DIE VERSEKERING VAN GOD SE WAAKSAME SORG

David Wilkerson (1931-2011)

Dawid het gebid, “Bewaar my, o God, want by U skuil ek” (Psalm 16:1). Die Hebreeuse woord wat Dawid gebruik vir “bewaar” in hierdie vers, is vol betekenis. Dit sê in wese, “Plaas ‘n heining rondom my, ‘n muur van beskermende dorings. Waak oor my en beskerm my. Let op al my bewegings, al my komme en gane.”

Dawid het vas geglo dat God die regverdiges beskerm. Hierdie geseënde man het verklaar, “Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand. Die sons sal jou bedags nie steek nie, en die maan ook nie by nag nie. Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar” (Psalm 121:4-7). Dieselfde Hebreeuse woorde wat gebruik word in Psalm 16:1 verskyn in hierdie gedeelte. Weereens praat Dawid van God se goddelike heining, die bonatuurlike muur van beskerming. Hy stel ons gerus, “God hou sy oog op jou oral waar jy gaan.”

As jy dit moeilik vind om God se begeerte om jou te beskerm te aanvaar, lees waar Dawid gesê het, “Deur die HERE word die gange van ‘n man bevestig...die HERE ondersteun sy hand” (Psalm 37:23-24).

Selfs Job het in sy lyding getuig van God se bewarende krag. Hierdie man het sy familie, sy besittings, sy gesondheid en sy goeie naam verloor, maar hy het God beskryf as “Mensebewaker” (Job 7:20).

Keer op keer, het ons God Homself bewys as ‘n bewaker van sy kinders. Waarom is die Here so daarop ingestel om ons te bewaar? Ons vind ‘n leidraad in Moses se woorde: “En die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die HERE onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is” (Deuteronómium 6:24). Moses sê God het vir hulle die gebooie gegee om hulle te beskerm en te bewaar vir dieselfde rede waarom God ons wil red en beskerm: sodat sy plan vir ons lewens volbring sal word!