DIE WARE VREDE VAN CHRISTUS

David Wilkerson (1931-2011)

“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle” (Johannes 14:27). Hierdie wonderlike woord van Jesus moes die dissipels verstom het. In hulle oë, was dit amper ‘n ongelooflike belofte: Christus se vrede sou húlle vrede word. Hierdie twaalf mans het hulle verwonder aan die vrede wat hulle in Jesus waargeneem het die afgelope drie jaar. Hulle Meester was altyd kalm, nooit bang nie, nooit omgekrap oor omstandighede nie. En nou het Jesus aan hulle presies dieselfde vrede belowe!

Toe het Jesus bygevoeg, “Nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (dieselfde vers). Dit was nie die vrede van ‘n ongevoelige, bedwelmde samelewing nie en ook nie die tydelike vrede van die baie rykes wat probeer om rus en vrede te koop met materiële dinge nie. Nee, dit was die ware vrede van Christus, ‘n vrede wat alle menslike begrip te bowe gaan.

Die tydsberekening van hierdie gawe van vrede was baie belangrik vir die dissipels omdat hulle op die randjie van die grootste beproewing was wat hulle ooit sou beleef. Christus was op die punt om hulle te verlaat en die nuus van sy naderende vertrek het as ‘n groot skok gekom. Hulle het uitgesien na die dag wanneer die Here sy koninkryk op aarde sou vestig en hulle almal heersers sou maak. Nou moes hulle die werklikheid in die oë kyk dat Hy op die punt was om oorgegee te word in die hande van goddelose manne en doodgemaak word.

“Ek sal weer opstaan,” het die Meester hulle verseker, “en die Heilige Gees sal julle lei in alles wat julle sal beleef.” Op daardie punt, was al wat die dissipels gehad het, ‘n belofte van Christus van sy vrede.

Die bediening van die Heilige Gees was nog altyd om Christus aan sy kinders te openbaar. In Johannes 16:14, sê Hy kortliks, “Die Heilige Gees sal julle van My en my weë vertel.” Eenvoudig gestel, sy vrede kom na ons soos die Heilige Gees Christus aan ons openbaar.

Wanneer jy Christus ontvang, ontvang jy ‘n mate van sy Gees en die Gees se werk gaan voort tot op hierdie dag.