DIE GEVAAR VAN KOUDHEID

David Wilkerson

Sommige mense wat afvallig raak, sê vir hulleself, “Ek kan enige tyd, net wanneer ek wil, regmaak met die Here. Ek is net nie gereed nie. Ek is nie kwaad vir God nie; ek het net tyd nodig vir my vriende, tyd om myself te geniet. Ek weet God is liefdevol en genadig, en wanneer ek reg is, sal ek na Hom toe kom. Ek sal weet wanneer dit is.” Ek hoor hierdie gedagtes veral onder jongmense wat afdwaal.

Die Heilige Gees dring my om vir jou die gevaar van koudheid uit te wys. Dit beteken nie dat God Hom onttrek van diegene wat afvallig raak nie; Sy genade word voortdurend aangebied. Die bloed van Christus vir sondaars sal nooit sy krag verloor nie, maar geestelike koudheid het ‘n kragtige en voorspelbare uitwerking. Dit lei tot hardheid van die hart.

Die term “hardheid” dui ‘n toestand aan wat buite bereik is van die invloed van genadige pleidooie, enige oortuiging van die Heilige Gees. Dit begin met koudheid – ‘n self-opgelegde uitsluiting van God, met geen voorneme om die roepstem van Sy Evangelie te gehoorsaam nie. Om in koudheid teenoor God se stem te volhard – om ver van die Heilige Gees af te bly – sal hardheid veroorsaak.

Paulus verwys hierna as hy sê: voordat Christus terugkom, sal daar “‘n laaste afvalligheid” (sien 2 Thessalonicense 2:3) plaasvind. Hy praat van ‘n massa afvalligheid, wat gevolg sal word deur die loslating van die Antichrisgees in daardie tyd. Hulle wat nie die “waarheid liefgehad” (2:10) het nie, sal onder ‘n groot misleiding verval; hulle sal eerder die leuen glo as die waarheid. En diegene wat hulle rug gedraai het op Hom wat die waarheid is, sal verlore gaan (2:10).

Hebreërs gee hierdie waarskuwing: “Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie” (Hebreërs 3:12-13).