DIE MEES LIEFDEVOLLE VADER

Jim Cymbala

Martin Luther, die sestiende eeuse priester wat die Protestante Hervorming begin het, was aanvanklik bang vir God omdat hy geglo het die Here was ‘n heilige, maar woedende regter – wat die wettiesheid van sy dag hom geleer het om te glo. Dit maak nie saak hoe hard Martin probeer het om hierdie heilige God te behaag nie, hy het misluk, veroordeel gevoel deur God en het skuldgevoelens oor sy sonde gehad.

Sommige van ons het dieselfde stryd – ons staan teen ‘n god wat een of ander ongenaakbare, streng koning is wat dit geniet om ons te straf. Maar dit is nie wie God is nie. Hy is ‘n liefdevolle Vader, vol genade en geduld. Sonder ‘n behoorlike begrip van wie Hy is, is ‘n lewe van intieme gemeenskap onmoontlik.

Ek is lief daarvoor om tyd deur te bring met my kleinseun Levi. Ek geniet dit net om hom op my skoot te hê en by hom te wees. Hy hoef niks te doen nie; dit is nie vir my nodig dat hy my vermaak of sing om my groot blydskap te gee nie. Net so, is die Here daardie soort Vader wat hom verbly in sy familie. Hy wil hê ons moet in sy teenwoordigheid inkom, want Hy het ons lief en begeer om tyd met sy kinders deur te bring.

In Romeine 8, sê Paulus, “Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader. Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (8:15-16). Wat ‘n belangrike boodskap! Paulus sê vir ons dat die Gees getuienis sal gee in ons gees – ons innerlike wese – dat ons God se kinders is en Hy ons Vader is.

Deur die werk van die Heilige Gees, kan ons deur ervaring weet dat God ons liefhet. Ons hoef nie bang te wees nie. Hy is nie nét die almagtige Skepper en heerser van die heelal nie. Hy is óók Abba, Vader, die mees liefdevolle pa wat iemand as ‘n ouer kan hê.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.