DIE GEHEIME OORLOG

Carter Conlon

Die Bybel waarsku baie duidelik, “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het” (Hebreërs 3:7-8). Met ander woorde, moenie soos Israel eens in ongeloof gevra het, “Kan God hier in die woestyn kos gee? (sien Psalm 78:19) nie.

Moenie die Here se integriteit of Sy verbintenis tot jou bevraagteken nie, al vind jy ook dat jy gedurig in jou gedagtes ‘n stryd voer. God het vir jou gesê dat Hy jou sal oprig om ‘n getuienis te wees. Hy het vir jou gesê dat Hy sekere dinge in jou lewe toelaat, maar dat alle dinge ten goede meewerk, omdat jy Hom liefhet en jy geroep word ooreenkomstig Sy plan.

En nou roep die Here jou om op te staan. Hy roep jou om jou kop op te lig en daardie lied te sing wat Hy in jou hart geplaas het. Jy is die Bruid van Christus, en God plaas Sy reputasie op die spel om jou te bewaar en om ‘n getuienis van oorwinning binne-in jou te vestig.

Daarom, wees rustig in jou hart vandag: “Hy is my glorie en die een wat my kop oplig. Al is ek ook neerslagtig wanneer ek in die aand gaan slaap, Hy is die een wat my kop sal oplig in die môre. Hy is die een wat vir my krag sal gee om deur nog ‘n dag te gaan. As God ‘n droom in my hart geplant het, dan sal dit ‘n realiteit word, want Hy het ‘n oop deur voor my gestel wat geen mens kan toemaak nie. Maak nie saak hoeveel stemme opstaan teenoor dit wat God vir my gesê het nie, ek sal nie my hart verhard in ongeloof nie!”

So moenie moed verloor te midde van die geheime oorlog wat jy veg nie. Weier om te luister na die leuens. Moenie moed opgee nie! Hoor eerder God se stem wat vandag na jou roep. Hy sal getrou in al jou behoeftes voorsien – krag om deur die dag te kom, moed om in die markplein te staan, en geloof om te glo vir al jou behoeftes.

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.