DIE OORTUIGING VAN GOD SE GENADE

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer die Gees val, is daar altyd twee dinge as bewys daarvan: ‘n gees van genade en ‘n gees van smekinge. “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge” (Sagaria 12:10).

Die boek Titus sê vir ons dat genade aan ons gegee word as mag oor sonde, om ons in staat te stel om ingetoë, heilige lewens te leef. “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn, en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë, regverdig en vroom in die teenswoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid van verwag van die grote God en ons Verlosser Jesus Christus” (Titus 2:11-13).

Daar is ‘n wonderlike maat van hierdie genade teenwoordig in God se kinders sedert Pinkster. Die Heilige Gees het oortuiging van sonde oor alle nasies gestuur en leer gelowiges van elke ras en taal hoe om goddeloosheid te laat staan. Die gevolg is ‘n volk wat ingetoë en regverdig lewe in hierdie huidige wêreld en wat verlang na die wederkoms van Jesus.

Ek glo Sagaria 12 profeteer dat in die heel laaste uur, die Heilige Gees kragdadig op God se kinders sal val met ‘n gees van genade wat hulle heeltemal van alle wêreldsheid sal laat afsien. Dit sal in hulle ‘n reinheid van hart produseer. God se kinders sal opgewek word tot ware “genade verkondiging” – die soort wat mense oortuig van elke verborge ding in hulle lewens. Bedienaars sal ‘n oortuigende, sonde-openbarende, bekeringsboodskap verkondig, groter as enigiets wat in die geskiedenis gesien is. Alle ongeregtigheid, goddeloosheid en dwaasheid sal geopenbaar word en diegene in God se huis sal ‘n “drang” voel om te doen wat reg is.

Bedienaars wêreldwyd wat louwarm geword het, sal aangeraak word deur die Heilige Gees. God sal hierdie mense tref met die oortuiging van Sy genade en Hy sal vir hulle sê, “Die wêreld stort in duie en binnekort gaan julle voor My staan. Begin spreek tot die harte van hierdie mense met die salwing van die Heilige Gees.”