DIE OORLOG VAN ALLE OORLOË

David Wilkerson (1931-2011)

“En daar het oorlog in die hemel gekom” (Openbaring 12:7).

Ons hoor deesdae baie van oorlog – oorlog teen terrorisme, oorlog in die Midde Ooste, kernbom dreigemente van verskeie nasies af. Nog nooit in die geskiedenis was daar so ‘n tyd van oorlog oral op die aarde nie. En as gevolg van die kitskommunikasie wat ons nou het, ontvang ons amper onmiddellik berigte van bomontploffings, hinderlae en dodetalle.

Ek is oortuig dat Jesus hiervan gepraat het: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë” (Matthéüs 24:6). En net soos Christus geprofeteer het, beswyk mense se harte van vrees: “En mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Lukas 21:26). Die oorloë wat ons sien, word veroorsaak deur terreur oral op die aarde, maar hierdie oorloë is alles simptome van ‘n baie groter oorlog. Jy sien, daar is eintlik net een oorlog wat aan die gang is en hierdie oorlog-van-alle-oorloë vind in die hemele plaas – ‘n oorlog tussen God en die duiwel.

Hierdie oorlog was eeue gelede verklaar. Openbaring sê vir ons, “Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer” (12:7). Terwyl hy in die hemel was, het Satan al die gevalle engele wat hy mislei het om teen God in opstand te kom, versamel, want Hy wou God se gesag en troon oorneem.

Maar die duiwel het daardie eerste geveg verloor en God het hom saam met die rebelse engele uit die hemel gewerp. Satan het reeds daardie engele mislei en toe God die mensdom geskep het, het hy besluit om hulle ook te mislei.

Satan se rebellie het God nie onkant gevang nie. Selfs voor die skepping van die wêreld, het God ‘n plan beraam om die duiwel te verslaan. Die Here sou die mens in sy eie beeld skep en het hom toegelaat om ‘n vrye wil te hê – en toe het Hy sy Seun, Jesus gestuur om die hele mensdom te verlos!

Jesus wag geduldig vir die laaste oes om ingebring te word maar, tot die wederkoms van die Here, kan ons in oorwinning leef: “Ons [is] meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:37).