Die Gevaar Daarvan Om Op Jou Eie Insigte Staat Te Maak

Vandat ek 'n kind was, het ek geweet wat dit beteken om die stem van God te hoor.

Jare gelede, het Hy my met Sy stem uit die heuwels van Pennsylvania gelei deur die stigting van "Teen Challenge", nou 'n wêreld bekende bediening aan verslaafdes en alkoholiste. Sy stem het my al deur die wêreld gelei, om die evangelie aan die verlorenes onder verskillende nasies te verkondig. En daardie selfde stem het my teruggelei na New York om 'n kerk te begin in Times Square.

Soveel keer het ek al Sy stem so duidelik gehoor en geleer om te rus in Sy woord vir my - en dit het altyd so gebeur. Tog het ek altyd geweet wat dit beteken om verward te wees oor Sy stem. Daar was verskeie kere dat ek 'n stem gehoor het en gedink het dat dit die Here se stem was - en tog het niks ooit daarvan gekom nie. Dit het nooit uitgewerk nie.

Baie kinders van God het al ervaar waarvan ek praat. Ander stemme kom in ons op en maak ons verward - stemme so soet en duidelik, tog met woorde wat tot niks kom nie. By tye mag jy dalk dink dat die Here met jou gepraat het oor mense, gebeurtenisse en omstandighede - dinge waarvan jy oortuig was - maar dit het nie uitgewerk soos jy gedink het dat jy dit gehoor het nie!

Inteendeel, daar was dalk 'n tydperk waar so baie dinge nie uitgewerk het nie dat jy mismoedig en verward geraak het. Dalk het jy in 'n groot toetstydperk ingegaan, aangaande die stem van God - en jy het begin wonder of jy ooit God se stem geken het!

Baie het uitgeroep na Hom in gebed: "Here, waarom hoor ek so baie verkeerde stemme? Waarom kan ek U nie duidelik hoor nie? Ek was so seker daarvan dat dit U stem was - maar dit was nie! Inteendeel, baie keer het dinge presies in die teenoorgestelde rigting gedraai van wat ek gedink het dat U my vertel het. Na al die jare wat ek so in sekerheid gewandel het, dink ek nie dat ek U stem meer ken nie. Wat is besig om te gebeur?

Toe dit met my gebeur het, het die Heilige Gees stil in my gees gefluister: "David, Ek het met jou gepraat, toe jy My ernstig gesoek het en geduldig vir My woord gewag het om te kom. Maar nou, in jou 60, probeer jy om dinge uit te redeneer! Jy het toegelaat dat jou eie persoonlike verstaan daarvan 'n stem kry - en dit gee voor asof dit My stem is!"

Die Bybel praat duidelik: "Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insigte nie" (Spreuke 3:5).

Die Here weet dat ons eie insig verwronge - selfsugtig, self-gesentreerd is. Dit maak nie saak dat ons weergebore is en Christus se bloed in ons harte gesmeer is nie. Ons argumente bly onbetroubaar!

God het gesê: "Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here" (Jesaja 55:8-9).

Ons menslike begrip is agterdogtig en vol vrese. En dikwels praat stemme met ons en gee dit voor dat dit die stil, sagte stem van die Heilige Gees is - en begin dit ons mislei!

Ek wil graag aan jou 'n paar gevare uitwys daarvan om op jou eie insigte staat te maak:

Daar is baie verwarring vandag in die kerk aangaande die hoor van God se stem. Oral waar jy draai, sê die mense, "Die Here het vir my gesê." "Die Here sê ." Tog is daar baie min van wat jy van hulle hoor, werklik van God! Baie gelowiges doen iets wat ek dink baie gevaarlik is: Hulle wil vinnige antwoorde hê - maar hulle besef nie dat om God se stem te hoor baie tyd en noue kontak met Hom vra nie. Dit vra vir 'n eerlike deursoek van jou hart, waar die wil van God soms die totale fokus word. Maar diegene wil nie tyd met God spandeer, en hulle gees van die self leegmaak nie!

Intussen, mediteer hulle. Hulle maak hulle verstand leeg, en plaas dit in neutral, en raak passief. En daardie passiewe leë gedagtes word maklik gemanipuleer deur die vlees en die duiwel! Dit is vrugbare grond vir Satan om in te kom en enigiets te fluister! Wanneer sulke lui Christene 'n woord hoor, toets hulle dit nie aan God se Gees en Sy Woord nie. Hulle het nog nie geleer om Sy stem te leer ken nie - en hulle dink dat wat ook al gebeur in hulle gedagtes van God is!

Ons menslike verstand kan na ons kom soos 'n engel van die lig, en duidelik en vlot praat. Maar dit is ons vlees - 'n aanspraakmaker van God se stem! Dit het met my gebeur nadat God my gewys het om na New York te kom en my bediening en 'n kerk te begin. Ons het baie min geld gehad. Maar God het belowe dat Hy vir ons 'n plek sal gee waar ons Hom sal kan aanbid wat ons asems sal wegslaan!

Ek het gebid, "Here, waar kan ons so 'n plek vind?" Ons het "Town Hall" gehuur as tydelike kwartiere. Net daarna het ek gesien dat daar 'n plek te koop was - die Biltmore, 'n klein teater in 47th Straat.

Die Biltmore, was nie 'n plek wat jou asem weggeslaan het nie! Dit was verwaarloos en het sitplek gehad vir ongeveer 750 mense. Maar dit was beskikbaar - vir $2.5 miljoen. 'n Stem het na my gekom, en gefluister. "Dit is dit - dit is ons nuwe huis! Eis dit!" Die stem was so duidelik en so helder - en dit het van binne-af in my opgekom.

Helaas, ek kon my nie voorstel dat God iets beters vir my kon gee nie. Ek het geredeneer, "Dit is 'n groot genoeg wonderwerk vir my. Dit sal 'n groot genoeg wonderwerk wees net om $2.5 miljoen te kry. En 750 is 'n klomp mense!"

Aand na aand het ek voor die Biltmore verby gestap! Ek het gebid, "Here, waar het die stem vandaan gekom - die drang?" God het vir my gewys - dit was die stem van my eie verstand, my eie argumente - wat voorgegee het dat dit God is!

Prys die Here - vandag, aanbid ons in die beloofde, asemrowende teater, die Mark Hellinger, wat ongeveer 2,000 sitplekke het - en ons besit dit sonder skuld! Dit was die hele tyd God se plan. Maar ek het nie die geloof gehad om dit te glo nie! Ek het op my eie insigte staatgemaak!

Die Bybel gee ons 'n duidelike voorbeeld van hierdie soort denkwyse in 2 Konings 7, toe die woord van God tot Elisa in die droogde-geteisterde Samaria gekom het. Al die kos en water was weg. Dinge het so desperaat geword dat twee ma's kanibale geword het, en ooreengekom het om mekaar se kinders te eet!

Toe het Elisa opgestaan en geprofeteer voor die koning en die mense: "Hoor die woord van die Here! So spreek die Here: Môre omtrent sulke tyd sal 'n maat fynmeel 'n sikkel, en twee mate gars 'n sikkel kos in die poort van Samaria" (2 Konings 7:1).

Dit was die stem van God! Maar die woord was te geweldadig vir die koninklike offisiere wie die wag in die stadshek was. Goedkoop meel en gars? Moes hierdie oornag verskyn, toe daar niks in sig was nie - nie eers 'n koppie graan nie?

Die hekwag se menslike verstaan daarvan het vorendag gekom - en hy het spottenderwys gesê: "Maar die adjudant op wie se arm die koning geleun het, antwoord die man van God en sê: Al maak die Here ook vensters in die hemel, sou dit kan gebeur? En hy sê: Kyk, jy sal dit met jou oë sien, maar nie daarvan eet nie" (vers 2).. Met ander woorde, "Die enigste manier waarop hierdie profesie vervul kan word, is as God die hemele oopmaak en letterlik graan op ons laat reën. Dit is totaal en al onmoontlik!"

Dikwels as God met ons praat, is Sy woord so wonderlik, ongelooflik en lewens reddend dat ons dit nie alles kan inneem nie! So gebeur dit dat ons vlees - ons menslike verstand - opstaan en 'n stem aanneem. In plaas daarvan om eenvoudig te rus en op God se woord te vertrou, begin ons om op ons eie denke staat te maak. Ons wonder, "Hoe kan dit ooit gebeur? Dit is menslik onmoontlik!" Skielik, het ons parameters vir God gebou - ons beperk Hom van alle kante!

Geliefde, ons menslike verstand beperk God altyd! God het vir die bejaarde Sara gesê dat sy 'n kind sal hê en 'n moeder sal word van baie nasies. Wat 'n ongelooflike, wonderlike woord! Maar Sara se menslike verstaan het skielik opgevlam en sy het gesê: "Ek, 'n ma op 100? My baarmoeder is dood. My man is 'n ou man. Dit is onmoontlik!" Sy het gelag deur net daaraan te dink!

Het God al ooit vir u iets gesê wat totaal en al onmoontlik gelyk het? Het u Hom geglo, en vertrou dat die uiteinde daarvan op Sy tyd en op Sy manier sal geskied? Of het u 'n bespotting daarvan gemaak, op u eie insigte staatgemaak en na u omstandighede gekyk eerder as om op Sy woord te vertrou?

Geliefde gelowiges, u moet terug kom en God glo oor dit wat Hy vir u gesê het! U moet nie Sy Woord aan u verloor nie - dit wat lewe in u hart gespreek het! God is selfs groter as die beloftes wat Hy aan u maak. Hy is tot meer in staat as wat u tot nou gehoor het!

Inteendeel, dit is Sy plesier om die vensters van die hemele oop te maak vir Sy geliefdes! Hy is in die besigheid om wonderwerke te stuur, en die onmoontlike te doen. "Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie" (Malagi 3:10).

Paulus sê: "En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen" (Romeine 2:2).

God beoordeel volgens die hart - maar die mens beoordeel deur die uiterlike voorkoms, met sy eie korrupte, menslike insig. En daar is soveel Christene wat ander Christene verkeerd beoordeel! Die meeste daarvan is skadelik, pynlik, en totaal en al onnodig.

Ek moet erken, dat ek al voorheen skuldig was hieraan. 'n Paar jaar gelede het 'n jong dame na ons kantoor gekom vir berading. Daar was 'n donkerte in haar oë. Haar stem was laag en emosieloos. My eerste indrukke was, "Sy is lesbies. Haar oë is boos, en dra voorbodes. Ek het die kyk al voorheen gesien. Sy moet betrokke wees in verskriklike sondes om so 'n kyk te hê!"

Tog binne vyf minute, het ek van binne gehuil - omdat ek besef het hoe verskriklik verkeerd ek haar beoordeel het! Ek het haar uiterlike gelees - en tog, in realiteit, het haar donker oë die baie jare van swaarkry en lyding geweerspieël. Sy was 'n goddelike gebedsstryder wie nog nooit betrokke was in enige sensualiteit nie. Sy was met Christus getroud! Hoe skaam het ek nie gevoel nie!

By 'n ander geleentheid het ek 'n vrou liggies vermaan omdat sy 'n donker sonbril kerk toe gedra het. My menslike insig het vir my gefluister, "Sy probeer 'cool' lyk - sy probeer jonger lyk as wat sy is." Elke keer dat ek haar gesien het, het sy die donker bril opgehad. Ek het vir haar gesê, "Waarom die donker bril? Probeer jy 'cool' lyk? Jy dra hulle selfs in die kerk."

Haar antwoorde het my nederig gemaak: "Ek is jammer as ek jou aanstoot gegee het. Dit is dokters bevele - my oë is sensitief vir die son en die stof. Sonder hulle, sal my oë toeswel. Anders, sou ek dit nooit gedra het nie."

Ek het haar heeltemaal verkeerd geoordeel - selfs tot die punt van 'n bose afleiding! 'n Jong man het 'n tyd gelede na my kantoor gekom en wou my vertel hoe Jesus hom vrygemaak het van sy verskriklike afhanklikheid van "crack cocaine". Sy besigheid het agteruit gegaan, omdat hy al die geld wat hy gemaak het gebruik het om "crack" te koop.

Teen die einde, het sy afhanklikheid veroorsaak dat hy die vreeslikste visioene van demoniese aktiwiteite gekry het. As hy in sy bed gelê het, sou hy okkultiese simbole gesien het wat in sy slaapkamer mure ingebrand was. Mense se gesigte het verskyn, en hulle vlees het weggesmelt, en die verskriklikste kopbene agtergelaat.

Een nag het hy 'n verskriklike visie gehad. Hy was omring deur sy familie, hulle het almal op hom afgekyk. Hy het besef dat dit sy begrafnis was - en dat hy dood was!

'n Jong vrou van ons kerk het vir die jong man gebid en het teenoor hom getuig. Net nadat hy die visie gehad het, het sy hom geroep en gesê, "Die Here het vir my gewys dat jy nog net twee weke het om te leef." Hy het geweet dat God vir hom gesê het dat die dood by die deur vir hom gewag het!

In totale desperaatheid, het hy op die vloer van die sitkamer neergeval en uitgeroep, "O God, ek is hulpeloos teen hierdie helse "crack". Dit is besig om my te oorweldig! As U die waarheid is, en as dit wat sy gesê het die waarheid is, moet U Uself nou aan my openbaar! Asseblief, help my!"

Skielik was die vertrek gevul met lig. Hy het geweet dat dit bonatuurlik was! Hy kon God se teenwoordigheid oral rondom hom voel. Toe die lig verdwyn, het hy geweet dat hy moes teruggaan na sy kamer - maar hy wou nie weer die brandende okkultiese simbole sien nie. Hy het besluit om prente teen die muur te hang waar die simbole verskyn het.

Hy het 'n hammer en 'n spyker in elke hand geneem. Toe hy afkyk op die spykers in sy handpalm, het hy Jesus gehoor sê: "My spyker deurboorde hande het jou die krag gegee oor die afhanklikheid. Vertrou My - dit is nie langer meer jou geveg nie, omdat ek alreeds die oorwinning aan die Kruis behaal het, jy kan vry wees!"

Sy begeerte na "crack" het onmiddelik verdwyn! En vir die laaste twee jaar, het die jong man ons kerk bygewoon en gegroei in Christus. Wat 'n ongelooflike getuienis vir God!

Maar 'n paar maande gelede, het dieselfde jong man my iets vertel wat regtig my teologie getoets het. Hy het gesê dat hy verby 'n bostuklose kroeg gestap het toe hy die dringende begeerte gevoel het om in te gaan. Maar dit was nie 'n wellustige, vleeslike begeerte nie. Hy het vir my gesê: "Ek het geweet dat dit nie die duiwel was nie - daarom het ek ingestap. Maar ek het gedink, "Wat doen ek hier? Dit kan nie God wees nie!"

'n Jong optreder het langs hom gaan sit, "Dit lyk nie of jy hier hoort nie. Jy is anders." Hulle het begin gesels.

By hierdie deel van die storie het ek gedink, "Dit jong man is besig om my te verloor. Hy is of baie kinderlik of net halfpad gered!"

Toe sê hy dat hy en die meisie gereël het om buite te ontmoet, en hulle het 'n ent gaan stap. Hy het haar vertel van sy vrymaking, hoe Jesus hom vrygemaak het van "crack".

Die meisie het bely, "Ek haat dit wat ek doen. Ek moet hier uitkom! Ek het die werk aangeneem omdat ek bankrot was en nie enige ander manier kon vind om te oorleef nie. Ek hoort nie tussen die soort mense nie!"

Sy het die werk gelos - en haar hart vir die Here gegee! Kort daarna, het sy en die jong man getrou. Nou kom hulle saam kerk toe en is aan die brand vir God!

Tog, die hele tyd dat die jong man gepraat het, het ek by myself gedink. "O, nee! Hoe kan dit wees?" Ek het aan allerhande Bybelversies gedink om dit wat hy vir my gesê het te beoordeel.

Tog net toe ek alles wat hy vir my gesê het wou verwerp, het 'n ander Bybelversie by my opgekom. Ek het onthou wat God die profeet Hosea beveel het om te doen: "Die begin van wat die Here met Hosea gespreek het; die Here het aan Hosea gesê: Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die Here afvallig te word." "En die Here het vir my gesê: Gaan nog 'n keer, bemin 'n vrou wat bemin word deur haar vriend, maar wat owerspel bedrywe, net soos die Here die kinders van Israel bemin, terwyl hulle hul tot ander gode wend en versot is op rosynekoeke." (Hosea 1:2, 3:1) God het, met ander woorde, vir hom gesê: "Gaan, en kies vir jou 'n prostituut en trou met haar!" Die meisie was nie 'n prostituut nie - maar was in 'n omgewing wat kon lei na prostitusie. So het my hele argument verdwyn!

Hoe waar is dit nie dat God se weë bo ons weë is nie, Sy gedagtes bo ons gedagtes. Sy gedagtes is ver bokant wat ons self kan uitdink!

Paulus vermaan ons: "Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee." (Romeine 14:10,12).

Paulus sê, "Jy het 'n groot genoeg werk op hande net om jou eie hart te beoordeel. Jy kan net sowel ophou om oor ander mense se harte bekommerd te wees!"

Ek wil nie graag voor Christus se oordeelstroon staan en inmekaar krimp as ek mense sien wie ek verkeerd geoordeel het , wat Hy na Hom roep as Sy geliefdes nie. Ek het aan baie gesalfdes gedink, "Daar is iets van sy gees wat nie saam met my gees stem nie. Ek voel nie gemaklik naby haar nie!" En tog as God die boeke begin oopslaan en ek geoordeel word, wat sal Hy vir my sê omdat ek op my eie oordeel staatgemaak het - my eie vleeslike vrese en gevolgtrekkings wat so verkeerd was?

Hulle het die Seun van God 'n wyn-suiper, 'n liefhebber van partytjies - een wie saam met die duiwel verbind was! Hoe kon enigeen ooit meer verkeerd as dit geoordeel het?

Christus ken die verblindende krag van so 'n oordeel! Hy het gewaarsku: "Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel 'n regverdige oordeel" (Joh. 7:24).

Ons moet oordeel met 'n regverdige oordeel - en nie volgens die oordeel van ons eie vleeslike gedagtes nie! Wanneer God ons enigiets wys, beteken dit dat ons daaroor moet nadink in ons harte en daaroor moet bid.

God gee wel aan sommige mense 'n skerp gees van onderskeiding, diegene wie 'n intieme verhouding met Jesus het, weet deur Sy Gees geopenbaar wanneer die bose teenwoordig is in 'n persoon. Dit registreer in sy geestelike verstand.

Maar die gees van onderskeiding behoort nooit gebruik te word om 'n ander persoon se sonde te verkondig of om 'n ander persoon se reputasie te vernietig nie. Dit maak van die onderskeier 'n erger sondaar as van die een met die bose gees in!

Ek het al gehoor dat daar gesê word, "Alle vrouens het 'n natuurlike intuïsie. Hulle weet as iemand iets boos in sy hart het." 'n Vrou het een keer vir my gesê, "Ek is nooit verkeerd nie! 'n Alarm gaan in my af wanneer ek naby iemand kom wat 'n bedrieër is."

Ek is jammer - ek aanvaar nie die storie nie! Die Woord sê, "Moet dit nie vertrou nie - dit is jou eie menslike insig!"

Jesus sê: "Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen?" (Joh 7:51). Met ander woorde, durf ons iemand oordeel voordat ons hom leer ken het, met hom gepraat het en gesien het waaroor dit alles gaan?

Nog een van Jesus se waarskuwings wat diep in my gees ingeprent is: "Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word" (Matt 7:1-2).

Net wanneer 'n mens 'n ander persoon se geestelikheid en opregtheid bevraagteken, is iemand besig om joune te bevraagteken! Wees verseker - as u dit uitdeel, sal u dit terug ontvang!

Op hierdie oomblik, is daar 'n groot aantal van God se uitgekose diensknegte wat deeglik getoets en beproef word. Miskien word u op die oomblik oorweldig deur onverwagse beproewinge, vurige toetse, ongelooflike tye van spanning. U toets kan geestelik, finansieël of emosioneel wees.

Miskien, soos u die boodskap lees, het u uself daarvan oortuig dat u onder oordeel staan - onder die toorn en stok van God. Die gedagtes kom oor en oor na u terug: "U gaan deur dit omdat u God gefaal het! U is in die vuur van beproewinge omdat Hy u aan die duiwel oorgelewer het om u te tugtig!"

Geliefde, as u deur die vuur of die vloed gaan, durf u hoegenaamd nie op u eie insigte staatmaak nie! U kan nie met redenasies deur u moeilike tye gaan nie. U eie gedagtes oor u toetse sal u mislei!

Wat is God se gedagtes, Sy Woord, aangaande u huidige probleme en toetse?

Die skrywer van Psalm 66 sê: "Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos 'n mens silwer louter" (Psalm 66:10). Hy sê, "Dit is alles God se werk! Hy het u deur hierdie toets gelei, vir 'n spesiale doel! God is besig om aan u te wys - dit is nie die werk van die duiwel nie."

Dit maak nie saak waardeur u gaan nie, u kan daarin rus: Die Here is agter u - Hy toets u! Hy is besig om u te toets met die doel om iets glorieryks na vore te bring - en dit is, 'n totale vertroue in Sy getrouheid!

Maar dan gaan die psalmdigter verder: "U het ons in die net gebring, 'n swaar las op ons heupe gelê" (vers 11). Hy sê dat dit God was wat ons in die net ingelei het! God het die swaar las op u skouers gelê. Dit is Hy wat u onder die laste gebuk laat gaan!

"U het mense oor ons hoof laat ry: ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed." (vers 12) God laat toe dat ander oor u loop, om u te misbruik. Die Here laat dit toe dat u deur 'n brandende vuur en groot vloed gaan. Alles daarvan is God se werk in u!

Ons menslike insig kan sulke dinge nie uitwerk nie. Ons argumente sê vir ons: "Die duiwel probeer my doodmaak! Hy het beproewinge en groot laste op my geplaas. Hy probeer maak dat ek ondergaan!"

Tog, van voor tot agter, maak die Bybel dit duidelik dat al ons suiwerings en toetse van die Vader kom - nie van Satan nie! "En ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog suiwer en al jou looddele wegneem" (Jesaja 1:25).

Ek het opgehou om God te vra Waarom ek deur sulke vure en vloede moet gaan - omdat deur dit alles, ek iets leer van Sy weë. God sê vir ons: "Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel" (1 Pet. 4:12-13).

Geliefde gelowiges, hou op om te probeer uitwerk waarom u deur verskillende toetse gaan. Hou op om te vra, "God, waarom moet ek deur hierdie geveg gaan?" Plaas u menslike redenasies eenkant - en rus in die gedagtes: "God is besig om iets vir my te doen. God se hand is daarin!"

U mag dalk nie die toetse verstaan nie - dit mag dalk oorweldigend wees. Maar God het u nog nooit alleen gelaat in u toetse nie. Selfs as u voel dat u Hom gefaal het, God is altyd daar!

Die psalmdigter sê: "Wat aan ons siel die lewe gee en nie toelaat dat ons voet wankel nie" (Psalm 66:9). Hy het gesê, "God hou my siel in Sy lewe! Hy sal nie toelaat dat my voet gly nie. Hy hou my stewig vas totdat dit alles verby is!"

Hy het deur hierdie toets gekom vol geloof, en verkondig, "Kom luister, en laat my vertel, julle almal wat God vrees, wat Hy aan my siel gedoen het." (vers 16). Hy het gesê, "Kom bymekaar! Ek het 'n groot bevryding gehad. Ek wil getuig van die groot dinge wat God vir my gedoen het!"

Hier is die getuienis van diegene wat nie paniekerig raak nie, maar God in alles vertrou: "U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed" (vers 12).

Geliefdes, moenie luister na die vrese wat in u hart gefluister word nie. Vergeet daarvan om dit te probeer verstaan. Staan net stil - en sien hoe God se hand werk.

Hy sal u hieruit lei en na 'n vrugtevolle plek. En u sal brand met 'n getuienis oor die uiterste getrouheid van ons God. Hallelujah!