DIE OPENBARING VAN CHRISTUS SE HEERLIKHEID

David Wilkerson

Jy mag wonder waarom Moses so desperaat na ‘n visioen van God se heerlikheid gesoek het. Ek glo dat ons die rede in hierdie vers kry:

“En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word” (Exodus 29:43, kursief myne).

Die woord “geheilig” beteken “skoongemaak.” God het gesê, “Terwyl jy My aanbid, sal Ek jou ontmoet en jou My teenwoordigheid gee. En wanneer jy in My teenwoordigheid is, sal Ek My heerlikheid aan jou openbaar. Dit sal jou uitlig bo jou omstandighede.”

So, waar kan ons hierdie openbaring van Christus kry? Ons vind dit slegs as ons na Hom in gebed gaan, terwyl ons op God se Woord vertrou. Paulus sê, soos ons toelaat dat die Skrif ‘n ewig-toenemende openbaring van Jesus se heerlikheid op ons skyn, sal ons verander word van heerlikheid tot heerlikheid:

“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18).

Hierdie openbaring van Christus se heerlikheid sal ‘n bewarende krag vir ons lewens voorsien: “Want oor alles wat heerlik is, sal daar ‘n beskutting wees” (Jesaja 4:5, kursief myne). Met ander woorde, sy heerlikheid sal ons die hemelse dinge laat bedink selfs in ons moeilikste uur.

Wat God hier aan ons sê, is dat ons tyd moet neem om sy Seun te leer ken. Ons moet daagliks die Woord ondersoek en ons na gebed wend. Dan, soos ons in sy teenwoordigheid bly, sal ons oë begin oopgaan vir sy heerlikheid. Dit is alles geopenbaar in Christus. Jesus is die volle openbaring van sy liefde, genade, barmhartigheid en liefdevolle goedertierenheid.