Die Sadok-Priesterskap

Onderskei die verskil tussen heilige en skynheilige bedienings
David Wilkerson

Die boek van Eerste Samuel sê vir ons dat ‘n naamlose profeet na Eli toe gekom het met ‘n verskriklike boodskap. Hierdie onbekende man het ‘n verstommende profesie gelewer – een wat alles te doen gehad het met wat ons in die kerk sien gebeur vandag. Dit is ‘n woord wat baie openbaar oor dooie, droë goddelose bedienaars en kerke wat tans in werking is!

Hierdie profesie vertel vir ons van twee priesterskappe wat sou ontwikkel en voortgaan, van daardie dag af tot aan die heel einde. Beide hierdie priesterskappe sou in die kerk bedien. Een sou ‘n vervloekte, gruwelike skande wees. Maar die ander sou ‘n bediening na God se eie hart wees!

Die naamlose profeet sê vir Eli:

“Kyk, die dae sal kom dat Ek jou arm en die arm van jou vader se huis sal afkap, sodat daar geen bejaarde in jou huis sal wees nie” (1 Samuel 2:31).

Hy beskryf ‘n vloek oor die bediening van Eli!

Maar dan gaan hy voort:

“En Ek sal vir my ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel” (1 Samuel 2:35).

Hierdie profesie van twee priesterskappe word vandag vervul – reg voor ons oë. Beide bedienings is inderdaad tegelykertyd in werking in alle nasies dwarsdeur die wêreld!

Eerstens praat die profeet oor die aaneenlopende bediening van ‘n selfgesentreerde, afvallige, gekompromitteerde priesterskap. Hy beskryf daardie priesters wat van die gees van Eli is en noem twee dinge:

1. Sulke priesters is mensebehaers, meer as behaers van God.

“Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel” (1 Samuel 2:29).

Eli was sag met sonde! Hy het nooit besluite geneem wat sy twee seuns aanstoot sou gee nie. Slegs eenkeer, in meer as vyftig jaar se bediening, het Eli hulle tereggewys. Hulle het owerspel bedryf, vroue verkrag en die mees veragtelike dade gedoen. Selfs toe, is al wat Eli vir hulle kon sê, “Waarom doen julle dit?”

Hierdie man het geen regverdige verontwaardiging gehad nie! Hy het nooit God se toorn en haat teenoor sonde gedeel nie. En hy het ‘n priesterskap van bedienaars verteenwoordig wat bang was om God se familie, die gemeente, te bestraf!

Daar is vandag kerke wat jy kan bywoon vir meer as ‘n jaar, en tog nooit een woord van bestraffing hoor nie. ‘n Kerk kan heeltemal verdorwe wees – helfte van die gemeente skei, owerspel is algemeen, tieners slaap rond, kinders is onbeheerbaar. Die hele gemeente kan oorgegee wees aan plesiere, sport en vermaak – maar daar is nooit ‘n woord van teregwysing van die kansel af nie! In plaas daarvan, maak die herder voorsiening vir die mense se swakhede en versmagtinge. Hy is bang om iemand aanstoot te gee – bang die offerhandes sal afneem en dat hy sy inkomste kwyt kan wees.

Dit is die eerste eienskap van die bose bediening wat ontwikkel het in Eli se siel. En dit is die kenmerk van elke voortgesette, gekompromitteerde priesterskap vandag!

2. Hulle maak voorsiening vir hulle eie behoeftes en gemak eerder as om hulleself vir die behoeftes van die skape te gee.

“...deur hulle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel” (1 Samuel 2:29).

Wanneer die mense die vleisoffer na die priester gebring het, was dit veronderstel om in die kookpot gegooi en gekook te word. Daarna het die priester ‘n drietandvurk in die pot gesteek en wat ook al uitgekom het, het na sy tafel gegaan.

Maar Eli se twee seuns wou nie die gekookte vleis gehad het nie. Hulle wou die rooi, rou filet mignon gehad het! Daarom het hulle vir hulle vader die beste snitte gebring. Daar was geen gekookte vleis op sy tafel nie. Dit is hoe Eli vet, lui en roekeloos geword het. As hy met sy seuns sou afreken, sou hy dalk sy filet mignon verloor het!

Eli was begaan oor sy eie belange, sy eie tafel. En dit is wat vandag in baie kerke gebeur: Predikers is slegs geïnteresseerd in hulle eie gemak, om vir hulleself te sorg – in plaas daarvan om tyd op hulle knieë deur te bring ter wille van die mense!

Die profeet sê in wese, “Jy is selfbehep, Eli – jy werk net vir jou eie huis! Vir jou beteken die bediening niks meer as kos op die tafel en sekuriteit vir jou en jou familie nie. Jy gee nie regtig om vir die skape nie. Jy is meer geïnteresseerd in wat op jou tafel aangaan as wat in die mense se harte ingaan. Jy dink egter nie eens één keer oor hoe jou kompromie en selfsug skande oor God se huis bring nie. Jy neem nooit die mense in ag wat moet toekyk hoe jou seuns die beste vleis steel nie. Jy is sag op sonde, bang vir bestraffing – omdat jy net besord is oor dinge wat jou gemaklik maak!”

Die profeet het drie verskriklike oordele oor hierdie priesterskap uitgeroep!

Elke sogenaamde bedienaar wat van die nageslag van Eli is – kompromieë maak, sag op sonde is, en net oor homself besorgd is – sal drie oordele ken:

1. ’n Verlies van alle geestelike krag en gesag.

“...maar die wat My verag, sal veragtelik wees. Kyk, die dae kom dat Ek jou arm en die arm van jou vader se huis sal afkap...” (1 Samuel 2:30-31).

Om “veragtelik” geag te word deur die Here, beteken ‘n verlies van God se guns en seën! Dit beteken geen impak op Satan se koninkryk nie. So ‘n bedienaar mag hoog geag word deur ander – maar in God se oë is hy ‘n liggewig, iemand in wie Hy geen vertroue het nie!

God sê, “Jy verag My deur nie My hele raad te verkondig nie. Jy is nie ‘n man van gebed nie. Jy is nie begaan oor My mense nie, maar slegs oor jou sukses en reputasie. Jy wil net seker maak daar is ‘n skare. Jy het My Woord geminag – en nou gaan Ek jou verag! Gaan weg – doen jou eie werke. Jy is veragtelik in My oë!”

Hierdie afsny van God se salwing lei die Eli-priesterskap na besige, heen-en-weer programme – werke van die vlees wat bloot net goed lyk. Dit alles klink soos baie belangrike koninkrykswerk. Maar God weier om daaraan te raak! Dit is eenvoudig besige aktiwiteit – veragtelike bedienings onderneem deur veragtelike bedienaars!

2. Hulle sal oorgeslaan word deur die ware salwing en seën van God in die laaste dae.

“Dan sal jy die benoudheid van my woning aanskou, in alles waarin Hy aan Israel goed sal doen...” (1 Samuel 2:32).

Met ander woorde: “Wanneer Ek die tyd kies om My Gees uit te stort, sal jy in puinhope staan!” En dit is presies wat in Amerika gebeur vandag: Predikers staan in kerke wat dood, verdroog en bouvallig is! God het vir hulle gesê, “Ek sal jou oorslaan!”

Hierdie priesterskap sal daar tussen die murasies staan terwyl God ‘n ander priesterskap seën en salf – manne van God wat die prys betaal het! Tans, in hierdie laaste dae, daal Sy salwing neer op diegene wat hulle lewens vir Hom gegee het. Die Gees neem besit van hierdie biddende, vreeslose mense. Maar diegene uit Eli se nageslag word oorgeslaan – gelos om hulle kerkspeletjies te speel!

God sê in wese, “Ten spyte van alles wat Ek doen, sal jy nie die goeie sien nie! Jy sal nie deel wees van My laaste-dag, heilige oorblyfsel nie. Jy is veragtelik – en jy sal jou bediening bedryf met geen ware geestelike gesag nie!”

3. Hulle sal God se aanraking verloor in die fleur van hulle lewe.

“...en al wat aangroei uit jou huis, sal op manlike leeftyd sterf” (1 Samuel 2:33).

Hierdie vers word twee maniere verstaan. Eerstens, dit was heeltemal letterlik toe Saul vir Doëg na Nob toe gestuur het en vyf-en-tagtig priesters wat uit die nageslag van Eli was, vermoor het.

Maar die vers het ook ‘n geestelike toepassing: Dit sê dat hierdie priesterskap goed sal lyk tot op ‘n seker punt. Die bedienaars sal baie aktief en besig wees. Maar net op die punt wanneer hulle veronderstel is om op hulle beste te wees – vol energie, krag, wysheid en heiligheid, gereed om die meeste gebruik te word – sal ‘n geestelike dood plaasvind. God sal hulle verlaat! Hulle sal voor die volk staan soos dooie mense, terwyl hulle in die fleur van hulle lewens is!

Miskien is die mees tragiese van al die profesieë wat gegee is deur hierdie naamlose man van God, dat die afvallige, gekompromitteerde priesterskap nooit van God se altare uitgeroei sou word nie! Die goddelose bediening sou voortgaan tot die heel einde toe:

“Maar Ek sal, om jou oë te laat wegkwyn en jou siel te laat versmag, een vir jou nie uitroei van my altaar af nie...” (1 Samuel 2:33).

God sal hulle nie uitroei nie! Gekompromitteerde, geeslose, dooie mans gaan bestaan tot op die laaste dag, wanneer die Here terugkeer. Maar God sê, “Wat ‘n smart sal hulle wees. Hulle sal ‘n rede wees om te ween!”

Nou wil ek egter vir jou ‘n ander soort priesterskap wys. Dit is die ander bediening wat die profeet gesê het God besig was om op te rig:

“En Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel” (1 Samuel 2:35).

Hierdie heilige bediening is die Sadok-priesterskap! Dit bestaan uit getroue, heilige bedienaars van God wat wandel en leef volgens Sy begeerte. En so ‘n priesterskap bly tot hierdie einste dag!

Alles wat hierdie naamlose profeet geprofeteer het, word ten volle geïllustreer in Dawid se koninkryk. Dawid is ‘n tipe Christus, en Israel is ‘n tipe van die kerk. En Dawid het twee priesters gehad, wat hierdie twee profetiese priesterskappe vervul het tot op die letter: Ábjatar en Sadok.

“En is die priesters Sadok en Ábjatar nie daar saam met jou nie?” (2 Samuel 15:35).

Laat ons eers Sadok beskou.

Sadok se naam beteken “een wat as regverdig beproef is.”

“En dit is hulle wat na Dawid na Siklag gekom het...en Sadok, ‘n jongman, ‘n dapper held, met sy familie: twee-en-twintig owerstes” (1 Kronieke 12:1,28).

Sadok was die eerste jong priester wat God se salwing oor Dawid erken het!

Manne het na Dawid gevlug en het van oral oor gekom om by sy magte aan te sluit. Sadok het besef dat die Gees Saul verlaat het; sy bediening was nou net ‘n bohaai, vlees, met geen roeping of aanraking uit die hemel nie. En Sadok het gesê, “Ek wil nie deel wees van daardie soort bediening nie. Dit is dood – God het dit verlaat. Ek gaan na Dawid toe, wat die Gees se salwing het!”

Toe het Sadok na Dawid in Siklag gegaan – om hom vir die res van sy lewe nooit te verlaat nie! Deur al die afvalligheid heen, het Sadok by hom bly staan, ‘n man wat regverdig bewys is. Dawid het die priester se hart gesteel – en Sadok het nooit teruggekyk nie.

Dank God, daar is mans van God soos hierdie op talle kansels vandag. Hulle is mans van gebed wat oorgegee is aan Jesus, nadat hulle alle vlees, vermaak en wêreldsheid verlaat het. En jy weet dit wanneer jy hulle hoor preek – omdat iets in jou siel registreer!

Toe ander Dawid verlaat het, het Sadok getrou gebly. Dawid het gevlug vir sy seun Absalom, wat gerebelleer het. En toe Dawid by die spruit Kidron gekom het, sê die Skrif,

“En kyk, Sadok was ook daar...Ábjatar het ook opgetrek...” (2 Samuel 15:24).

Let op dat beide Sadok en Ábjatar hier saam met Dawid is. Beide is by die spruit Kidron saam met hom en beide gaan terug na Jerusalem toe op Dawid se bevel. So, terwyl Absalom Dawid se byvroue in die publiek onteer het en Israel mal gegaan het met goddeloosheid en feestelikheid, het twee heilige manne in God se huis gestaan – Sadok en Ábjatar.

En so is dit vandag! Terwyl die hele wêreld hel toe gaan tussen ongehoorde goddeloosheid, het God steeds Sy heilige manne wat diens doen by Sy altaar. Hy het steeds ‘n Sadok-priesterskap, getrou in God se hele Woord!

Beskou nou die Ábjatar-priesterskap!

Ábjatar se naam beteken “vrede met God.” Hy was saam met Sadok toe hulle die ark teruggeneem het na Jerusalem toe.

Op hierdie punt, lyk dit inderdaad of Ábjatar heilig, toegewyd, geheg en getrou was aan Dawid. Hy wou niks te doen gehad het met Absalom se rebellie nie. Hy het sy bediening bedryf en so suiwer en ongekompromitteerd soos Sadok gelyk.

Maar waarom word hy nooit hierná in die Woord genoem nie? Waarom word hy nie genoem onder die profete nie. Waarom het sy naam uitgesterf? Iets het gebeur. Skielik word Ábjatar “veragtelik” – en Sadok word die voorbeeld gemaak van die heilige oorblyfsel priesterskap. Waarom? Dit is omdat Ábjatar die gees van Eli in hom gehad het! Al daardie verskriklike profesieë wat deur die naamlose profeet gespreek is, het op hom neergekom.

En dit het alles vinnig gebeur!

Die naamlose profeet het gesê dat nie almal uitgeroei sou word nie. Ábjatar se vader en drie-en-tagtig ander priesters wat ‘n skouerkleed gedra het, was doodgemaak deur Doëg. Slegs Ábjatar het ontvlug! Hy het na Dawid gevlug – en die bediening wat hy verteenwoordig het, het oorleef volgens die profesie.

Net soos die profeet egter gespreek het, was Ábjatar, die nageslag van Eli – in die fleur van sy lewe en op die kruin van sy seën, verlei deur die geroep van sukses. Hy het sy plek by God se gesalfdes verloor!

Jy sien, Dawid het ‘n ander seun, Adonia, gehad. Sy naam beteken “sukses en voorspoed.” Hierdie jongman het voorgegee om ‘n “nuwe beweging” in die land te begin deur homself koning te maak. Dit was slegs ‘n ander rebellie – nie ‘n beweging van God nie, maar ‘n strik van Satan!

Dit is die einste bediening waarteen die profeet gewaarsku het: selfverheffing en sukses!

“Intussen was Adonia...so vermetel...” (1 Konings 1:5).

Dit was selfgesentreerdheid, trots! Adonia het gesê, “Ek sal myself as koning aanstel!”

Hierdie jongman was grootgemaak onder ‘n bediening van “geen bestraffing nie”:

“En sy vader het hom sy lewe lank nie gekrenk deur te sê nie: Waarom maak jy so?” (1 Konings 1:6).

Let hier op: Alles wat die profeet geprofeteer het oor hierdie soort bediening het waar geword. Al die elemente wat hy gesê het sou plaasvind onder hierdie soort priesteskap, was in hierdie man, Adonia!

“En hy het met Joab, die seun van Serúja, onderhandel...” (1 Konings 1:7).

Adonia het homself omring met goddelose manne! Daar was nie ‘n heilige man onder hulle nie – nie Sadok, nie Natan, nie een van die getroue manne van Dawid nie (sien vers 8). En, die Skrif sê, hierdie groep het ontmoet by “die klip Sohélet” – wat “plek van die slang” beteken.

Dit was ‘n groep selfdienende, suksesgedrewe, ego-strelende rebelle. Hulle het uitgeroep, “Hier is iets nuuts, iets wat werk! Weg met Dawid se ou, uitgewerkte maniere. God doen ‘n nuwe ding in die land!”

Tot op daardie stadium was Ábjatar getrou aan Dawid. Maar nou was die woord uit: “Daar is ‘n nuwe beweging wat in die land plaasvind – een of ander groot, nuwe ding wat gebeur in die land. En dit is baie opwindend!” Dit het die hart van Ábjatar verstrik – want dit het gelyk soos ‘n kaartjie na sukses en voorspoed. Nou kon hy dit maak! Hy het ‘n nuwe man en ‘n nuwe boodskap gevind.

Ek ontmoet baie mense wat na hierdie land kom vanaf plekke in Europa, Afrika en Asië waar kerke besig is om te sterf. Hulle hoor van een of ander nuwe werk wat in die kerke hier plaasvind en hulle word honger om dit in hulle eie kerk te sien gebeur – ‘n nuwe beweging van God!

Eenkeer, toe ek oorsee was, het ek vir een pastoorsvriend gesê, “Jy en jou vrou was gewoonlik voortdurend op julle aangesigte aan die ween voor God. Dit is waarom jou kerk so geseënd was. Maar jy het so besig geword, dat jy nie meer vir God ken nie!” Hierdie paartjie het begin huil en het uitgeroep, “Jy is reg!” Maar in plaas van om dit weer te doen, het hulle na Amerika gekom – om te soek na een of ander nuwe program wat hulle bediening kon maak werk!

Dit is die bediening van Ábjatar! Hy het vasgevang geraak in ‘n vleeslike, goddelose werk van Satan. En hy het saam met die ander vergader by die klip van Satan, terwyl hy geëet, gedrink en geskree het, “Lank lewe Koning Adonia!”

Toe dit aan Dawid vertel is, het hy uitgeroep, “Kry Natan vir my!” Jy sien, wanneer God iets wil doen wat werklik vir Sy ewige doelwitte tel, roep Hy diegene wat hulle met Hom afgesonder het. Dawid is ‘n tipe Christus hier. En hy het uitgeroep, “Vergeet Ábjatar. Gaan haal vir Natan! Ek ag Ábjatar veragtelik. Sê vir Natan om die trompet en die olie te kry en Salomo te gaan salf!”

Daarom was Salomo as koning gesalf. En die eerste ding wat hy gedoen het, was om Simeï, wat Dawid gevloek het, te laat doodmaak. Toe het hy begin afreken met al Dawid se vyande – en hy het Ábjatar vorentoe geroep.

Ek herinner jou dat die naamlose profeet gesê het hierdie Eli-Ábjatar bediening sou nooit uitgeroei word nie. En Salomo het geweet van hierdie profesie. Ábjatar sou tereggestel word vir hoogverraad. Maar in plaas daarvan, het Salomo vir hom gesê:

“Jy het kragte saamgesnoer saam met my broer Ádonia. Jy het probeer om hierdie koninkryk te laat val. En weens dit, behoort jy te sterf. Maar ek gaan jou nie doodmaak nie. Jy het die ark van God vir my vader, Dawid, gedra en jy was geteister saam met hom. Weens daardie dinge, sal ek jou nie op hierdie stadium doodmaak nie. Gaan nou na Ánatot, jou eie grond en doen jou eie ding. Jy is veragtelik!”

“So het Salomo dan Ábjatar verdrywe, sodat hy nie meer priester van die HERE was nie, om die woord van die HERE te vervul wat Hy oor die huis van Eli in Silo gespreek het” (1 Konings 2:27).

Die Eli priesterskap is steeds hier vandag! Maar God sê vir hulle soort, “Gaan, doen jou eie ding. Ek vind jou veragtelik!”

Esegiël het die profetiese belangrikheid van hierdie twee priesterskappe verstaan!

Beide die Sadok- en Ábjatar-priesterskappe was in werking in Esegiël se dag. En, soos die naamlose profeet, het Esegiël geprofeteer dat hulle beide soos twee strome van bediening sou vloei tot op die einde:

“...gee ag op die ingang in die huis deur al die uitgange van die heiligdom” (Esegiël 44:5).

God het vir Esegiël gesê, “Staan by My huis en kyk na al die mense kom en gaan. Onderskei al die aktiwiteite wat daar aangaan. Dit is alles ‘n gruwel! Hulle bring vreemdelinge en buitelanders in My huis in om dit te verontreinig!”

Net so vandag, is die gruwels wat aangaan in die kerk so verskriklik, dat God sê, “Genoeg – Ek het genoeg gehad!” Goddelose bedienaars het ruk-en-plukdans, vermaak, uiterste dwaasheid, sangers wat dwelms en alkohol gebruik en God nie eens ken nie in die heiligdom ingebring. Hierdie mense staan en bedien op die kansel en die mense ken nie eens die verskil nie!

“En julle het die diens van my heilige gawes nie waargeneem nie, maar het hulle aangestel om my diens in my heiligdom vir julle waar te neem” (Esegiël 44:8).

Hy het met ander woorde gesê: “Julle het vreemdelinge ingebring, mense wat My nie ken nie om My heiligdom te bedryf!” Dit was vreemde elemente – goddeloos, onheilig, onafgesonderd en steeds van die wêreld. God se huis is verontreinig!

Toe het God ‘n Ábjatar-priesterskap aangestel om ‘n volk wie se harte vas was aan afgode te bedien. Die herders het ver weggedwaal van God af. Hulle was gevul met die gees van Eli en het roem en sukses nagestreef – en die volk het daarvan gehou om dit so te hê! Daarom het God afgodiese priesters aangestel om die mense te gee wat hulle wou hê. “Soos die volk, so ook die priester!”

“Dus sal Ek hulle aanstel om die diens van die huis waar te neem, vir die hele bediening daarvan en vir alles wat daarin gedoen moet word” (Eségiël 44:14).

Hoe blind is sulke bedienaars! God sê van hulle,

“En hulle mag nie nader kom na My toe...nie” (Eségiël 44:13).

Hulle staan op die kansel, verag deur God, vol self en afgodery, nêrens naby die Here nie. Hulle gaan egter deur al die rituele: prediking, lering, berading, al die bedieningspligte. Maar hulle ken nie die verskil nie! Hulle het geen onderskeiding, geen getuienis van die Gees nie!

Geliefde, as jy jou nie bekeer en alles aan Jesus oorgee nie – as jy aan ‘n afgod in jou hart vashou – sal jy op die ou end luister na ‘n bedienaar wat jou afgodery goedpraat!

God het ‘n belofte gemaak in Sy Woord dat as sy volk hulle sal bekeer en terugkeer na Hom met hulle hele hart, Hy vir hulle Sadok herders sal oprig!

“Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE...en Ek...sal julle in Sion bring. En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand” (Jeremia 3:14-15).

Esegiël het geprofeteer dat ‘n Sadok-priesterskap baie gesond en lewendig sou wees in die laaste dae:

“Maar...die kinders van Sadok, wat die diens van my heiligdom waargeneem het toe die kinders van Israel van My af weggedwaal het, hulle moet na My toe nader kom om My te dien en voor my aangesig staan om aan My die vet en die bloed te offer, spreek die Here HERE. Hulle moet in my heiligdom ingaan, en hulle moet na my tafel toe nader kom om My te dien en my diens waarneem” (Eségiël 44:15-16).

Daar sal geen mengsel in hierdie priesterskap wees nie en hulle moet:

“...linneklere aantrek; maar wol mag op hulle nie kom as hulle dien...nie” (Eségiël 44:17).

Wol gemeng met linne verteenwoordig mengsel – ‘n bietjie van God en ‘n bietjie vlees. Maar God sê, “My priesterskap is gemaak van suiwer linne. Daar is geen mengsel nie!”

Hierdie Sadok-priesterskap sal vreesloos teen sonde wees – en sal die mag hê om mense te lei na geregtigheid en heiligheid.

“En hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is” (Eségiël 44:23).

Hier is die kenmerke van die Sadok-priesterskap:

1. Hulle is nie bang om tereg te wys met die krag en gesag van die Heilige Gees nie,

2. Hulle maak vir jou duidelik wat reg en verkeerd is, totdat jy die kennis en wysheid besit om die regte keuses te maak.

3. Hierdie mans ken die stem van die Here. Hulle weet wat God spreek, omdat hulle op Hom sit en wag! Hulle bid nie, “Seën my, seën my programme, gee vir my geld....” nie. Hulle bid liewer, “O Jesus, ek het U lief! Ek wil U gedagtes en hart ken!”

Jy kan dalk sê, “Dit is goed om al hierdie dinge oor predikers te weet.” Maar God sê vir jou op hierdie oomblik: “Wat van jou?”

Dierbare Heilige, weet jy dat hierdie boodskap alles oor jou gaan?

Die Skrif sê,

“En ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid...” (Openbaring 1:6).

Geliefde, hierdie vers is waar vir die hele liggaam! Elkeen wat homself of haarself met God se naam noem, moet ‘n priester vir die Here wees.

So, ek vra vir jou: Watter priesterskap beskryf jou wandel met God? Is jy van Sadok? Of Ábjatar? Is jy selfgesentreerd – hardloop jy rond agter konvensies en seminare aan op soek na vertroostende antwoorde? Of ontvang jy teregwysing met blydskap en die wete dat God die kanker van sonde uit jou wil uitsny om jou te genees? Koop jy bandopname na bandopname van een of ander evangelis om te probeer om ‘n woord uit die hemel te kry? Of leer jy om God se stem self te onderskei, deur vir Hom kwaliteit tyd te geen in jou afgesonderde binnekamer?

Almal wat deur die Naam van Jesus lewe, behoort te leer om God se stem te hoor. Hy wil hê jy moet Sy woord in jou eie hart hoor! As jy dit leer, dan kan jy na enige kerk op enige plek gaan en binne vyf minute weet of die Gees van die Here daar is. As dit werklik Sadok is, sal jou hande in die lug opgaan. Jy sal sê, “Ek hoor iets goeds. Iets registreer in my siel. Dit is God!”

Of – sal jy onderskei wat van Ábjatar is. En dit sal jou siek maak op jou maag! Jy sal vlug, omdat jy nie die stank van vlees kan verduur nie!

O, God – gee ons die gees van die Sadok-priesterskap!