DIE VADER SE HART VAN DEERNIS

David Wilkerson

Die Here het my gelei om hoofstuk 2 van Nehemia te lees en ek het iets gesien wat ek nog nie tevore gesien het nie. Hierdie hoofstuk bevat ‘n bemoedigende storie vir almal wat na die Here kom met ‘n swaarmoedige hart.

Nehemia was ‘n skinker van koning Artasásta van Persië. Dit beteken hy het die wyn geproe voor dit na die koning se tafel gebneem is om seker te maak dat dit nie vergiftig is nie. Met verloop van tyd, het Nehemia ‘n betroubare dienaar van die koning geword.

Nehemia het ‘n verslag ontvang van sy broer dat Jerusalem in puin was. Die bevolking was afgemaai, die mense was in ‘n verskriklike toestand en omstandighede het daagliks vererger. Dit het Nehemia se hart gebreek. Hy het Juda en Jerusalem liefgehad en ‘n droefheid het hom begin oorweldig.

“Toe . . . het ek die wyn opgehef en aan die koning gegee; en omdat ek nooit voor hom bedroef was nie, het die koning my gevra: Waarom is jou aangesig so bedroef; is jy tog nie siek nie? Dit is niks anders as hartseer nie. En ek het baie bevrees geword” (Nehemia 2:1-2).

Begryp dat mense verbied was om in die koning se teenwoordigheid te kom met droefheid, veral as hulle hofdienaars was. Nehemia het geweet dat dit sy lewe kon kos en hy was vreeslik bang. Maar die koning was ontroer met medelye toe hy die droefheid van Nehemia gesien het. Die Skrif sê vir ons dat hy sy swaarmoedige dienaar ‘n kredietbrief gegee het waarin hy die koninklike skatkis tot sy beskikking gestel het. En toe het die koning aan Nehemia die begeerte van sy hart toegestaan: verlof om na Jerusalem te gaan en die tempel en stadsmure te herbou!

Hier is die punt wat die Here vir my ‘n werklikheid gemaak het: As dit vir Nehemia moontlik was om in die teenwoordigheid van ‘n heidense koning met ‘n hartseer, droewige gelaat te kon kom en tog, bokant sy verwagting, guns, deernis en seëninge kon verkry, hoeveel te meer sal Koning Jesus nie ook deernis met ons betoon en seëninge uitgiet op elkeen van ons, Sy kinders, in ons hartseer nie? Sou ‘n heidense koning meer barmhartigheid bewys aan ‘n swaarmoedige dienaar as ons alom-barmhartige Koning? Sekerlik nie! Die Vader se hart het altyd baie deernis teenoor Sy kinders.