DIE ONGESPROKE GEROEP VAN ‘N GEBROKE HART

David Wilkerson (1931-2011)

Psalm 56 is bedoel vir diegene wat skade gely het – of dit nou deur familie, vriende, of die wêreld en dade van die goddelose is. Dit is ‘n boodskap vir hulle wat die Here liefhet en tog trane stort en laste dra wat lyk of dit by die dag swaarder word.

Sommige gelowiges word elke oggend wakker onder ‘n wolk van vrees en wanhoop. Hulle mag dalk verpletter en vreesbevange voel weens finansiële probleme. Ander beleef ernstige gesondheidsprobleme en ondraaglike pyn terwyl ander treur oor familielede wat diep in die moeilikheid is en miskien rebelleer teen die Here.

Hoor die geseënde Woord van God wat aan jou gerig is in jou uur van nood.

  • Psalm 56:4: Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.
  • Psalm 56:5: Deur God sal ek sy woord prys; ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen?
  • Psalm 56:9: U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?
  • Psalm 56:10: Op die dag as ek roep; dit weet ek dat God aan my kant is.
  • Psalm 56: 14: Want U het my siel gered van die dood – ja, my voete van struikeling – om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe.

Hierdie is geseënde woorde van die Gees van God. Die Here weet alles van jou stryd en pyn af. Hy ken elke besonderheid van jou situasie en Hy hoor selfs die ongesproke geroep van jou gebroke hart.

Luister na die woorde wat aan ons gegee is: “Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.” Jou geroep en gebede word deur die Here gehoor en Hy is reeds besig om sy verborge, agter-die-gordyn werk van verlossing te doen. Totdat jy die antwoord sien, sal Hy jou genade en krag gee.