Die Krag van 'n Onberispelike Lewe

David Wilkerson

“Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo...” (1 Thessalonicense 2:10).

Dit is ‘n heel kragtige stelling om te maak – om God as getuie te roep tot jou heiligheid! Sonder om weg te deins, het Paulus egter voor die gelowiges in Thessalonika geroem:

“Ek en my medewerkers lewe onberispelik voor julle en voor God. Ons optrede was regverdig en rein. God is getuie tot ons heilige gedrag – maar julle is ook getuies. Julle het gesien dat ons heilig en onberispelik wandel voor God en mense!”

Paulus was ‘n effektiewe prediker. En hy het geweet wat die geheim van sy effektiwiteit was om mense na God te trek. Hy kon met vrymoedigheid voor elke lewende siel, elke owerheid staan en getuig: “Ek leef daagliks onder die blik van ‘n heilige God. Ek wandel altyd asof Sy heilige oë op my is. En julle almal is getuienisse tot my onberispelike lewe!”

Die apostel het begeer dat elke gelowige dieselfde krag sou hê om mense na God te trek. En hy het nag en dag gebid dat al God se kinders versterk sou word om heilig en onberispelik voor God te wees: “Sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges” (1 Thessalonicense 3:13).

Laat my Paulus se beskrywing van ‘n onberispelike lewe met jou deel – en oor die krag wat so ‘n lewe vrystel:

Paulus verduidelik wat ‘n onberispelike lewe is

Die soort gedrag wat vereis word van die heilige, regverdige, onberispelike gelowige, volgens Paulus is as volg:

1. Om onberispelik te wees is om geen bedrog van enige aard te hê nie. “Want ons vermaning was nie uit dwaling of uit onsuiwerheid of uit bedrog nie” (1 Thessalonicense 2:3). ‘n Onberispelike Christen is een sonder enige bedrog in sy hart!

Paulus het gesê, “Ek was nie ‘n bedrieër wat een ding vir jou gepreek het en ‘n ander geleef het nie. My optrede was ‘n oop boek!”

Hy het die Korinthiërs egter gewaarsku, dat sekere mans daarop sou aanspraak maak dat hulle apostels is. Hy het gesê, “Hulle roem daarin dat hulle onberispelik wandel net soos ek. Hulle sê, ‘Ek is ‘n apostel deur God aangestel.’ Maar ‘sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus’” (2 Korinthiërs 11:13).

Paulus het gesê, “Jy kan nie ‘n onberispelike wandel namaak nie. My boodskap tref die gewete van mense reguit – omdat ek die waarheid leef wat ek verkondig!” (sien 2 Korinthiërs 4:2).

2. Om onberispelik te wees, is om niks onrein aan te raak nie. “Want ons vermaning was nie dwaling of uit onsuiwerheid of uit bedrog nie” (1 Thessalonicense 2:3).

Paulus se klem hier is op sensualiteit, wellus. Hy sê in wese, “Geen onrein woord het ooit by my mond uitgekom nie. My gesprek was rein, omdat dit uit ‘n rein hart gekom het.”

Paulus het sy liggaam onder beheer gehad. Geen vleeslike passie het hom aangedryf nie – geen gees van wellus of hoerery het sy gedagtes oorheers nie. Hy was ‘n vry man!

Wys my enige bedienaar – of enige gelowige – wat vuil grappe vertel, seksuele ondertone maak of dwalende oë het, en ek sal vir jou iemand wys wie se hart nie gereinig is nie!

Jy mag in die kerk sit en dink jy aanbid God uit ‘n rein hart. Maar as jy na jou werk gaan en ‘n stroom onrein praatjies spring uit jou mond uit, of as jy selfs luister na vuil grappe, dan gee jy krediet aan vulgariteit!

God sê, “Ek sal dit nie duld nie! As jy onberispelik voor My wil wandel, sal jy rein ore, ‘n rein hart en ‘n rein tong moet hê!”

3. Om onberispelik te wees, is om sonder bedrog te wees. “Want ons vermaning was nie uit...bedrog nie” (1 Thessalonicense 2:3).

Die Christen sonder bedrog is nie skelm, vernuftig of manipulerend nie. Hy het geen verborge sonde of verborge agenda nie. Hy is totaal eerlik en opreg!

Die kerk is vandag egter vol manipuleerders –  beide in die kansel en in die kerkbanke! Hierdie mense werk daaraan om dinge volgens hulle eie manier te doen – nie deur die krag of leiding van die Heilige Gees nie, maar deur die vernuftigheid van hulle verstand.

Paulus sê, “Ek het julle nie in die koninkryk van God ingemanipuleer nie. Ek het nie slim woorde gebruik of probeer om op julle gevoelens te speel nie. Ek het die evangelie prontuit aan julle gebied!”

Paulus het nooit met sy woorde gespeel nie; hy het nooit sielkunde gebruik om mense sover te kry om van hom te hou nie. Kan jy jouself indink dat die apostel Paulus rondgaan in ‘n gemeente, hulle drukkies geen en ‘n geforseerde glimlag opsit, terwyl hy bewonder en aanvaar wil word? Nooit!

Paulus het gesê, “Maar ons was vriendelik onder julle soos ‘n pleegmoeder haar kinders koester” (1 Thessalonicense 2:7). Maar toe sonde ingesluip het, het hy dit met donderweer uit die hemel bestraf! Hy het nie die goedkeuring van enige mens begeer of nodig gehad nie, maar hy het mense met sy hele hart liefgehad.

“Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie...Ook het ons nie eer van mense, òf van julle òf van die eer van ander gesoek nie” (1 Thessalonicense 2:5-6).

Paulus het nie persoonlike erkenning gesoek van ‘n mens nie. Liewer, hy het altyd in gedagte gehou dat God hom dopgehou het en sy motiewe ondersoek het. Daarom het ‘n weggebly selfs van “elke vorm van kwaad” (1 Thessalonicense 5:22). Hy het geleef asof Jesus binne die volgende uur sou kom!

Nou, om seker te wees, daar was baie sondaars wat hierdie standaarde van gedrag kon handhaaf. Dit maak nie saak hoe sleg hierdie geslag is nie, daar is steeds mense wat nie manipuleer nie en ook nie deur sensualiteit gedryf word nie. Hulle taal en sedes is rein; hulle is sonder bedrog en bedrieëry. Hulle besit ‘n morele krag, omdat hulle goedheid ‘n waardigheid en sterkte van karakter skep. Dikwels word hierdie mense deur ander verhef.

Maar die feit bly staan – hulle het geen krag by God nie!

Byvoorbeeld, die ryk jongman wat na Jesus toe gekom het, het opgeweeg teen hierdie standaarde. Hy was goed van sy jeug af en ouer. En dit het hom die liefde en respek van Jesus gewen.

Maar iets het kortgekom. En daardie een ding maak die grootste verskil! Paulus sê, “Al die goeie kwaliteite in my lewe – al hierdie goddelike eienskappe – is gebaseer op een rotsvaste doel binne-in my. Dit is wat my van sonde, besoedeling en bedrog weerhou.”

Geliefde, as jy nie dieselfde doel het in alles wat jy sê en doen nie, kan jy nooit onberispelik voor God en mens wees nie: “Sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in (my) verheerlik kan word” (2 Thessalonicense 1:12).

Hier is wat Paulus gemotiveer het om ‘n onberispelike lewe te lei: Hy was jaloers op die heerlikheid en die Naam van Jesus! Hy het geweet alles moes op daardie fondament gebou word – omdat alle menslike goedheid soos ‘n besoedelde kleed is!

Dit is wat die onberispelike lewe inderdaad onderskei – ‘n verterende begeerte om die Naam van Jesus voor alle mense te verheerlik! Sulke gelowiges sou liewer sterf as om enigiets te sê wat skande op die Here te bring. Hulle is nie volmaak nie – hulle stry steeds teen die vlees – maar hulle jaag die geregtigheid van Christus na deur geloof.

Miskien het jy reeds vir jou hemelse Vader gesê, “Here, ek het my sonde laat staan – ek het alle ongeregtigheid en sensualiteit laat vaar. Ek wil net onberispelik voor U wandel. Ek wil u behaag en U Naam verheerlik.

Hier is drie dinge wat jy kan verwag in jou lewe sal gebeur:

1. Die eerste ding wat met ‘n onberispelike gelowige gebeur, is dat hy die guns van God wen!

Die bruid in Hooglied van Salomo, was verteer deur liefde vir haar geliefde. En daarom het sy gesê, “Toe het ek in sy oë geword soos een wat vrede (guns) vind” (Hooglied van Salomo 8:10).

God het inderdaad wonderlike guns belowe aan die onberispelike gelowige: “Laat jou hart my gebooie bewaar...Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy genade (guns) vind en ‘n goeie insig in die oë van God en die mense” (Spreuke 3:1-4).

God sê in wese, “As jy jou daarop instel op onberispelik voor My te wandel, sal jy in my guns wandel. Jy sal My behaag!”

O, die grootste blydskap wat jy ooit as ‘n Christen kan hê, is om deur die lewe te gaan met die wete jy behaag God! Die Here hoef dan nie Sy aangesig vir jou te verberg of ‘n traan oor jou te stort nie – omdat jy nie skande of smaad oor Sy heilige Naam bring nie. In plaas daarvan, verheerlik jy Hom – en Hy word behaag!

Maar dit is nie al nie. God se guns sluit ook krag in! Paulus sê, “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid” (1 Thessalonicense 1:5). Sy guns bring die krag van die Heilige Gees na alles wat jy sê en doen. Jou woorde sal nie op die grond val nie – omdat hulle Heilige Gees krag sal hê! (sien 1 Thessalonicense 2:1)

Paulus het gesê daardie Heilige Gees-bemagtigde woorde veroorsaak wonderlike resultate: “En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met blydskap van die Heilige Gees” (1 Thessalonicense 1:6).

Waarom was Paulus se woorde so kragtig, so effektief? Omdat, sê hy, “(ons) voorbeelde geword het vir al die gelowiges” (1 Thessalonicense 1:7). Dit was nie Paulus se prediking of sy gebede alleen wat mense vir die Here gewen het nie. Dit was sy voorbeeldige lewe! God het in Paulus ‘n rein hart gehad – een wat Hy kon begunstig met krag van die Heilige Gees!

God se goddelike guns bring ook hoë agting onder mense. Dit is van Dawid geskryf: “Dawid [het] meer voorspoed [wysheid] gehad as al die dienaars van Saul, sodat sy naam hooggeërd was” (1 Samuel 18:30). “En die naam van Dawid het uitgegaan in al die lande, en die HERE het die skrik [eerbied] vir hom op al die nasies gelê” (1 Kronieke 14:17).

Die man wat die Naam van Jesus beskerm deur heilig te lewe voor ander, sal ‘n goeie naam gegee word voor hulle – deur God self!

Ek het sommige Christene gehoor sê, “Ek gee nie om oor my naam nie. Dit maak nie saak wat mense van my dink nie. Ek wil net ‘n onbekende wees, ‘n niemand. Laat die Here al die verheerliking kry.”

Dit mag nederig klink – maar volgens die Skrif, is dit nie! Die Bybel sê, “’n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud” (Spreuke 22:1).

‘n Goeie reputasie is ‘n geldstuk om gespandeer te word vir God se heerlikheid. Dit is om gebruik te word om ‘n impak te maak op mense en nasies. En God gee die regverdige ‘n goeie naam sodat hulle dit kan gebruik om Hom te verheerlik in groter mate!

2. Die guns en seën wat God op ons uitstort lei tot ‘n onstellende, afstotende krag!

Wanneer jy jou hart daarop instel om onberispelik voor God te wandel – jou boesemsondes laat staan en op ‘n manier lewe wat die Here behaag – sal jy gevrees en verag word deur diegene wat die guns en seën van God verloor het. Louwarm of gekompromitteerde Christene sal heeltemal ontsteld en afgestoot word deur jou lewe!

Ons sien dit duidelik geïllustreer in 1 Samuel:

“En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was en van Saul gewyk het...En Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die HERE was met hom. Toe Saul sien dat hy voorspoedig was, het hy vir hom bang geword” (1 Samuel 18:12-15).

Dawid se onberispelike gedrag het vrees in Saul se hart ingeboesem! Wanneer Saul naby Dawid was, het hy die tyd onthou toe hy die guns van God en die hoë agting van mense geniet het. Maar ongehoorsaamheid, afguns, trots en eiewil het Saul elke bietjie krag gekos wat hy by God gehad het. En dit het hom beroof van alle respek van die mense.

Saul het nou van aangesig tot aangesig gekom met ‘n jonger man – ‘n minder ervare, waarskynlik minder welsprekende man – wat die krag en integriteit van heiligheid uitgestraal het. Hy was rein van hart, vol van die Heilige Gees. En Saul was bang vir hom!

Hou in gedagte, dit was nie ‘n afgodiese Kanaäniet wat bang was vir Dawid nie. Nee – Saul was ‘n man wat die krag van die Heilige Gees geken het! Hy het kop en skouers bo Dawid uitgetroon. En hy was God se gesalfde. Een was hy ‘n magtige man, deur God uitverkies!

Dit is jammer, maar Saul verteenwoordig die gekompromitteerde kerk vandag – daardie Christene wat ‘n kompromie gemaak het en die salwing van God verloor het. Hy is ‘n tipe van gelowige wat eens vol van die Heilige Gees was, gedoop en aan die brand vir God. Maar ongehoorsaamheid, trots en wellus het hom beroof van alles wat hy eens van God geken het!

Dawid het ‘n eenvoudige, rein lewe gelei – en God het guns oor hom uitgestort! “Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het voor hulle uit- en ingegaan!” (1 Samuel 18:16). Dawid het voor die mense gewandel as ‘n verdediger van God se heilige naam. Hulle het sy strydkreet onthou toe hy vir Góliat verslaan het: “Ek kom na jou in die Naam van die HERE!” (1 Samuel 17:45).

Maar Saul wou nie naby Dawid wees nie! Die Skrif sê, “Daarom het Saul hom uit sy teenwoordigheid verwyder” (1 Samuel 18:13). Hy het so ontsteld en afgunstig geraak op Dawid se intimiteit met God, dat hy ‘n spies na hom gegooi het. Saul het selfs sy eie afvallige dogter gebruik om Dawid te probeer verstrik. Hy was oorheers deur ‘n passie om Dawid en sy goeie naam te vernietig!

Ek sê vir jou, daar is niks meer skrikwekkend vir ‘n gekompromitteerde Christen as ‘n heilige lewe nie! En hoe meer jy jou lewe in ooreenstemmming bring met die Here se wil en Sy heiligheid, hoe meer aanstootlik sal jy word vir afvallige gelowiges.

Jou ergste teëstand sal kom van binne die kerk van Jesus Christus – van gekompromitteerde mense met boesemsondes wat hulle nie wil laat staan nie! Hulle sal jou wetties, ongebalanseerd en vreemd noem. Hulle sal probeer om jou in die skande te steek, jou naam en jou onberispelike wandel voor God te vernietig.

Dit is Christene wat nie langer wandel in God se guns nie. Hulle het geen krag van die Gees in hulle nie. Hulle woorde is soos vere – gewigloos, met geen geestelike gesag nie. Niks wat hulle sê, het enige impak nie, omdat hulle die krag en teenwoordigheid van Jesus verloor het. En jou heilige wandel sal hulle ontstel en aanstoot gee!

Jy sal niks vir hulle te sê hê nie. Hulle sal eenvoudig jou onberispelike wandel met die Here sien en dit sal wees soos ‘n profeet se heilige vinger wat na hulle hart wys. En hulle sal jou vrees, beny en haat!

Jy sal moontlik sê, “Ek het nie verwerping beleef nie. My kerk is vol heiliges wat my hoog ag en by my staan. Is dit omdat ek nie ‘n onberispelike lewe leef nie?”

Nee – dit is waarskynlik omdat jy tussen ander onberispelike gelowiges sit! Maar gaan terug na jou ou, dooie kerk toe – en vertel vir hulle hoe werklik Jesus vir jou geword het. Wag totdat hulle agterkom jy sit nie voor ‘n TV en besoedel jou siel nie...jy raak nie betrokke by onrein geselskap nie...jy hou daarvan om na al die kerkdienste te gaan – jy bid, aanbid en verdiep jouself in God se Woord.

Hulle sal vir jou die “totsiens” hand van gemeenskap gee! Hulle sal deur jou afgestoot word, hulle sal jou verag. En wanneer jy vertrek, sal hulle veelseggend na mekaar kyk en sê, “Sjoe, hy het dit mis. Wat ‘n fanatikus! Hy is geen pret nie – hy is te ver heen.”

“Hulle [sal] julle verstoot” (Lukas 6:22). Waarom? Omdat jou lewe hulle sal veroordeel vir dit wat hulle eens gehad het – en wat hulle nou verloor het!

Paulus het hierdie soort verwerping beleef weens sy ongekompromitteerde wandel met God. Hy het vir Timòtheüs geskryf: “Jy weet dat almal wat in Asië is, hulle van my afgekeer het” (2 Timòtheüs 1:15). Hy het aan die Kolossense uit die tronk geskryf dat hy net twee of drie kon noem wat vir hom ‘n vertroosting was: “Hulle alleen is my medewerkers vir die koninkryk van God en hulle was ‘n troos vir my” (Kolossense 4:11). En in ‘n ander brief aan Timótheüs, skryf hy, “Niemand [het] my bygestaan nie, almal het my verlaat” (2 Timòtheüs 4:16).

Ek vra jou – is jy gewillig om daardie soort prys te betaal om die guns van God in jou lewe te hê?

As jy egter kies om ‘n onberispelike lewe te leef, sal selfs die goddelose jou hoog ag. Hulle sal na jou lewe wys en sê, “Dit is hoe Christenskap veronderstel is om te wees.

En net so, sal die ware regverdiges in die kerk om jou saamdrom. Hulle sal sê, “Ek hou daarvan om by jou te wees. Daar is iets vertroostend en verkwikkend aan jou. God is met jou!”

3. Laastens, God begunstig die onberispelike gelowige met ‘n krag van die regte fokus!

Wanneer jy ‘n onberispelike lewe met die Here betree – leef sonder skande, heilig en onberispelik – skenk die Heilige Gees aan jou wat ek noem “die krag van die regte fokus!”

Paulus se onbersipelike lewe het hom in ‘n geestelike fokus ingebring, en God begeer dit vir elke lid van Sy liggaam. In ‘n brief aan die Thessalonicense, het Paulus een van die duidelikste stellings in al sy geskrifte gemaak:

“Want nou leef ons, as julle vasstaan in die Here” (1 Thessalonicense 3:8).

Weet jy wat Paulus gesê het? Hy maak aanspraak, “Ek kry my blydskap, my lewe, my grootste seën, wanneer ek jou sien groei in Christus!”

Toe ek eens gevra was oor my geestelike fokus, sou ek geantwoord het, “Ek lééf werklik – ek kry werklik my blydskap – wanneer ek in oorwinning wandel. Wanneer ek weet ek leef ‘n oorwinnende lewe, dat ek vasstaan in die Here, dan is ek gelukkig. Ek verbly my in die wete dat ek nie in sonde leef nie!”

Maar dit is nie wat Paulus gesê het nie. Jy sien, hy het reeds deur dit alles gewerk. Hy het nie sy lewe geleef gefokus op een of ander sonde of probleem nie.

Die meeste Christene bring vandag hulle hele geredde lewens deur, gefokus op hulle eie sonde. Talle stry jarelank teen wellus, onsedelikheid, hoerery of verslawings! Hulle het oorwinning in alle area’s behalwe een of twee. En hulle word letterlik verteer deur daardie enkele oorblywendes!

Daar is geestelike verlamdes – hulle is magteloos, vol skuld en lewe as slawe van hulle sonde. En hulle het hulle fokus beperk tot een vraag, een kwessie: “Hoe sal ek ooit hiervan vry word?”

Sulke Christene kry hulle grootste blydskap en vrede uit oorwinnings in hulle persoonlike wandel. Maar hulle het geen visie vir die kerk, die verlorenes of die ewige planne van Jesus Christus nie!

Paulus sê hy “stry altyd vir hulle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kolossense 4:12). Hy het nie vir homself of vir sy eie behoeftes voorbidding gedoen nie. Hy het gesê, “Dag en nag arbei ek in gebed vir julle. Ek wil hê julle moet volkome in die wil van God staan!”

Dierbare heilige, algehele oorwinning is joune as jy dit werklik wil hê! God wil hê jy moet uiteindelik vry wees – vry om vir ander te lewe, om hulle te bedien, om ander te help om onberipelik te wees – om te jubel oor die werk van die Gees in die hele liggaam van Christus, en nie net in jouself nie!

Paulus het geglo dat ‘n onberispelike lewe ‘n persoon se fokus verander – vanaf altyd na binne kyk, na te kyk na die behoeftes van Christus se kerk en die wêreld.

Ek vra jou – wanneer jy in die kerk sit en iemand sien teenoor wie jy getuig het, kan jy jubel omdat jy oorwinning in daardie mens se lewe begin sien? Is jou hele blydskap gefokus op daardie een verlore siel? Op daardie bejaarde persoon wat ly? Op Kuba, China, Mongolië?

God het ten volle vir ons voorsien in die offer van Sy Seun, sodat ons in staat is om te sê: “Deur genade het God Sy vrees in my hart geplaas. Ek het al my ongeregtighede laat vaar – ek is onberispelik voor die Here. God is my getuie!”

So ‘n ding is moontlik – vir elke gelowige! Paulus kon sê, “Sonde heers nie langer oor my nie – ek het elke las, elke boesemsonde laat staan. Ek het gesterf vir hierdie wêreld, en ek sterf daagliks aan my vlees.”

En dit is hoekom hy nie sy tyd deurgebring het om te kerm oor sy sonde nie. Dit was alles laat staan! Hy kon nou kreun en steun oor sy verlore broeders. En hy het gekreun en gesteun sodat Christus in Sy kerk sou voortkom!

“Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap” (1 Thessalonicense 2:19-20).

God het nie vir jou beplan om die res van jou lewe te stry een of ander perversie, verslawing, owerspel of boesemsonde nie. Nee – Hy wil hê jy moet jou oë op Jesus rig! Hy wil hê jy moet sê, “Here, ek gaan my oë wegdraai van my eie nood en vir ander bid – selfs al is ek nog nie daar waar ek wil wees nie!”

Oorwinning sal kom wanneer jy begin om jouself vir ander te gee – vir ander gelowiges voorbidding te doen en uit te reik na die verlorenes!

‘n Onberispelike lewe is moontlik – maar jy moet dit begeer met alles wat binne-in jou is!

Eerstens moet jy die ernstige werklikheid van jou toestand in die oë kyk:

“As ek in my sondige weë voortgaan, sal ek toenemend swak en magteloos word. Ek sal nie langer God se guns geniet nie – ek sal Hom nie behaag nie. En ek sal nooit die fokus kry wat Hy vir my wil gee nie. Ek sal op die ou end soos Saul word – dood van binne, vol haat en afguns. Ek sal die ewigheid binnegaan terwyl ek roep, ‘God is nie meer met my nie!’”

Jy moet so eerlik voor God word! Ek het tot Hom uitgeroep, “Here, stuur U Woord! Oortuig my van sonde en genees my. Wys vir my hoe om weg te stap van alle sonde af!” En God het hierdie woord vir my gestuur: “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil. Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie” (2 Korinthiërs 6:2-3).

God sê, “Jy kan nou vry wees – jy hoef nie te wag nie!” Toe Hy Israel beveel het om hulle te reinig voor hulle in die oorlog ingegaan het, het hulle nie ‘n week, ‘n maand of ‘n jaar gewag voor hulle voor Hom gereinig is nie. Hulle moes nóú begin, dieselfde dag!

“Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie” (2 Korinthiërs 6:3). Laat my toe om jou te vra: Is jy betrokke met enigiets wat skande oor die naam van Jesus kan bring? Kan jy saam met Paulus sê, “Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê”? (Handelinge 24:16).

Maak nou jou hart onberispelik – vandag! Begeer dit met alles in jou. Binnekort sal jy God se guns oor jou lewe ontdek. Jou woorde en dade sal ‘n impak op ander hê, met Heilige Gees krag. En jy sal agterkom dat jy heeltemal op Jesus en Sy begeertes gefokus is.

Dit is onberispelik leef! Halleluja!