DIE GETROUHEID VAN GOD

David Wilkerson

Daar is tye wanneer dit lyk asof God nie opgedaag het nie – wanneer Sy mense in skande en wanhoop gelaat word – maar die volle storie is nog nie vertel nie. (Die kruis was een van daardie tye.) Wat ons nie besef te midde van ons krisis nie, is dat God se eer op die spel is.

Dwarsdeur die Bybel het Hy mense gehad wie se onwrikbare geloof Sy getrouheid bewys het in die moeilikste van tye. Hierdie dienaars het die Here onbeskaamd uitgedaag om op te tree en Sy eer op die spel geplaas terwyl hulle Hom vertrou het om te verlos.

BLY VORENTOE BEWEEG!

Beskou Moses se voorbeeld by die Rooi See, ‘n menslik onmoontlike situasie. Israel het weggevlug van die Egiptiese leër en was aan die een kant ingeperk deur die see en aan die ander deur berge. Moses het reeds geprofeteer dat God Israel in die Beloofde Land sou inlei en nou was die Here se reputasie op die spel vir ‘n ieder en ‘n elk om te sien.

Wat was Moses se reaksie op hierdie krisis? Terwyl hy na die uitgestrekte see voor hom gekyk het, het hy uitgeroep, “Beweeg vorentoe!” Moses het so in God se sorg geglo en op Sy woord vertrou om Israel in Sy belofte in te lei, dat hy verklaar het, “Ek weet die Here is getrou. En ek gaan handel op Sy woord.”

GEWILLIG OM ‘N DWAAS TE WEES

Dink aan die gevolge van so ‘n geloof. As die Rooi See nie wonderbaarlik oopgegaan het nie, sou Moses bestempel word as ‘n dwaas. Die Israeliete sou teruggaan het na slawerny en God sou nooit weer vertrou word nie. Ons almal weet egter wat gebeur het: Toe het Moses sy hand uitgestrek, die waters het verdeel en die mense het op droë grond daardeur geloop. Ek sê vir jou, niemand wat ten volle op God vertrou, sal ooit beskaamd staan nie. God sal sy belofte gestand doen ter wille van Sy eie naam.

“o HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U!” (Psalm 89:8).