Die Skape Oppas

Wees Versigtig vir Wolwe in die Kerk

Terwyl Paulus op pad was na Jerusalem in Handelinge 20, het hy by Éfese ‘n draai gemaak. Daar het hy ‘n spesiale vergadering van al die kerkleiers byeengeroep. Hy het daardie Efésiese gelowiges plegtig vertel, “Dit is die laaste keer wat ek julle sal sien. En hierdie is my laaste boodskap aan julle. Julle sal my aangesig hierna nie weer sien nie” (sien Handelinge 20:25).

Paulus het toe sy laaste boodskap aan die Efésiërs gelewer. Hy het hulle in wese vertel, “Ek was al voorheen by julle en julle weet waarvoor ek staan. Ek het julle met nederigheid en trane gedien. Ek het in julle kerk gepreek en van huis tot huis. Ek het dit alles gedoen onder groot beproewing en vervolging. En ek het niks van julle teruggehou nie.”

Toe, met trane, het hy hulle hierdie nugter waarskuwing gegee: “Nou al vir drie jaar lank, het ek julle dag en nag met trane gewaarsku oor wat ek sien met die kerk gaan gebeur nadat ek weg is. Nou wil ek hê dat julle hierdie waarskuwing nog een keer moet hoor” (sien Handelinge 20:31).

Wat het Paulus gesien kom? Wat het hom so bedroef gemaak dat hy drie jaar sou spandeer om oor hierdie kerk te ween? Watter komende tragedie het hy hulle soveel keer oor gewaarsku, beide in die openbaar en privaat, in die kerk en in hulle huise? Watter kwessie kon hierdie biddende, heilige man so diep geraak het?

Paulus se bekommernis was nie ‘n uitbreek van wellus, of owerspel, of egskeiding, of dronkenskap nie. Sy waarskuwings was nie oor ‘n komende vervolging van die samelewing of regeringsbeperkings op hulle nie. Hy het nie gewaarsku oor ‘n uitbreek van verdorwenheid, of homoseksualiteit in die preekstoel, of tekens van morele verval, of werkloosheid en armoede, of terrorisme en oorlog nie.

Kortliks, Paulus se waarskuwings was nie oor die chaos wat buite die kerk se deure aangegaan het nie. Nee, Paulus was bedroef oor wat hy sien kom het binne die mure van God se huis. Hy het die Efésiërs gewaarsku oor wat hy voorsien het wat met die bediening en spesifiek met die herders sou gebeur het. En daardie waarskuwings was insake die verwoesting wat sou kom aan die hand van bedrieërs wat die kerk sou binnestroom.

In sy laaste boodskap, was Paulus se gedagtes nie by kerkgroei, of pastore se persoonlike stryd, of gelowiges se beproewings en versoekings nie. Nee, Paulus se diepe hartsgeroep was, “Julle predikers, julle herders, luister. Waak oor julleself en oor julle mense.”

“Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Helige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Handelinge 20:28). Met ander woorde: “Julle herders, julle opsieners, julle ouderlinge, julle leiers – voed julle kudde om hulle voor te berei. Vul hulle met God se suiwer Woord. Wrede wolwe en bedrieërs is op pad en hulle gaan hul visier instel op die swak skape.”

“Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak” (Handelinge 20:29-31).

Op daardie stadium het Paulus dit aan hulle uitgewys, “Huidiglik is julle ‘n geseënde kerk. Julle is ‘n getroue, magtige liggaam van gelowiges. Julle het ‘n sterk fondament.” Christus sou later dieselfde oor die kerk in Éfese in Openbaring sê. Hy het hulle vertel, “Julle is geduldig en vrugbaar. Julle duld nie boosheid nie en julle onbloot valse predikers.”

Volgens Paulus egter, “So geseënd soos wat julle is, sal julle kerk nie gespaar word nie, tensy julle na my waarskuwings luister. Julle gaan ‘n goddelose, perverse bediening sien opstaan en handel drywe met hierdie kudde.” Christus het die Efésiërs dieselfde waarskuwing gegee in Openbaring 2: “Julle het julle eerste liefde verlaat. Bekeer julle, anders neem Ek julle kandelaar, julle gloeiende getuienis aan die wêreld, weg.”

Hoe het die Efésiese gelowiges hulle eerste liefde verloor? Hoe gaan enige kerk dood? Duidelik was dit omdat hulle herders en leiers nie in staat was om die skape te bewaak nie. Hulle was nie versigtig nie en het toegelaat dat wolwe toegang tot die kudde verkry het. Toe daardie wolwe ingekom het, het hulle die skape verslind en hulle nie gespaar nie.

Kortliks, ‘n perverse evangelie het die kerk geïnfiltreer en dwaling was verkondig. Gou was gelowiges met rein harte van die pad afgelei deur verskriklike misleiding. Vir jare, was hierdie getroue kerk versigtig om te beoordeel wat van die evangelie was en wat van die vlees was. Maar nou was dieselfde gelowiges gelei in ‘n maklike evangelie wat die vlees gepaai het. En hulle is weggetrek van Christus af.

Vandag is Paulus nie meer daar nie en die wolwe en die perverse het ingekom.

Hierdie wolwe en die perverse het God se huis ingeneem. En hulle mislei pastore en gemeentes oral in die wêreld. Oral waar ek reis, sien ek perverse predikers wat kuddes verdeel en die skape verstrooi.

Jesus het ook gewaarsku oor hulle koms: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Matthéüs 7:15). Volgens Christus, sal gierige predikers en leraars geklee kom as God se skape. Hulle sal verskyn as engele van die lig, maar hulle het gekom om selfs die uitverkorenes te mislei as dit moontlik was. Negentig persent van wat hulle sê, klink soos die evangelie, maar hulle gebruik God se Woord as ‘n dekmantel vir hulle misleiding.

Die profeet Esegiël praat van hierdie wolwe: “’n Sameswering van sy profete is in hom, soos ‘n leeu wat brul, wat prooi verskeur; hulle eet die siele op; skatte en kosbare dinge neem hulle weg...(Hulle is) soos wolwe wat prooi verskeur, om bloed te vergiet en siele om te bring, dat hulle onregverdige wins kan maak...ook verdruk hulle die ellendige en behoeftige” (Esegiël 22:25,27,29).

Wys my ‘n prediker wat nooit sonde openbaar nie – wat mense nie die verskil uitwys tussen die heilige en die onheilige nie, wat nie bekering of oordeel noem nie, maar in plaas daarvan, sê dat God jou ryk en voorspoedig wil maak – en ek sal daardie man noem wat hy is. Hy is ‘n wolf. En hy het die Kruis vir kontant verruil.

Laat my so ‘n moderne-dag wolf beskryf. Die man waaraan ek dink, is een van die beter bekende voorspoedpredikers in Amerika. ‘n Paar weke gelede was sy boodskap: “Julle het gehoor van die koms van Jesus. Julle het gehoor dat Hy enige oomblik kan terugkom. Ek sê vir julle dit is onmoontlik. Hy kan nie kom totdat julle voorspoedig is nie – tot jy jou mooi kar en jou droomhuis gekry het nie. Hy kan eenvoudig nie kom totdat dit gebeur het nie.”

Ek het onlangs ‘n video gekyk van ‘n voorspoedkonferensie, wat aan my gestuur was. Hier was die teologie wat by daardie konferensie verkondig is: “Vind die mees voorspoedige prediker wat jy ken en gee vir hom geld. Die seëninge wat op hom is, sal na jou toe stroom.”

Een voospoedigpredikers het op die verhoog gestaan en vertel van sy motorkarre, sy vliegtuig, sy huis, sy diamante en ‘n hond wat hy vir $15,000 gekoop het. Hy het verklaar, “Ek gaan ‘n huis bou waarop Salomo trots sou wees. Dan, wanneer die mense in my stad my herehuis en my Rolls Royce sien, sal hulle weet dat daar ‘n God in die hemel is.”

Terwyl hy gepraat het, het mense nader geloop en geld in sy sakke gesteek. Ander het vorentoe gegaan en geld op die verhoog neergesit. Nog ander het geld na hom gegooi. Toe het ‘n lied getiteld, “Hardloop vir die Geld” begin speel. Sommige het uitgestrek neergeval terwyl ander in die ouditorium rondgehardloop en gesing het, “Hardloop vir die Geld.”

Geliefde, dit skok en verstom my dat predikers en Christene wat die Bybel glo, so mislei kan word. Selfs by ons kerk het sommige gemeentelede bandopnames uitgedeel van boodskappe van die wolf wat onderrig, “Jesus kan nie kom totdat jy voorspoedig is nie.” Wat ‘n verskriklike lastering! Jesus self het gesê ons moet op die uitkyk wees vir sy verskyning, dat Hy in ‘n oogwink sal kom wanneer ons Hom die minste verwag.

O, hoe blind het die kerk nie geword nie. En hoe blind is so baie herders nou. Kerke wat eens in opoffering, selfverloëning en kruis-dra geglo het, het bedorwe in die vlees geword. Hulle fokus is nou totaal op self, op materiële dinge, op die goeie lewe en nie op die heilige lewe nie.

Die profeet Jeremia het die wolwe, wat hierdie misleiding sou verkondig, beskryf: “So is hulle huise vol bedrog; daarom het hulle groot en ryk geword. Hulle het vet, hulle het glad geword...Reg verskaf hulle nie, selfs die reg van die wees nie, dat hulle voorspoed kan hê; ook handhaaf hulle die reg van die behoeftiges nie.

“Sou Ek hieroor geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op ‘n nasie soos hierdie een nie? ‘n Onsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur: die profete profeteer vals... en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?” (Jeremia 5:27-31).

Volgens Jeremia, bou hierdie wolwe hulle fortuine deur die armes en behoeftiges uit te buit. Een prominente evangelis verkoop “genesing vir kanker” vir $1,000. Vir $500, kan jy vorentoe kom en gebed vir enige soort kwaal kry. Maar gebed vir kanker kos $1,000.

Dit is alles ‘n stank in God se neus. En laat my jou vertel waar dit eindig: Ons dien ‘n geduldige God, wat nie enigiemand vernietig of veroordeel wat deur onkunde in strikke gevang word nie. Hy sal sy skape waarsku en teregwys. Maar die dag kom wanneer Hy vir hierdie wolwe sal sê, “Genoeg! Julle sal nie langer die weduwees beroof nie. Julle sal nie die bloed van my Seun in ‘n kredietkaart verander om jou wellus te bevredig nie. Jy sal nie langer toegelaat word om in die wêreld rond te gaan en ‘n materialistiese Christus te preek nie. Ek gaan elke wolf in skaapsklere bankrot maak en ontbloot. Baie gou, sal die geld wat na jou toe stroom, heeltemal opraak.”

Elke herder van die Here word beveel om sy kudde te beskerm teen wolwe.

Agter wie gaan die wolwe aan? Hulle jag die swak, ondervoede skape. Hulle kies diegene, wat nie hulle Bybels ken nie en vasgevang is in ‘n self-gesentreerde evangelie. Dit is waarom Paulus se waarskuwing baie duidelik is: “Herders en leiers, waak oor julleself. En waak oor die skape wat julle geroep is om oor toesig te hou. Voed die kerk van God.” Ons herders word beveel om die kudde met die suiwer Woord van God te vul. Net dan sal hulle in staat wees om te onderskei wat van die Heilige Gees is en wat van die wolf is.

Ek vra jou: wat moet die erns wees van elke ware herder in hierdie nasie? Dit moenie een of ander nuwe manier wees om mense te lok om kerk toe te kom nie. Nee! Herders moet vol wees van die besorgdheid wat die apostel Paulus se hart gebreek het. God het dieselfde besorgdheid op die hart van die profeet Amos gelê: die gevaar van ‘n hongersnood na die Woord van God.

In Amos se dag, het Israel behep geraak met die sikkel, of geld en materialisme. In die tussentyd, was die armes verag. Almal wat nie suksesvol was nie, was bespot. Daarom het Amos uitgeroep, “Julle wat die behoeftige vertrap...en die sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met ‘n valse weegskaal...om die armes vir geld te koop en die behoeftige vir ‘n paar skoene...Die HERE het gesweer...Gewis, Ek sal in ewigheid nie een van hulle werke vergeet nie” (Amos 8:4-7).

Amos het gesien dat wolwe jagmaak op weduwees en die armes deur hulle silwer of lewensmiddele weg te neem. En hy het uitgeroep, “Julle trek die skoene van die voete van die weduwees af. Julle beroof die armes.”

Ek sien dieselfde ding vandag gebeur. Een wolf – ‘n bedieningskonsultant – het ons finansiële bestuurder vertel, “As iemand vir julle bediening ‘n gawe stuur, stuur dadelik weer ‘n versoek.” Met ander woorde: “Dit maak nie saak wie die geld instuur nie. Laat die weduwees en bejaardes wat julle ondersteun selfs meer gee, as hulle wil. Kry net die grootste gawes wat julle kan.” Nee, dit sal nooit so wees nie! Vandag is daardie konsultant se bediening naby ineenstorting.

Hoe het die Here gereageer op sulke gierigheid in Israel? Hy het vir Amos vertel, “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water ne, maar om die woorde van die  HERE te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see...om na die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie. En dié dag sal die mooi jongedogters en die jongmanne van dors beswyk” (Amos 8:11-13).

God het in wese gesê, “Gaan voort, gaan vir die sikkels. Verag die armes, die behoeftiges, die weduwees en die heiliges. Maar Ek sal ‘n hongersnood op jou en jou kudde stuur. En julle sal honger na ‘n woord uit die hemel. Julle sal oos en wes hardloop om ‘n woord van My te probeer kry, maar geen woord sal kom nie.”

Net so vandag, sal die Here die hemel toesluit vir elke herder van die sikkel. Elke seëning wat instroom, sal vinnig opdroog. En in moeilike tye, sal die dorstige kudde wat die wolwe volg, verstrooi word soos hulle hardloop en soek na ‘n woord van God.

Geliefde, die een groot belangrike saak van ons hemelse Vader is dat geen “ander evangelie” ons sal wegneem van die Kruis af nie. Ek ken baie Christene wie se geloof skipbreuk gely het weens ‘n vleiende woord van jare tevore: “Jy gaan ‘n groot bediening hê. Jy gaan duisende siele vir die Here wen.” Nie een woord daarvan het waar geword nie. En nou is daardie skape heeltemal ontmoedig en hulle geloof lê op die ashoop.

As jy ‘n woord van die Here wil ontvang, laat dit uit die Skrif wees. Laat dit wees vanuit jou kosbare tyd in jou binnekamer van gebed saam met Jesus.  Laat jou naaste goddelike vriende daardie woord toets om dit aan jou te bevestig. Anders, as jy toelaat dat enigiets in die pad van die ware evangelie kom, sal jy in ‘n hongersnood beland.

Paulus waarsku oor ‘n selfs groter aanval teen Christus se kerk.

Paulus het die Efésiërs vertel, “Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:30). Die Griekse woord vir “verkeerde” hier beteken ‘n hardnekkige volharding om ‘n dwaling te bevorder.

Paulus het gewaarsku, “Sommige van julle in gesagsposisies sal opstaan en ‘n verdraaide evangelie bring. Julle sal ‘n verdorwenheid van die suiwer evangelie aanbied.” Waarvan kon Paulus gepraat het? Hoe kon dit moontlik gebeur onder die leiers van hierdie kerk?

Let op, Paulus het nie nou oor wolwe of rowers van weduwees gepraat nie. Hy het nie gefokus op die veragters van die armes nie. Nee, Paulus het verwys na bedienaars wat ineenkrimp en daarvan terugdeins om die hele raad van God te verkondig. Hy het gepraat van diegene wat ‘n afgewaterde evangelie, ‘n halwe evangelie en net ‘n gedeelte van God se Woord verkondig.

Paulus het aan hierdie manne verklaar, “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie” (Handelinge 20:27). Daarom, het hy hulle vertel, “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal” (Handelinge 20:26). Met ander woorde: “Ek is onskuldig voor die Here, omdat ek niks teruggehou het in my verkondiging van God se hele waarheid aan julle nie.”

So, wat is die “hele raad van God” waarna Paulus hier verwys? Kortliks, die hele raad van God sluit in die moeilike onderwerpe in die Skrif, nie net die seëninge nie. Dit sluit in die prediking van die ontsettende sondigheid van sonde. Dit beteken om te preek oor die hel, Christus se wederkoms en die oordeel wat kom. Dit beteken om in te sluit die boodskap van goddelike droefheid oor sonde, van bekering en om sonde te laat vaar. Dit is om ‘n evangelie van die bloed van Christus, wat aanstoot gee, te verkondig. Dit is ‘n boodskap van om die kruis op te neem, van selfverloëning, van opoffering en van om saam met Christus te sterf. Dit is ‘n evangelie van heiligheid en afsondering van die wêreld.

Vandag is sekere bedieninge daaraan verbind om wat hulle ‘n “vriendelike” evangelie noem, wat beteken dat dit nie aanstoot gee nie, te verkondig. Die woordeboek definieer “vriendelik” as warm, vertroostend en nie-ontstellend. Natuurlik glo ek die evangelie van Jesus Christus is vertroostend en genesend. Dit is goeie nuus – inderdaad, die wonderlikste nuus wat die mens ooit sal hoor. En as boodskapper van die evangelie, moet ons bemoediging, hoop en geloof verkondig.

Maar as ons ag gee op Paulus se waarskuwing, dan is ons geroep om die hele evangelie te verkondig. En “die hele evangelie” sluit in ‘n boodskap wat aanstoot gee, ‘n woord wat enige sondige hart in gelowiges of ongelowiges uitdaag en oortuig. Volgens Petrus, is die evangelie van Jesus Christus ‘n “Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling – vir die wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is” (1 Petrus 2:7,8).

Maar die “vriendelike” evangelie wat vandag aangebied word, weier om dit te doen. Sulke predikers bring selde mense by ‘n plek van Heilige Gees oortuiging van sonde. Kan jy jou voorstel dat Paulus ‘n boodskap verkondig wat die oproep om self te verloën uitsluit? Nooit!

Die ‘vriendelik” evangelie is niks anders as ‘n afgewaterde, warm-verdraaide boodskap met die doel om die grootste moontlike skares te trek. Dit is egter tragies dat dit nooit die kwessie wat alle mense na die Kruis trek, sonde, konfronteer nie. In plaas daarvan, verberg dit die waarheid, die einste waarheid wat bedoel is om mense vry te maak.

As ek Paulus se waarskuwing lees, dan sidder ek oor wat ek sien waar word in ons tyd.

Ek is vasbeslote om die hele raad van God te preek tot die dag wat ek huistoe gaan om by die Here te wees. En ek sal dit doen weens God se waarskuwing aan alle predikers in Esegiël 33:

“En hy (die wag) sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense – as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie: sy bloed is op hom. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel.

“As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ‘n siel uit hulle weg – dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis.

“En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

“Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy eie ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered” (Esegiël 33:3-9).

As prediker van God se Woord, moet ek die goddelose waarsku of die Here sal my verantwoordelik hou vir hulle bloed. Dit is geen wonder dat Paulus die Efésiërs vertel het nie, “Ek is onskuldig aan die bloed van alle mense.” Hy het geweet van God se waarskuwing aan predikers in Esegiël 33.

Ek preek in ‘n kerk waar mense uit alle klasse van die samelewing inkom: transvestiete wat in ‘n persoonlike hel lewe, akteurs en aktrises wat hulle wanhoop met alkohol en dwelms probeer verdrink en desperate besigheidsmense, wat op die rand van selfmoord is. As ek kyk na die gesigte van hierdie lydende sondaars, hoe kan ek bang wees om vir hulle die waarheid te gee? Hoe kan ek moontlik enige van God se Woord van hulle weerhou as ek weet dat die enigste waarheid wat tot hulle sal spreek, die bloed van Jesus en die Kruis van Christus sal wees?

My boodskap mag soms sondaars en kompromiemakers aanstoot gee. Maar ek sal nie enige bloed op my hande hê op die Oordeelsdag nie.  Jy mag dink, “Alles wat jy noem, kom uit die Ou Testament. Dit is nie van toepassing op hierdie dag van genade nie.” As dit waar is, dan het Jesus ‘n fout gemaak toe Hy Jesaja en die ander profete aangehaal het. En dieselfde is waar vir Johannes die Doper en die apostel Paulus, “Aangaande Hom het getuig al die profete” (Handelinge 10:43).

Hier is Jesus se eie woorde oor die onderwerp: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Maar die huurling en hy wat nie ‘n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar” (Johannes 10:11-12).

Jesus het gesê die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Wat beteken dit presies vir ‘n bedienaar van God vandag? Dit sluit in om alle trots, alle vrees vir mense en alle wegdeinsing wanneer dit daarby kom om die hele raad van God te verkondig, neer te lê. Dit is ‘n vereiste vir enige herder wat geroep is om die kudde te voed.

Laat my jou nou ‘n bietjie goeie nuus gee.

Ek sien God rig ‘n heilige oorblyfsel van goeie herders op.

Hierdie herders soek God met nuwe ywer. Hulle is toegewyde bedienaars, jonk en oud, wat nie sal toelaat dat ‘n wolf hulle kudde aanraak nie. As hierdie herders vandag om hulle na die kerk kyk, is hulle siek van al die bohaai wat hulle sien. Hulle ween as hulle sien hoe skape links en regs uitmekaar gejaag word omdat hulle geen ware herder het nie

Hierdie goddelike herders het een saak: hulle is vasbeslote om hulle kudde te voed met God se suiwer Woord. Hulle weier om hulle eie drome te bou op die uitbuiting van die arm en swak skape. In plaas daarvan, kom hulle na die kansel met ‘n vars, vurige woord van die Heilige Gees. Hulle weet dit is die enigste ding wat hulle kudde deur die moeilike dae wat voorlê sal dra.

My seun Gary en ek ontmoet hierdie toegewyde herders oral oor die wêreld waar ons bedienaarsbyeenkomste hou. Hulle het moeg geword vir mensgemaakte konsepte en foefies vir die bediening. Al wat hulle wil hê, is om van God te hoor. Hulle weet dat hierdie wêreld na die oordeel jaag en daarom preek hulle met Heilige Gees vuur. Hulle kompeteer nie met mekaar nie en probeer nie om godsdienstige sterre te wees nie. Hulle wil nie dwase drome najaag wanneer God alles skud wat kan geskud word nie.

Ek glo dat God binnekort, in ‘n enkele dag – in ‘n dag van skrik en paniek – alle valse, verkeerde evangelies sal neerwerp. Hy sal alle kerke wat die vlees behaag, toemaak. Openbaring sê dat Babel in een uur sal val. Dit is wanneer ek verwag dat God elke “wolf bediening” sal bankrot maak.

In hulle plek sal Hy ‘n liggaam van oorwinnaars laat opstaan. Hieridie dienaars van God sal vreesloos, heilig en ten volle voorbereid wees omdat hulle ten volle gewaarsku is. Dit is wanneer ons God se heerlikheid sal sien terugkeer na sy kerk. Halleluja!