DIE GODDELIKE FLUISTERING

David Wilkerson

Wanneer jy jouself saam met God in gebed afsonder, sal die Heilige Gees jou altyd lei na God se geopenbaarde Woord. Christus is die lewende Woord en Hy sal jou geloof opbou.

Ons word beveel:

“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. . . Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. . . en neem. . . die swaard van die Gees – dit is die woord van God” (Efésiërs 6:11, 13, 17).

Dikwels wanneer jy spesifieke instruksies van die Here ontvang, sal die Heilige Gees jou lei na ‘n gedeelte in die Skrif deur in jou gees te fluister dat jy daarheen moet blaai. En dan sal God se Woord direk met jou spreek en jou vertel hoe om deur jou krisis te kom.

Baie van julle wat hierdie boodskap lees, is in ‘n situasie waarin ‘n woord van die Here nodig is. Niemand op aarde kan jou help nie en die enigste manier vir jou om deur jou krisis te kom, is om in Christus se teenwoordigheid te bly, totdat Hy jou leiding gee! Hy moet jou die pad daardeur wys: wat om te doen, wanneer om op te tree. Die perfekte tydsberekening is alles in die hande van die Heilige Gees – nie te vroeg óf te laat nie!

Geliefde, jy hoef nie oor jou beproewing bekommerd te wees nie. God is getrou om op al jou behoeftes en versoeke te reageer, so, wanneer jy bid, sê net. “Here, ek kom nou na U toe, nie net om my behoeftes te vervul te kry nie, maar ook om U behoefte te vervul!”

Ons is gemaak vir gemeenskap met Hom, selfs in ons moeilikste tye. Hou jy daarvan om by Hom te wees? Verkies jy Hom bo alle ander? Ek vertrou dat jou hart uitroep, “Jesus, U is my siel se grootste blydskap en ek is lief vir U geselskap!”

Ek bid dat God, vir almal van ons ‘n hart sal gee wat maklik deur Sy teenwoordigheid bekoor word. Laat ons bid deur al ons beproewings heen en mooi luister na die Heilige Gees tydens ons afgesonderde tye van gemeenskap.