IN DIE OË VAN DIE VADER

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer ek van algehele vertroue in Christus praat, bedoel ek nie net in sy reddende krag nie, maar ook in sy bewarende krag. Ons moet sy Gees vertrou om ons te bewaar en ons te verander na Jesus se beeld.

Eens was jy vervreemd en afgesny van God deur slegte dade. Watter goeie dade het jy gedoen om dinge met Hom reg te maak? Geen! Niemand was al ooit in staat om homself heilig te maak of te hou nie. Ons word in Christus se heiligheid ingebring deur geloof alleen, terwyl ons vertrou op wat God se Woord sê: “As jy in Christus is, is jy heilig soos wat Hy heilig is.”

“Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onbersipelik voor Hom te stel; as julle ten minste in gegrond en vas bly in die geloof” (Kolossense 1:21-23).

Let op die frase, “As julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof.” Jesus sê in wese, “Hou aan om op My te vertrou deur in geloof te lewe. Ek sal jou as rein, foutloos, onberispelik en heilig aan my Vader voorstel.” 

Geliefde, dit is alles die heiligmakende werk van die Heilige Gees. Soos die Gees jou bemagtig om die werke van die vlees dood te maak, sal Hy jou lei deur sy oortuiging.

Daar is nie grade van heiligheid nie, net grade van volwassenheid in Christus. Jy kan ‘n nuwe Christen wees en steeds heeltemal heilig in Christus wees. So moenie vergelyk nie! Dit is dwaas om jouself teen iemand te meet wat jy “heilig” beskou. Ons word almal met een standaard gemeet, die heiligheid van Christus. En as ons in Hom is, is sy heiligheid ons s’n in gelyke mate.

Jy mag nooit weer na ‘n ander Christenleier kyk en sê, “O, ek wens ek was so heilig soos hy!” nie. Jy mag dalk nie daardie persoon se dissipline in sy gebedslewe hê nie en jy mag dalk meer dikwels sukkel en meer foute as hy maak. Maar hy is nie meer aanvaarbaar by die Vader as jy nie.