DIE LEWENSASEM

Gary Wilkerson

Elísa het van Elía die rol van die profeet in die land geërf. In 2 Konings 4, sien ons waar hy een van sy eerste groot toetse teëgekom het. Die seun van ‘n Sunamitiese paartjie se seun het gesterf en in desperaatheid het die vrou uitgeroep na Elísa, “Ek het gevas, gebid en geween, maar ek het niks van die Here ontvang nie. Ek verstaan nie wat God besig is om te doen nie en dit is meer as wat ek kan verduur. Ek het geen krag om voort te gaan nie.”

Elísa het daarop gereageer deur iets heel ongewoon te doen. “En hy sê vir Gehási (sy dienaar): Gord jou heupe” (2 Konings 4:2). Met ander woorde, “Omgord jou lendene.” Toe het hy gesê, “Neem my staf in jou hand en gaan heen; as jy iemand teëkom, groet hom nie; en as iemand jou groet, antwoord hom nie; en lê my staf op die gesig van die seun.”

Gehási het Elísa gehoorsaam, maar toe hy sy staf op die gesig van die dooie kind gelê het, het niks gebeur nie. Daar was geen teken van lewe nie en daarom het Gehási na Elísa teruggekeer en vir hom gesê, “Die seun het nie wakker geword nie.”

Ek vra jou, wat maak jy wanneer alles wat jy doen geen sigbare resultaat bring nie? Waarna wend jy jouself wanneer al jou pogings nie dít bereik waarop jy gehoop het nie?

Daar kom ‘n tyd wanneer ons enigste hulpbron Jesus is! Hy alleen is ons oplossing. In hierdie storie, was Elísa ‘n tipe Christus. Hy het na die Sunamitiese gesin gegaan en homself oor die dooie liggaam van die seun uitgestrek. Toe hy aangesig op aangesig, voet op voet, hand op hand oor die kind gelê het, het hy sy asem in hom ingeblaas.

En toe? Die Skrif sê dat die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak het. Hy het gelewe!

Wat het hierdie wonderwerk teweeggebring? Jesus self het asem in die situasie ingeblaas. Wanneer ons geen hoop, geen hulpbronne en geen vermoë het nie, blaas Christus sy bonatuurlike lewe in ons omstandighede in.

Maak die volgende jou gebed: “Here, ek het niks – U het alles. Niks in hierdie wêreld kan met U en U krag vergelyk nie en ek het U nóú nodig. Ek kan nie lewe in my probleem inblaas nie, maar U kan, Here.”