Die Stem van God Hoor

David Wilkerson

Een van die grootste seëninge van ‘n ware gelowige is om die stem van God te hoor en te ken. Dit is moontlik om God se stem so seker en so duidelik te hoor soos Abraham en Moses – so duidelik soos Samuel en Dawid – so duidelik soos Paulus, Petrus, die apostels en Johannes op die eiland Patmos! God het belowe om Sy stem duidelik bekend te maak vir een laaste keer gedurende hierdie eindtye. Hy het vir ons ‘n belofte en ‘n waarskuwing gegee oor die hoor van Sy stem. God gaan ‘n heilige, afgesonderde oorblyfsel in ‘n geestelike Sion inbring en Sy stem bekend maak aan hulle. “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele” (Hebreërs 12:22).

God gee hierdie boodskap vir almal wat uitroep: Die stem van God wat die aarde geskud het tydens vorige geslagte, sal weer met krag gehoor word tydens een laaste skudding! “Toe het die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe” (Hebreërs 12:26). Hier is God se waarskuwing aan Sy heilige kinders wat glo, “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelke waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek” (Hebreërs 12:25).

Waarom ‘n volk versamel uit die dooie kerke? Waarom roep die Gees, “Kom uit Babilon uit, my volk! Deel nie in haar sondes nie!” Dit is omdat God ‘n volk (‘n Sion volk) in hierdie laaste dae moet hê wat nie verward is, of heen en weer gewaai word deur die verskriklike winde van valse leerstellinge nie. Dit is hierdie skape wat nie vals leraars volg nie, wat hulle Meester se stem ken. God praat duidelik en seker met hulle, en hulle lewe deur Sy stem! Hulle word deur Sy stem gerig, deur Sy stem vertroos, in alle dinge deur Sy stem gelei! Dit is die een groot karaktereienskap van ‘n heilige volk: Hulle is nie verward oor God se stem nie. Hulle ken dit – hulle hoor dit – hulle word daardeur beheer. Dit is seker, standvastig, en onmiskenbaar!

God het nog altyd ‘n volk gehad wat slegs deur Sy stem gelei was. Adam en Eva het “die stem van die HERE God gehoor...” (Génesis 3:8). Dit was sonde wat veroorsaak het dat hulle daardie stem gevrees en daarvoor weggekruip het. “Ek het u geruis (stem) gehoor in die tuin en gevrees...” (Génesis 3:10). Abraham het die vader van baie nasies geword, omdat hy die stem van God gehoor en gehoorsaam het. “En in jou nageslag sal al die nageslagte van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Génesis 22:18). “Omdat Abraham na my stem geluister het en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het” (Génesis 26:5). Moses het niks gedoen sonder om God se stem te hoor nie: “Toe het die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens hardop geantwoord” (Exodus 19:19). “En die HERE het vir Moses gesê...” (Exodus 19:21). “Toe het Moses die HERE geantwoord...” (Exodus 19:23). “Daarop sê die HERE het vir hom...” (Exodus 19:24). “Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê...” (Exodus 20:1). Moses en God het met mekaar gepraat soos intieme vriende.

God het nog altyd ‘n volk gesoek wat Hom sou eer en vrees vir Sy stem. God het vir Moses gesê: “...Vergader die volk vir My, en Ek sal hulle my woorde laat hoor, dat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer” (Deuteronómium 4:10). “En die HERE het met julle uit die vuur gespreek; julle het ‘n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie – net ‘n stem was daar” (Deuteronómium 4:12). “Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jý gehoor het, en in die lewe gebly?” (Deuteronómium 4:33). “Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig... en jy het sy woorde...gehoor” (Deuteronómium 4:36). “En gesê...ons het sy stem...gehoor; vandag het ons gesien  dat God met die mense spreek en hy in die lewe bly” (Deuteronómium 5:24).

Baie van God se kinders wil nie die verantwoordelikheid hê om self God se stem te hoor nie.

Die kinders van Israel wou God se stem gefiltreer hê deur ‘n heilige dienskneg. “Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van die HERE onse God nog langer hoor, sal ons sterwe. Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het? Gaan ú naderby en hoor alles wat die HERE onse God sal sê; dan kan ú ons alles meedeel wat die HERE onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en doen” (Deuteronómium 5:25-27). God se volk het nie baie verander vandag nie! Hulle is steeds bang vir die verantwoordelikheid om hulle met God af te sonder om Sy stem te hoor! Maar die Here wou hê elke Israeliet moes Sy stem persoonlik ken en hoor. Hy het hulle gemaak weet dat Hy ‘n God is wat spreek: “...vandag het ons gesien  dat God met die mense spreek en hy in die lewe bly.”

Dit is geen wonder dat duisende op ‘n dwaalweg gelei word nie. Hulle plaas hulle lewens in die hande van ‘n leraar of pastoor, wat dan God word vir hulle – en wat hy ook al hoor of leer, word hulle stem van God! Maar selfs ‘n nederige, sagmoedige Moses, het “onverskillig gepraat met sy lippe” (Psalm 106:33) en ‘n wanvoorstelling gegee van God se heiligheid. Daarom, selfs al is jou leraar so nederig en heilig soos Moses, is sy stem nie onfeilbaar nie. Jy moet God se stem ken en direk hoor om te kan oordeel wat verkondig word!

Waarom is duisende in ektase oor nuwe evangelies wat die Kruis laster, wat leer dat die bloed van Jesus nie versoening doen vir sonde nie? Dit is omdat hulle slegs die mens se stem hoor. Hulle ken nie die ware Meester se stem nie – want, as hulle het, sou hulle bedroef gewees het en nie uitroep oor sulke valse evangelies nie! O, die verwoesting wanneer God se stem nie bekend is of gehoorsaam word nie. “Soos die nasies wat die HERE voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat hulle na die stem van die HERE julle God nie geluister het nie” (Deuteronómium 8:20).

Samuel het God se stem duidelik gehoor. Wat hy gehoor het, was so duidelik, “Hy het nie een van al sy woorde onvervuld laat bly nie” (1 Samuel 3:19). “...En die HERE het weer verskyn in Silo; want die HERE het Hom geopenbaar aan Samuel in Silo deur die woord van die HERE” (1 Samuel 3:21-4:1). Dawid het God hoor praat en hy, op sy beurt, het met God gepraat! God se stem was sy blydskap en lewe. Dawid het gesê, “God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel...” (Psalm 60:8). “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong....die Rots van Israel het tot my gespreek...” (2 Samuel 23:2-3).

Daar is talle mense vandag wat nie glo dat God steeds met hulle praat nie. Hulle sê Hy praat slegs deur Sy Woord, dat al wat God ooit wil hê of wil sê, opgesluit is in die kanon van die Skrif. God sal sekerlik nooit ‘n woord in teenstelling met die Skrif spreek nie, maar “God...het...in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun...” (Hebreërs 1:1-2). En Sy Seun praat steeds met Sy kinders! Hy sê Sy skape ken Sy stem en dat hulle nie na ‘n ander stem sal luister nie. Ons weet God het in die ou tyd in die Ou Testament met mense gepraat. Maar wat van die Nuwe Testament? Wat van die laaste dae?

God het met Saulus op die pad na Damaskus gepraat: “Toe...omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (Handelinge 9:3-4). Vir die res van sy lewe, het Paulus getuig, “Ek het Sy stem gehoor.” Voor Koning Agrippa het hy gesê, “En toe...hoor ek ‘n stem met my spreek en in die Hebreeuse taal sê...rig jou op...want hiertoe het Ek aan jou verskyn...” (Handelinge 26:14-16). Petrus het die stem van God gehoor en gehoorsaam. In gebed, het hy God gehoor praat: “En ek hoor ‘n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet! Maar ek antwoord: Nooit nie, Here...En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord...En dit het drie maal gebeur...” (Handelinge 11:7-10).

Jesus roep die laaste Laodicense kerk om Sy stem te hoor en oop te maak: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Openbaring 3:20). Hierdie saak van die stem van God hoor, is baie ernstig. Laat my met jou deel wat ek glo die Heilige Gees aan my geopenbaar het oor Sy stem hoor.

Nie elkeen wat sê, “God het vir my gesê,” het die ware stem van God gehoor nie!

Daar is ‘n tragiese misverstand in die kerk oor God se stem hoor. Die mees algemene frase gehoor in godsdienstige sirkels vandag, is “God het vir my gesê!” Talle sogenaamde profete begin hulle boodskap met “So sê die Here!” Paulus waarsku dat daar baie stemme is wat ‘n lawaai opskop om gehoor te word. “Daar is wie weet hoeveel soorte tale [stemme] in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank [beduidende betekenis] nie” (1 Korinthiërs 14:10).

In ons harte roep baie stemme uit en almal van hulle maak asof hulle die ware stem van God is! As jy enige van hierdie stemme vertrou, sonder om hulle almal met God se Woord te beproef, sal jy op ‘n dwaalweg gelei word! Daar is die stem van ons vlees, die stem van ons hardkoppige wil, die stem van die vyand en die stem van die wêreld. Almal van hulle is sag, vriendelik en belowe jou, “Dit is God wat praat!’

Laat my vir jou vertel wie seker kan wees om mislei te word: dit is daardie Christen wat dink hy kan nie mislei word nie – die een wat eens werklik gehoor het, maar nou optree volgens indrukke en stemme wat nie uit die binnekamer kom nie. Ons is nie onfeilbaar nie en elke woord wat ons hoor, is nie van God af nie!

Talle profete roep uit, “So sê die Here,” terwyl God glad nie met hulle gepraat het nie. Hulle spreek hulle eie idee’s – nie God s’n nie. “En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat profeteer, en sê aan die wat profete uit hulle eie hart is: Hoor die woord van die HERE! So spreek die Here HERE: Wee die dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel en agter dinge wat hulle nie gesien het nie. Jou profete, o Israel, is soos jakkalse in puinhope. Julle het in die bresse nie opgegaan nie en die muur nie gebou om die huis van Israel, om in die stryd pal te staan in die dag van die HERE nie. Hulle het nietigheid gesien en leuenagtige waarsêery, hulle wat daar sê: Die HERE het gespreek – terwyl die HERE hulle nie gestuur het nie; en dan wag hulle op die vervulling van die woord! Het julle nie ‘n bedrieflike gesig gesien en leuenagtige waarsêery gespreek nie deur dat julle sê: Die HERE Spreek, terwyl Ék nie gespreek het nie? Daarom, so spreek die Here HERE: Omdat julle valsheid gespreek en leuenagtige gesigte gesien het, daarom kyk, Ek het dit teen julle, spreek die Here HERE” (Eségiël 13:1-8).

Nie net profete nie, maar menigtes van gelowiges verstaan nie dat hulle eie begeertes gepraat het nie. Hulle is oortuig dit was God se stem, terwyl dit al die tyd ydelheid was, ‘n hartsbegeerte wat voorgegee het om God se stem te wees. God het in wese gesê, “Jy word mislei – Ek het nie gepraat nie!”

God praat met niemand wat sonde, soos trots, ambisie, of wellus wegsteek nie. “...Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery [openbaring] en bedrieëry van hulle hart” (Jeremia 14:14). “Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer…[hulle] profete is van die bedrieëry van hulle hart...Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die HERE, wat hulle eie tong gebruik en sê: Die HERE spreek! Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die HERE, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens...en hulle vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie, spreek die HERE…. [hulle] verdraai die woorde van die lewende God…Ek sal julle sekerlik ophef en julle...van my aangesig af wegwerp” (Jeremia 23:21-40).

Niemand kan God se stem hoor met ‘n afgod of struikelblok in die hart nie!

God se stem sal nie kom na diegene wat sonde-afgode herberg nie. “Hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit – sou Ek My dan werklik deur hulle laat raadpleeg? Daarom, spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Elke man uit die huis van Israel wat sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom – Ek, die HERE, sal hom daarvolgens, volgens die menigte van sy drekgode, antwoord gee...Ek sal my aangesig rig teen dié man en hom tot ‘n teken en ‘n voorwerp van spot maak, en Ek sal hom uitroei uit die midde van my volk; en julle sal weet dat Ek die HERE is. En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek – Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel. En hulle moet hul ongeregtigheid dra: soos die ongeregtigheid van die vraer, so sal die ongeregtigheid van die profeet wees” (Eségiël 14:3-4,8-10).

“Ek, die HERE, het dié profeet verlei” Hierdie mense het geweet hulle was in sonde, maar tog het hulle gekom om God se stem te hoor. God sal hulle misleidende woorde laat hoor. Wat hulle sal hoor, sal straf wees; dit sal hulle sorge vermeerder. God antwoord volgens jou afgode! Ja! Jy sal stemme en profesieë hoor. Jy sal na valse profete gelei word wat aangename woorde van vrede en voorspoed sal verkondig – net wat jou vlees wil hoor! Maar dit sal ‘n algehele misleiding wees, omdat jy jou troetelsonde, jou gunsteling afgod nie wil aflê nie. Jy sal dink God praat met jou. Maar dit is oordeel, omdat “almal deur hul drekgode hul van My afgewend het” (Esegiël 14:5).

God se stem word slegs gehoor deur diegene wat saam met Hom afsonder in die binnekamer. God is baie versigtig met wie hy praat. Dit is slegs vir diegene wat Sy stem so hoog ag, dat hulle die hele wêreld uitsluit om alleen te wees en op Hom te wag. God se stem het tot Moses gekom toe hy alleen met Hom afgesonder was. Die woord het tot Johannes die Doper alleen in die woestyn gekom. Die stem van God het tot Jakob in die woestyn Haran gekom. God het met Josua gepraat toe hy uit die kamp uitgegaan het, alleen, vóór Jerigo. Die stem van God het tot Paulus gekom, alleen in die woestyn. Die stem van die Vader het tot Jesus gekom, alleen op die berg in gebed.

God sê, “As jy my stem wil hoor, sonder jouself af in die binnekamer. Bid tot my in die geheim en Ek sal jou beloon. “ Besigwees, begeertes, hebsug, en die sorge van die lewe verstik die stem van God. Jesus het vir ons ‘n verskriklike waarskuwing gegee oor té besig te word om te stop en Sy stem te hoor. In die gelykenis van die saaier, is die Woord Sy stem: “En hulle by wie in die dorings gesaai word – dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar” (Markus 4:18-19).

Ek is bevrees daar is sommiges wat op hierdie oomblik hier lees, wat die stem van God verstik. Verstik beteken “om saam te drom” of om Sy stem uit te doof. God het eens duidelik met jou gepraat. Dit was so ‘n vreugde vir jou. Jy het Hom steeds lief, maar jy het minder en minder tyd vir Hom. Jou besigwees roep jou nou – jou rykdom, jou sorge, jou probleme, en al die ander dinge wat jou tyd in beslag neem. Die stem van God raak nou dof. Hy roep jou, bearbei jou, waarsku jou: “Hou hiermee vol en jy sal My stem heeltemal verstik en verdoof!”

Jy kan so besig word, so geknel met probleme en sorge, dat dit jou nie sal help om Sy stem te hoor nie. Jesus sê dit sal onvrugbaar wees (Markus 4:19). Jy sou nie nou luister nie. Dit sou ‘n vermorste stem wees wat geen effek het nie. Hierdie persoon is nie ‘n pad-hoorder vir wie Satan kom en die stem wegneem nie. Nee! Hierdie een het geestelike gesag; die Woord het reeds wortelgeskiet, menende dat die stem bekend was! Satan is uitgedryf. Maar dit is nie Satan wat nou in die pad staan nie – dit is selfopgelegde besigwees. Dit is rondskarrel, hierheen en daarheen jaag, met geen kwaliteit tyd om saam met Hom af te sonder om Sy sagte, kalm stem te onderskei nie. Dit is in hierdie geharwar dat God se stem nie meer gehoor word nie. Nou doen die vlees al die praatwerk, met menslike begeertes wat ‘n stem aanneem. Wat nou begeer word, word God se wil vir hulle; wat aangeneem word, deug nou vir onderskeiding. Hierdie doringagtige hoorder neem aan dat elke stem van God is en omdat daardie stem so hard, so duidelik, en so gereeld is, dink hy dit moet God wees!

Ek sê vir jou dit is nie van God nie en dit is nie Heilige Gees onderskeiding nie – tensy dit gebore is in die afgesonderde binnekamer, uit ‘n intieme gemeenskap, ‘n gebroke gees, en baie tyd alleen in Sy teenwoordigheid deurgebring. Ek is oortuig dat al God se kinders in staat sou wees om Sy kalm, sagte stem te hoor as hulle bloot hulle sonde en afgode sou aflê en hulle afsonder met Hom alleen – en nie weggaan nie totdat Hy praat!

God bied ons ‘n nuwe, lewegewende woord vir elke nuwe dag.

God spreek elke dag ‘n nuwe woord tot almal wat wil hoor; maar baie kan dit nie hoor nie, omdat hulle harte hard geword het. In Hebreërs lees ons, “...Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie...” (Hebreërs 3:7-8). God se stem is ‘n “vandag” stem. Dit is ‘n tot-op-die-oomblik stem wat Hy begeer dat ons hoor. Jesus het gewaarsku oor die harde-grond hoorders: “Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word – wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir ‘n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik” (Markus 4:16-17). Dit is die een wat lief is om te hoor en wat alles wat God sê met blydskap aanneem. Maar die Woord sink nie in nie. God se stem verander hulle nie. Hulle bly ongebroke met hulle harte wat in klip verander. Waar is die klipharte? In die tronk? Op straat? In huise van prostitusie? In pornoteaters? Dit is jammer dat die hardste harte gevind kan word in God se huis, onder diegene wat nie eens weet dat hulle besig is om hard te word nie!

Laat my vir jou vertel hoe Christene harde harte ontwikkel. Hulle weier om toe te laat dat God se stem hulle hardkoppige wil verpletter. Hulle hoor God se stem in Sy Woord, in preke, en soms selfs in die kalm, sagte stem. Tog wil hulle dit nie gehoorsaam nie! Die Woord kan nie wortel skiet nie. Maar daar is iets baie ergers. Elke dag roep God al Sy mense na die afgesonderde binnekamer van gebed, want Hy wil praat. Hy wil praat oor gehoorsaamheid, oor jou probleme, om leiding te gee, om oor die toekoms te gesels. Dat “Ek met julle gespreek het, vroeg en laat, maar julle nie geluister het nie, en Ek julle geroep, maar julle nie geantwoord het nie” (Jeremia 7:13). Elke keer wat ons daardie oproep weier – elke keer wat ons eerder na ons eie belange en besigheid gaan, en ander dinge voor God plaas – elke keer wat ons ‘n dag van hoor misloop – elke dag wat ons weier om te luister – word ons harte kouer en kouer. Elke keer wat ons na ‘n ander stem luister, eerder as om te wag om Sy stem te hoor, word ons ‘n bietjie harder.

Wanneer ons weier om onsself te dissiplineer om alleen met God te wees om Sy stem te hoor, word ons vervreemd van daardie stem. Dit is skandalig wat in so baie kerke gebeur met so baie wat nie langer God se stem kan hoor nie. Die Here sien hulle hard word, maar Hy gee steeds om vir hulle en het hulle lief. Daarom skyn Hy Sy Heilige Gees lig op hulle en bring ‘n skroeiende, deurdringede woord – ‘n stem van donder – om hulle wakker te maak. Maar die woord gee hulle aanstoot; die einste Woord wat God bedoel om hulle mee te verlos, gee hulle aanstoot en hulle word kwaad en verdroog! “En toe die son opgaan, is dit verskroei.”

Aan die ander kant, kan ‘n ware gelowige wat van God hoor, wat Sy stem ken, nooit daardeur aanstoot gegee word nie. Hy weet dit is van God en ontvang dit as Sy ware bron van lewe en groei. Diegene wat nie afsonder met God nie, diegene wat weier om Sy stem te hoor, word gou geïrriteerd en verdruk deur enige sterk woord wat selfs nog meer gehoorsaamheid vra.

Jou hart kan hard word, verdroof en geestelik sterf deur bloot weg te bly van die plek af waar God praat. As jy net kerk toe kom, God prys, goed is, en al die regte dinge doen, kan jy verskroei en sterf al hou jy van die preke. Jy moet self van God hoor. Jy moet Sy stem hoor en op ‘n persoonlike manier deur Hom gelei word. Jy moet Sy woord agter jou hoor sê, “Dit is die weg, wandel daarop” (Jesaja 30:21).

God se begeerte vir Sy heilige oorblyfsel is dat hulle grootste blydskap die klank van Sy stem moet wees.

“Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome” (Johannes 3:29). Ons grootste blydskap moet wees, “Ek het Sy stem gehoor! Ek het alleen gestaan en wag en ek het Hom met my hoor praat!” In die Hooglied van Salomo, kan ons ‘n laaste-dag bruidsliefde duet hoor. Die bruidegom roep Sy verloofde om in die geheim weg te kruip saam met Hom: “My duif in die rotsklowe, in die skuilplek by die krans, laat my u gedaante sien, laat my u stem hoor; want u stem is soet, en u gedaante is lieflik” (Hooglied van Salomo 2:14). Dan, later in die Hooglied, reageer sy, “Hoor, my beminde klop: Maak vir my oop, my suster, my vriendin, my duif...” (Hooglied van Salomo 5:2).

Vir diegene wie se harte koud geword het, wat nie langer Sy stem kan hoor nie, het God belowe om ‘n nuwe en teer hart te gee as hulle hul sonde sou bely en hulle tot Hom bekeer in geloof. ‘n Harde hart is nie terminaal nie – dit is, ás jy wil verander! Dit is nie iets wat God aan jou gedoen het nie; liewer, jy het dit aan jouself gedoen deur God se woord uit te sluit. Hier is jou beloftes: “En hulle sal daarnatoe kom en al sy verfoeisels en al sy gruwels daaruit verwyder. En Ek sal hulle een hart gee; en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ‘n hart van vlees gee, sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou dit doen; en hulle sal vir my ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees” (Esegiël 11:18-20). En, “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Esegiël 36:25-27).

As die stem van God nie gehoor word nie, sal mense gaan na waarheen God hulle nie gestuur het nie!

Wanneer die stem van God nie gehoor word nie, hardloop mense en arbei vir Hom sonder ‘n mandaat – hulle is op hulle eie! Ek het dit ook gedoen: goeie dinge gedoen, uitdagings aanvaar, ten volle geglo dat ek opgestaan het teen die werkers van ongeregtigheid! Ek het op die ou end duisende dollars in die skuld beland, moeg en ontnugter, altyd smekend om hulp. Ek was nie deur God gestuur nie. Ek kon nie verstaan nie. Ek was gebroke, het ‘n las gehad en was gewillig om so baie prys te gee. Maar dit was nie gebore uit gebed nie – dit was menslike deernis! Dit was nooit God se manier nie!

Maar toe ek eers gesê het, “Niks verder nie, Here! Nie ‘n tree verder tensy U dit beveel nie – nie ‘n beweging totdat U stem gehoor word nie!” Daarna was watter ook geld ook al nodig was, daar – omdat God dít wat Hy begin, ondersteun. Dit is blydskap sonder ‘n las, vrede met geen gesmeek nie! Die gesmeek in bedienings vandag is ‘n gevolg van mense wat goeie dinge doen sonder om deur God se stem gestuur te wees. Hulle eie begeertes word verwar met God se stem.

Jesus sou niks anders doen as wat Hy uit die hemele gehoor gespreek was nie. “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het...” (Johannes 8:28). “...Wat Ek van Hom gehoor het, dit spreek Ek tot die wêreld” (Johannes 8:26). “...Die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek...Wat Ek dan spreek – net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek” (Johannes 12:49-50).

Hier is vier voorsorgmaatreëls om die stem van God reg te hoor:

1.Sy stem sal jou altyd na Jesus bring en alle sonde en begeertes openbaar. Johannes het Sy stem gehoor en gesê, “Toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete” (Openbaring 1:17).

2.Sy teenwoordigheid (of aangesig) sal altyd Sy stem vergesel. Jy sal oorweldig en oorstelp van vreugde wees met die heerlikheid van Sy teenwoordigheid.

3.Sy stem sal jou die skriftuurlike versekering gee. Die Heilige Gees sal jou lei na bevestiging in Sy Woord. Alles was God spreek moet in lyn wees met die Skrif op elke punt.

4.Wat Hy spreek, sal staande bly voor die oordeelstroon van Chrsitus in reinheid en onselfsugtigheid.