Die Kosbaarheid om Christus te Besit

Mattheus vertel hier vir ons dat Jesus met die skare in gelykenisse gepraat het: "Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af" (Mattheus 13:34-35 AOV).

Vandag klink hierdie gelykenisse baie eenvoudig vir baie Christene. Tog, volgens Christus, hou elkeen van hulle 'n ongelooflike geheimenis in. Daar is 'n versteekte, koninkrykswaarheid in elke gelykenis wat Jesus vertel het. En daardie waarheid word slegs deur diegene wat deeglik daarna soek, ontdek.

Baie gelowiges kyk net vinnig oor die gelykenisse. Hulle dink hulle sien 'n voor die handliggende les en lees vinnig verder. Of, hulle maak dit af as 'n gelykenis wat nie op hulle van toepassing is nie. Dan blaai hulle liewer na Paulus se briewe, en soek daar na "dieper waarhede." Hulle wil 'n teologie hê wat duidelik aan hulle uitgelê word en in die fynste besonderhede verduidelik word.

Ek dink aan twee gelykenisse wat Jesus aan Sy dissipels vertel het. Ek is van mening, dat die twee gelykenisse miskien van die mees diepsinnige waarhede bevat wat elke gelowige kan ontdek.

"Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit" (Mattheus 13:44-46).

U mag dalk dink, "Wat is so geheimsinnig omtrent hierdie waarhede? Ons weet almal dat Jesus die pêrel van groot waarde is, die skat wat in die veld versteek is. Dit is nie so 'n groot geheim nie." Ek sê vir u, daar is versteekte manna in hierdie twee gelykenisse. En slegs 'n handjievol gelowiges het dit al ontdek. Waarom? Hulle het nog nooit die tyd geneem om te grawe soos die man gegrawe het nie. Inteendeel, die twee desperate persone - die grawende man en die skelm handelaar - maak Jesus se bedoeling duidelik. God se geheime moet bo alles ander dinge in die lewe begeer word.

Die Bybel stel dit duidelik dat daar geheimenisse van die Here is: "...Sy verborgenheid is met die opregtes" (Spreuke 3:32). Hierdie geheime was van die begin van die wêreld af onbekend. Maar Mattheus vertel vir ons dat dit in Jesus se gelykenisse verskuil is. Hierdie versteekte waarhede het die krag om Christene waarlik vry te maak. Tog is daar net 'n paar wat gewillig is om die hoë prys te betaal om dit te ontdek.

Ons almal weet dat die geskenk van verlossing gratis is. Jesus het die prys vir ons verlossing ten volle betaal, tot in alle ewigheid. "En hulle word deur Sy genade sonder verdienste geregverdig" (Romeine 3:24). Tog, nooi Hy ons om te drink van die ewig-vloeiende fontein van genade: "en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet" (Openbaring 22:17).

Ek het die vreugde, wat die genade bring, gesien toe ek onlangs in Italië gepreek het. Duisende mense het in die byeenkomste vorentoe gestroom om Jesus aan te neem. Hierdie mense het nie net die sondaar se gebed opgesê nie, maar was diep in ernstige gebed, het gehuil, belydenis gedoen en die Here aangeroep. Hulle is werklik gered en verlos deur die krag van die Heilige Gees.

Maar tog, in sy gelykenis van die saaier vermaan Jesus dat nie enigeen wat Hom in die geloof bely, daarmee sal volhou nie. Volgens die gelykenis sal sommige saad (die evangelie) op goeie, vrugbare grond val en wortel skiet en vrugte dra, terwyl ander saad op klipperige grond sal val en doodgaan voordat dit wortels kan ontwikkel. Nog ander saad kan op doringagtige grond val en Satan sal dit haastig steel.

'n Groot afval is besig om oor menigte gelowiges te kom, veral in die charismatiese kringe. Baie draai weg van oortuigende, sielsroerende prediking om predikers te soek wat die vlees behaag. Hulle word mislei, deur wat Paulus, "'n ander evangelie, 'n ander Jesus" noem. Hulle ore brand om prediking van geld-gesentreerde welvaart predikers te hoor.

Ons het hierdie dinge gedurende ons kruistogte in Europa sien gebeur. Italiaanse Christene het ons van Amerikaanse evangeliste vertel wat mense se sakke leeggemaak het, op hulle privaat vliegtuie geklim het en totsiens gesê het aan die mense!

Jesus het al hierdie dinge voorspel. Hy het deur die geskiedenis na ons ons tyd gekyk en alles voorspel wat sou plaasvind. Die verwerping van goddelike tugtiging, die oplewing van 'n gemaksugtige evangelie, die oppervlakkige lering van vleeslike genot, die wegval van menigtes. Hy het voorspel dat in die laaste dae die liefde van baie gelowiges sal kwyn. Eens ywerige dienaars sal lou-warm word, selfs yskoud. Hulle sal God se kosbare genade verander in wellustigheid en ontugtigheid. Hulle sal preek van sy vergifnis en seëninge wat niemand iets kos nie. Mense sal gerusgestel word in hulle sonde. Maar dit sal God so kwaad maak, dat Hy hulle uit sy mond sal wil uitspuug.

Dit is waarom Jesus 'n privaat gesprek met Sy naaste dissipels gehad het. Die skrif sê: "Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en Sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand" (Mattheus 13:36). Jesus wou Sy volgelinge se oë open vir die dieper betekenis van Sy gelykenisse. Hy het geweet dat hulle die waarheid, wat hulle deur groter versoekings sou deurdra, moes weet.

In hierdie geslote byeenkoms het Jesus die twee gelykenisse, wat ek vroeër genoem het, vertel. Die gelykenisse van die skat in die veld en die kosbare pêrel. Hierdie twee gelykenisse beslaan net drie versies in die Bybel. Tog is God se geheime, waarvan Hy gesê het dat dit weggesteek was van die grondlegging van die wêreld af, in hulle verweef. Dit het Sy ewige doel wat Hy aan Sy getroue dienaars openbaar het, bevat.

Met net 'n vinnige studie met behulp van Bybel kommentare is dit moontlik om gedeeltes van hierdie gelykenisse uit te lig. Maar dit is nie al wat die Skrif sê wat ons moet doen nie. Jesus beskryf 'n man wat desperaat gesoek en gedelf het. So, as die waarheid van God se koninkryk diep versteek is in sy gelykenisse moet ons ook naarstigtelik delf om die openbaring daarvan te kry.

Ek vra u: wie is gewillig om hard te werk om hierdie geheime te vind? Wie sal geduldig op die Here wag totdat Hy sy geheime aan hulle openbaar? Wie sal lank genoeg saam met die Here wandel om so sy lewegewende waarhede te ervaar?

Ek glo dat ek lank genoeg by die twee gelykenisse stilgestaan het om 'n idee te kry van die waarheid wat in hulle opgesluit lê. Ek kan dít daarvan sê. Hulle gaan omtrent die kosbaarheid daarvan om Christus te besit. Baie Christene gaan deur die lewe met net genoeg geloof om hulle deur te dra. Hulle wil net genoeg van Christus hê om dit tot in die hemel te maak. Hulle mag 'n paar praktiese waarhede van Sy gelykenisse opdiep, maar hulle vind nooit die lewe-gewende waarhede wat diep binne-in begrawe lê nie. Inteendeel, hierdie twee gelykenisse vertel ons van Christus se kosbare waarheid, wat net deur hongerige soekers gevind word. Hulle wie Hom volg met hulle hele hart, se oë sal ten volle geopen word vir die geheime van 'n oorvloedige lewe.

Jesus begin hierdie twee gelykenisse deur te sê, "Laat Ek julle vertel hoe die koninkryk van die hemel is" (sien Mattheus 13:44). Christus praat nie hier van die hemel soos ons daaraan dink as die koninkryk in heerlikheid met die Vader nie. Hy praat van die koninkryk van God op aarde. Hy sê in wese, "Dit is hoe jy volle besit van die Hemel in jou hart kan hê, nou op hierdie oomblik. Maar laat my eers vir julle vertel wat dit sal kos om dit te bekom."

Hoe verkry ons hemel op aarde? Die twee gelykenisse maak dit duidelik, deur Christus ten volle te besit. En dit is 'n kosbare strewe.

"Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand" (Mattheus 13:44).

Eerstens wil ek vra, wat verteenwoordig die saailand hier? Dit dui op die hele Christelike wêreld. Dit is elke area waar die evangelie verkondig en ontvang is. Natuurlik is die kerk 'n gedeelte van daardie saailand. Daar is 'n tuissendingveld, en 'n buitelandse sendingveld. En die persoon wat in die sendingveld werk, verteenwoordig almal wat Jesus dien.

Hierdie man het van 'n betroubare bron verneem dat 'n skat êrens in daardie saailand begrawe is. Net soos vandag, word ons vertel dat "Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is" (Kolossense 2:3). Terwyl party werkers halfhartiglik arbei, het hierdie man ywerig en met erns begin spit. Hy het ure, dae en weke verbete na die skat gesoek.

Wie is hierdie man? Hy verteenwoordig elke getroue dienaar wat gehoor het wat die profete omtrent Jesus gesê het: "Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af" (Mattheus 13:35). Hierdie man gee nie om wat ander van hom dink nie. Hy het sy hele hart daarop gesit om God se verborge skat te ontdek. Hy weet dat die enigste manier waarop hy dit sal kry is om met alles wat hy het, te soek. So het hy gedelf en gespit, vasberade om dit te vind.

Wat is die skat waarna hy soek? Dit is die ongelooflike waarheid dat Christus al is wat hy nodig het. Sy skat is om te weet dat al die vreugde, rigting en doel, dus al die rykdom van die hemel, syne is in Jesus Christus. Dit maak nie saak watter beproewings en vervolgings hom in die gesig staar nie, hy weet dat in Christus, elke hulpbrond aan hom gegee is. Jesus is sy alles in alles.

Wanneer hierdie man uiteindelik sy skat vind, doen hy 'n snaakse ding: hy steek dit dadelik weg. "Wanneer 'n man dit kry, maak hy dit weer toe" (Mattheus 13:44 NAV). Wat doen hy hier? Waarom sou hy sy wonderlike, nuutgevonde rykdom wegsteek?

Ons vind 'n aanduiding in Paulus se getuienis. Die apostel sê vir ons, "Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het om sy Seun aan my te openbaar, sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies kon verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg of na Jerusalem toe gegaan het na die wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is Arabië toe, en daarvandaan het ek teruggekom Damaskus toe" (Galasiers 1:15-17 NAV).

Aan Paulus is 'n wonderlike openbaring van Christus gegee. So, waarom het hy verkies om dit 'n geheim te hou? Omdat hierdie skat absoluut kosbaar vir hom was, kosbaarder as enige iets anders. U sien, Paulus het gevas vir hierdie waarheid, daarvoor gebid, en ywerig daarna gesoek. Hy het God ywerig as 'n Fariseër gesoek, maar sonder die regte insig van die waarheid (sien Romeine 10:2). Noudat hy die waarheid, wat Christus was, gevind het, sou niemand hom daarvan beroof nie.

Daarom het Paulus na die woestyn van Arabië gegaan om sy skat weg te steek. In der waarheid het hy "alles verkoop wat hy gehad het om die saailand waar die skat begrawe was te koop" (sien Mattheus 13:44). Paulus het gesê, "Ek wil nie hê dat enigiemand of enigiets my aandag moet aftrek van die groot waarheid wat ek in Christus gevind nie. Ek wil niemand anders se opinie daaromtrent hoor nie. Ek wil dit self eers besit en ek sal dit alleenlik met ander deel wanneer ek die volle grootsheid daarvan gevind het."

Ek stel my voor hoe die veldwerker in die gelykenis in verwondering was toe hy die skat vind. Toe hy dit oopmaak het hy dit omhoog gehou, geïnspekteer en gejuig! Onmiddelik het hy gedink, maar dit is nie genoeg nie, nie om net daarna te staar nie. Hy aan homself gesê, "Ek moet dit eenvoudig hê. Ek moet dit volkome besit. As ek dit besit, sal dit my onderhou tot die dag van my dood."

Paulus is 'n voorbeeld van iemand wat die kosbare skat van 'n hartsopenbaring van Christus ontdek het. Hy het diep gedelf, en die skat gevind en was oorstelp van blydskap met sy ontdekking. Hy het dit egter diep in sy hart weggebêre. Hy het gesê, "Dit is nie vir my genoeg om Jesus net te bewonder en in vervoering oor Hom te wees nie. Ek het Hom binne-in my nodig. Hy moet my hele lewe wees. Ek het nie enige verdere teologie oor my Verlosser nodig nie. Ek het my lewe lank leerstellinge bestudeer. Nou is my enigste fokuspunt om Christus te ken en Hom te besit. Ek wil hê dat Christus deur my moet leef en dat my ou self sterf."

Wanneer Jesus sê dat die veldwerker alles "verkoop het" wat gehad het, is die Griekse betekenis "om te verpand." Dit beteken 'n ruiling van goedere of dienste sonder geld. Met ander woorde wat ookal gesoek word, kan nie gekoop word nie.

Dit verander die betekenis van die gelykenis nog verder. Jesus sê: "Jy kan nie geestelike dinge met materiële dinge koop nie." Paulus het hierdie waarheid uitgeleef. Hy het niks behalwe die klere aan sy lyf besit nie, miskien 'n paar gereedskapstukke vir sy tentmakery. Maar hier is die prys wat dit Paulus gekos het om sy skat te besit: "Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik, sodat ek Christus as enigste bate kan verkry" (Fillipense 3:7-8 NAV).

Ons Skepper Vader besit alles. Hy het die veld waar die skat begrawe was ook besit. Dit beteken dat Hy die Een was wat dit daar begrawe het. Hy het ook geweet dat die man wat die skat in die veld gesoek het, arm was. In elk geval het ryk mense nie nodig gehad om handearbeid te doen nie. So, hierdie veldwerker moes na die eienaar gaan en onderhandel om die grond te koop.

Ons weet dat ons nie geestelike dinge met geld kan koop nie. So, hoe is dit dan moontlik om iets van ons Hemelse Vader te koop? Jesaja antwoord: "Kom almal, koop en eet, ja kom koop wyn en melk, sonder geld en sonder prys" (Jesaja 55:1 OAV). Met ander woorde, God sê aan u, "Wat is dit vir jou werd? Moenie in terme van geld dink nie, praat met my in terme van goedere en dienste."

Oor die eeue heen het ryk mense probeer om hulle ewige lewe te verkry deur hulle rykdom prys te gee. Hulle het afstand gedoen van hulle kastele, eiendom, rykdom, troppe vee, juwele en mooi duur klere, alles in 'n poging om Christus te wen. Hulle het armlastiges geword wat karig geëet het en velle van diere vir klere gedra het. Maar niemand het Jesus nog ooit op hierdie manier gevind nie.

Ek glo dat Paulus, gedurende sy jare in Arabië met Jesus onderhandel het. Ek dink hy het vir Jesus gevra: "Vader, hoe kan ek al die rykdom in Christus besit? Wat sal dit my kos?" Jesus het geantwoord: "Ek sal jou sê, Paulus, gee my al jou eiegeregtigheid, dan sal ek jou die geregtigheid van Christus gee. Gee my al jou goeie werke, jou pogings om my tevrede te stel, en Ek gee jou Christus se heiligheid deur geloof alleen."

"Gee aan my oor al jou ideale, ambisies, planne en hoop. Ek gee jou Christus self, om in jou en deur jou te leef. Sy begeertes sal jou begeertes word, en jy sal blydskap en geluk vind, wat niks anders jou ooit sou kon gee nie.

"Gee my die beste van jou tyd. Gee my al jou vertroue en geheime. Alles waaroor jy bekommerd is. Dan sal jy Christus as wins verkry. Jy sal Sy wysheid en gemeenskap met Hom verkry, alles sonder geld. Sê my Paulus, is om Christus te wen dit alles vir jou werd?"

Paulus het Christus as wins verkry. Hy het uit die woestyn gekom met sy skat ten volle in sy besit. Nou verklaar hy, "Die ou Paulus is dood en Christus leef in my. Al my ambisies het verdwyn. Alles wat ek tevore was of gehad het, het ek in die woestyn agtergelaat. Ek het die skat van my lewe gekry, en dit is oorgenoeg vir my. Jesus is al wat ek nodig het."

U mag vra, "Nou, waar is die versteekte geheim in hierdie gelykenis? Watter geheim is daar weggesteek?" Paulus antwoord ons: "Die geheime wat van eeue en geslagte weggesteek was, is nou bekendgemaak aan gelowiges, aan wie God bekend gemaak het wat die rykdom van Sy glorie is ook onder die heidene. "Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid" (Kollossense 1:26-27 NAV).

Kortliks kan gesê word dat die geheim is, dat Christus self binne-in jou is. Die hele hemelse skat leef binne jou, is in jou besit.

Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit" (Mattheus 13:45-46 OAV).

Wie is die handelaar in hierdie gelykenis? Die Griekse taal beskryf hom as 'n reisende groothandelaar. Hierdie handelaar was ook 'n man wat sy lewe gemaak het deur duur pêrels te evalueer en te toets vir hulle kwaliteit en waarde.

Ons weet dat Jesus die groot pêrel met 'n groot prys was, wat die handelaar gevind het. Hy was baie kosbaar, van onskatbare waarde, want die handelaar het al sy ander besittings verkoop om hom te besit. My vraag is, wie was die oorspronklike eienaar van hierdie duur pêrel en waarom was hy gewillig om van hom afstand te doen?

Ek glo dat ons die betekenis van die pêrel in God se ewige doel vind. Vanselfsprekend behoort die pêrel aan die Vader. Hy het Christus besit net soos enige ander vader sy seun besit. Natuurlik is Jesus die Vader se kosbaarste besitting.

Net een ding het veroorsaak dat die Vader sy pêrel van onskatbare waarde prysgegee het. Hy het dit uit liefde gedoen. Hy en sy Seun het 'n verbond gemaak voor die skepping van die wêreld. In daardie verbond het die Vader ooreengekom om sy Seun te verlaat. Hy het hom prysgegee om te dien as 'n offer vir die verlore mense, sodat hulle gered kon word.

Die apostel Petrus verwys na die hoë prys van hierdie kosbare geskenk. Hy praat van die kosbare bloed van Christus, ons pêrel van groot waarde. Tog, toe die hoëpriesters hierdie pêrel ondersoek het, het hulle hom op 'n skamele 30 stukkies silwer geevalueer. "En hulle het die dertig silwer muntstukke geneem, dit is die prys was die Israeliete ooreengekom het om vir Hom te betaal" (Mattheus 27:9 NAV). Dink daaraan: die God van die ganse heelal het sy kosbare pêrel vir almal beskikbaar gestel. Tog het hierdie mense min of geen waarde aan Hom geheg nie. Baie het Hom 'n bedrieër en vals namaaksel genoem.

Ek sê vir u, die Vader moet vandag baie bedroef wees as Hy sien hoe min waarde sy mense aan hierdie kosbare pêrel heg. Vir baie mense is hy niks anders as 'n museumstuk wat agter glas geplaas is, sodat mense nie daaraan kan vat nie. Mense besoek hom een maal per week om hom te bewonder of te aanbid. Hulle staar na sy kruis en verwonder hulle aan sy opoffering en sê: "Hoe pragtig, hoe uiters glorieryk." Maar hulle besit nooit die pêrel nie. Hulle onderhandel nie met die eienaar om dit ten alle koste te besit nie.

Geliefdes God het bedoel dat sy pêrel gevind mag word deur hulle wat 'n obsessie het om hom te besit. Dit is asof Hy sê: "My pêrel is alleenlik beskikbaar vir hulle vir wie hy groot waarde het."

Dus, die handelaar in hierdie verhaal verteenwoordig 'n baie klein klompie gelowiges vandag. Hierdie dienaars het in Jesus die antwoord gevind vir elke nood en uitroep van hulle harte. Hy het die sentrale fokus in hulle lewens geword. Hulle het hulle hart daarop gesit om te soek vir hierdie prys met alles wat hulle het. Hulle wil hom besit teen alle koste.

Onthou, hierdie pêrel was van onskatbare waarde. Dit kon teen geen bedrag geld gekoop word nie. Daar was eenvoudig net nie genoeg goud of silwer op die hele wêreld om sy waarde te ewenaar nie en die handelaar het dit geweet. Hy het besef dat hy sy helel lewe kon spandeer om rykdom bymekaar te maak sodat hy dit kan verkry, maar alles sou tevergeefs wees.

Ek kan my voorstel dat die handelaar aan die eienaar gesê het, "Kyk, ek moet daardie pêrel hê. Ek sal 'n hele leeftyd se dienste met jou ruil, net wat jy van my vra, sal ek vir jou doen. Laat my dit tog net besit." Die Vader het hom liefdevol geantwoord: "Gee my jou hart. Dit is die koste." Ons lees vervolgens toe hy die een pêrel van 'n onskatbare waarde gevind het, het hy gegaan en alles wat hy gehad het verkoop en die skat gekoop (sien Mattheus 13:46).

Die handelaar het sy hele siel vir die pêrel verkoop. Dit het hom sy siel, liggaam en gees gekos. "Alles wat hy gehad het. "Tog het die eienaar vir hom gesê, dat hy die volgende sal terugkry. "Ja, jy sal my verbondsdienaar wees, maar jy sal baie meer as dit vir my wees. Jy sien, omdat jy jou hart aan my gee, laat jy toe dat ek jou aanneem. Ek maak jou deel van my familie, dan sal jy ook my erfgenaam wees. Dit beteken dat jy saam met my die pêrel besit. Dit sal joune en myne wees."

Christus is die skatkis in die veld. Binne-in hom is alles wat ek nodig het. Vir my beteken dit die volgende:

Nie meer probeer om my doel in prediking te vind nie. Nie meer 'n gesoek na vervulling in vriende of familie nie. Nie meer nodig om iets vir Christus te bou of om 'n sukses te wees of bruikbaar te voel nie. Nie meer bybly by die menigte nie of iets te bewys nie. Nie meer 'n gesoek om mense te plesier nie. Nie meer probeer dink of redeneer om myself uit probleme te kry nie.

Ek het gevind waarna ek gesoek het. My pêrel, my skat is Christus, en al wat die eienaar van my vra is, "David, ek het jou lief, laat ek jou aanneem. Ek het alreeds al die papiere geteken met my eie Seun se bloed. Jy is nou saam met hom mede erfgenaam van alles wat ek besit."

Ek is nog steeds in die proses om alles te verkoop wat ek het. Ek gee nog steeds die Vader al my tyd, my gedagtes, my vermoë en my planne. Maar ek weet ek verruil dit alles vir 'n skat. Ek verhandel dit om lewende water te koop, die brood van die lewe, melk en heuning van vreugde en vrede. Ek doen dit alles sonder geld. Die koste vir my is my liefde, my vertroue en geloof in sy Woord.

Wat 'n winskopie. Ek gee my vuil vodde van selfvertroue en goeie werke prys. Ek lê my uitgetrapte skoene van gesukkel neer. Ek laat my slapelose nagte op die strate van twyfel en angs agter. In ruil daarvoor word ek aangeneem deur 'n Koning.

Liewe gelowige, dit is wat gebeur wanneer u die pêrel, die skat soek, tot u hom vind. Jesus bied u alles aan wat Hy is. Hy bring vir u vreugde, vrede, 'n doel in die lewe en heiligheid! Hy word u alles, u opstaan en u gaan slaap, u oggend, middag en aand!

So, wat is dit vir u werd? Om Hom te wen mag meer wees as wat u gewillig is om te betaal. Ek smeek u: begin vandag soek na daardie skat.

---
In hierdie preek is die NAV gebruik tensy anders vermeld.
NAV - Nuwe Afrikaanse Vertaling
OAV - Ou Afrikaanse Vertaling