Die Kosbare Bloed van Jesus!

David Wilkerson

Die kosbare bloed van Jesus Christus is ongetwyfeld die kosbaarste gawe wat ons hemelse Vader aan Sy kerk gegee het. So min Christene verstaan egter die waarde en krag daarvan.

Christene sing dikwels oor die krag van die bloed. Die “nasionale” lied van die Pinksterkerk is inderdaad, “Daar is krag, krag, wonderbare krag in die bloed van die Lam.” Maar die meeste gelowiges neem selde die krag van daardie bloed in besit.

Ons verstaan doodeenvoudig nie die groot betekenis van die bloed nie. Byvoorbeeld: Gedurig “pleit ons die bloed” as een of ander mistiese formule van beskerming. Maar min Christene kan die groot heerlikheid en voordele daarvan verduidelik.

As ek jou moes vra wat die krag van die bloed beteken, sal jy moontlik antwoord, “Dit beteken my sondes is vergewe – ek is  vrygemaak van die slawerny van ongeregtigheid – al my sondes is bedek.” Meer as vergifnis egter, wat beteken die bloed van Jesus Christus vir jou? Kan jy vir my, vir jou familie en vir ‘n medewerker verduidelik wat die waarde en krag van die bloed van Jesus is?

Ek wil vir jou ‘n beter begrip gee van die kosbaarheid van Jesus se bloed – en hoe dit wonderlike veranderinge in jou lewe kan bewerkstellig!

1. In die Skrif word van die bloed gepraat op twee maniere – uitgestorte bloed en besprinkelde bloed!

Die meeste Christene weet van die bloed van Jesus wat vir ons uitgestort is. Toe Christus die beker by die laaste Pasga opgelig het, het Hy gesê, “...Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word” (Lukas 22:20).

Ons vier Sy offer elke keer wanneer ons nagmaal hou. Maar dit is die sover die meeste Christene se kennis van Jesus se bloed strek. Ons weet slegs van die bloed wat uitgestort is – en nie van die besprinkeling daarvan nie!

Die eerste Bybelse verwysing na die besprinkeling van bloed is in Exodus 12:22. Die Israeliete was beveel om ‘n bossie hisop te neem, dit in die bloed van ‘n geslagte lam te doop en dit aan die bokant en die twee sykante van die deurkosyn van hulle voordeur te sprinkel. Daardie nag, wanneer die doodsengel gekom het en die bloed op die deurkosyne gesien het, sou hy verby daardie huis gaan.

Verstaan asseblief – so lank as wat die bloed in die skottel gelaat was, was dit van geen nut nie; dit was bloot bloed wat uitgestort was. Die bloed het geen krag gehad om te red nie, maar slegs as dit uit die skottel uitgelig was en besprinkel was!

Waarom kon die Israeliete nie eenvoudig die skottel bloed by die drumpel neersit en sê, “Dit maak nie saak wat ons daarmee doen nie. Bloed is immers bloed?” Veronderstel hulle moes die skottel op ‘n linne oorgetrekte tafel neersit, of op ‘n voetstuk binnekant die deur?

Kom ek vertel vir jou wat sou gebeur het: Die doodsengel sou daardie huis getref het! Die bloed moes uit die skottel gehaal word en besprinkel word op die deur om sy doel van beskerming te vervul.

Hierdie bloed in Exodus 12 is ‘n tipe van die bloed van Christus. Die bloed wat gevloei het by Gólgota was nie vermors nie – dit het nie op die grond geval en verdwyn nie. Nee, daardie kosbare bloed was opgevang in ‘n hemelse fontein.

Daar is ‘n evangelie liedjie wat sê, “Daar is ‘n fontein gevul met bloed en sondaars wat in daardie stroom duik, verloor al hulle skuld en smet...” Hierdie konsep is egter nie skriftuurlik nie; ons duik nie in die bloed en swem daarin nie. Nee – dit word op ons gesprinkel!

As Christus Here van jou lewe is, dan is jou deurkosyne – jou hart – besprinkel met Sy bloed. En hierdie sprinkeling is nie slegs vir vergifnis nie – maar ook vir beskerming!

Wanneer jy besprinkel word, is jy heeltemal onder die beskerming van Christus se bloed teen al die vernietigende magte van Satan. Wanneer sy magte Christus se bloed op jou deurkosyne sien, moet hulle by jou verbygaan. Hulle kan jou nie aanraak nie – omdat hulle niemand wat met Christus se bloed is, mag aanraak nie!

So, sien jy, die kosbaarheid van die bloed het met baie meer te doen as vergifnis. Jesus se bloed is nie in die skottel gelaat nie – maar dit is uitgelig en op jou hart gesprinkel. En dit wag om besprinkel te word op harte dwarsdeur die wêreld!

Daar is ook ‘n besprinkeling van bloed wat in Exodus 24:1-11 genoem word. In hierdie gedeelte, maak God ‘n verbondsbelofte met Israel. Hy beloof, “As jy My woorde gehoorsaam, sal Ek vir jou‘n God wees en julle sal My volk wees.” Nadat Moses die wet vir die mense gelees het, het hulle geantwoord, “Ons verstaan – en ons sal gehoorsaam wees.” Hulle het ingestem tot die verbond met die Here.

Hierdie verbond moes egter verseël word – om bekragtig en geldig te wees – en dit kon slegs gebeur deur die besprinkeling van bloed daarop. Hebreërs vertel vir Moses “...toe...het hy die bloed...geneem en die boek self en die hele volk besprinkel...” (Hebreërs 9:19).

Die uitgestorte bloed van die brandoffers was gehou in ‘n skottel. Moses het ‘n deel van hierdie bloed geneem en by die altaar uitgegiet. Toe het hy ‘n hisop geneem, dit in die skottel gedoop en van die bloed op die twaalf pilare (verteenwoordig die twaalf stamme van Israel) gesprinkel. Uiteindelik het Moses die hissop in die skottel gedoop en in die bloed op die mense gesprinkel. Die bloed wat die mense bedek het, het die verbond verseël.

Dit is duidelik uit die boodskap dat die besprinkeling van die bloed vir die Israeliete volle toegang tot God gegee het, met blydskap. Op hierdie geleentheid het dit niks te doen gehad met vergifnis en kwytskelding van sonde nie – maar, eerder, met gemeenskap. Hulle was nou geheilig, gereining – waardig om in God se teenwoordigheid te wees.

Toe het Moses, Nadab, Abihu en die sewentig ouderlinge met die berg op gegaan om God te ontmoet. En die Here het aan hulle verskyn en afgekom met ‘n saffiersteen wandelpad. Hierdie mans het ‘n tafel voor hulle gedek gesien – en die Skrif meen dat hulle met gemak, behaaglikheid en geen vrees van veroordeling in God se teenwoordigheid gesit het en saam met Hom geëet en gedrink het: “Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink” (Exodus 24:11).

Dit is eenvoudig wonderlik! Hierdie mans kon eet en drink in die teenwoordigheid van God – waar hulle kort tevore vir hulle lewens gevrees het. Dit was omdat die bloed besprinkel was – en hulle het die veiligheid, die krag en die sekuriteit daarvan verstaan. Hulle het nie gevrees nie!

Geliefde, vandag is ons in ‘n nuwe verbond met Jesus Christus – ‘n verbond wat verseël is met Sy eie bloed. En net so, vandag, wanneer Sy kosbare bloed op jou siel gesprinkel word, is dit vir die doel van gemeenskap. Dit is sodat jy met vrymoedigheid – met gemak, sonder vrees van veroordeling – God se teenwoordigheid kan binnegaan vir gemeenskap met Hom. Jy word toegang tot Hom gegee, met geen sonde wat jou veroordeel nie. Jy is vry om met God te praat en Sy gemeenskap te geniet!

Een van die belangrikste besprinkelings van bloed was gedoen deur die hoëpriester. Eenkeer per jaar het hy die Allerheiligste binnegegaan om versoening te doen. Hierdie daad was bedoel om al die mense se sondes uit te wis, sodat hulle versoen kon word en weer gemeenskap met die hemelse Vader kon hê.

Die priester sou ‘n handvol wierook, ‘n pan brandende kole van die vuur van die altaar en ‘n houer met bloed van ‘n geslagte os in die Allerheiligste inneem. Binne-in die Allerheiligste was daar ‘n ark waarop ‘n plat, goue deksel met ‘n krans rondom gelê het. Dit was die versoendeksel waar God “gesit” het; dit was Sy teenwoordigheid. Die versoendeksel het twee goue gérubs aan elke kant gehad met vlerke wat oor die deksel gesprei het.

Nadat die hoëpriester homself in ‘n breedvoerige seremonie gereinig het, het die hoëpriester die Allerheiligste binnegegaan met groot eerbied en vrees. Hy het die wierook in die vuur gegooi, wat veroorsaak het dat ‘n aroma en rook opgestyg het. (Dit verteenwoordig die gebede van Christus, wat vir Sy mense intree. Jesus sit vir ewig aan die regterhand van die Vader en doen voorbidding vir die heiliges.)

Toe het die priester sy vinger in die bloed gedoop en dit sewe keer op die versoendeksel gesprinkel: “En Hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel” (Levitikus 16:14).

Wanneer die bloed gesprinkel was op God se versoendeksel, was versoening van alle sondes gedoen en alle vorige sondes was bedek. Wanneer die hoëpriester uitgekom het, het die mense geweet God het die offer aanvaar en hulle sondes was vergewe. Israel het nooit daarin getwyfel nie!

Geliefde, ons het ook ‘n hoëpriester – Jesus, ons Here. En Hy is ons Hoëpriester, nie net een keer ‘n jaar nie, maar vir alle tye – tot die einde van die wêreld! Jesus het Sy eie bloed na die ware versoendeksel geneem – in God se teenwoordigheid, die Allerheiligste in – en dit vir die vergifnis van alle sondes van alle gelowiges aangebied. Dit was ‘n laaste besprinkeling!

Die Skrif sê van hierdie daad: “Ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring” (Hebreërs 9:12). “Hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien” (Hebreërs 9:14). “...om voor die aangesig van God vir ons te verskyn” (Hebreërs 9:24).

Jesus het Sy eie bloed in die hemel ingeneem vir ons! En dit is nie bloot gebêre as ‘n herinnering nie. Dit moet gesprinkel word op almal wat deur geloof na Hom kom!

2. Hoe word die bloed van Jesus op die hart gesprinkel?

Dit is tragies dat so baie gelowiges nie die krag en deug van die bloed van Jesus geniet nie. Die Skrif maak dit baie duidelik – dit is vir ons belangrik om te weet hoe die bloed op ons harte gesprinkel word. Dit word op twee maniere gedoen:

1. Die bloed word op ons gesprinkel deur die Gees van Christus, wat in ons woon.

Jesus sprinkel Sy eie bloed op ons wanneer ons deur geloof Sy afgehandelde werk op Gólgota ontvang. Dit is nie ‘n fisiese besprinkeling nie; dit is liewer ‘n wettige, geestelike transaksie. Hy sprinkel die bloed op ons harte in reaksie op ons geloof. En totdat ons waarlik glo in die krag van sy offer by Gólgota, kan die bloed van Jesus geen effek op ons siele hê nie! “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof...” (Romeine 3:25).

Kerke dwarsdeur die wêreld neem gereeld deel aan nagmaal. Paulus waarsku ons egter om nie “die beker op onwaardige wyse te gebruik nie.” Dit beteken nie om bloot deel te neem aan ‘n nagmaaldiens, nadat ons op een of ander manier misluk het nie; ons weet dat as ons ons sondes bely en laat staan, sal Jesus ons vergewe en reinig van alle ongeregtigheid.

Nee – ek glo Paulus sê dat ons Christus se liggaam behoorlik moet onderskei. Hy praat van om na die Here se tafel te kom en die beker, wat simbolies is van sy bloed, te drink – en tog nie glo in die krag van daardie bloed nie! Dit het te doen met om in veroordeling en vrees te sit – en nie te glo dat Christus se bloed ons geregverdig, vrygespreek en ons geheilig het in God se oë nie.

Talle gelowiges word veroordeel deur die wonderlike belewenis van die Here se tafel, omdat hulle nie in geloof na die bloed kom nie. Paulus sê in wese, “Geen wonder so baie is siek onder julle nie. Julle word swak, omdat julle nie glo in die algehele oorwinning van Christus se bloed nie!”

Sulke Christene sê in wese, “Ek weet dit is wonderlik om geregverdig en vrygespreek te word deur die bloed van Jesus Christus. Maar dit is vir my steeds moeilik om te glo dat die Here my regverdig ag. Ek is immers nog nie volmaak nie. Dit is steeds vir my moeilik.”

Geliefde, die getrouste bewyse van geloof is rus! As jy glo met jou hele hart, bring dit jou gewete en siel tot ruste. En wanneer jy na die Here se nagmaal kom en die beker gebruik, kan jy sê, “Ek glo ek is gered, vergewe, genees, omdat ek glo in die bloed. Ek vertrou daarop!”

2. Die bloed van Jesus word op ons siele gesprinkel deur Heilige Gees prediking.

Wanneer jy hoor dat Christus en Sy bloed verhoog word in Heilige Gees prediking, kan jy weet die bloed word gesprinkel!

Toe Filippus die evangelie aan die ontmande verkondig het, was daardie man aangeraak deur die Woord. Dadelik het hy gesmeek om gedoop te word. Filippus het vir hom gesê, “...As u glo met u hele hart, is dit geoorloof...” (Handelinge 8:37).

Net so, elke keer wat jy Heilige-Gees-gesalfde prediking ter harte neem en uitroep, “Here, asseblief, openbaar vir my al U waarheid” – dan word jy met Christus se bloed besprinkel deur geloof!

Op hierdie stadium sal jy moontlik wonder, “Hoe kan ek weet of die bloed op my hart aangewend is?” Hier is drie maniere waarop jy kan weet of jy met die bloed besprinkel is:

1. As jy nou gewillig is om in die lig te wandel en toe te laat dat die Heilige Gees alle duisternis in jou openbaar, dan weet jy dat jy met die bloed besprinkel is.

“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Johannes 1:7).

Johannes praat duidelik van iemand wat verlief is op die Woord, nie bang is vir tugtiging nie – wat sê, “Here, skyn U Heilige Gees lig in elke hoekie van my hart. Ek wil in die lig wandel.” As jy die lig liefhet, is dit ‘n seker teken dat jy besprinkel is!

2. As jy die krag en gesag van Christus se bloed gebruik wanneer jy deur die vyand aangeval word, kan jy weet jy is besprinkel.

Wanneer diegene wat nie besprinkel is nie in die moeilikheid kom, roep hulle hul beste vriend of berader, of hulle wankel van vrees en veroordeling. Maar húlle wat met bloed besprinkel is, staan op Jesus se bloed!

Ons hoor dikwels die frase “pleit die bloed” in Christelike kringe. Maar dit is nie ‘n Skriftuurlike term nie. Die woord pleit hier, beteken “argument”; dit impliseer smeek, aanroep. En dit is ‘n verdedigingsaksie.

Ek glo ons gesindheid moet sterker wees as dit. Ons is krygers – bloedgekoop, bloedgered, meer as oorwinnaars deur Jesus Christus! Ons is nie in ‘n hofsaal teen die duiwel waar ons, ons saak bepleit nie. Nee – ons is oorwinnaars! Jesus het die oorwinning vir ons behaal; Sy bloed het oorwin. En ek glo ons oorlogskreet moet wees, “Ek verkondig die oorwinning van die bloed van Jesus! Ek is bloedgewas, bloedgekoop, bloedgeregverdig, bloedvrygespreek, bloedveilig, bloedlosgekoop. En ek verkondig die oorwinning van die bloed van Jesus!”

3. Wanneer jy so gerus is in die reinigende, regverdigende krag van die bloed, dat jou gewete jou nie langer veroordeel nie, kan jy weet jy is besprinkel.

Jou gewete doen ‘n bose werk wanneer dit jou nie dring tot gehoorsaamheid aan die evangelie nie. Dit doen kwaad as dit jou onnodiglik veroordeel, jou aankla en jou heeltyd herinner hoe jy God gefaal het en depressie en vrees veroorsaak.

Maar wanneer jy ten volle rus in die reinigende, regverdigmakende krag van die bloed van Jesus – wanneer jy in die Gees outoriteit neem oor jou gewete – is jou gewete nie meer ‘n aanklaer nie, maar liewer, dit doen sy werk behoorlik. Wanneer die duiwel opstaan met ‘n bose beskuldiging, verkondig jou gewete die oorwinning van die bloed!

“Laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water...” (Hebreërs 10:22). ‘n Vredevolle, gereinigde gewete is ‘n teken van besprinkeling met Sy bloed!

3. Wat is die voordele wat spruit uit die die bloed van Jesus, wanneer jou hart eers besprinkel is?

1. Jesus se bloed verlos ons van sonde en die mag van die duisternis

“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed...” (Efésiërs 1:7). Ons is nie langer onder veroordeling of vrees nie!

Baie mense is verlos en geregverdig deur die bloed – maar hulle weet dit nie, omdat hulle in vrees en veroordeling lewe. Hulle het geloof aan die Here gebied – maar hulle het nie in die heerlikheid ingetree van vryspraak en regverdiging deur die bloed nie.

Hulle is soos ‘n man wat ‘n groot skuld opgebou het en nie kan betaal nie. Die man se welgestelde baas kom saam en betaal die rekening sonder om vir sy werknemer te sê – en roep hom dan in om vir hom goeie nuus te vertel.

Toe die man gaan sit, word die dossier van skulde aan hom gegee en hy blaai deur die bladsye om die lys van rekenings te sien wat hy opgehoop het. Hy dink, “Ek sal nooit in staat wees om dit alles te betaal nie. Hulle gaan my in die tronk gooi!”

Wanneer die CEO die man se vreesbevange gesig sien, is hy verleë. Hy sê, “Verskoon my – het jy gekyk na bladsy een?” Die man blaai na die eerste bladsy, wat lees: “Ten volle vereffen.”

Talle Christene is net soos hierdie man: Hulle weet nie dat hulle sonde bedek is en ten volle vereffen is nie! Ons moet daardie kennis in besit neem deur geloof om die voordele daarvan te hê – wat vrede is met God!

2. Jesus se bloed het die hele kerk van God gekoop.

“...die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Handelinge 20:28).

Christus se kerk is nie te koop nie! Vergeet van die idee dat Satan Sy kerk gaan verslaan. Moenie jou hande vryf en kla, “O, nee, die kerk gaan hel toe” nie. Nee – dit gaan hemel toel! Waarom? Dit is bloed-gekoop vir ewig!

3. Jesus se bloed breek alle mure af.

“Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het” (Efésiërs 2:13-14).

By Times Square Kerk, het dit groot betekenis. Meer as sewentig nasionaliteite aabid hier, maar ons kerk het geen mure nie, geen nasionaliteite nie. Ons is almal een in Christus – ‘n bloedbesprinkelde kerk. Diegene wat inderdaad bloedbesprinkel is, het nie langer mure nie. Dit is alles afgebreek!

4. Jesus se bloed heilig ons.

“...en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Johannes 1:7). Dit behoort ‘n groot geloofsglimlag op jou gesig te plaas. Jy is geheilig – rein besprinkel! Dit is ‘n voortdurende werk van die Gees.

5. Christus se bloed oorwin Satan en laat hom wegvlug.

“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis...” (Openbaring 12:11). Wat is die woord van die getuienis? Dit is bloot dit: “Ek glo in die bloed! Ek getuig van die heersende, oorwinnende krag van die bloed van Jesus – en ek verklaar die volkome oorwinning daarvan!”

As jy die duiwel wil oorwin, staan op die bloed – en verkondig die krag daarvan!

6. Die bloed gee vir ons toegang tot die Allerheiligste – na ons hemelse Vader – sonder verwyte.

“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus” (Hebreërs 10:19). Ons moet met vrymoedigheid na die Vader kom – sonder vrees!

4. Wat verwag God van ons nadat ons besprinkel is met die bloed van Jesus?

Word ons op enige manier tot iets verplig deur hierdie besprinkeling? Ja – baie! As ons deur die bloed van Jesus besprinkel is, word ons beveel om twee dinge te doen:

1. Ons moet met vrede gaan – en nie meer twyfel nie!

Toe Moses bloed op die sondige Israeliete gesprinkel het, het hulle nooit een keer getwyfel dat hulle deur God vergewe en aanvaar is nie. Hulle het vertrou op daardie besprinkeling!

Vandag, is die bloed wat op ons besprinkel is nie dit van bulle, bokke of skape nie – maar van Christus, die Lam van God. En tog het ons meer twyfel en groter vrees as daardie Israeliete!

Martin Luther het gesê dat dit laster is om onsself terug te neem na al die sondes wat ons op Christus gelaai het. Ek stem saam! Dit is absolute ontheiliging om rond te gaan in vrees, skuld en veroordeling – en om te sê, “Die Bybel sê dat ek deur geloof gereinig, geregverdig en beskerm is van Satan se krag – maar tog kan ek nie glo dat so ‘n heerlike ding moontlik is nie!”

2. Ons moet God prys met ‘n dankbare hart – en nooit twyfel nie!

Ons word beveel om God te dank vir die kosbare bloed van Jesus, met hoë lof:

  • “...ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening gekry het” (Romeine 5:11).
  • “Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!” (Psalm 32:11).
  • “Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken...” (Psalm 89:15).
  • “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel...” (Jesaja 61:10).

Verkondig die oorwinning van Jesus se bloed in jou lewe. En begin Hom nou prys vir die belofte van daardie groot dag van verlossing wat voorlê. Amen!