DIE WONDERLIKE GOEDERTIERENHEID VAN DIE VADER

David Wilkerson (1931-2011)

Christene wat ernstig is oor hulle wandel met God, het ‘n diepe begeerte om hulle hemelse Vader beter te leer ken. Die Skrif stel dit eenvoudig, “Niemand het ooit God gesien nie” (Johannes 1:18). Ons weet dat God ‘n gees is en dat Hy vir ons onsigbaar is, so hoe leer ons die Vader ken? Ek glo deel van Jesus se sending op die aarde was om die hemelse Vader se menslike gesig aan ons te openbaar.

Jesus het vir die dissipels gesê: “As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien” (Johannes 14:7). Hierdie stelling het hulle verwar en Filippus het selfs uitgeblaker, “Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg” (Johannes 14:8).

Jesus het geduldig geantwoord omdat Hy geweet het Filippus se versoek was opreg. “Ek is so lankal by julle, en jy het My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?” (14:9).

Toe het Jesus omgedraai en al die dissipels aangespreek met ‘n heerlike belofte: “In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle” (14:20). Wat ‘n wonderlike gesprek! Jesus het in wese vir hierdie mans gesê, “Kyk na My. Sien julle nie dat Ek God beklee is met menslike vlees nie? Ek is die wese van die Vader – in natuur, in substansie en karakter. Deur My sien julle die aangesig van God.”

‘n Duidelike beeld verskyn: God het sy Seun gestuur om vir ons te wys presies hoe Hy is. So, om God te ken en te sien, moet ons eers Christus ken en sien. Dit is waar dat God twee kante het omdat Hy ‘n God van geregtigheid is, en ons moet gehoorsaam wees aan “vrees die Here en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:7). Maar sy ander kant is goedheid en onvoorwaardelike liefde. Ons sien dit geopenbaar in Jesus se bediening. Alles wat Christus gesê en gedoen het, openbaar vir ons die wonderlike goedertierenheid van die Vader.