DIE HERE SE UITDAGING

David Wilkerson (1931-2011)

“Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie” (1 Johannes 5:10).

Beskou al die gruwelike sondes teen Israel opgeskryf in die wildernis – murmurering, klaery, afgodery, ondankbaarheid, wederstrewigheid en sensualiteit. Nie een van hierdie sondes het egter God se toorn uitgelok soos hulle ongeloof nie. “Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?” (Númeri 14:11).

God het in wese vir Moses gesê, “Hierdie mense maak ‘n leuen van alles wat Ek vir hulle gedoen het! Ek het wonderwerk op wonderwerk verrig en hulle keer op keer verlos. Wanneer gaan hulle ooit net op My vertrou en in My rus?

Stop vir ‘n oomblik en dink aan al die dinge wat God vir jou gedoen het: Hy het jou bewaar, gebede verhoor, jou tegemoet gekom in een krisis na ‘n ander. Hy het jou deur beproewings gedra en dinge vir jou gedoen wat niks minder as wonderbaarlik is nie.

Vir agt-en-dertig lang jare het Israel God se Woord vergeet en Sy wonderwerke afgemaak. En omdat hulle so dikwels teruggeval het in murmurering en ongeloof, het God gesê, “Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei” (Numeri 14:12). Hy het vir Moses gesê, “Ek is baie ontevrede met My volk, omdat hulle nooit sal kom by die plek waar hulle My vertrou nie!”

Toe Israel op die oorwinningskant van die Jordaan was, het Moses ‘n plegtige verklaring gemaak, “Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee: trek op, neem dit in besit...Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie...Die HERE julle God wat voor julle uit trek, Hy sal vir julle stry” (sien Deuteronómium 1:21,29-30).

“Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4). Vaar uit in volle geloof op die geskrewe Woord van God. Neem die Here se uitdaging aan om te leef en te sterf deur Sy Woord!