die Kruis, die Opstanding, die Opvaarding, Christus se liefde en ‘n laaste oordeel wat kom. En hulle praat met sulke welsprekendheid en oortuiging dat almal bekoor is. Hulle is soos baie Jona’s wat die wêreld waarsku.

Veronderstel nou dat na ‘n kort tyd, word hierdie glinsterende engele bekoor met die wêreld rondom hulle. Hulle word behep met lekker kos, materiële dinge, rykdom en sekuriteit. En gou begin hulle strewe na sukses, roem en geluk. Kort voor lank word hulle jaloers op mekaar en wys woede, trots, jaloesie en geldgierigheid.

Met ander woorde, hulle word net soos die kerk vandag! Ek vra jou, hoeveel invloed sal hulle op die wêreld hê? Hoe kan hulle verwag om ‘n oes in te samel as hulleself so vasgevang is in wêreldsheid? Hulle getuienis sou gediskwalifiseer word. En hulle sou gedreineer wees van geestelike krag en moedeloos, vreesagtig en wyfelend rondgaan.

Vertel vir my, waarom sou enigiemand my evangelie wou hê as hulle in my ‘n toestand van spanning en vreugdeloosheid sien? Waarom sal hulle my boodskap, “Jesus is genoeg, my alles en my voortdurende voorsiening,” glo as ek altyd vreesagtig en bekommerd is met geen vrede nie?

Niemand sou luister na ‘n woord wat ek sê nie. In plaas daarvan, sal hulle wonder, “Watter verskil maak jou Christus? Dit lyk nie of Hy veel van ‘n geneesheer is as jy die heeltyd in hierdie toestand is nie.”

Geliefde, ons aangesigte tel. Luister na wat Christus van sy bruid sê in die Hooglied van Salomo: “My duif...laat my u gedaante sien, laat my u stem hoor; want u stem is soet, en u gedaante is lieflik” (Hooglied 2:14). Christus sê vir ons, in wese, “Ek wil jou glimlag sien.” Beskryf dit jou aangesig?

Jesus het dit eenvoudig gemaak: “Die oes is gereed, maar die arbeiders is min.” Tog, waarom is daar so min arbeiders? Kerke vandag is volgepak met mense wat daarop aanspraak maak dat Christus hulle lewe is. Miljoene dollars word gespandeer om oral aanbiddingsentrums te bou.

In der waarheid, wanneer ons nie in staat is om siele te wen nie — as ons lewens nie die veranderende krag van die evangelie wat ons preek, weerspieël nie — dan het ons onsself as arbeiders gediskwalifiseer. Ons wandel met Christus moet aan die wêreld bewyse wees dat God se beloftes waar is.

As arbeiders, is ons die oes instrumente in die Here se hande. In Christus se tyd, was hierdie instrumente ‘n sens, ‘n lang, geboë, enkelrand lem met ‘n lang handvatsel. Dit was deur ‘n ystersmid gesmee wat dit eers in die vuur gesit het en daarna op ‘n aambeeld geplaas het, waarna hy dit gehamer en in vorm gebuig het. Dan is die hele proses ‘n paar keer herhaal totdat die snyvlak uiteindelik gevyl is met ‘n rowwe rand.

Die gelykenis is duidelik: God smee arbeiders. Hy hamer nie net die sonde weg nie. En hierdie vormingsproses verklaar waarom die arbeiders min is. Die grootste gedeelte van kerkgangers is soos die duisende vrywilligers wat in die Ou Testament saam met Gideon gegaan het. God het vrees in baie van hulle gesien en geweet dat hulle die vuur, die gehamer en swaar tye nie sou deurstaan nie. En uit die duisende wat Gideon gevolg het, was net driehonderd gekies.

Dieselfde ding gebeur vandag. Diegene wat waarlik geroep is om die oes in te samel, word geroep om die loutering, vormende vure en die voortdurende gehamer te deurstaan. Talle deurstaan dit nie.

Waar het die dissipels hulle bediening begin? Volgens hierdie gedeelte, het Jesus hulle gestuur na die bekommerdes, die armes en diegene wat in sonde, bindinge en lewensbeherende gewoontes vasgevang was.

Ek dink aan die Teen Challenge dwelm en alkohol rehabilitasie bediening met sy 500 sentrums wêreldwyd. En ek dink aan hope ander arbeiders wat na ander lande gegaan het en wonderwerke van verlossing gesien het waar hulle die mees behoeftige, armste en mees duiwelgebonde mense bedien het. Hulle het begin presies waar Jesus opgehou het: tussen die verlore skape, die gebondenes, die gebrokenes, die gevangenes, die melaatses, die blindes, die armes, die treurendes, diegene met ‘n gees van swaarmoedigheid en diegene wat beangs en verward is.

Beskou Paulus se woorde: “Want let op julle roeping, broeders; julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges nie, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korinthiërs 1:26–29).

Liewe heilige, Jesus het geweet wat Hy sou doen in hierdie laaste dae: ‘n generasie wat baie meer as ooit tevore deurtrek is met sonde...spanning en eensaamheid soos nog nooit deur die mens ervaar is nie...finansiële rampe, wydverspreide egskeiding, militante homoseksualiteit en immoraliteit wat selfs die ergste sondaars van dertig jaar terug sou laat bloos.

Dit is waarom Christus arbeiders soek wat onderwerp is aan die vure en vormings. Hy wil mense hê wat voor die wêreld sal staan en verklaar:

“God is met my! Satan kan my nie keer nie. Kyk net na my lewe. Ek is herhaaldelik deur die vuur en herhaaldelik gehamer. Maar ek het deur alles gekom meer as ‘n oorwinnaar deur Christus wat in my leef. Wat ek gepreek het, het vir my gewerk. Ek is ‘n lewende bewys dat Jesus algenoegsaam is!”