DIE IMPAK VAN GETROUE DIENAARS

Gary Wilkerson

Johannes die Doper was geroep om die pad vir Jesus gereed te maak. Hy het nie ‘n individu geneem en vir hom gesê hy moes ophou om een ding te doen en iets anders begin doen nie. Nee, hy het verkondig dat Jesus sou kom vir ‘n volk wat verbind was aan die saak van Christus, ‘n volk wat hulleself volkome aan Hom sou oorgee.

Die Here het met Sagaria gepraat oor Johannes, “En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei” (Lukas 1:17).

Jesus het gekom vir ‘n volk wat gereed was – nie vir ‘n gebou of ‘n program of selfs ‘n beweging nie. God wil ‘n liggaam van gelowiges hê wat werklik verbind is aan die dinge wat ons saamsnoer – getroue dienaars wat gevul is met die Heilige Gees en die krag van Elia.

Ons lees weer van Elia in Jakobus: “Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit” (Jakobus 5:17-18).

Die Woord van God sê dat Elia ‘n mens was net soos ons, maar tog het hy dinge gedoen wat buitengewoon was. Maar ons lees verder in Jakobus: “Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek” (5:19-20).

Om geloof te hê om die reën te stop of af te bid, soos Elia, is inderdaad kragtig. Maar om iemand van die dood te red is selfs nóg wonderliker en volgens Jakobus, het Jesus vir almal wat met Hom wandel, dit sluit jou en my in, die krag en gesag gegee om presies dit te doen.