Die Ontsagwekkende Stem van God

David Wilkerson

Die boek Exodus bevat een van die vreemdste gedeeltes in die hele Skrif. Terwyl Israel by berg Sinai uitgekamp het, was hulle skielik omring deur dik duisternis en ‘n ontsaglike vlammende vuur. Uit hierdie ontsagwekkende elemente, het God gespreek, “Met hierdie woorde het die HERE julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ‘n groot stem toegespreek” (Deuteronómium 5:22).

Die berge wat die Israeliete omring het, was aan die brand, die bonatuurlike vuur het alles in sig verteer. Donderweer het gedonder asof die aarde in twee geskeur het. En te midde van dit alles, het God hoorbaar gepraat in ‘n stem wat ontsagwekkend en almagtig was.

Terwyl al hierdie dinge gebeur het, het die Israeliete versteen van vrees gestaan. Hulle was oortuig dat hulle sou sterf voordat die stem van die Here opgehou praat het. Volgens die Skrif, het selfs Moses, die groot vriend van God,  was “verskrik” en het “gesidder” Hulle moes gedink het dat hulle oor die bek van die hel gehang het.

Uiteindelik het die stem stil geword. Die weerlig het opgehou en die aardbewing het stil geraak. En kort voor lank het die son begin skyn. Terwyl die mense rondgekyk het, het hulle gesien dat almal steeds lewendig was. Dit was ‘n wonderwerk. Hulle het die werklike, hoorbare stem van God gehoor en bly leef.

Hierdie ontsagwekkende manifestasie het skaars geëindig, toe Israel se oudstes en stamleiers klaarblyklik ‘n vergadering byeengeroep het. Jy sou verwag dat dit die grootste lofprysingsbyeenkoms in die geskiedenis van die mensdom sou wees. Almal kon getuig van die heerlike en lewensveranderlike belewenis wat God vir hulle gegee het.

Ek stel my voor hulle sê, “Dit is wonderlik. Geen ander volk op aarde het die stem van God uit die vuur gehoor en dit oorleef nie. Ons kan vir ons kleinkinders vertel, ‘Ek was daar die dag toe God met ons gepraat het.’” Ek sien ook die Levitiese priesters die mense vermaan, “Moenie hierdie dag vergeet nie. Ons het eerstehands die almagtige heiligheid van die Here beleef. Laat ons altyd in vrees vir Hom lewe.”

Hierdie vergadering was egter nie een van lof nie – glad nie. Dit is ongelooflik, maar die oudstes het vir Moses gesê, “Ons kan nie hierdie soort belewenis hanteer nie. Ons wil nie meer God se ontsagwekkende stem hoor nie. As Hy weer met ons op hierdie manier gaan praat, sal ons sterf. Van nou af, wil ons sy woorde deur ‘n mens se stem hoor.”

Hulle reaksie is absoluut verwarrend. Waarom sou enigeen op hierdie manier reageer op so ‘n heerlike wonderwerk van God wat met sy mense kommunikeer? Ek sal jou sê waarom: Dit is omdat die Israeliete verborge sonde in hulle harte gehad het. Hulle was geheime afgodsdienaars.

Dit is ongelooflik dat hierdie mense steeds vasgehou het aan klein goue afgodjies wat hulle uit Egipte uit saamgebring het – gesnede beelde van Molog en die ster van die god Remfan. Die apostel Stéfanus het gesê hierdie afgode was “... die beelde wat julle gemaak het om te aanbid...” (Handelinge 7:43). Die Israeliete het hulle gevorm in die beeld van die reuse goue kalwers wat die Egiptenare aanbid het. Hulle het uitgeroep, “Julle het ons uit Egipte verlos.” En nou in die woestyn, het hulle steeds nie daardie verskriklike afgodery laat staan nie.

Stéfanus het hierdie mense “die vergadering in die woestyn” genoem (vers 38). Hy was verstom dat selfs nadat die Here hoorbaar met hulle gepraat het, hulle harte steeds terug in afgodiese Egipte was. Hy het van hulle gesê, “...ons vaders [wou] nie luister nie...en met hulle harte na Egipte teruggekeer” (vers 39).

Jy kan sien waarom God se stem hierdie mense laat bewe het. Die rede waarom hulle gedink het hulle sou sterf, was omdat hulle in die teenwoordigheid van ‘n heilige, almagtige God was – nie een of ander lewelose, gesnede beeld nie. Sy Gees het hulle siele aangegryp en hulle gewetes het hulle van sonde oortuig.

Jy moet verstaan – God het nie die rol gespeel van een of ander goddelike monster wat sy eie volk wou bangmaak nie.

Hierdie groot toneel van skudding en bewing was nie een of ander bangmaak skouspel bedoel om Israel te terroriseer tot gehoorsaamheid nie. Dit is nie waaroor ons God se liefde handel nie. Moses het vir die mense God se doel verduidelik:

“Toe antwoord Moses die volk: Wees nie bevrees nie, want God het gekom om julle te beproef en dat sy vrees voor julle oë mag wees, sodat julle nie sondig nie” (Exodus 20:20). “In al die weë wat die HERE julle God julle beveel het, moet julle wandel, sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem” (Deuteronómium 5:33).

Moses het in wese gesê, “God is nie kwaad vir julle nie. Dit is nie waaroor hierdie majestieuse belewenis gaan nie. Nee – Hy wil julle bemagtig met sy goddelike vrees. Hy probeer ‘n kragtige wapen in julle inbou wat julle teen die vyand sal bewaar. En Hy doen dit, sodat julle in oorwinning kan leef al die dae van julle lewe.”

Op hierdie punt, het die ontsaglike vuur egter al verdwyn. Die skrikaanjaende donderweer en bonatuurlike weerlig was weg en die onbeskryflike stem van God was stil. Nou het die leiers na Moses gekom met hulle “bekommernis.” Op die oppervlak, het hulle woorde baie godsdienstig geklink: “Ons het gesien hoe groot en glorieryk die Here is. En ons was bevoorreg om sy hoorbare stem te hoor. Ons weet dat dit vir ons moontlik is om sy goddelike stem te hoor en te bly lewe.” Tot sover het dit goed geklink.

Toe kom egter die vreemdste logika in die hele Bybel. Hierdie leiers het vir Moses gesê, “...vandag het ons gesien dat God met die mense spreek en hy in die lewe bly. Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van die HERE onse God nog langer hoor, sal ons sterwe. Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het?” (Deuteronómium 5:24-26). Hulle het pas God se stem gehoor en oorleef. Watter vreemde logika is dit? Hulle het vir Moses gesê, “Ons weet ons kan God uit die vuur hoor spreek en bly leef. As ons egter onder sy direkte, suiwer, heilige stem moet sit, sal ons verteer word. Waarom moet ons sterf? Van al die mense in die wêreld, is dit ons wat God se stem gehoor het en bly leef het.”

Maar die Here het geweet wat in hulle harte was. Hy het vir Moses gesê, “Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek het” (vers 28). God het met ander woorde gesê, “Die mense se woorde het goed geklink omdat hulle die regte godsdienstige taal geken het. Dit is die taal van ‘n nederige, gehoorsame volk – asof hulle ‘n werklike vrees vir My het.”

Die Here gee dan vir ons ‘n idee van wat werklik aan die gang was: “Ag, as hulle maar so ‘n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan” (vers 29).

Hulle het God met hulle lippe vereer – maar hulle harte was ver van Hom af. Om Jesaja aan te haal, “...omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is” (Jesaja 29:13).

Die Israeliete was so toegewyd aan hulle goue afgodjies, dat niks hulle sou weerhou van hulle afgodsaanbidding nie. Nie eers ‘n berg wat brand, ‘n bonatuurlike aardbewing en ‘n aardsplitsende donderweer kon hulle losmaak van hulle afgodery nie. Hulle het uiteindelik die hoorbare stem van God in al sy heiligheid en majesteit, geïgnoreer.

Israel het daarop aangedring om ‘n sagter stem te hoor.

Toe Israel se leiers gesê het, “Ons het ‘n sagter boodskap nodig, anders sterf ons” – was hulle heeltemal reg. Wanneer jy onder Heilige Gees prediking sit – en God se gesalfde woorde wat oortuig van sonde hoor – sal jy sekerlik sterf. Dit is, jy sal jou sondes afsterf.

Vandag stroom daar duisende gelowiges saam om predikers wat niks van die vrees van God ken nie, te hoor. En dit is presies waarop die Israeliete aangedring het. Kort nadat hulle God se stem hoorbaar met hulle hoor praat het, het hulle weer aan hulle afgode vasgegryp. Hulle lofprysinge aan die Here was blote lippediens – leeg en betekenisloos.

As ons die Israeliete se pleidooie in hedendaagse terme sou stel, sou dit as volg klink: “Hou op met al hierdie negatiewe prediking. Ons het nie meer skrikwekkende oordeelsdag boodskappe nodig nie. Al wat dit veroorsaak, is om nodelose skuldgevoelens te bring. Verkondig vir ons van God se liefde en vergifnis – trouens, ons is net menslik. Ons Here gaan oor liefde, nie toorn en vrees nie.”

‘n Man het onlangs die volgende vir ons bediening geskryf: “Ek weet nie wie my op julle poslys gesit het nie, maar verwyder my asseblief dadelik. Ek kan nie jou somber evangelie en jou gehamer teen sonde verdra nie. Nie een van ons is volmaak nie, nie eers jy nie. Ek het nou genoeg gehad van jou King James evangelie van oordeel.”

Jesaja het van hierdie soort reaksie gepraat, “...want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; wyk af van die weg...” (Jesaja 30:9-11).

Let op die woord “vleitaal” in hierdie vers. Israel het kortliks gesê, “Moenie enige slegte dinge vir ons vertel nie. Vertel vir ons hoe goed dinge sal gaan. Beskryf vir ons hoe voorspoedig ons gaan wees, hoeveel groot dinge vir ons voorlê. So nie, bly uit ons pad uit.”

Geen gelowige wat sonde in sy hart herberg, wil ooit ‘n heilige woord, wat sonde openbaar, hoor nie. Daardie persoon sal altyd wegvlug van die Heilige Gees se stem van waarheid. En hy sal hom wend na een of ander prediker wat sag op sonde is, mooi praat en vleitaal profeteer.

Ek vra jou, watter harde boodskap het God se stem vir sy mense gebring op Berg Sinai? Hy het eenvoudig gesê: “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak...Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie...” (Deuteronómium 5:6-9).

Hier was die suiwer, onvervalste woord van die Here, wat direk uit sy mond gekom het. Dit moes die mense na hulle tente laat spaander het om hulle gesnede beelde stukkend te slaan. Dit moes hulle harte aangeraak het en hulle op hulle knieë laat neerval het. Maar in plaas daarvan, het hulle uitgeroep, “Niks meer donderweer, vuur en bewing nie. Geen hoorbare stem meer wat met ons praat nie. Gee vir ons ‘n woordvoerder wat soos ons is, en laat hy met ons praat. Dan sal ons luister en gehoorsaam.”

God het dadelik gereageer op Israel se versoek om ‘n mens te hoor.

Die Gees van die Here het op Moses neergedaal en hy het die volgende geprofeteer:

“’n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister – net soos jy van die HERE jou God by Horeb gevra het toe jy op die dag van die vergadering gesê het: Ek kan die stem van die HERE my God nie langer hoor en hierdie groot vuur nie meer sien nie, anders sterf ek.

“Toe het die HERE vir my gesê: Dit is goed wat hulle gespreek het. ‘n Profeet wat ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broeres, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap eis” (Deuteronómium 18:15-19).

Eenvoudig gestel, God sou Israel se versoek op twee maniere tegemoetkom:

1. Eerstens sou Hy met sy volk praat deur mense vir die volgende 1,500 jaar. Hy sou profete, rigters, sieners en konings gebruik as sy regverdige woordvoerders. Vir veertig jaar het God sy woorde in die monde van Moses geplaas om met daardie geslag te praat. Stéfanus het getuig dat Moses die “lewende woorde” ontvang het van God op die berg (Handeling 7:38).

Maar deur al die eeue heen, het Israel geweier om na die Here te luister. “Na hom wou ons vaders nie luister nie, maar hulle het hom verstoot en met hulle harte na Egipte teruggekeer” (vers 39). Hulle het geword “...’n koppige en wederstrewige geslag, ‘n gesag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie” (Psalm 78:8).

Vir geslag na geslag het God gedoen waarvoor die mense gevra het – Hy het met hulle deur mense gespreek. God het egter deur Jesaja aan ‘n later geslag verklaar, “...omdat...Ek gespreek maar julle nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in my oë en verkies het wat My nie behaag het nie” (Jesaja 5:12). God het dieselfde ding deur Jeremia gesê:

“Van die dag af dat julle vaders uit Egipteland uitgetrek het tot vandag toe het Ek na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat; maar hulle het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard; hulle het dit erger gemaak as hul vaders.

“Ook moet jy hierdie woorde aan hulle meedeel, maar hulle sal na jou nie luister nie; en jy moet na hulle roep, maar hulle sal nie antwoord nie. Sê dan vir hulle: Dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn en is uitgeroei uit hulle mond” (Jeremia 7:25-28).

In sy genade, het God op elke moontlike manier met sy mense gepraat – gewaarsku, aangemoedig, met liefde, dreigend. En Hy het so duidelik gespreek dat daar geen misverstand oor sy begeertes was nie. Die mense het egter aangehou om ‘n dowe oor te draai.

God sou ook met Israel op ‘n tweede manier spreek. Hy het beloof om ‘n profeet na hulle te stuur – en dit sou 1,500 jaar ná die toneel op Berg Sinai wees voor hierdie man verskyn het. Daardie profeet is Christus. “Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle vroer net soos ek is; na Hom moet julle luister” (Handelinge 7:37).

Onder die Nuwe Verbond, het God gekies om in die laaste dae met ons te spreek deur Jesus: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het” (Hebreërs 1:1-2).

So, waarom het God vir 1,500 jaar gewag om Moses se profesie vir Israel te vervul? Hy het dit gedoen, omdat Hy met groot geduld gewag al daardie jare om gehoorsaamheid by sy mense te sien. Sy vertraging was ‘n daad van genade.

Jesus verwys na God se geduld in sy gelykenis van die wingerdeienaar. Die eienaar het aangehou om sy dienaars te stuur om die arbeiders vir vrug te vra. Hy het een boodskapper na ‘n ander gestuur, maar dit was pure verniet. Uiteindelik het die eienaar gedink, “Ek sal my eie seun stuur. Miskien sal hulle hom genoeg respekteer om na my te luister en my te vrees. Maar hulle het geweier om te reageer. En in woede, het hulle selfs die eienaar se seun doodgemaak.

Dit is net wat met Israel gebeur het. Vir geslag na geslag, het God sy woordvoerders na die mense gestuur – maar hulle het aanhoudend geweier om te hoor. Trouens, hulle was so vasbeslote om aan hulle sondes vas te hou, dat hulle sy Woordvoerder-Seun, Jesus, doodgemaak het.

Hier is die punt van dit alles:

God praat steeds baie duidelik met ons vandag. Sy hemelse stem weerklink magtiglik regoor die aarde. En daardie stem kom deur ‘n man – Jesus, wat sit aan die regterhand van die Vader. Beskou hierdie twee woorde uit Hebreërs:

“Want julle het nie gekom by ’n tasbare berg nie en ’n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie – want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as ’n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ’n pyl neergeskiet word. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder.

“Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.

“Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek. Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly” (Hebreërs 12:18-27).

Kry jy die prentjie uit hierdie gedeelte? Toe God die eerste keer gepraat het, het die mense geantwoord, “Moenie meer uit die hemel met ons praat nie. Spreek met ons deur ‘n mens.” En Moses het geprofeteer, “Net soos julle gevra het, gaan God ‘n profeet oprig. Hy sal ten volle mens wees – en Hy sal God se woorde tot julle spreek.”

Jesus was daardie beloofde profeet. Hy was God wat mens geword het, die Here in menslike vlees. Hy het ‘n bediening op aarde gehad as ‘n man en ‘n menigte van getuies het Hom in die hemel sien opvaar as ‘n man. Nou het Hy ‘n geestelike liggaam, wat sy kerk is. Maar Jesus is steeds ‘n man uit vlees gemaak – word steeds aangeraak deur die menslike gevoelens wat ons almal beleef.

Vandag in hierdie laaste dae, praat God weereens uit die hemel. En hy vertel vir ons Hy gaan alles in sig skud: “Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe” (Hebreërs 12:26).

God sê in wese, “Ek het die aarde geskud by Berg Sinai. Maar wanneer ek in die hierdie laaste dae spreek, sal my stem beide die natuurlike en geestelike wêreld skud. Die status quo sal bewe; niks sal bly soos dit is nie. Wat ook al godsdienstig genoem word – alles wat van Christus of die kerk is – sal geskud word deur die stem van my Seun, wat uit die hemel spreek.”

God het Israel gewaarsku dat almal wat weier om na sy profeet te luister, rekenskap sal moet gee: “En die man wat nie luster na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis” (Deuteronómium 18:19). Hy het in wese gesê, “Ek gaan alle ongehoorsaamheid vind – en jy sal van alles rekenskap gee.”

Die Skrif openbaar dat diegene wat die woorde van God se profete geïgnoreer het, vernietig is. Hulle het verwelk en bitter geword en gesterf sonder enige blydskap of vrede. “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek” (Hebreërs 12:25).

Geliefde, ons sal ook nie God se toorn ontsnap nie – nie as ‘n nasie nie en ook nie as individue nie. En op hierdie oomblik skud Jesus se stem elke nasie en veroorsaak dat instellings, leiers en ekonomieë bewe. Hy sê vir die wind en die elemente, “Waai oor die aarde.” Hy sê vir die wolke, “Hou reën terug.” Hy sê vir die ekonomieë van die wêreld, “Alle gierigheid – word geoordeel.” Ons sien daardie verskriklike skudding tans in Asië, Brasilië, Mexico en Argentinië.

God beveel ook, “Tronke, skud. Regerings, skud. Skole, skud. Militêre magte, skud. Howe en wetgewers, skud. Alles op aarde, skud totdat daar geen ander fondament meer oor is, behalwe die Here nie.”

Dit is nie die duiwel wat alles skud nie. Die hele wêreld word geskud deur die stem van die seëvierende Christus. Die man in heerlikheid is kragtig aan die bewind op sy troon – en Hy spreek ‘n woord om alles te skud.

Die mees ontsagwekkende skudding is nou in sy kerk aan die gang.

Op die huidige oomblik maak God huis skoon. Volgens Hebreërs, is die enigste rede waarom Jesus sy Gees in hierdie laaste dae sal uitstort, is om God se huis te skud. Alles wat onheilig, onrein of van die vlees is, sal geskud, weggevee en uitgewis word.

Ons bediening ontvang hartverskeurende briewe van kosbare heiliges wat treur oor wat hulle in hul kerke sien. Daar is ‘n aanhoudende uitroep vir “nuwe werke,” en verskriklike dinge word daagliks ingevoer – vleeslike manifestasies en dwase praktyke. By een kerk, val goue stof uit die plafon soos reën.

Een persoon skryf dat sy kerk elke week punk rock konserte hou met kunstenaars wat lyk en optree soos sekulêre groepe wat deur die duiwel beïnvloed word. Ander skryf van gechoreografeerde aanbidding wat eerder hoort op Broadway of in ‘n nagklub as in die kerk. Ander skryf weer van leë, droë, losbandige prediking.

Ek sê vir jou, dit is alles op die punt om te verander. Die Here gaan kragtig spreek en alles wat vals, losbandig en vol gierigheid is, aan die kaak stel. Elke vals profeet wat behep is met geld, sal bewe – omdat ‘n ekonomiese ineenstorting hulle uit hul besigheid sal skud.

Hoe sal hierdie skudding en ontmaskering gebeur? Dit sal gebeur deur ‘n man – Jesus. Hy beloof om te spreek met almal wat in sonde lewe, ongehoorsaam is en aan die dinge wat sy woord veroordeel, vashou. En sy stem sal onmiskenbaar duidelik wees.

Eerstens sal Hy sagmoedig praat met elke afvallige wat afgedwaal het. Hy sal sê, “Waarom luister jy nie na my pleidooi aan jou om terug te keer nie? Waarom draai jy ‘n dowe oor op my uitroep om jou te bekeer, sodat jy herstel kan word? Kom nou na My toe, voor jou lewe tot in sy fondamente geskud word.”

Jesus sal egter ook spreek met goddelike manne en vroue wat waarheid, reinheid en heiligheid najaag. Selfs nou is Hy besig om ‘n volk op te rig wie se harte sy skuddende woord wat van sonde oortuig, ontvang. Hulle het hulself met Hom afgesonder – en Hy gaan hulle krag gee om namens Hom te spreek.

So, hoe sal die Here met jou spreek? Ontvang jy sy woord van skudding en laat jy toe dat dit in jou hart werk? Of lewe jy ‘n dubbele lewe – gee jy jouself oor aan hoerery, owerspel, haat, bitterheid? As jy daarop aanspraak maak “Christus is my Here,” maar jy het steeds verborge sondes in jou lewe, kan jy weet hoe jy Hom sal hoor spreek. Hy sal sê, “Waarom kom jy nie terug na my genade nie? Waarom verwerp jy dit heeltyd? Jy het my liefdevolle roepstem gehoor. Jy het my liefdevolle goedheid gesmaak. Tog doen jy dit alles oneer aan. Waarom?”

Die Israeliete was so oorgegee aan hulle begeertes, dat hulle daaraan vasgeklou het, selfs in die aangesig van God se verterende vuur. En dieselfde ding gebeur vandag in die kerk. God het duidelik gesê dat oordeel in sy kerk sal begin. En Paulus skryf dat as ons in ons sonde bly, sal ons oorgegee word aan die Satan vir vernietiging van ons vlees, sodat ons siele gered kan word.

Hier is die goeie nuus egter: Hierdie bonatuurlike skudding – God se huis skoonmaak proses, in beide die nasie en die kerk – sal lei tot ‘n onwrikbare fondament. Dit sal ‘n heilige, gesnoeide kerk produseer – wat sal roem in ‘n oorblyfsel van heiliges wat in die vrees van God en die geregtigheid van Christus wandel.

Ons sal gemeenskap hê soos wat ons nog nooit tevore geken het nie. Ons sal onuitspreeklike blydskap hê. En ons sal begeer om die ontsagwekkende stem van God te hoor.