DIE GOEIE SKAT VAN JOU HART

David Wilkerson (1931-2011)

Die woorde wat jy spreek weerspieël wat in jou hart is! “Want uit die oorvloed van die hart praat die mond” (Matthéüs 12:34).

Wanneer ek ook al as kind iets stouts gesê het, het my moeder my mond met seep uitgewas. Maar dit was nie my mond wat reiniging nodig gehad het nie, dit was my hart! Jy sien, jou tong spreek slegs wat in jou hart is. Jesus het gesê dat los, onbedagsame, goddelose praatjies slegs uit ‘n goddelose, onrein hart kom!

As gelowiges, het ons nog nie ernstig opgeneem wat ons Here gesê het oor ons tonge tem nie. Hy het daarvan ‘n hartsaak gemaak – ‘n kwessie van lewe en dood! Nie net veroorsaak jou onbedagsame tong dat al jou sogenaamde geestelikheid weerspreek word nie, dit veroorsaak ook dat jy die onbetwisbare feit in die oë kyk dat jou hart onrein en besoedel is.

As jy jou skuldig maak aan skinder, onvriendelike opmerkings, kritiek, lieg, vuil taal en woede uitbarstings, kan jy seker wees dat iets in jou hart nog nie mee afgereken is deur die Heilige Gees nie. Jesus gee ernstig aandag aan hierdie gedagte wanneer Hy sê, “As jy onbedagsaam is met jou tong – twis, kla, murmureer, skinder – het jy ‘n ernstige hartprobleem en dit strek baie diep.”

“Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mense bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn” (Mattéüs 12:35).

Geen bedienaar of Christen is onthef van hierdie waarskuwing van die Here nie. Jesus sê ons moet ons harte toets en uitvind waarom jy steeds roekeloos praat. Moenie onverskillig wees oor die woorde wat jy spreek nie. Wanneer die Heilige Gees jou oortuig van iets wat jy gesê het, dring ek by jou aan om dit te bely en Hom dan toe te laat om jou negatiewe woorde in seën te verander. Vloek en seën kan nie uit dieselfde mond kom nie (sien Jakobus 3:10).

Die geheim om die oorwinning oor jou tong te kry, is om Hom te ken! Nader tot sy teenwoordigheid en laat Hom openbaar wat in jou hart is.