Die Genesende Krag van Blydskap

David Wilkerson

Jesaja 16 beskryf baie duidelik wat gebeur met ‘n trotse nasie wat onder God se oordeel val. Jesaja profeteer hier oor Moab, ‘n vyand van Israel: “Ons het gehoor van die trotsheid van Moab — hy is baie trots! — van sy hoogmoed en sy trotsheid en sy grimmigheid, sy onbehoorlike grootpratery" (Jesaja 16:6).

Regdeur die Skrif, het Moab gedien as ‘n simbool. Dit verteenwoordig alle mense wat op hulleself staatmaak, hulle rûe op God keer en onder sy oordeel val. In elke geval het die Here sy oordeel oor sulke nasies gestuur. Tog het Jesaja hier nie net oor Bybelse nasies geprofeteer nie, maar ook deur die geskiedenis heen tot oor samelewings vandag. Die profeet het in wese gewaarsku, “Elke trotse nasie sal God se oordeel in die oë moet kyk.”

Moab was herhaaldelik oor hulle sonde gewaarsku. Maar hulle het al God se barmhartige pleidooie weerstaan. Hierdie mense wou niks te doen gehad het met Jehova God nie. In plaas daarvan, het hulle begin om sy volk te vervolg. Die gevolg was, dat God se oordele oor Moab swaar was. Verskriklike droogtes het hulle lande opgedroog en hulle wingerde vernietig. Die verwoesting was so vreeslik, dat die profeet se trane die enigste water in die land was (sien Jesaja 16:9).

Talle soortgelyke oordele word in die boek Jesaja genoem. Daar is egter een spesifieke frase wat keer op keer opkom om hulle te beskryf: “Vreugde en gejuig [is] weggeneem uit die vrugteboord” (Jesaja 16:10). Eenvoudig gestel: eens op ‘n tyd was daar voorspoed, volheid en oorvloed. Maar skielik, binne ‘n oomblik, het daardie seëninge verdwyn.

In Bybelse tye, was die oes altyd ‘n tyd van groot feesviering. Nadat oordeel egter oor Moab geval het, was daar geen roepstemme van “Oes!” wat deur die strate geklink het nie. God het verklaar, “In die wingerde [sal] nie gejubel of gejuig word nie; die druiwetrapper trap geen wyn in die parskuipe nie; Ek het die vreugdegeroep laat ophou” (Jesaja 16:10).

Enige spoor van vreugde in Moab het iets van die verlede geword. In plaas daarvan, het ‘n wolk van hartseer en droefheid oor die samelewing gehang. Ons vind ‘n soortgelyke beskrywing van Moab in Jeremia 48. Volgens Jeremia, was alle blydskap en vreugde verwyder, omdat Moab onder goddelike oordeel gekom het. En in plaas daarvan, was daar ‘n verskriklike, gewigtige stilte.

Ek wil hê dat jy die landskap van Amerika vandag beskou. Wat sien en hoor jy? Persoonlik het ek nog nooit so ‘n vrees in ons land aanskou nie. Dit is nie net omdat ek in New York Stad bly en die gevolge van die 9/11 terroriste aanvalle gesien het nie. Nee, my profetiese gevoel vertel vir my dat daar vrees in die lug is, omdat ons geoordeel word. Ons trotse, hoogmoedige nasie het onder God se goddelike toorn gekom. En blydskap en vreugde word verwyder.

Tog vind hierdie vrees nie net in Amerika plaas nie. Dit het wêreldwyd versprei. Na die terroriste bomaanvalle in Israel, byvoorbeeld, verlaat mense nie meer hulle huise nie. Hulle is bang om hulle karre te bestuur, om na restaurante te gaan en om in ‘n skare gevang te wees. Kinders speel nie meer buite nie. En volwassenes vind dit onmoontlik om te slaap. Vreugde en blydskap het letterlik van Israel se strate verdwyn.

In Indië en Pakistan, leef menigtes in vrees vir ‘n kernbomverwoesting. Beide hierdie opponerende nasies het nou kernwapens en vrees die ander se vyandigheid. Tog, binne hulle eie grense, is mense agterdogtig jeens mekaar. Hulle loop in vrees rond, sonder enige blydskap.

In Argentinië, is die nasie se geldeenheid besig om ineen te stort. Banke maak toe en mense staan blokke ver in rye met die hoop om hulle geld uit te kry. Nuwe foto’s wys mense wat in die strate in ‘n beswyming loop. Vroue wat eens in die publiek gedans en gesing het, is nou stil. In plaas daarvan, vergader hulle in hulle duisende en marsjeer, terwyl hulle op potte en panne met lepels slaan in ‘n poging om hulle wanhoop bekend te maak. Blydskap in daardie nasie is weg.

Japan wankel op die rand van die uiterste chaos. Hierdie eens trotse volk wend hulle nou na onbeheerste sonde om hulle angs te sus. Pornografie floreer. Alkohol- en dwelmmisbruik is algemeen. Die mense probeer hulself verdoof, maar wanneer die partytjie verby is, is hulle steeds vol vrees. In die tussentyd, het hulle blydskap verdamp.

Rusland is ‘n gewonde beer en lek sy oop wonde. Alkoholisme het slawe gemaak van menigtes van werklose mans, wat die nasie verlam. Jy sien hulle moedverlore sit in parke, ‘n leë kyk in hulle oë, hulle lewens verlore in vodka. In net tien jaar, het die gemiddelde leeftyd van die Russiese man van iets in die sestig, gedaal tot vier-en-vyftig jaar in ouderdom. Blydskap het uit hulle lewens verdwyn.

In Sjina, die nasie met die hoogste bevolking ter wêreld, oortref mans nou die vroue in getalle ses tot een. Dit is die gevolg van die regering se besluit om bevolkingsgroei te stop deur die aborsie van vroulike baba’s verpligtend te maak. Nou is daar miljoene volwasse mans in wanhoop, omdat hulle weet hulle sal nooit trou nie. Hulle sal nooit die vreugde om ‘n gesin te hê, beleef nie. En hulle wanhoop het stadig verander in woede. Miljoene van hierdie mans het na stede gestroom, maar kan nie werk kry nie. Die bui regdeur die nasie is een van hopeloosheid. Die mense se blydskap is verlore.

Toe verwoesting die Twin Towers in New York Stad getref het, was die uitroep, “Dit gaan ons nasie vir ewig verander. Ons sal nooit dieselfde wees nie. Niks sal ooit weer normaal wees nie.” Hoe waar. Die onskuld, blydskap en vreugde wat baie Amerikaners eens geken is, is vir ewig verlore. En dit sal nooit herwin word nie.

Tog is hierdie gemoedstoestand nie net die gevolg van 9/11 nie. Bosbrande het buite beheer gewoed reg deur die nasie en miljoene bome het verbrand. Sommige van die ergste droogtes in die geskiedenis het een derde van Amerika getref en wydverspreide akkers van landbougrond afgemaai. Sprinkane wat verslind, het deur verskeie state geswerm en ‘n plaag gebring, die ergste in ons geskiedenis. Vloede het Texas oorweldig en miljoene dollar se skade veroorsaak.

Toe het die skudding van Wall Street plaasgevind. In die laaste twee jaar, het 1,000 besighede bankrot gegaan, die meeste in ons geskiedenis. Selfs magtige America Online steier. En nou hoor ons skokkende openbarings van buitensporige gierigheid onder CEO’s. Die hoofde van sommige van Amerika se mees gerespekteerde instellings het biljoene dollars verduister toe hulle maatskappye opgebreek het.

Hier is wat ek huidiglik op die Amerikaanse landskap sien: verlatenheid en droefheid. Net soos Jesaja oor Moab geprofeteer het, is ons nasie se vreugde en blydskap weggeneem. Waarom? Amerika is onder oordeel vir haar sondige hoogmoed. En, soos Moab, sien ons God se toorn oral waar ons gaan.

Volgens Jesus, sal mense hartaanvalle kry oor die vreesaanjaende dinge wat oor die aarde kom. Tydens hierdie tyd van oordeel, sal alle vreugde en blydskap van die goddelose verwyder word. Terselftertyd, sal God se mense egter ‘n gees van vreugde en blydskap gegee word: “En die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg” (Jesaja 35:10).

Jesus Christus alleen is die bron van alle vreugde en blydskap. Die Psalmis sê van Hom, “God...[het] U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle” (Psalm 45:8). Die olie wat in hierdie Psalm genoem word, verteenwoordig die Heilige Gees. Die skrywer sê, “Net diegene wat indring tot ‘n nader wandel met Jesus, sal die blydskap van sy Gees verkry.”

In die gedeelte hierbo, vertel Jesaja vir ons dat te midde van die donker tye wat kom, sal ‘n oorblyfsel van God ontwaak. En hulle gaan die Gees van Christus aangryp, Hom besit, Hom verkry, Hom vasgryp. In daardie swaar dae van oordeel, sal die Gees van vreugde en blydskap, wat in Christus woon, hulle s’n wees. En geen toestand, omstandigheid of persoon sal in staat wees om hulle blydskap aan te raak of te steel nie.

Dit sal egter ‘n ander storie wees vir die afvallige kerk. Die profeet Joël vertel vir ons ‘n kerk “verwoes met sonde,” sal al sy blydskap en vreugde verwyder hê: “Is die spys nie weggeruk voor ons oë nie, blydskap en gejuig weg uit die huis van onse God?” (Joël 1:16). Eenvoudig gestel, dooie godsdiens het geen blydskap daarin nie.

Moet asseblief nie wat ek sê, neem as kritiek teen die Katolieke Kerk nie. Maar ná die onlangse kinderseksskandale waarby priesters betrokke was, het baie Katolieke kerke soos lykshuise geword. Duisende het die kerk verlaat, óf met hartseer en droefheid, óf in vrees vir hulle kinders. Dit is amper onmoontlik om nou enige “olie vir blydskap” in Katolieke kerke te kry.

Dieselfde dooie gees vul baie Protestante kerke. Jong mans en vrouens gaan hoofstroom kweekskole binne net om van hulle geloof beroof te word. Hulle word onderrig om nie meer te glo in die hemel of hel, die Opstanding en die Maagdelike Geboorte nie. Dit is geen wonder dat die kerke wat hulle lei, dood is nie. As Christus nie teenwoordig is nie, kan daar nie vreugde of blydskap wees nie. Jesus is die enigste bron van dit alles.

Daar mag dalk geen vreugde of blydskap in die bose samelewing, of onder die goddelose, of in dooie, formele kerke wees nie. Maar Jesaja spreek ‘n woord van hoop vir die regverdiges:

“Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is!” (Jesaja 51:7). God praat hier met al diegene wat Hom ken en gehoorsaam is. En Hy gee hulle ‘n liefdevolle teregwysing:

“Ek is wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? – dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker? (Jesaja 51:12-13).

Die Here sê, “Waarom het jy vergeet wie Ek is? Is Ek nie dieselfde Almagtige, wat die vyand Egipte afgesny het nie? Ek het daardie magtige nasie gewond met groot oordele. En Ek het jou verlos deur magtige wonders. Ek het die Rooi See oopgemaak en jy het na veiligheid geloop. Ek het jou bewaar en beskerm deur dit alles.

“Ek weet jy het ‘n nuwe dag van swaar, vreesaanjaende tye beleef. Maar Ek is steeds jou magtige Verlosser. Ek het jou geskep en Ek kan jou bewaar. Ek strek die hemele uit en lê die fondamente van die aarde. Jy weet dit. Ten spyte hiervan, het jy egter gou vergeet van my krag ter wille van jou. Waar is die vyand wat jou kan seermaak? Niemand kan jou seermaak nie, omdat Ek jou in die palm van my hand hou.”

Ons is geseën met beide die liefde en die vrees van God. En sy wil vir ons in die donkerste, moeilikste tye is om sy vreugde en blydskap te verkry. Selfs as ons oordeel rondom ons sien val, moet ons sing, jubel en juig — nie omdat oordeel gekom het nie, maar ten spyte daarvan.

Jesaja 51:11 begin met die woord “So,” wat beketen, “In die lig van wat ek pas gesê het.” Wat het God pas hier gesê? Hy het sy mense herinner, “(Ek het) die dieptes van die see ‘n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes” (Jesaja 51:10). Hy het in wese gesê, “Ek is steeds die Here, die Oue van Dae, die werker van wonders. En my arm is steeds sterk om jou te verlos.”

So, wat is dit wat God wil hê sy mense moet weet in die lig van hierdie waarheid? Hy sê dit alles in een vers, Jesaja 51:11:

  • “So sal die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel.” Met ander woorde: “Ek gaan ‘n volk hê wat na My sal terugkeer met vertroue, geloof en vrymoedigheid. Hulle sal hulle oë afhaal van hulle toestande en die rampe wat hulle omring. En hulle sal hul lied van blydskap terugkry.
  • “Ewige vreugde sal op hulle hoof wees.” Die vreugde wat God se mense beleef, sal nie net vir Sondagoggend wees nie, of vir ‘n week of vir ‘n maand nie. Dit sal regdeur die jaar duur, selfs tot die einde toe.
  • “Kommer en gesug vlug weg.” Dit beteken nie dat al ons lyding sal ophou nie. Dit beteken ons vertroue in die Here sal ons bo elke pyn en beproewing uitlig. Sulke dinge sal nie in staat wees om ons van ons vreugde en blydskap in Christus te beroof nie.
  • “Vreugde en blydskap sal hulle verkry.” God het afgekyk deur die eeue en gesê, “Ek gaan ‘n volk, wat blydskap verkry, neem en dit besit, hê. Hulle sal dit vasgryp en dit sal hulle s’n wees.”

Diegene wat sy blydskap sal verkry, sal van die grootste getuienisse van God se krag op aarde word. Dink aan wat dit sal beteken wanneer die slegste tye aanbreek. Terwyl mense se harte hulle faal en die samelewing hulself verdoof, sal ‘n nederige volk vrymoedig staan te midde van dit alles. En hulle sal ‘n bonatuurlike vreugde en blydskap uitstraal.

Moenie ‘n fout maak nie: Christene sal dieselfde dinge as alle ander ly tydens tye van oordeel. Hulle sal werk verloor, die pyn van fisieke lyding voel en familie probleme verduur. Maar deur dit alles, sal hulle ‘n gees van vrede hê. En die wêreld sal dit weet. Mense sal na hulle kyk en sê, “Hy moet per slot van rekening God waarlik ken. Andersins, hoe kan hy so kalm wees?”

Ek ken twee sulke lewende getuies, ‘n paartjie wat Time Square Church bywoon. Sewe jaar gelede het hulle na my gekom om vir gebed te vra, toe hulle ‘n kind verwag het. Hulle dokter het hulle vertel dat hulle baba abnormaal sou wees. Maar te danke aan die Here, is klein Brian heeltemal normaal gebore.

Nou, sewe jaar later, het Brian ‘n gewas in sy ruggraat ontwikkel. Onlangs, het dit veroorsaak dat hy ineengestort het en dit het hom kwadruplegies gelaat. Toe sy ouers vir my die nuus vertel, was my hart gebreek. Maar ten spyte van hulle pyn, was Brian se pa en ma vol vrede. Hulle het God nie bevraagteken nie. In plaas daarvan, het hulle blydskap in die Here gevind. Al waarvoor hulle daardie dag gevra het, was, “Bid asseblief vir Brian.”

Hierdie pragtige paartjie bied ‘n sterk kontras teen ‘n samelewing wat vol vrees is. Hulle is in staat om soos Dawid te getuig van die genesende krag van blydskap: “HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak...U het my siel uit die doderyk laat opkom...U het my weeklag vir my verander in ‘n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord; sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. HERE, my God, vir ewig sal ek U loof” (Psalm 30:3-4, 12-13).

Watter swak getuienisse is sommige gelowiges egter vandag nie. Al waaroor hulle kan praat is hulle vrese: vrees om ‘n werk te verloor; vrees dat die aandelebeurs ineenstort, vrees vir ‘n terroriste aanval. Ek sê nie ons moenie vrese hê nie. Dit sou nie normaal wees nie, veral nie in hierdie tye nie. Maar Jesus beveel ons om ons bekommernisse op Hom te werp, want Hy sorg vir ons. Die meeste vreesagtige Christene van vandag doen dit glad nie. Hulle is almal so terneergedruk en wanhopig soos die res van die samelewing.

Net so, het baie Christen huwelike geen vreugde of blydskap nie. Kinders kom huistoe en vind hulle ouers aan die baklei en kibbel. En wanneer die huis nie met chaos gevul is nie, is dit ‘n stille lykshuis. Daar is geen liefde nie, net veragting, doodsheid en afsondering. Ek vertel vir jou, hierdie ouers het toegelaat dat Satan hulle beroof van dít wat ‘n huis sterk maak. Die Skrif sê die vreugde van die Here is ons sterkte. En op hierdie oomblik, benodig hulle huis ‘n doop van vreugde en blydskap.

Ander Christene word gebind deur kettings van vrees en bekommernis. Hulle is bekommerd oor die toekoms, hulle gesondheid, hulle kinders en die groeiende paniek in die wêreld. As dit op jou van toepassing is, onthou die Here se woorde: “Wie is jy om te vrees en ontsteld te wees? Is Ek nie meer Almagtige God vir jou nie? Was Ek nie getrou in jou lewe nie? Jy is steeds ‘n skaap in my trop. En Ek het belowe om vir jou ‘n weg te maak. So, waarom het jy van My vergeet?”

Die boosheid wat ek voorsien oor die wêreld gaan kom, is ontsettend. Dit sal so walglik en boos wees, dat selfs die hardste, mees ateïstiese mense van skok en paniek sal wankel. God se Woord voorspel dit egter alles. Jesus self het gesê dat bose mense erger en erger sal word en ‘n verskriklike skudding oor die hele aarde sal kom.

Ek vra jou, watter soort demoniese malligheid het Amerika oorval dat onskuldige meisietjies ontvoer, verkrag en vermoor word? Selfs geharde gevangenes huil oor hierdie tragedies. Watter soort hel het oor ons nasie gekom dat honderde van middestad kinders verdwyn en verkoop word as slawe in prostitusie sirkels? Binnekort gaan ons hoor van verskriklike openbarings van kinderslawernykampe, waar kinderpornografie verfilm word.

Nou het ‘n paniek op Wall Street begin. Ek glo ons sal uiteindelik sien dat die Dow onder 5,000 punte sal daal. Eiendomme sal misluk. Die aandelemark mag herstel, maar dit sal ‘n mark wees waar beleggers veel meer betaal as wat die wesenlike waarde is. Hier in New York Stad, sien ons die gevolge van die ekonomiese chaos. Reeds sien ons diegene wat skielik haweloos word.

Hoe moet God se mense reageer in sulke tye? Moet ons eenvoudig sê, “Ek weier om enige verdere slegte nuus te hoor,” ons koppe in die sand steek en alle openbaring van boosheid ignoreer? Ons sou dit nie kon doen nie, al wil ons ook. Ons word daagliks deur die verskriklike nuusberigte gebombardeer.

So, hoe kan ons die vreugde en blydskap in ‘n paniek-getrefde wêreld wat mal geword het, verkry? Jesaja gee vir ons die antwoord. Eerstens, hy beskryf die toestande van die tye wat hy gesien het: “Die ontroues handel troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos. Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o bewonder van die aarde...Die aarde word geheel en al verbreek...die aarde waggel geheel en al soos ‘n dronkaard...en sy oortreding is swaar op hom” (Jesaja 24:16-17, 19-20).

Dit klink presies soos die huidige toestand in die wêreld. Besigheidsleiers het verraderlik opgetree en word tronk toe gelei. Ons land verduur natuurramp op natuurramp. En mense wankel in algehele vrees. Ek glo inderdaad dat Jesaja ons dag gesien het.

Selfs terwyl Jesaja egter gesien het hoe die aarde onder God se oordeel gewankel het, het hy iets wonderliks gesien wat alles oortref het. Hierdie visioen het hom met gejuig gevul. Hy het verklaar, “HERE, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof; want U het wonders gedoen, raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou” (Jesaja 25:1).

Die profeet het in wese gesê, “Here, u wonderlike leiding kom na u mense. U nuwe barmhartighede en groot getrouheid is op pad. Geen mens het nog ooit gesien wat U op pad is om te bring nie.”

Wat gaan God doen? Eerstens gaan Hy elke gewelddadige vyand van sy kerk neerwerp: “Want U het van ‘n stad ‘n hoop klippe gemaak, van ‘n versterkte vesting ‘n puinhoop; ‘n paleis van vreemdes, dat dit geen stad meer is nie; vir ewig sal dit nie herbou word nie. Daarom sal ‘n magtige volk U eer, die vesting van tirannieke nasies sal U vrees” (Jesaja 25:2-3).

Hier is egter wat veroorsaak het dat Jesaja juig. Te midde van al die geweld, die siedende storms, die rampe van die nasies, die toename in boosheid, het Jesaja gesien hoe God se hand sy mag openbaar: “Want U was ‘n vesting vir die arme, ‘n vesting vir die behoefte toe hy benoud was; ‘n skuilplek teen die stortreën, ‘n skaduwee teen die hitte — want die geblaas van die tiranne is soos ‘n stortreën teen ‘n muur” (Jesaja 25:4).

Wat het Jesaja hier bedoel toe hy gepraat het van “’n storm teen die muur?” Die muur is Jesus Christus, ons beskermer en verdediging. Jesaja het gesien hoe die komende storm die muur tref, maar dit nie beweeg nie. Trouens, geen storm kan dit ooit skud nie. Jesus heers as Koning oor elke storm. En sy mense is veilig binne hierdie muur.

Jesaja het ook mense gesien wat “arm en behoeftig” en in uiterste nood was. Hy het gepraat van mense sonder werk, met geen finansies nie, die haweloses, die hongeres. Jesaja sê dat in daardie dag, sal Christus self ‘n sterkte en skuilplek wees vir hierdie mense. Hy, persoonlik, sal in al hulle behoeftes voorsien.

“En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn” (Jesaja 25:6).

Die berg waarna Jesaja hier verwys is ‘n berg van gebed. In die donkerste van tye, het die profeet ‘n volk van God, wat na die Here se tafel gaan deur gebed, gesien. En hulle het ‘n feesmaal geniet saam met Hom deur intieme gemeenskap. Hulle het van die “vetspyse,” of “dit wat die gesig laat skyn” geniet. Hierdie vet verteenwoordig die olie van die Heilige Gees. Kortliks, hierdie mense was gevul om van die Heilige Gees te skyn.

Hier is die beeld wat veroorsaak het dat Jesaja juig: in ‘n tyd van geweld en uiterste chaos, het God se mense op hulle knieë gegaan. En hulle het by sy tafel ‘n feesmaal geniet en magtige hulpbronne verkry om die storm te deurstaan.

“En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is” (Jesaja 25:7). Hierdie biddende volk was vrygemaak van elke sluier wat hulle verblind het vir ‘n groter visie van Christus. God het hulle oë bonatuurlik oopgemaak. En hulle kon nie mislei word deur enige dogma of lering nie.

Ek prys God vir Jesaja se ontsaglike visioen. Deur hierdie gedeelte, het die profeet vir ons die geheim geopenbaar om die gees van vreugde en blydskap te verkry. Dit gaan alles oor gebed en om op die Here te wag. Hy gaan ons red in daardie dag, omdat ons binne sy mure gevind sal word.

Hierdie versekering maak ons vrymoedige getuienisse van God se goedheid in enige storm. Wanneer daardie dag kom, sal die hele wêreld na ons kyk en weet, “Die verwagting van die regverdige is vreugde” (Spreuke 10:28).