DIE HEILIGE GEES, ONS LEERMEESTER

David Wilkerson (1931-2011)

As jou hart gemotiveer word deur die goedkeuring van ander en dit die manier waarop jy lewe beïnvloed, is jou lojaliteite verdeeld. Jy sal altyd streef om iemand anders as Jesus te behaag.

‘n Paar jaar nadat die apostel Paulus bekeer is, het hy na die kerk in Jerusalem gegaan om te probeer om daar by die dissipels aan te sluit. “Maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy ‘n dissipel was nie” (Handelinge 9:26).

Die apostels het Paulus se reputasie as ‘n vervolger geken. Die kerke in Judéa het slegs gehoor dat, “Hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om te vernietig” (Galasiërs 1:23). Maar Bárnabas het die apostels gehelp om hulle vrees vir Paulus te oorkom, en hulle het hom gemeenskap aangebied. Paulus het besluit om na die Heidene te gaan en hy was noukeurig om sy roeping baie duidelik te beskryf en te verduidelik dat dit nie gekom het “vanweë mense of deur ‘n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het” (Galasiërs 1:1).

Toe het hy uitdruklik bygevoeg: “Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus . . . ek [het] dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie” (Galasiërs 1:11-12,16).

Wat Paulus hier sê, is van toepassing op almal wat die begeerte het om die gedagtes van Christus te hê: “Ek het nie boeke gehad om te lees of mense se metodes gebruik om te kry wat ek het nie. Ek het my boodskap, my bediening en my salwing op my knieë ontvang.

“Hierdie dinge het na my gekom terwyl ek saam met die Here afgesonder was in gebed en vas. Enige openbaring van Christus wat ek het, kom van die Heilige Gees, wat in my woon en my lewe rig. Ek kan nie myself toelaat dat ek die neigings en werktuie van ander volg nie.”

Paulus was nie ‘n trotse, arrogante prediker nie. Hy het homself ontledig van alle eie ambisie en het toegelaat dat die Heilige Gees sy leermeester word!