DIE PLEK WAS SO STIL

David Wilkerson

Jare gelede was ek uitgenooi om by Yale Universiteit te praat. Met my aankoms, is ek gewaarsku dat ‘n groep oproermakers in die gehoor gereed was om my te onderbreek op kennisgewing. Terwyl ek op die verhoog gestap het, het ek party van hierdie betogers met plakkate gesien.

My boodskap daardie aand was: “HEL: HOE IS DIT DAAR EN WIE GAAN SOONTOE?” Ek het presies verkondig wat Jesus gesê het: “Daar sal geween wees en gekners van tande” (Matthéüs 13:50). Terwyl ek gepraat het, was daar absolute stilte in die ouditorium en die atmosfeer was gelaai met oortuiging van sonde. Na die tyd, het almal die ouditorium verlaat in oorblufde stilte.

Ek sal daardie diens nooit vergeet nie. Daar was ‘n ware vrees vir God in daardie plek, ‘n eerbiedige ontsag, selfs onder diegene wat die meeste weerstand gebied het teen die Evangelie. ‘n Bekende joernalis van die New York Times  het verslag gedoen oor die geleentheid en later het hy vir my gesê: “Die plek was so stil, dat my pen hard geklink het.”

Terwyl ek ná afloop van die geleentheid deur die voorportaal gestap het, was sommige van die betogers steeds daar met hulle plakkate. Toe hulle my sien, het hulle weggedraai. Hulle het geen verklaring gehad vir die majesteit en heiligheid van God wat hulle so pas teëgekom het nie.

Ek moet sê daardie dae van vrees vir God is lankal verby. Vandag het die Satan ‘n evangelie van gerief losgelaat. Nou is daar betaalde advertensies op die New York busse wat sê: “Daar Is Geen God Nie – Geniet Jouself!” Op die Londonse busse is daar soortgelyke advertensies, “Daar Is Geen God Nie – Laat Ons Jol!”

Waarom duur sulke verwysings na God voort oor tyd? Dit is omdat die mensdom nog nooit die vrees vir die gevolge van sonde ten volle kon afskud nie. Die wêreld word geteister deur die werklikheid van die Oordeelsdag, die dag van die laaste afrekening en ‘n letterlike hel. Die Heilige Gees is getrou om elke geslag te waarsku, hoe verdorwe ook al. En Hy praat nou op hierdie oomblik!