In Die Heerlikheid Wandel

David Wilkerson

Ek glo daar is net een ding wat ons kan bewaar in die komende moeilike tye en dit is ‘n begrip van God se heerlikheid. Dit mag nou wel vir jou klink na ‘n hoë, verhewe konsep, een wat liewer aan teoloë oorgelaat moet word. Maar ek is oortuig die onderwerp van God se heerlikheid het ‘n baie werklike, praktiese waarde vir alle ware gelowiges. Deur dit te begryp, ontsluit ons die deur na ‘n oorwinnende lewe!

Ek het reeds twee belangrike waarhede in my studie van hierdie onderwerp ontdek:

1. Die heerlikheid van God is ‘n openbaring van ons Here se natuur en wese.

Jy mag onthou uit die Ou Testament dat Moses ‘n letterlike kykie na God se heerlikheid gekry het. Voor dit, het die Here Moses uitgestuur met geen verduideliking van Homself nie, behalwe de woorde, “EK IS.” Maar Moses wou meer van God weet. Daarom het hy by Hom gepleit, “Here, wys my u heerlikheid.”

God het gereageer deur Moses eenkant te neem en hom in die skeur van ‘n rots te plaas. Toe, sê die Skrif, het Hy homself aan Moses in al sy heerlikheid geopenbaar: “En toe die Here by hom verbygaan, het Hy geroep: Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe” (Exodus 34:6-7).

Ek glo hierdie gedeelte is absoluut noodsaaklik vir ons begrip van wie ons Here is. Dikwels as ons dink aan die heerlikheid van God, dink ons aan sy majesteit en heerlikheid, sy krag en heerskappy, of een of ander manifestasie in sy mense, soos ‘n uitbundige aanbidding. Al sulke dinge kan gevolge wees van wanneer God se heerlikheid gesien word. Maar dit is nie die heerlikheid waardeur Hy wil hê ons moet Hom ken nie.

Die manier waarop God wil hê ons moet sy heerlikheid ken, is deur die openbaring van sy groot liefde teenoor die mensdom. En dit is presies wat Hy aan Moses geopenbaar het: “Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe” (Exodus 34:6-7).

Die Here is altyd gereed om vir ons sy liefde te wys, ons te vergewe, ons sy genade te skenk en ons met Homself te versoen!

2. Die openbaring van God se heerlikheid het kragtige effekte op diegene wat dit ontvang het en bid vir begrip daarvan.

Tot op hierdie stadium, het Moses die Here gesien as ‘n God van wet en toorn. Hy het gebewe van vrees in die Here se teenwoordigheid en Hom gesmeek, na Hom uitgeroep en gepleit om Israel se onthalwe. Dit was die basis van sy van aangesig-tot-aangesig verhouding met die Here.

Nou egter, met die eerste oopgopslag van God se heerlikheid, was Moses nie meer bang vir die Here nie. In plaas daarvan, was hy gedring tot aanbidding: “Toe het Moses hom gou na die aarde toe gebuig en neergeval [aanbid]” (Exodus 34:8). Hy het gesien dat God nie net die donder, weerlig en deurdringende trompet was wat hom van vrees laat terugdeins het nie. In teendeel, God was liefde en sy natuur was een van goedhartigheid en innige barmhartigheid!

Sien jy die ontsaglike waarheid wat die Skrif vir ons hier aantoon? Ware aanbidding ontstaan uit harte wat oorweldig word deur ‘n visioen van God se onverdiende liefde vir ons. Dit is gebaseer op die openbaring wat God vir ons van Homself gegee het, van sy goedheid, sy genade en sy gereedheid om te vergewe. So, as ons God moet prys beide in gees en in waarheid, moet ons aanbidding gebaseer wees op hierdie ontsagwekkende waarheid oor Hom.

Wanneer ons inderdaad ‘n openbaring van God se heerlikheid kry, kan ons aanbidding nie anders as om te verander nie. Waarom? As ons sy heerlikheid sien, verander dit die manier waarop ons lewe! Dit beïvloed ons voorkoms en gedrag en verander ons van “heerlikheid tot heerlikheid” en maak ons meer soos Hy. Elke nuwe openbaring van sy liefde en genade bring bonatuurlike verandering.

Ek is oortuig dit is die enigste manier waarop blywende verandering plaasvind. Dit kom nie deur die bywoning van hoe-om seminare, of te luister na beroemde sprekers, of om selfverbeteringsboodskappe van boeke of opnames in te neem nie. Nee, dit kom deur ‘n openbaring van God te hê, punt! En God het reeds vir ons ‘n openbaring van Homself gegee in Exodus 34.

Wanneer ons God se heerlikheid sien, verander dit ook ons verhoudings met ander. Paulus sê vir die kerk van Éfese, “Jy het die heerlikheid God van gesien en gesmaak. Wees nou ‘n weerspieëling van daardie heerlikheid vir ander!” “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe” (Efésiërs 4:32).

Laat my nou met jou praat oor om in die heerlikheid van God te wandel.

Baie Christene praat oor intimiteit met die Here, om met Hom te wandel, Hom te ken en gemeenskap met Hom te hê. Maar ons kan nie ware gemeenskap met God hê, tensy ons die volle openbaring van sy liefde, genade en barmhartigheid in ons harte ontvang nie.

Gemeenskap met God bestaan uit twee dinge: 1. Die liefde van die Vader ontvang, en 2. Hom terug lief te hê. Jy kan ure per dag in gebed deurbring en vir die Here vertel hoe lief jy Hom het, maar dit is nie gemeenskap nie. As jy nog nie sy liefde ontvang het nie, het jy nog nie gemeenskap met Hom gehad nie. Jy kan eenvoudig nie intimiteit met die Here hê, tensy jy verseker is van sy liefde vir jou nie.

Die Psalmis moedig ons aan: “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang” (Psalm 100:4). Wat is die rede vir sulke lof en danksegging? En waarom word ons so ‘n hartlike uitnodiging gegee? Dit is omdat ons gewys word na watter soort God ons na moet kom: “Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag” (Psalm 100:5).

Ek weet wanneer ek na my Here kom, kom ek nie na ‘n harde, veeleisende Vader nie. Hy wag nie vir my met ‘n kwaai gesig, gretig om my met ‘n lat op my rug te slaan nie. Hy agtervolg my nie en wag nie vir my om te misluk, sodat Hy kan sê, “Ek het jou uitgevang!” nie.

Nee, ek kom na ‘n Vader wat Homself aan my openbaar het as rein, onvoorwaardelike liefde. Hy is vriendelik en goedhartig, vol genade en barmhartigheid en gretig om al my sorge en laste te lig. En ek weet Hy sal my nooit afwys wanneer ek Hom aanroep nie.

Dit is waarom ek na sy poorte kom met lofsang en danksegging, omdat ek dankbaar is vir wie my God is. Hy gee om oor alles wat met my te doen het!

Min gelowiges het egter deur geloof God se liefde vir hulle in besit geneem. Hulle leef in vrees en wanhoop, met min of geen hoop nie en hulle beleef altyd ‘n storm. Hulle kan nie verstaan waarom hulle lewens nie vervul is nie en waarom hulle vol soveel onrus en verwarring is. Hulle dink dikwels, “Ek bid daagliks en ek lees my Bybel. Ek wys voortdurend vir God hoe lief ek Hom het. So, waarom het ek nie rus en vrede nie?”

Dit is omdat hulle nog nooit die waarheid dat God hulle liefhet begryp het nie! Hulle het nog nie verstaan, dat ten spyte van al hulle swakhede en mislukkings, gee hulle hemelse Vader om waardeur hulle alles gaan!

Die profeet Sefanja het iets ontsagliks gesê oor God se liefde vir ons. Hy skryf, “Die HERE jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel” (Sefanja 3:17).

Hierdie vers sê vir ons twee belangrike dinge oor hoe lief die Here ons het:

1. God rus in sy liefde vir sy mense.

In Hebreeus, lees die frase “Hy swyg in sy liefde”, “Hy sal stil wees weens sy liefde.” God sê in wese, “Ek het my ware liefde gevind en Ek is heeltemal tevrede! Ek het nie nodig om êrens anders toe soek nie, want Ek het geen klagte nie. Ek is heeltemal vervul in hierdie verhouding en Ek sal nie my liefde terugtrek nie. My liefde is ‘n uitgemaakte saak!”

Sefanja sê in wese vir ons, “Hierdie is God se liefde vir jou! Hy wil hê jy moet weet, Ek het gekry waarvoor Ek gesoek het en dit is jy! Jy bring vir my groot vreugde!”

2. God kry groot plesier uit sy mense.

Sefanja getuig, “Hy juig oor jou met gejubel” (Sefanja 3:17). Hy sê met ander woorde, “God se liefde vir jou is so groot, dit plaas ‘n lied op sy lippe!”

Om te “juig” beteken om blydskap en plesier te hê. Dit is ‘n uiterlike weergawe van innerlike plesier. Dit is ook die hoogste uitdrukking van liefde. Die Hebreeuse woord wat Sefanja hier gebruik vir “juig” is “tripudiare” wat beteken, “om te spring soos een wat met blye ekstase oorweldig is.”

Kan jy dink dat jou hemelse Vader so verlief is op jou, dat Hy spring van blydskap as Hy net aan jou dink? Kan jy sy woord aanvaar dat Hy jou liefgehad het voor die wêreld geskep is, voor die mensdom bestaan het, voor jy selfs gebore was? Kan jy aanvaar dat Hy jou liefgehad het selfs nadat jy in Adam se sondige maniere verval het en ‘n vyand van Hom geword het?

Dit is reg God het al jou sonde en mislukkings vooruit gesien, maar Hy het jou steeds liefgehad met dieselfde innige liefde. Trouens, Hy het sy Gees gestuur om jou wakker te maak oor jou verlore toestand en jou behoefte na Hom. Hy het jou na Hom getrek en jou in sy arms toegevou. Toe jy na die kruis gekom in berou en bekering, het jy toegetree tot sy gawe van liefde vir jou. Hy het jou belowe, “Ek het jou toe liefgehad, Ek het jou nou lief, en Ek sal jou liefhê tot die einde toe!”

As God jou so liefgehad het toe jy diep in sonde was en genoeg vir jou omgegee het om sy eie Seun te gee om vir jou te sterf, waarom sal Hy sy liefde van jou onttrek wanneer jy struikel of misluk? In sulke tye, moet ons onthou wie Hy sê Hy vir ons is – liefde, genade en lankmoedigheid. Dit is sy heerlikheid en ons moet altyd terugkeer na sy heerlikheid!

Menigtes van God se geslag weet baie min of niks van ‘n lewe van gemeenskap met Hom nie. Waarom is dit so?

Ek glo sulke Christene het ‘n jammerlike, verdraaide begrip van die hemelse Vader. Ek dink aan die gelykenis van die dienaar wat sy talent weggesteek het, omdat hy ‘ n verdraaide beeld van sy meester gehad het. Daardie dienaar het gesê, “...ek het U geken, dat u ‘n harde man is” (Matthéüs 25:24).

Net so dink baie gelowiges vandag, “Daar is geen manier waarop God ooit uit liefde oor my dans, juig en jubel nie. Ek het Hom soveel keer klaaglik teleurgestel en sy Naam oneer aangedoen. Hoe kan Hy my ooit liefhê, veral in die stryd wat ek nou beleef?”

Ek weet van families waarin die kinders gebewe het in die teenwoordigheid van ‘n harde, gemene vader. Hulle het vreugdevol gespeel voor hulle pa huistoe gekom het. Maar sodra hulle hom deur die deur sien kom het, het hulle reguit na hulle ma gehardloop en aan haar voorskoot vasgeklou. Ek het nooit gesien dat hulle naby hulle pa gegaan het nie, behalwe as hy iets van hulle geëis het. Hulle het nooit op sy skoot geklim of gevra om omhels te word nie. Hulle was bang om in sy teenwoordigheid te wees.

Ek glo dit is een magtige rede waarom so baie Christene nie naby hulle hemelse Vader wil kom nie. Hulle vrees om naby Hom te kom, omdat hulle voel dat hulle Hom op een of ander manier teleurgestel het. Hulle het ‘n knaende gevoel dat hulle hul pligte afgeskeep het, geestelik lui was en dinge verkeerd gedoen het. Al wat hulle van Hom verstaan, is dat Hy vol verterende vuur is, gereed om te oordeel en hulle te veroordeel.

Sulke Christene dink, “God het my voorheen soveel kere vergewe, ek kan nie nou na Hom toe gaan nie. Hy sal my verwerp. Ek moet seker al verby die punt wees om vergewe te word.” Nee! God verwerp nooit iemand wat tot bekering na Hom kom nie. Dit is nie sy natuur nie! Ons kan nie ons hemelse Vader oordeel met die maatstawwe van ons menslike vaders nie. Dit is nie wie Hy is nie.

Die vraag vir almal vandag is, hoe kan ons nie naby ‘n vader wil wees nie, wat vir ons liefdesbriewe skryf om vir ons te vertel dat Hy daarna verlang om by ons te wees, wat altyd gereed is om ons te omhels, wat sê Hy het niks anders as goeie gedagtes teenoor ons nie en ons ten spyte van ons dwaasheid verseker, “Satan mag vir jou sê dat jy nutteloos is. Maar Ek sê, jy is my blydskap!”

Dit is ons onwilligheid om sy woord te glo om die wonderlike openbaring van sy heerlikheid te aanvaar en in besit te neem, wat ons daarvan weerhou om met Hom gemeenskap te hê!

Op hierdie punt mag jy dink, “Die Here kan sekerlik tog nie juig oor iemand wat steeds in sonde is nie. Ek kan nie van Hom verwag om my lief te hê as ek voortgaan in my sondig weë nie. Daardie soort denke grens aan laster.”

Ja, God het sy mense lief, maar Hy het nie hulle sonde lief nie. Die Bybel sê Hy tugtig elke kind wat met ongeregtigheid voortgaan, maar Hy doen dit altyd met lydsaamheid. En nadat Hy ons getugtig het, vul sy Gees ons met ‘n gevoel van sy verontwaardiging oor ons sonde.

Deur dit alles heen, bly God se liefde onveranderd. Sy woord sê, “Want Ek, die Here, het nie verander nie” (Maleági 3:6). “die Vader...by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie” (Jakobus 1:17). “Ek is God en nie ‘n mens nie” (Hoséa 11:9).

Dit is ver daarvan dat sy liefde vir ons sou eb en vloei soos ons s’n vir Hom. Ons liefde verander amper daagliks en gaan van warm en ywerig na louwarm en selfs koud. Soos die dissipels, kan ons gereed wees om te sterf vir Jesus op een dag en Hom verlaat en weghardloop die volgende dag. Ons kan vir die Here sê ons vertrou Hom om in al ons behoeftes te voorsien en om ons van struikeling te bewaar, maar dit is nie ware gemeenskap nie. Die vraag is, vertrou ons volkome op sy liefde vir ons? Het ons sy liefde geopenbaar gesien en dit in besit geneem? Is sy liefde vir ons vas in ons harte?

Ek moet vir jou vra of jy in staat is om te kan sê, “My hemelse Vader is verlief op my! Hy sê ek is soet en lieflik en sy oë en ek glo Hom. Ek weet dit maak nie saak waardeur ek gaan nie, of hoe versoek of beproef ek word nie, Hy sal my red. Hy sal oor my waak deur dit alles en nooit toelaat dat ek verpletter word nie. Hy sal altyd vriendelik en sagmoedig teenoor my wees!”

Dit is wanneer ware gemeenskap begin. Ons moet elke dag oortuig wees van God se onveranderlike liefde teenoor ons. En ons moet vir Hom wys ons glo sy openbaring oor Homself. Johannes skryf, “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde en hy wat in die liefde bly, bly in God en God in hom” (1 Johannes 4:16).

Hierdie geloof alleen kan jou siel genees. Dit is jou enigste wapen teen die duiwel, wat lieg en sê dat jy te onwaardig is om te bid en tot God te nader. Om jouself van hierdie waarheid te oortuig, is die enigste manier om jouself oop te maak vir ware gemeenskap!

As jy al ooit verlief was op iemand, weet jy waarvan ek praat. Verbeel jou ‘n man wat die meeste van die tyd weg is vir besigheid, maar wat dolverlief is op sy vrou. Hy skakel sy geliefde vrou elke aand solank hy weg is. En van tyd tot tyd, skakel hy huistoe net om ‘n boodskap vir haar op hulle antwoordmasjien te los. Sy boodskap aan haar klink na iets soos dit:

“Hi, liefling. Ek skakel om jou te laat weet dat net die gedagte dat jy daar is en my liefhet, gee my krag. Dit gaan die krag wees wat ek nodig het vir die dag. Ek weet ek gaan ‘n rowwe tyd by die werk hê vandag. Maar ek het pas die brief gelees wat jy vir my geskryf het en o, wat ‘n vreugde! Net om te weet dat jy aan my dink maak my oorstelp van blydskap!”

Dit is die liefde wat die hemelse Vader vir jou het. Vertrou daarop!

Om te wandel in God se heerlikheid beteken nie net dat ons die vader se liefde ontvang nie, maar dat ons Hom ook terug liefhet. Dit is wederkerige liefde, die gee en ontvang van liefde. Die Bybel sê vir ons, “Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag” (Deuteronómium 6:5).

God sê vir ons, “My seun, gee my jou hart” (Spreuke 23:26). Sy liefde vereis dat ons op ons beurt, ‘n liefde, wat geheel en al, onverdeeld, ons hele hart, siel, verstand en krag vereis, teruggee.

Die Here sê egter vir ons in baie duidelike terme, “Jy kan nie my liefde verdien nie. Die liefde wat Ek gee, is onverdiend!” Johannes skryf, “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sonde” (1 Johannes 4:10). “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19).

Ons het nie eendag wakker geword en besluit om weg te loop van ons sondes en ons tot Jesus te bekeer nie. Nee, die Gees van God het afgereik in die wildernis van ons lewens en vir ons ons verlorenheid gewys en ons ellendig laat voel in ons sonde. Hy het sy woord gestuur om vir ons waarheid te wys, sy Gees gestuur om ons van sonde te oortuig en toe self agter ons aangekom. Hy het dit alles vir ons gedoen.

En nou, net soos God se liefde vir ons gekenmerk word deur rus en gejuig, moet ons liefde vir Hom ook dieselfde twee elemente hê:

Dawid het ‘n rus in sy liefde vir God uitgedruk toe hy geskryf het, “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie” (Psalm 73:25). Die hart wat die Here liefhet hou heeltemal op om elders te gaan soek vir vertroosting. Dit vind eerder volle tevredenheid in Hom. Vir so ‘n liefhebber, is God se liefdevolle goedertierenheid beter as die lewe self!

So ‘n hart juig ook in sy liefde vir God. Dit sing en dans in blye ekstase oor die Here. Wanneer ‘n kind van God weet hoeveel sy Vader hom liefhet, plaas dit ‘n verlustiging in sy siel!

Die Bybel sê ook vir ons dat ons liefde vir die vader oorgedra moet word deur sy Seun. Jesus sê, “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Dit is deur Christus alleen wat ons deur die Vader aanvaar word en toegang tot Hom het.

God het immers al sy goedheid, liefde, barmhartigheid en genade wat sy heerlikheid is, in sy Seun geplaas. En Hy het Jesus gestuur om daardie heerlikheid aan ons te manifesteer en te openbaar. Daarom kom Christus na ons as die ewebeeld van ons liefdevolle Vader. “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My” (Johannes 15:9).

God het ons lief waar ons in Christus staan. En op ons beurt, toon ons liefde vir God in ons liefde vir Jesus. As die hoof van die kerk en as ons Hoëpriester, neem Jesus ons liefde na die Vader namens ons.

Laat my nou vir jou een van die kragtigste verse in die hele Skrif gee. Spreuke gee vir ons hierdie profetiese woorde van Christus: “Toe was ek ‘n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd, en het gespeel op sy wêreldrond, en my verluistiginge was met die mensekinders” (Spreuke 8:30-31).

Geliefde, ons is die mensekinders wat hier genoem word! Van die grondlegging van die aarde, het God ‘n liggaam van gelowiges gesien wat aan sy Seun verbind was. En selfs toe het die Vader Hom verlustig en gejuig in hierdie mensekinders. Jesus getuig, “Ek was my Vader se verlustiging, die blydskap van sy wese. En nou is almal wat hulle na My wend in geloof, ook sy verlustiging!”

So, hoe het ons Jesus terug lief! Johannes antwoord, “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

En wat is sy gebooie? Jesus sê in wese, daar is twee en “aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matthéüs 22:40). Die eerste en belangrikste gebod is om die Here lief te hê met jou hele hart, siel en verstand. Ons mag niks van Hom terughou nie. En die tweede is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Hierdie twee eenvoudige gebooie, wat nie moeilik is nie, som die hele wet van God op.

Jesus sê in wese hier dat ons nie in gemeenskap met God kan wees nie; ons kan nie in sy heerlikheid wandel as ons ‘n wrok teen iemand anders het nie. Daarom beteken God se liefde, dat ons elke broer en suster moet liefhê soos die Vader ons liefhet.

“As iemand sê: Ek het God lief – en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê” (1 Johannes 4:20-21). “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde” (1 Johannes 4:8).

Alle gemeenskap en intimiteit met die Here word afgesny as ons nie ‘n liefdevolle of vergewensgesinde gesindheid teenoor ‘n ander persoon het nie. Ons kan God met opgehefte hande prys, elke dag tot Hom bid, ure deurbring deur sy woord te bestudeer, maar as ons bitter en onvergewensgesind teenoor iemand is, is dit alles verniet. Johannes sê so ‘n persoon is ‘n leuenaar. Jy het God nie waarlik lief nie, al het Hy jou lief!”

As jy in so ‘n toestand is, moenie net vir God sê, “Here, ek is jammer, vergewe my” nie.  Gaan liewer na daardie persoon soos God se woord opdrag gee, en word met hom versoen. “gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe” (Matthéüs 5:24).

Slegs dan sal jy ware intimiteit met die Vader vind. En jy sal in staat wees om in sy heerlikheid te wandel al die dae van jou lewe!