DIE MISSIE VAN JESUS

Gary Wilkerson

Die bekende skrifgedeelte wat Jesus se doel op aarde beskryf, vind ons in Lukas 4:18-19: “Die Gees van die Here is op my, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.”

Waar Jesus ook al gegaan het, was sy hart aangeraak deur die nood van die mense. Wanneer Hy mense gesien het wat genesing nodig gehad het, het Hy gestop en hulle genees. Trouens, Hy het, indien nodig, uit sy pad gegaan om húlle te vind wat hulp nodig gehad het. Wanneer mense honger was, het Hy hulle kos gegee. Hy het groot deernis gehad vir die mense wat seer gehad het, die kreupeles, die blindes, die wat soos verlore skape was met geen herder nie.

Jesus was nie ‘n rondreisende geneesheer nie, hoewel Hy genees het waar Hy ook al gegaan het. Hy was nie ‘n rondreisende maatskaplike pleitbesorger nie, hoewel Hy deernis gewys het. Jesus was hoofsaaklik ‘n prediker! “Jesus het gekom en die evangelie van die koningkryk van God verkondig” (Markus 1:14). Hy het gekom om die gevangenes vry te laat, om die goeie nuus van Sy reddende krag te verkondig en die evangelie oor te dra.

As elkeen van ons dieselfde visie kon vasgryp wat Jesus gehad het, sou Sy hoofdoel op die ganse aarde, ook ons hoofdoel geword het. Ons sou met soveel liefde vir Christus gevul gewees het dat niks ons sou keer om dit te verkondig nie. Mense om ons sou dan nie die Naam van Jesus kon omseil as ons dit met hulle sou deel nie. En glo my, woorde is noodsaaklik! Dade is goed maar daar is geen verkondiging van die evangelie sonder woorde nie.

Moenie skaam wees om oor Jesus te praat nie. Laat die Heilige Gees toe om jou só te bemagtig dat die woorde natuurlik deur jou sal vloei. Jesus wil hê ons moet die evangelie gebruik om waarheid en lewe aan almal te verkondig.