Die Vergete, Verlore Menigtes!

David Wilkerson

In ons tyd het ons gesien hoe rock sterre en musiekgroepe kom en gaan. Jy mag die era’s van  “pyschedelic rock,” “punk rock,” en die meer onlangse “grunge rock” onthou. Nou is daar iets soos “anti-Christ rock.” Miskien het jy gehoor van die nuwe orkes wat hierdie beweging ingelui het. Hulle word genoem Marilyn Manson. Hulle het hulle naam gekry van Marilyn Monroe en die massamoordenaar, Charles Manson. En hulle maak die arena’s en ouditoriums vol dwarsdeur die land!

Marilyn Manson is blatant anti-Christelik. Hulle nuutste plaat is getiteld "Anti-Christ Superstar," en die lirieke is lasterlike aanvalle op ons Here. As deel van hulle verhoogoptrede, skeur hulle Bybels uitmekaar.

Ek besef dat sulke groep soos die gras verdwyn. Self die Beatles – die groep wat eens gesê het hulle is meer populêr as Jesus – het gekom en gegaan. En ek weet Marilyn Manson sal ook verdwyn. ‘n Paar jaar van nou af, sal mense wat hul naam hoor vra, “Marilyn wie?”

Tans is iets egter aan die gebeur onder jongmense in Amerika – en ek voel ‘n dringendheid om dit aan te spreek. ‘n Paar jaar gelede, toe Marilyn Manson in Washington D.C. opgetree het, het een van hulle toerspan se bemanningslede van ‘n muur afgeval en gesterf. Die groep het eenvoudig aangehou speel. Hulle het voortgegaan met die konsert ten spyte van die dood van hulle bemannigslid.

Ek bring dit onder jou aandag om ‘n rede. Ek glo die anti-Chris lirieke van hierdie groep se musiek het die taal van ons jeug geword. Onlangs, het ek met afsku geluister hoe ‘n groep tieners en kleiner kinders godsdiens bespreek het. Binne oomblikke het hulle hul stemme verhef en met vierletterwoorde gevloek: “—God, --Jesus!”

Terwyl ek na hulle gesigte gekyk het, het ek ‘n woedende rebellie, wat ek nog nooit tevore waargeneem het nie, gesien. Uit hulle oë het ‘n haat vir godsdiens geskyn. ‘n Anti-Chris gesindheid het hulle heeltemal oorgeneem!

Vandag vloek jongmense nie meer politici, ouers of die samelewing nie. Hulle rig nie hulle woede teen rasisme, armoede of diskriminasie nie. Ook is dit nie vir hulle genoeg om anti-gesagsorde te wees nie. Nou wend hulle hul woede teen God en Christus!

‘n Paar weke gelede, het ek die koerantfoto gesien van ‘n groep Christen tieners wat betoog het buite ‘n arena waar Marilyn Manson gespeel het. Hierdie dapper groepie gelowiges het plakkate, wat geprotesteer het teen die groep se lasterlike aanvalle teen hulle Here, gedra. Ek dank God sulke jongmense het gekies om op te staan vir Jesus.

Toe ek na na daardie foto gekyk het, het ek ook gedink aan die duisende verlore tieners wat verby daardie klein groepie geloop het – en hulle gespot en uitgejou het terwyl hulle die skouburg binnegegaan, ingeskakel het by die anti-Chris lirieke, Satan verheerlik het en uitgekom het met woede teenoor God. Hierdie tieners word nie meer tevrede gestel deur dagga te rook, crack te snuif, heroïene te spuit of hulle oor te gee aan seks nie. Nou is hulle laaste rebellie om Christus en sy kerk te vloek!

Net ‘n paar blokke van ons kerkgebou af, het ek graffiti gelees wat ek glo ons geslag jongmense kenmerk. Hierdie boodskappe lees, “Moet my nie meer klap nie, Pappie. Moenie my slaan nie. Moenie my doodmaak nie.” ‘n Ander gekrabbelde frase lees, “My pappie het my en my suster, Maria, geslaan. Hy het nie geweet hy het ons seergemaak nie, maar hy het goed gevoel.” Talle van ons jeug in Amerika word geslaan, geklap, en kry letsels hulle hele lewe lank. En nou het hulle ‘n verlore geslag geword!

Ek glo bloedige optogte is vinnig op pad na al die belangrike Amerikaanse stede – en dit sal aan die brand gesteek word deur tieners. Hierdie goddelose geslag wys reeds ‘n woedende vuis na God en gee hulleself oor aan ‘n anti-Chris gees wat uit die hel vrygestel is. Gou sal hulle woed teen welsynsinkortings. Hulle sal besluit om alles met geweld te vat en winkelvensters stukkend slaan en alles in sig verbrand.

Hierdie jongmense is beroof van alle morele konsepte. Hulle word vertel daar is geen God nie – dat niks wat selfs ‘n spoor van godsdiens het, in ons openbare lewe, ons skole, ons howe en ons regering hoort nie. En in die plek van godsdiens, word kondome en die foonnommers van aborsieklinieke aan hulle uitgedeel.

Nou staar ons betaaldag in die gesig. Ons maai die boosheid wat ons samelewing gesaai het. Ons het ‘n geslag grootgemaak wat nie net die kerk afgeskryf het nie, maar wat dit haat met ‘n siedende woede!

Onlangs was ek verstom deur iets anders toe ek met Broadway opgestap het tydens spitstyd.

Terwyl ek na die gesigte van die verbygaande skares gekyk het – mense van alle nasionaliteite en klasse van die lewe – het ‘n gedagte my siel getref soos ‘n donderslag: “Hulle is almal verlore! Amper elke mens wat verbygeloop het, gaan hel toe. Hierdie samelewing is verdoem!”

Ek besef dit mag oorkom as hard of aanmatigend. Jy mag moontlik dink, “Party van daardie verbygangers ken sekerlik die Here. Hull moes die evangelie iewers gehoor het, op een of ander manier.”

Talle in daardie massiewe skare het sekerlik een of ander soort godsdiens beleef of daarmee te doen gehad. Deesdae kan niemand immers deur die TV kanale blaai sonder om Christelike TV te sien nie. Baie van dit wat egter op Christelike TV aangaan, is ‘n gruwel: multimiljoenêr predikers wat vir meer geld smeek; sagte prediking wat geen salwing of krag van oortuiging van sonde het nie. Slegs enkeles op TV bied nou ‘n ware evangelie aan. En, met die gevolg, het min mense vandag ‘n suiwer evangelie gehoor – ‘n oortuigende, sonde-verlossende boodskap!

Jy mag moontlik reageer, “Maar sekere van daardie verbygangers was sekerlik kerkgangers.” Dit is waar. Ek is seker baie van hulle het al kerk toe gegaan, ten minste op Kersfees of Paasfees. Maar vandag is die meeste kerke dood, leweloos en ontbreek hulle die mag om ‘n enkele demoon uit te dryf. Daar is geen ware evangelie in hulle dienste nie – geen Bybelse waarheid om mense vry te maak van sonde nie.

Met elke blok wat ek geloop het, was ek weer en weer getref met die gedagte: “Hulle is verlore. Hulle gaan die ewigheid sonder Jesus deurbring!” Uiteindelik het ek myself probeer troos met die gedagte. “Maar by ons kerk het duisende mense hulself bekeer. Time Square Church is een van die grootste gemeentes in New York Stad – en ons doen groot evangelisasiewerk. Ons bereik sommige van hierdie verlore, hartseer mense.”

Maar steeds is daar iets wat aan my siel knaag. Ek moet voor die Here erken: “O Vader – ek het nie die las wat ek eens gehad het nie! Ek ween nie op die manier toe ek vyf-en-dertig jaar gelede die eerste keer New York toe gekom het nie. Ek is dankbaar vir alles wat U gedoen het binne die vier mure van ons kerk. Maar in my  hart, weet ek, ek het nie dieselfde vuur nie!”

In 1958 het ek en Gwen gewoon in piepklein Philipsburg, Pennsylvania, ‘n dorpie met ‘n bevolking van ongeveer 1,500 mense. In daardie dae, kon ek na die woud naby ons huis stap en vir ure lank ween oor die siele in New York Stad. Ek het ‘n klein groen Chevrolet besit en elke week as ek daarmee stad toe gery het om te bedien, het ek vir die hele drie-uur rit geween. Soms moes ek van die pad af trek, omdat my hart so gebroke was vir die verlorenes. Ek het die enjin afgeskakel, die woud ingestap en op my gesig geval en gehuil.

Nadat ek en Gwen met ons gesin verhuis het na Staten Island, het ek elke dag die veerboot na Brooklyn gery om te bedien – en ek het die hele pad geween. Die ander passasiers het gedink ek was mal. Sommige het selfs aangebied om my te troos en op te beur. Maar ek het geweet ek het die hart van die Here gehad en ek het net nog meer geween en gehuil.

Vandag preek ek in een van die pragtigste teaters in die wêreld, die historiese Mark Hellinger Teater. Ek bring boodskappe aan ‘n honger gemeente, wat van oral oor die tri-staat gebied kom om preke te hoor oor elke moontlike onderwerp in die woord van God. Ek is lief vir die werk van hierdie bediening, en ek dank God dat Hy my toelaat om deel te wees van dit wat Hy in New York Stad doen.

Ek wonder egter hoeveel mense in ons gemeente – en hoeveel lesers op ons poslys – dieselfde voel as ek toe ek met Broadway opgeloop het. Ek moes stop en myself afvra: “Hoe lank is dit sedert jy laas vir die verlorenes geween het? Het jy steeds die Here se las om hulle met die evangelie te bereik?”

Ek vra jou: Is jy in staat om langs jou kollega’s te sit en werk, jou bure te groet en te praat met jou ongeredde familielede – en nooit een keer besorgd te wees oor hulle siele nie? Is jou gedagtes heeltyd gevul met blote oorlewing – om vir jou familie te sorg en jou kinders te beskerm? Is jy nie langer belas, aan die getuig en aan die uitreik na die verlore en sterwende wêreld nie?

Jesus het vir ons gesê sy sending op aarde was om die verlorenes te red!

“Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Lukas 19:10). Christus het gesê, “Ek het om een rede in hierdie wêreld ingekom – om die verlore siele te bereik en te red!” Dit was egter nie nét Jesus se sending nie. Hy het dit ook óns sending gemaak: “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15).

Jesus het hier met ‘n klein groepie gelowiges gepraat – ongeveer 120 mense wat vergader het in die bokamer. En wat ‘n onmoontlike taak het Hy voor hulle gestel! Dink daaraan: In daardie tyd het Rome oor die wêreld geheers. En Hy het sy volgelinge beveel, “Gaan na Rome en sê vir daardie trotse, egosentriese Caesar, daar kan geen koning bo My wees nie. Ek heers oor die hele skepping! Gaan na Athene, waar die heidendom heers en verkondig dat Ek die enigste weg is. Gaan oral heen waar filosofië, antieke godsdienste, valse gode en bygelowe heers – en verkondig my kruis en opstanding.

“Gaan na vreemde nasies, leef tussen die mense en bestudeer hulle tale. Lê hande op die siekes, dryf duiwels uit, verkondig die goeie nuus. Gaan na die setel van Satan en verkondig die krag en oorwinning van die opgestane Verlosser!”

Ons moet erken – Jesus het met gewone, geringe, ongeskoolde mans en vroue gepraat, Hy het die toekoms van sy kerk op hulle skouers geplaas. Daardie klein groepie gelowiges moes oorweldig gewees het. Kan jy jou voorstel die gesprekke wat moontlik plaasgevind het toe hulle Meester opgevaar het na die hemel?

“Het ek Hom reg gehoor? Hoe kan arm, gewone mense soos ons ‘n wêreldwye rewolusie veroorsaak? Ons is platsak – die afskraapsel van die samelewing. Hoe kan enigeen ons met enigiets anders as minagting behandel? Die Romeine slaan ons en maak ons dood. En as hulle ons so behandel terwyl ons hier in Jerusalem is, hoe sal hulle ons behandel as ons in Rome kom en getuig en preek?

“En hoe verwag ons Here dat ons die hele wêreld binnegaan met die evangelie as ons nie eers genoeg geld het om na Jerigo te gaan nie? Hoe moet ons tale leer as ons nie opgelei of toegerus is om dit te doen nie? Verwag Hy regtig van ons om na die heidene in die noordelike nasies te gaan – wilde bendes van Europa wie se leërs plunder en genadeloos doodmaak? Dit is alles onmoontlik!”

Dit was inderdaad ‘n onmoontlike sending. Vandag is ons uitdaging net so skrikwekkend! Die Bybel sê vir ons dat elke volgende geslag slegter en slegter word.  En as ek dink aan antieke Rome, Athene en Ninevé, besef ek dat daardie samelewings nie al die eksotiese, sondige begeertes en versoekings gehad het wat óns geslag trotseer nie. Hulle het nie goddelose televisie, vulgêre films, pornografiese tydskrifte en rekenaarseks nie.

Ons beleef ook ander onmoontlike oormagte: Ons regering probeer God wesenlik verban. Ons media is so liberaal dat dit grens aan goddeloosheid. Wall Street word toenemend gierig vir meer geld. Daar is ‘n vloedgolf van homoseksualiteit. En nou sien ons die opkoms van ‘n geslag wat die Christus, wat ons verkondig, vloek!

Dit is ‘n tyd om te erken dat Amerika verlore is en hel toe gaan!

Toe die apostel Paulus na die afgodiese menigtes in Athene gekyk het, was sy gees ontsteld. Net so, as ek by my woonstelvenster uitkyk elke aand, en kyk na die massas in Manhattan, dan beleef ek wat Paulus gevoel het. Ek sien pragtige geboue – van die middestad se horison af tot by die Statue of Liberty – hulle almal lyk egter soos grafstene! Hulle is vol lopende dooies – menigtes mense wat sterf en hel toe gaan. Ek word gedring om daagliks uit te roep, “Here, ons het U nodig. Ons kan niks doen om hierdie mense te bereik sonder U leiding en krag nie!”

Jesus het geweet van alles wat sy kerk sou beleef vandag. Hy het geweet van al die onmoontlikhede, die oorweldigende teenstand, die talle struikelblokke. En Hy het presies geweet wat met ons samelewing sou gebeur – dat daar ‘n morele grondverskuiwing sou wees, dat die mensdom slegter en slegter sou word en dat ‘n woedende duiwel ‘n rivier uit die hel sou uitspuug teen Christus se kerk.

Ek glo Jesus se woorde aan sy hulpelose dissipels is op ons van toepassing vandag: “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet...bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Lukas 24:49).

Jesus het wesenlik gesê, “As julle in jul eie krag probeer evangeliseer, sal julle misluk binne ‘n kort tydjie. Julle kan niks vir My doen, tensy julle vol van die Heilige Gees is nie!

“Ek ken die stryd en struikelblokke wat julle beleef. En Ek gaan vir julle ‘n krag gee groter as enige in die heelal. Julle sal in staat wees om op te staan teen konings, prinse en regerings. Julle sal mag hê oor demone en owerhede. Maar hierdie krag moet uit die hoogte na julle toe kom! Julle kan dit nie beplan nie, julle kan nie strategieë daarvoor opstel nie, julle kan niks doen om dit laat gebeur nie. Julle moet bloot stil sit en wag. Ek sal my Gees vir julle stuur. Hy sal kom en julle met my krag vul!”

Jesus sou nooit hierdie dissipels uitgestuur het nie, tensy Hy geweet het dat die krag wat aan hulle gegee is, meer as genoeg sou wees om elke behoefte en teëstand aan te spreek. Hy het geweet dat dit dieselfde manne was wat bevrees weggehardloop het toe die soldate Hom gevange geneem het. Hulle was dieselfde mense wat gaan visvang het, omdat hulle te bang was om standpunt in te neem. Hulle was skugter, vreesagtige, ongeskoolde, onopgeleide manne. Jesus het egter geweet dat hierdie manne – wanneer hulle ten volle oorgegee was aan die Heilige Gees –wonderwerke sou doen, duiwels op die vlug sou laat slaan en alle teenstand sou oorwin!

Toe die Gees op die dissipels neergedaal het, het hulle inderdaad vreesloos geword. Toe hulle na die tempel gegaan het om te getuig, het die Heilige Gees hulle woord deurdringed en oortuigend gemaak – soos swaarde wat ‘n  hart deurdring. Hulle het die evangelie met krag en gesag verkondig – omdat hulle Heilige Gees-vuur binne-in hulle gehad het!

Skielik was die skare bang vir hulle. Binne ‘n kort tyd, was ongeveer vyfduisend mense bekeer. En verdere uitstortings het in nabygeleë dorpies, afgeleë stede en selfs onder die heidene plaasgevind.

Die beste deel van hierdie ontsaglike toneel, is dat die kerk al hulle leiding by die Heilige Gees gekry het. Niks het gebeur totdat die dissipels hulleself met die Here afgesonder het en gebid en gevas het nie. Toe hulle dit gedoen het, het die Gees gekom en begin om al hulle optredes te lei.

Iets anders wat baie belangrik is, het egter in hierdie toneel gebeur. Die dissipels moes die evangelie na elke nasie en elke volk toe neem – maar Joodse tradisie het hulle egter verbied om selfs die klere van ‘n heiden aan te raak. Hoe was hulle veronderstel om die goeie nuus te bring vir mense, wat hulle selfs nie eers toegelaat was om mee te assosieer nie? Dit het na ‘n onmoontlike opdrag gelyk. Selfs die Joodse bekeerlinge het aan hierdie vooroordeel vasgehou.

Die wydverspreide verkondiging van die evangelie het egter eers begin toe die Heilige Gees oorgeneem het. Die Gees het Petrus besoek tydens sy daaglikse gebedstyd op ‘n dak: “En weer het die stem vir ‘n tweede keer na hom (Petrus) gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig (onrein) ag nie” (Handelinge 10:15).

Hy het vir Petrus gesê, “Moenie waag om dít wat Ek geheilig en rein gemaak het, onrein te noem nie.  Gaan nou af, omdat daar ‘n paar heidene aan jou deur klop. Ek wil hê jy moet saam met hulle gaan – en aan hulle van Jesus verkondig!”

Die Heilige Gees het die vooroordeel probleem oornag opgelos. Hy het die heidense wêreld oopgemaak vir die evangelie deur bloot met sy volgelinge te praat. Dit was alles duidelike leiding uit die hemel!

Dit staan egter in teenstelling met baie leerstellinge in die kerk vandag. My lewe lank het ek gehoor dat pastore en evangeliste sê, “Die enigste ding wat jy nodig het om na die sendingveld te gaan, is ‘n behoefte. En die behoefte is daar – in Afrika, Asië, Suid Amerika. So, staan op en gaan! Neem die evangelie na die nasies soos Christus beveel.”

Maar ek glo, tensy jy vol van die Heilige Gees is, moet jy nie waag om te gaan nie! As jy nie sy leiding het nie, het jy niks om te bied nie. En wanneer jy ook al optree sonder die Gees se leiding, is die gevolge menslike dwaasheid.

Die kragtige eerste eeuse gelowiges het al hulle marsbevele van die Heilige Gees self ontvang: “En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die  Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan...” (Handelinge 13:2-4).

Hierdie gelowiges het gebid, “Here, na watter stad moet ons gaan? En wanneer? Hoe? Wanneer ons daar aankom, hoe moet ons die mense bereik?” Hulle het nooit opgetree voor hulle eers alleen met God was en gebid en gevas het nie. En die Heilige Gees het hulle geantwoord deur vir hulle duidelike leiding te gee!

Ek vra jou – hoeveel te meer het ons nie die Gees se leiding nodig vandag nie? Ons boekwinkelrakke het ‘n oorvloed van hoe-om boeke: hoe om te oorwin in gebed, hoe om te beplan vir evangelisasie, hoe om geestelike oorlogvoering te doen. Maar nie een van hierdie boeke sal ons enigsins help as ons nie tyd op ons knieë deurbring nie!

Dit is altyd maklik om in ons eie wysheid voort te gaan met ons eie planne.

Toe ons die eerste keer na New York Stad verhuis het, het ek meer planne gehad as waaraan jy kan dink. Ek het al dikwels gepraat en geskryf oor sommige van hierdie dwase planne.

Op een geleentheid het ek ‘n groot Land Cruiser van Oral Roberts gekry, ‘n voertuig gebou deur General Motors vir ‘n half-miljoen dollar. Sy kante het oopgemaak soos ‘n mossel, met ‘n verhoog vir ‘n koor. Die bus het gelyk asof dit van Mars af gekom het!

Ek het gedink daardie affêring sou help met ons bediening aan die armes. Die eerste keer toe ons dit gebruik het, het ons dit geparkeer voor ‘n kerk in Brooklyn, waar ‘n herlewing plaasgevind het eenhonderd jaar gelede. Ons het begin sing en preek en gou het ‘n groot skare saamgedrom. Ek het gedink, “Wonderlik! Ons gaan nog ‘n groot insameling van siele sien.”

Maar al wat die mense gedoen het, was om te kyk na die Land Cruiser. Teen die tyd wat ons diens klaar was, het net twee mense na ons gestaan en luister. Toe ons opgepak het om te gaan, het ek gedink, “Here, wat het gebeur? Waarom het dit nie gewerk nie?” Later het ek die voertuig verkoop aan ‘n man in Yonders, wat mense vyftig sent gevra het om daardeur te loop as ‘n toeriste aantreklikheid.

‘n Ander keer het ek besluit, “Wat ons nodig het, is ‘n draagbare straatpreekstoel – iets met ‘n teleskopiese vlagpaal, ‘n luidspreker in die middel en altaarreëlings. Ons sal vyftig daarvan maak, of miskien ‘n honderd. Dan sal ons dit op die strate neersit vir ons veldtogte.”

Ek sou my nuwe uitvinding by ‘n veldtog by Glad Tidings Tabernacle in 33ste Straat in Manhattan onthul. Maar die probleem was, die ontwerp vir so ‘n preekstoek het dit te swaar gemaak om te dra. En dit was duur: Ek kon net ‘n halwe van een van hulle bekostig. Op die aan van die onthulling, het ek net ‘n fraksie van my nuwe evangelistiese uitvinding gehad. Ek was totaal verleë!

Ek het ook die toevou flip-top dosis uitgevind. Dit was ‘n evangelistiese pakkie wat soos ‘n sigaret pakkie gelyk het (‘n sigaretmaatskappy het inderdaad die idee geneem en wins daaruit gemaak). Wanneer die top oopgevou het, was daar vyf evangelie-traktaatjies wat ek geskryf het, binne-in. Maar daardie projek was op die ou end nog ‘n ramp. Ek het uiteindelik $25,000 skuld daarop gehad.

Uiteindelik, uit desperaatheid na al hierdie volslae mislukkings, het ek tyd in gebed deurgebring en God met trane gesoek. Ek het geroep, “Here, U weet ek het ‘n las vir hierdie stad. Ek moet iets doen. Alles wat ek egter probeer, misluk. Wat wil U hê moet ek doen?”

Die Gees het geantwoord, “Staak al jou dwase planne, David. Jy het nooit met My gepraat oor al hierdie dinge nie. Spandeer nou tyd met My. As jy my las wil hê, moet jy My vasgryp!”

Ek het presies dít gedoen. En uit die ervaring, het die eenvoudigste, maar suksesvolste evangelistiese pogings, wat ons bediening nog ooit probeer het, gekom.  Die Here het ons gelei om eenvoudig na die strate gegaan met ‘n mikrofoon en ‘n vlag en Jesus te verkondig. Toe ons dit begin doen het, het die skare opgedaag en mense het links en regs tot bekering gekom.

As die Heilige Gees jou lei, hoef jy nie in jou vlees te streef om sy las te hê nie. Geen Christen hoef ooit ‘n las te voel om nuwe maniere en middele te vind om verlore siele te bereik nie. Die Heilige Gees ken die hart en las van die Here – en Hy sal vir ons sy las en strategie gee as ons Hom bloot sal soek!

Aan die ander kant, weet ek van talle kerke wat tevrede is om net gebedsbyeenkomste te hê. Die mense bid getrou vir ure op ‘n slag. Hulle verwag egter nooit om werklik uit te gaan en die verlorenes te red nie.

Geliefde, gebed is nie genoeg nie! Jy kan aan ‘n gebedsgroep behoort – maar as jou gebede nie daaroor gaan om krag te ontvang om te getuig nie, sal jy op die ou end net op jou eie probleme fokus. En jy sal vergeet van die wêreld daar buite, wat op pad is hel toe!

Hoe meer ywerig ons die Here soek – hoe meer sal ons Hom vra vir die Heilige Gees – hoe meer sal vir ons gegee word!

“Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werk van die wet of uit die prediking van die geloof?” (Galasiërs 3:5).

Paulus sê dat God die Heilige Gees in mate vir ons gee – en Hy doen dit nie volgens ons werke nie, maar volgens ons geloof in Hom.

Jesus is die enigste persoon wat ooit die Heilige Gees sonder mate gehad het. Daar was egter baie manne en vroue – in die Ou en Nuwe Testament, en dwarsdeur die geskiedenis – wat ‘n groot mate van die Gees gegee is. Sulke gelowiges het altyd geweet dat hulle nie hoef te streef om heilige trane oor ‘n verlore, gebroke wêreld te ween nie – omdat die Heilige Gees die geween in hulle doen!

Ons deel is om bloot te bid: “Heilige Gees, U ken almal in my invloedskring wat onder oortuiging van sonde is – omdat U die Een is wat hulle oortuig! U sien elke traan wat val in die stilte van die nag. En U ken elkeen wat desperaat is en om hulp roep. Ek is u instrument. Vul my met u las en lei my na diegene wat U voorberei het.”

God wil ons bemagtig om een rede – en dit is om ons op die strate te kry, vol van sy woord en gelei deur sy Gees. Hy wil hê ons moet in staat wees om ‘n woord direk uit die hemel te spreek – ‘n deurdringede, oortuigende boodskap wat die onmiskenbare vuur van die Gees het!

Ek vra jou egter: Roer iets in jou siel oor die verlorenes? Is jy belas vir diegene in jou invloedskring? Of fokus jy eindeloos op jou eie behoeftes? As jy nie Christus se hart ken en sy las het nie, kan jy nooit verwag om deur Hom gebruik te word nie!

Hierdie boodskap is nie bedoel om jou te veroordeel nie – maar om jou op te wek!

Elkeen van ons kan in geloof vra vir meer van die Heilige Gees. Ons kan vir Hom vra om ons ‘n las te gee, in ons te ween, ons te lei, en deur ons te spreek. Hy wag om ons te lei – om die Vader se weë aan ons te openbaar!

Ons invloedskring mag nie China of Afrika wees nie. Vir talle Christene, sal die werk van die ewigheid sentreer rondom familie, vriende en medewerkers. Die vereistes is presies diesefde: Om die verlorenes te bereik, moet ons die Here vra om hulle aan te raak met oortuiging van sonde – en om ons harte voor te berei met ‘n tydige woord.

As almal wat hierdie boodskap hoor, sou toelaat dat die Heilige Gees hierdie woord ‘n werklikheid vir hulle maak – om Hom te soek vir sy las en leiding – sal daar geen keer wees aan watter soort oes die Gees mag insamel nie. Die grootste werke vir ewigheid word in der waarheid nie in massa-veldtogte verrig nie, maar met een heilige wat een verlore siel bereik. Dit gebeur egter slegs wanneer elke heilige die las van die Here ontvang!

Bied jouself nou aan vir die Heilige Gees. Roep Hom aan; vas en bid. Vra Hom om jou te lei na diegene wat Hy oortuig en voorberei het om sy woord te hoor. Vertrou dan op sy leiding en krag om die wonderbaarlike te doen. Hy sal dit doen! God wil talle van jou familie, jou vriendekring en kennisse red!