DIE VREDE VAN GOD IN SKRIKWEKKENDE TYE

David Wilkerson (1931-2011)

Beskou een van die kragtigste beloftes in God se hele Woord: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Die stroompies van ’n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste. God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek. Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe. Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons… wat die oorloë laat ophou” (Psalm 46:2-8,10).

God se Woord is so kragtig, so onwrikbaar dat Hy vir ons sê, “Jy hoef nooit te vrees nie. Dit maak nie saak of die hele wêreld in onrus gehul is nie. Die aarde mag bewe en berge laat verkrummel en oseane laat rys. Dinge kan in algehele chaos wees, maar weens my Woord, sal jy vrede hê soos ‘n rivier.”

Selfs nou, terwyl ons wêreld in ‘n skrikwekkende tyd is en talle persoonlike probleme en lyding beleef, weerklink Psalm 46 aan God se kinders: “Ek is met jou deur dit alles heen. My kinders sal nie vernietig of wankel nie.”

Probeer wat die Here vir ons sê in hierdie psalm. Ons God is beskikbaar vir ons te enige tyd, dag of nag. Hy is aan ons regterhand, gewillig om met ons te praat en ons te lei en Hy het dit moontlik gemaak deur sy Heilige Gees aan ons te gee om in ons te woon.

Petrus skryf, “Waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur” (2 Petrus 1:4). Bonatuurlike vrede is ‘n deel van God se goddelike natuur en is beskikbaar vir almal wat gehoorsaam is aan sy Woord.