DIE SONDE VAN ONGELOOF

David Wilkerson (1931-2011)

Ongeloof bedroef die hart van God meer as enige ander sonde. Ons Christene maak beswaar teen die sondes van die vlees, maar God is begaan oor die sondes van die hart – in sy Woord twyfel, of sy getrouheid bevraagteken. Die ware kwessies van die lewe en die dood het meer te doen met hoe ‘n mens dink as wat hy doen.

Ek ken Christene wat elke sonde van die vlees waaraan hulle kan dink laat staan, maar ten spyte daarvan dat hulle hul optrede verbeter het, is hulle steeds rusteloos en ontevrede. Hulle het verkeerdelik gedink dat God tevrede sou wees as hulle hul boesemsonde laat staan, dat die seëninge outomaties sou instroom. Maar die sondes van die vlees is slegs deel van die probleem. Hulle het geleer om die Here te vrees, maar nie om Hom te vertrou nie, en vrees gee amper altyd geboorte aan ongeloof.

Deur sy Woord het God genadiglik ‘n onfeilbare weg voorsien om volkome vertroue in Hom te hê.

“As jy gaan lê, sal jy nie skrik nie, en lê jy, dan sal jou slaap soet wees. Jy hoef nie bang te wees vir ‘n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik” (Spreuke 3:24-26).

“Werp dan julle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie” (Hebreërs 10:35).

“En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het” (1 Johannes 5:14-15).

Dit is wonderlike beloftes van ons hemelse Vader. Moenie toegee aan vrees of twyfel nie! Reken af met ongeloof net soos met enige ander gruwelike sonde. Vestig jou hart daarop om die Here te vertrou – en onthou die woorde van die Psalmis: “Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die HERE. Vas is sy hart, hy vrees nie” (Psalm 112:7-8).