DIE HEERLIKHEID VAN DIE HERE

David Wilkerson

Jesaja het geprofeteer, “Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang” (Jesaja 60:2–3).

Hierdie profesie praat van die laaste dae, ‘n tyd wat begin het toe lig – Jesus Christus die Here – die groot duisternis binnegekom het. Jesaja het gepraat van ‘n groot, wydverspreide uitstraling van die heerlikheid van Christus in die duisternis in. Menigtes dwarsdeur die hele Heidense wêreld sou in Sy lig inkom.

Dink daaraan: daar was geen donkerder tyd in die geskiedenis as tydens Jesus se geboorte nie. Die groot Romeinse Ryk het ‘n materialistiese, gierige samelewing geword. Seksuele perversies, dronkenskap en vraatsug was normaal. Die hele bekende wêreld van die tyd was in duisternis gehul.

Gedurende hierdie tyd, was skynheiligheid aan die orde van die dag. Priesters het weduwee’s van hulle huise beroof het en die eenvoudiges en ongeleerdes het hulle sogenaamde geestelike leiers verag. Eenvoudig gestel, die blindes het die blindes gelei.

Dit was in hierdie groot duisternis dat Jesus na vore gekom het as ‘n glinsterende lig. En ons weet dat sedert daardie heerlike dag, het menigtes in Sy lig ingekom.

Jy mag sê, “Maar kyk rondom jou vandag. Groot duisternis bedek steeds die aarde.” Ja – hierdie huidige uur is moontlik die ergste in die mens se geskiedenis. Die duisternis wat hang oor al die nasies en volke kan werklik gevoel word. Kernbomdreigemente, volksmoorde, wydverspreide seksverkeer – dit alles veroorsaak verwoesting van die hart.

Jesus is egter steeds die lig van die wêreld. Jesaja het afgekyk tot in die duisternis van ons dag en uitgeroep: “Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op” (Jesaja 60:1).

Weereens, sal God in die wêreld se donkerste uur Sy krag openbaar. Hy sal ‘n betekenisvolle insameling van verlore siele inwin in die dae wat voorlê. Hy sal die siele van menigtes in beroering bring en ons sal almal die heerlikheid van God beleef.