DIE HERE HOU SY WOORD

David Wilkerson (1931-2011)

Ek het nog nooit meer hulpeloos en angstig gevoel nie as toe ons na New York Stad toe teruggetrek het om Time Square Kerk te begin. Weereens was ons onderwerp aan die genade van die skedules van verhuurders en opsigters van geboue. Wanneer ek moes wag, het ek nogal ongeduldig geraak en het uitgeroep, “Here, daar is so baie werk wat in New York gedoen moet word en so min tyd. Hoe lank moet ons wag?”

Keer op keer het die Here my geduldig geantwoord, “David, vertrou jy my? Wag dan.”

Jy het seker al die uitdrukking gehoor, “Die moeilikste deel van die geloof is die laaste halfuur.” Ek kan getuig uit my jare in die bediening dat dit altyd die moeilikste tyd is net voor God sy verlossing bring.

Daar is ernstige implikasies wanneer ons nie op God wag om op te tree nie. Trouens, heel dikwels op sulke tye, beskuldig ons God van verwaarlosing. Saul het dit gedoen toe hy ongeduldig op sy eie opgetree het (sien 1 Samuel 13). Hy het in wese gesê, “God het my gestuur om sy werk te doen, maar nou het Hy my gelos om self uit te werk hoe om alles te laat gebeur. Dinge is besig om buite beheer te raak en binnekort sal dit hopeloos wees.”

Beskryf dit soms jou eie gedagtes? Ons word beveel om op die Here te wag en Hom te vertrou om verlossing te bewerkstellig. Maar wanneer ons innerlike spertyd verbygaan, word ons kwaad vir God en gaan ons op ons eie voort. Deur voor Hom uit te beweeg, verklaar ons, “God gee nie om oor my nie. Gebed en wag werk nie. Sy Woord kan nie vertrou word nie.”

God het egter aan ons die verantwoordelikheid gegee om in gebed op Hom te wag. Vertrou Hom en sê, “Die Here hou sy woord, daarom gaan ek nie angstig word nie. God het vir my gesê om te wag op sy leiding – en ek sal wag. Laat God waaragtig wees en elke mens ‘n leuenaar!” Laat ons in ons beproewings gevind word met daardie houding in ons harte. Nie met paniek nie, maar met vertroue!