Die Gordel van God

David Wilkerson

Home Depot is ‘n ketting van groot winkels wat huishoudelike produkte in groot maat verkoop. Ek was onlangs in een van hulle winkels toe ‘n nuwe werkskof aangebreek het, en ek het gekyk hoe sommige van die werknemers hulle “aangegord” het. Hulle het swart, wyeband lyfbande – of gordels – aangesit, wat vereis was deur hulle werkgewer. Hierdie gordels het bygevoegde sterkte voorsien om swaar voorwerpe op tel tel, en dit het hulle gehelp beskerm teen beserings. Dit was ‘n mondering wat spesifiek gemaak is vir die werkplek.

Die gordel van Jeremia se tyd was soortgelyk. Dit was ook beskou as ‘n werker se mondering, en dit was gedra soos ‘n lyfband rondom die midderif. Die frase “omgord jou lendene” beteken om die lap lyfband styf om jou middel te plaas om een of ander spesifieke taak te verrig – om dit aan te trek, styf te trek en vir werk gereed te maak.

Jeremia praat van ‘n sekere gordel as God se eie. Dit was ‘n lyfband waarvan die Here gesê het Hy gord Homself mee – die een wat “kleef” aan Hom vir ‘n tyd – maar uiteindelik het Hy dit afgehaal as bederf en “waardeloos.”

Hierdie gordel van God verteenwoordig ‘n volk wat eens met Sy naam genoem was: afgesonder deur verbond, geweldig geseën, naby Sy hart, innig geliefd en baie geseënd. Hulle was ‘n heilige, geheiligde oorblyfsel volk – nou verbind aan die Here deur Sy verbondsbelofte. God het gesê Hy sou Homself gord met hierdie rein oorblyfsel wanneer Hy uitgaan in hierdie laaste dae om oorlog te voer teen Sy vyande.

Maar die volk wat hierdie gordel verteenwoordig, het ‘n diep gewortelde fout gehad: ‘n saad van ongeregtigheid het in hulle harte posgevat. Hulle het geestelik bederf en agteruitgegaan – en God moes hulle opsy skuif, omdat hulle nooit hulleself toegelaat het om waarlik deur Hom gereinig te word nie!

Jesaja bevestig dat God Homself slegs sal gord met ‘n regverdige, getroue volk: “En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees” (Jesaja 11:5). Dit spreek van Christus se eie geregtigheid, heiligheid en reinheid. Maar dit spreek ook van almal wat in Christus is – diegene wat Sy gordel van heerlikheid in hierdie laaste dae sal wees!

Die apostel Johannes het ‘n ontsagwekkende visioen gesien van Jesus wat kom om die kerke van die laaste dae te oordeel: “Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel” (Openbaring 1:13). Jesus sal ‘n goue gordel dra wanneer Hy kom vir Sy oordeelswerk!

Hierdie gordel sal wees soos die een wat deur die hoëpriester in die Ou Testament gedra is (Exodus 39:3). Dit was ornamenteel, versier met juwele en geweef met goue drade. Hierdie drade verteenwoordig die liggaam van Jesus Christus – ‘n rein, heilige, geheiligde volk wat Jesus laat kleef aan Homself. Dit is die geopenbaarde teenwoordigheid van die Here – ‘n loflied en ‘n heerlikheid vir Sy majesteit: “Want soos die gord kleef aan die heupe van ‘n man, so het Ek die hele huis...aan My laat klewe...om vir My te wees ’n volk en ‘n roem en ‘n lof en ‘n sieraad” (Jeremia 13:11).

Hierdie ornamentele gordel was pragtig om te sien – omdat daar ‘n prag aan God se heiligheid is! Die hele mensdom, alle konings en owerhede, moes na daardie gordel van God kyk as iets koninkliks – ‘n kroon, ‘n pragtige bron van heerlikheid vir die draer. Dit moes ‘n wonder van die wêreld van God se majesteit wees!

Jeremia was deur God beveel om ‘n linnegordel te kry – en dit te dra sonder om dit ooit te was!

“Gaan koop vir jou ‘n linnegord en bind dit om jou heupe; maar laat dit nie in die water kom nie” (Jeremia 13:1). Jeremia was beveel om hierdie gordel aan die buitekant van sy klere te dra. Vandag sou hy dit op enige straat in amper enige Amerikaanse stad kon kra, en niemand sou twee keer na hom kyk nie. Maar vir die Joodse samelewing van sy tyd, sou hy uitgestaan het soos ‘n seer duim!

Die Joodse massas het baie eenders aangetrek, in ooreenstemming met die tye. En as hulle Jeremia met die straat af gesien paradeer het met ‘n gordel, sou hulle dit sekerlik herken het as ‘n teken! Dit is omdat Jeremia welbekend was onder die volk. Hulle het geweet dat alles wat hy gedoen het – insluitend dit wat hy gedra het – ‘n belangrike profetiese betekenis gehad het!

Toe Jeremia die eerste keer op die strate verskyn het met die linnegord, het die gegis begin: “Wat is die betekenis van die gordel? Wat probeer die profeet vir ons sê?”

Die geleerde priesters en heersers het daarin geroem om vir die mense die profeet se boodskap te interpreteer. Hulle het waarskynlik vir hulle gesê: “Dit is baie duidelik. God sê vir ons wat ons almal weet – dat ons Sy uitverkore volk is! Ons is Sy gordel, trots gedra, Sy heerlikheid en sterkte, die voortreflikheid van die eeue, verenig met Hom deur die verbond. Hy sal ons nooit verlaat of begewe nie. Ons is aan Hom verbind so seker as wat daardie gordel om Jeremia gebind is!”

Terwyl die profeet verbygeloop het, kon jy amper die mense hoor handeklap: “Amen, Jeremia! Ons kry die boodskap. Dit is heeltemal reg – prys God!”

Maar binne ‘n kort tyd het dieselfde priesters en mense gefrons! Hulle het na Jeremia gekyk met diepe verbystering – omdat die gordel dag vir dag vuiler geword het. Dit het besmeer en onrein geword; vlekke het begin verskyn.

Maar die profeet het dit aanhou dra!

Waarom was hy dit nie elke dag nie?” het hulle gewonder. Hulle het almal geweet die gordel het húlle verteenwoordig – so waarom het hy toegelaat dat dit aan hom kleef met vuilheid en ‘n stank daaraan? Gou was hulle kwaad, en het gesis – omdat, vir die Joodse denke van daardie tyd, was reinheid ‘n vorm van goddelikheid. En hierdie besmeerde, stinkende gordel was ‘n aanstoot!

Hulle kon nie langer glo die gordel het húlle verteenwoordig nie! Hulle moes seker na die priesters gehardloop en gesê het: “Daardie gordel kan nie óns beteken nie! God laat nie toe dat vuilheid aan Hom kleef nie. Ons offer, ons betaal tiendes en onderhou die wet. Ons bid elke dag en vas.

“Die gordel moet die goddelose nasies rondom ons verteenwoordig. As ons daardie soort volk was, sou God ons weggestoot het. Hy sou nooit ‘n stinkende, vuil gordel om Sy heupe dra nie!”

Dis nie so nie! Dit vuil gordel was Israel. Dit verteenwoordig egter ook elke dienaar van God wat nog nooit heeltemal, totaal gereinig is nie!

Israel het hulleself verbind aan die naam van God. Hulle het al die godsdienstige vorms en rituele nagekom. En tog het God iets diep in hulle harte gesien wat hulle sou vernietig het – iets waarmee hulle nog nooit afgereken het nie.

Die hele tyd was daar ‘n fout, ‘n vlieg in die salf – ‘n geheime, boesemsonde in hulle harte: Hulle was afgodedienaars! Hulle het verlang na die Midianitiese gode, weens die sensualiteit en seksualiteit betrokke in hulle aanbidding. En nou het Israel hulle eie leerstellinge uitgedink om hulle leefstyl te pas. Hull het geheime, dodelike begeertes gehad wat nooit ontwortel was nie!

God wou vir Israel wys dat ten spyte van die seremoniële reiniging, het hulle nooit ‘n gereinigde hart gehad nie. Hy het vir Jeremia gesê, “Hierdie mense het My nooit toegelaat om diep in hulle harte in te gaan en hulle afgodery te ontwortel nie. Dit maak nie saak hoe noukeurig hulle hul tiendes betaal of in My huis inkom nie, daar is iets binne-in hulle wat bederf en agteruitgang veroorsaak!”

Die Gordel is die dienaar van God – die een wat besig is vir Jesus en oortuig is dat hy verlos is!

Hierdie dienaar mag moontlik ‘n liefhebber wees van verlore siele wat sy lewe opoffer deur te bid, te vas en te gee. Hy kleef aan die Here en geniet verbondseëninge. Maar diep binne-in hou hy steeds vas aan ‘n geheime sonde, ‘n boesembegeerte – en hy hou aan om terug te val in ‘n versoeking wat hy nog nooit oorwin nie!

Hy roep uit, dag na dag: “Here, ek is jammer – vergewe my! Laat my nie sterf in my sonde nie. Wees my barmhartig! U weet hoe swak is ek, hoe maklik hierdie begeerte my oorwin!” Hy sondig en bely, sondig en bely...maar hy gaan nooit na die waskom om werklik gereinig te word nie! En hy word blind vir sy gevaar!

‘n Broer in Christus het onlangs na my kantoor gekom en gesê, “My lewe lank het ek preke oor Koning Saul gehoor. Ek het oor hom gelees. Broer Dave, gister het ek met hom gepraat!”

Hy het verwys na ‘n man wat waarlik heilig voorgekom het – een wat vir ure lank gebid het en die helfte van die nag wakker was om vir ander in te tree. Sy gesprekke was altyd vol van Jesus. Maar nou leef hy saam met ‘n vrou in owerspel!

Dit was die derde soortgelyke episode in sy lewe: hy het in dieselfde sonde verval elke paar jaar! Die hele tyd het hy gelyk of hy ‘n heilige man, ‘n gebedskryger was. Maar hy was nooit verlos van ‘n vesting van seksuele wellus nie – en nou het dit hom vernietig!

Volgende, was Jeremia beveel om die vuil gordel te dra op ‘n lang, moeilike reis na die Eufraatrivier!

Hierdie reis sou 250 myl ver strek. Sommige Bybelkenners, soos Johannes Calvyn, het geglo hierdie reis was bloot ‘n visioen; niemand sou werklik daardie afstand te voet reis om ‘n gordel te begrawe nie. Maar ek glo die reis was letterlik – omdat God ‘n kragtige waarheid gehad het wat Hy graag wou oordra!

Jy sien, Jeremia was welbekend en gerespekteerd dwarsdeur Israel en Juda. Hy was bewonder, selfs deur omliggende nasies. Buitelandse konings het erken God was met hom.

En nou, deur sy staptog oor die afstand na die Eufraatrivier, sou elke dorpie op die pad die beroemde gordel sien. Die reis sou weke neem – en dit sou elke dorp laat gons wanneer Jeremia daardeur gegaan het. Almal sou ‘n kykie na die vuil gordel wou hê, om oor sy boodskap te bespiegel!

Wat waarskynlik mees geheimsinnig vir die mense was, was Jeremia se eindbestemming: Die Eufraatrivier. Almal het geweet die Hebreeuse woord vir “Eufraat” beteken “rivier van vrugbaarheid.” Hulle almal sou hulleself afgevra het, “Waarom sou Jeremia ‘n vuil, besmeerde gordel na ‘n plek van vrugbaarheid neem? Dit is verskriklik, vol stank! Waarom het hy dit nie afgehaal en verbrand nie? Die onreines kan tog nie vrugbaar wees nie!”

God het vir Sy volk ‘n beeld gegee van Sy geduld teenoor diegene wat aan Hom kleef, maar steeds aan ‘n boesemsonde vasklou!

Dit is inderdaad moontlik om aan ‘n geheime sonde vas te klou in jou lewe en verder te gaan met Jesus. Jy kan steeds Sy teenwoordigheid ervaar en in verbond met Hom wees. Alles mag goed klink. Dit mag in der waarheid lyk of jy op die randjie is van die grootste seën ooit – vrugbaarheid soos jy nog nooit geken het nie, ‘n hele nuwe gebied van bruikbaarheid wat voor jou oopgaan.

Dit maak egter nie saak wie jy is nie – herder, straatwerker, koorlid of gemeentelid: As jy ‘n verborge, gewoontesonde het, is jy op ‘n dodemars! Jy is op pad na ‘n swart gat – na donkerheid soos jy nooit geken het nie. Jy kan sonde koester en gewillig lyk om daarvan ontslae te raak – en tog nie bewus wees daarvan dat ‘n geduldige Here vir ‘n volle berou en bekering wag voor Hy jou oorlaat aan jou sonde en jou oorgee aan verwoesting en agteruitgang!

God het jarelank sulke sonde in Israel verduur voor Hy hulle verwoes het. Die profeet se reis was in werklikheid ‘n volmaakte illustrasie hiervan. Die Eufraat was ver uit die pad – en Jeremia se reis het gewys hoe ver God uit sy pad uit gaan om geduldig te wees met Sy dienaars wat verstrik is deur ‘n boesemsonde. Hy is ‘n liefdevolle Vader – en Hy gaan jarelank voort in lydsaamheid.

Maar die tyd kom wanneer jy ‘n laaste oproep gegee word – en jou dag van oortuiging van sonde gaan verby! God weet dan jy weier om met jou sonde te breek: “Omdat die oordeel oor ‘n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Prediker 8:11).

Onlangs het ‘n jong herder na my gekom met trane in sy oë. Hy het gepraat van ‘n ouer bedienaar wat ‘n rolmodel vir ‘n leër van herders was. Hierdie man het ‘n reputasie gehad vir waardigheid en eerlikheid, en deure het vir hom oopgegaan vir ‘n groter bediening. Die jonger mans het na sy lewe gewys en gesê, “Selfs al val al die groot televangeliste, het ons ten minste hierdie broer as ons voorbeeld. Hy is so vol van Christus – hy straal die ware wese van Jesus uit!”

Maar nou het die tranerige jongman gesê, “Ek het uitgevind hy het ‘n geheime buite-egtelike verhouding vir die afgelope twaalf jaar. Ek is verpletter – ek kan dit nie glo nie! Hy is geopenbaar, verwoes – weg!”

Geliefde, hierdie man is op die dodemars na die Eufraat! God het uit Sy pad uit gegaan met hom vir twaalf jaar, omdat die Here geduldig is en altyd wil hê dat Sy werktuig tot ware bekering kom. Hierdie man kon te enige tyd uitgeroep het: “Ek is vuil! Ek het verborge sonde, en ek wil gereinig en vry wees!”

Maar iets gebeur wanneer sonde intree! God se Gees het keer op keer na hom gekom met boodskap op boodskap. God het alles in Sy vermoë gedoen om te praat. Hierdie man kon egter steeds nie van sy sonde afsien nie – en nou is sy lewe in puin! Hardheid en blindheid het ingetree!

God het Jeremia beveel: “Gaan na die Eufraat en steek dit daar weg in ‘n klipskeur” (Jeremia 13:4). Die gordel het by die plek van vrugbaarheid aangekom, net om weggegooi te word – nie net op die rak gesit te word nie, maar begrawe en verlaat te word. Jeremia het op die wal van die rivier gestaan, en die gordel afgehaal: hy het dit in ‘n gat gegooi, dit met grond bedek, ‘n merker neergesit – en weggeloop!

Dit is ‘n beeld van God wat die klewende herder, Christen werker of sogenaamde gelowige “afhaal.” Wat ‘n skrikwekkende gedagte! Die dae van ‘n klewing is verby – God se geduld is op. En nou sê Hy, “Dit is klaar met jou – Ek gee jou nou oor aan jou vuilheid. Jy is nie meer vir My bruikbaar nie!”

Ek sal nooit die hartseer gesig vergeet van ‘n TV evangelis, wat by die toppunt van sy bruikbaarheid, gehuil het terwyl hy geboei en weggeneem is tronk toe. Die arresterende offisiere het sy kop afgedruk om by die motor in te klim, en af het hy gegaan – na die donker gat naby die Eufraat! Hy was net by die ouderdom van vrugbaarheid, toe hy die vermoë gehad het om werklik vrugbaar vir God te wees. Maar in plaas daarvan, was hy laat sak in ‘n gat van wanhoop!

God het vir hom waarskuwings gestuur, jaar na jaar, van profeet na profeet. Maar hy het aan ‘n boesemsonde vasgeklou – en vir die laaste sewe jaar van klewe aan daardie begeerte, was hy op ‘n dodemars!

Is jy huidiglik op ‘n dodemars – op die punt om afgesny te word van elke seën wat jy ken, omdat jy nie met ‘n geheime sonde afgereken het nie? Geliefde, as jy aanhou flankeer met ‘n ou begeerte of gewoonte, as jy nie deeglik gewas is in die water van God se Woord nie – dan is jy op pad na ‘n swart gat van wanhoop!

Vrugbaarheid sal net voor jou lê – maar skielik sal jy geïsoleer en verlaat word deur die Here! Jy sal begrawe word in ‘n klipskeur by die rivier, gestroop van alles – jou goeie naam, jou reputasie, jou bediening, jou hele toekoms. Jy sal begrawe word in ‘n verlate gat van skande en wanhoop om te verrot en te vergaan, heeltemal bederf!

Nie net was die gordel verberg om te verrot en te bederf nie – maar dit was opgegrawe en teruggebring as ‘n voorbeeld!

Na ‘n tyd het God Jeremia beveel om te gaan en die gordel uit te grawe. Daarom het die profeet dit uit die gat uitgehaal: “En kyk, die gord het bederf, dit was waardeloos” (Jeremia 13:7). Dit was geruïneer, waardeloos – goed vir niks! Waarom het God vir Jeremia gesê om dit op te grawe? Waarom het Hy dit nie net begrawe gelaat om te wys dit was die eindresultaat van sonde nie? Die grootste deel van Israel het alles daarvan vergeet. Sommige het waarskynlik gedink, “Ten minste het hy dit uiteindelik afgehaal en begrawe – wie dit ook al was oor wie hy gepreek het!”

Maar Jeremia het weer gekom en deur die strate geparadeer met dieselfde gordel – nou flenters, vuil en heeltemal bederf. Dit was heeltemal waardeloos – dit kon nie eens meer gedra word nie! Hy het gepreek:

“Hierdie bederfde gordel is Israel! Dit verteenwoordige julle – goed vir niks! Julle het aan God gekleef, maar Hy gaan julle afhaal. Julle het begin stink – julle is nutteloos vir Hom!

God het in wese gesê, “Julle was My gordel – Ek het gesorg dat julle aan My kleef. Maar julle het geweier om te luister en My te gehoorsaam! In plaas daarvan, het julle agter julle afgodery aangeloop en gekleef aan die goddeloosheid in julle harte. Nou sal Ek julle nie net afhaal nie – Ek sal julle ook laat bederf en julle aan die wêreld vertoon as ‘n waarskuwing! Julle sal ‘n voorbeeld wees van diegene wat nie hulle siele van sonde wil bevry nie!”

Elke koerant, TV en radionetwerk het die tragiese storie vertel van die voormalige straat-prediker-word-komediant wat gesterf het in ‘n kop-aan-kop botsing. Jare gelede, het mense op die Weskus vir my gesê, “Jy moet regtig hierdie jong straatprediker hoor. Hy is die mees aan-die-brand evangelis wat daar nog ooit was – hy is so kragtig!” Hy het kampusse dwarsdeur die Weskus aangeraak en baie siele gewen.

Maar hierdie jongman het ‘n probleem gehad: hy het nooit regtig sy liefde vir dwelms, alkohol en seks neergelê nie. Uiteindelik het hy bitter geword en teen God gedraai. Hy het op die ou end in Las Vegas beland as ‘n hoofstroom komediant, en sy roetines was daarop gegrond om God te laster en die Bybel te vervloek. Hy het groot roem ontvang. Maar hy was opsy gewerp – en hy het in ‘n gat van wanhoop beland terwyl hy selfmoord oorweeg het!

Uiteindelik het hy gesterf in ‘n brandende botsing op ‘n eensame hoofweg verlede jaar. Sy laaste woorde voor hy gesterf het was, “Waarom Here – Waarom?”

Geliefde, God het die gordel opgegrawe! Hy het vir die wêreld gesê, “Ek wil vir julle die eindresultaat wys!”

God het ‘n baie goeie rede gehad om hierdie geïllustreerde boodskap te gee – beide vir Israel en vir ons in hierdie uur!

God was op die rand van Sy toorn uitstort oor Israel – en Hy het geen tyd gehad vir ‘n vuil, waardelose gordel nie. God het rein, heilige werktuie nodig gehad vir die werk wat Hy van plan was om te doen. En dit is presies waar Amerika en die wêreld tans is! God is op die rand van Sy toorn uitstort soos wyn – en Hy plaas die bottel op die lippe van die mense!

Jeremia het geprofeteer: “Elke kan word vol wyn gemaak” (Jeremia 13:12). Dit het egter nie vir Israel sin gemaak nie. Vir hulle het hy bloot die vanselfsprekende verklaar – soos om te sê, “Hoede is vir die bedekking van die hoof. Klere is om jou warm te hou. Skoene is om mee te loop.” Die volk het geroep, “Watter soort raaisel is dit? Natuurlik word bottels gemaak vir wyn! Wat is die punt?”

Jeremia het geantwoord, “Julle is die bottel – en God gaan julle vol maak met die wyn van Sy grimmigheid! Net soos bottels gevul word met wyn, so sal julle gevul word met dronkenskap. Julle sal dronk van woede word!”

“En Ek sal hulle verbrysel, die een teen die ander” (vers 14). Om te “verbrysel” beteken om skielik en gewelddadig te verpletter. God het in wese gesê, “Ek gaan hierdie dronk mense teen mekaar verbrysel totdat hulle mekaar vernietig!”

Hierdie verbryseling praat van teenspoed, rampe en ‘n menslike waansin wat mense van hulle regdenkende verstand beroof. En die Here stort dit alles tans uit – op nasies, op Christene wat sondig en op alle goddeloosheid! Jy sien dit oral waar jy kyk – rampspoedige orkane, aardbewings, tornado’s, getygolwe, families wat mekaar wond, en neergeslaan word deur egskeiding, dwelms, owerspel, skande en geweld.

Wat tans gebeur is meer as bloot nóg ‘n sedelike afwaartse kurwe, meer as maatskaplike verbrokkeling. Ons leef in die laaste dae, wanneer God uiteindelik met sonde moet afreken! Ons beleef Sy uitgestorte toorn – ‘n tyd van waansin wanneer elke mens vir homself ‘n wet is! God sê, “Julle het teen My gesondig, julle het My uit julle skole en samelewing gewerp. En nou gaan julle die prys betaal!”

Ek hoor predikers sê, “God is barmhartig en goedhartig – Hy sal nie al hierdie teenspoede oor ons bring nie.  Dit is alles net die natuur wat sy ding doen – dit is die menslike natuur wat in werking is.” Dit is nie so nie! God het gesê, “Ek vul met dronkenskap al die inwoners van hierdie land, selfs die konings...En Ek sal hulle verbrysel, die een teen die ander” (Jeremia 13:13-14).

Ons moet medelye hê met almal wat seergekry het – deur rampe, deur moord op die strate, deur geweld by die huis. Ons is geroep om te treur saam met die wat treur. Maar terselfdertyd, mag ons nie waag om te vergeet dat ons in die laaste dae lewe nie – en God het gesê Hy sou Sy toorn soos wyn uitstort!

Die Here omgord Homself vir die laaste stryd!

God gaan nie in hierdie laaste stryd in met enige vuil, bevlekte dienaars vir ‘n gordel nie. Hulle is waardeloos – “niksnutte!” Ek sê vir elke bedienaar, Christen werker, straatpredikant, almal wat homself ‘n Christen noem: In hierdie uur van dronk waansin, sal jy dit nie maak as jy vaskleef aan jou verborge boesemsonde nie!

Jesus sal nie saam met jou gaan nie – en jy sal nie ‘n druppel salwing hê nie! Jy kan getuig, preek bid en jou vingers tot op die been werk – maar alles verniet, as jy nie rein voor die Here is nie! As jy geheime homoseksualiteit, drinkery en onbeheerste humeur, ‘n dwalende oog – enigiets wat nie reg met God is nie – wegsteek, dan is dit alles verniet. Jy is ‘n vuil gordel, wat binnekort weggegooi sal word!

God soek heilige, rein, gewaste werkers vir die stryd. Hy gaan ‘n onberispelike, rein gordel hê vir Sy werk van oordeel in hierdie laaste dae – ‘n gordel gemaak met goue drade. Geliefde, dit is die beste plek om te wees: geweef in Sy majestueuse gordel, naby Hom – gedra vir Sy lof, Sy naam, Sy heerlikheid!

Ek vra jou egter: Sê jy dat jy Hom liefhet – maar jy klou steeds aan ‘n geheime begeerte? Wys God Sy vinger in jou rigting op hierdie oomblik?

Dit mag jou laaste oproep wees – om gewas en gereinig te word tot in die dieptes van jou siel.

Val nou voor Hom neer – voor jy by die Eufraat kom! Bid: “Jesus, ek wil U reinigende water hê om in die dieptes van my siel in te gaan. Ek wil niks verborge hê nie! Verwyder dit alles. Ek wil vir U bruikbaar wees, heeltemal oorgegee aan U begeertes. Weef my in U goue gordel in!”

Jy sal al die barmhartigheid en genade kry wat jy nodig het; jy kan waarlik geheilig en bevry wees van elke sonde waaraan jy steeds vaskleef – as jy eerlik voor God sal wees. Erken dit, bely dit – en vra die Heilige Gees om jou te bekragtig om deur geloof al die krag te kry wat jy nodig het om die duiwel en sy planne te weerstaan.

Die Heilige Gees wag om jou te help en te verlos, nou op hierdie oomblik!