Die Geheim van Geestelike Krag

David Wilkerson

Die profeet Jesaja het ‘n ellende oor Israel aangekondig: “Wee die opstandige kinders, sê die HERE” (Jesaja 30:1). Die Hebreeuse woord hier vir wee dui op ‘n diepe smart en droefheid. Wat het God se volk gedoen om Hom so diep seer te maak? En waarom noem Hy hulle opstandig? Hulle was immers nie heidene nie; hulle was sy eie kinders. Watter verskriklike sonde het hulle gedoen wat veroorsaak het, dat Hy sê hulle is opstandig?

Die woord wat Jesaja vir opstandigheid in hierdie vers gebruik, beteken afvallig, hardnekkig, ‘n wegdraai van. Waarvan presies het God se mense weggedraai? En wat het hulle afvalligheid veroorsaak?

Ons vind die antwoord in die volgende frase: “Wat ‘n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat ‘n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie” (Jesaja 30:1). Die frase “wat ‘n verbond sluit” hier beteken hulle maak hulle eie planne. Eenvoudig gestel, God het gesê, “My mense vra nie meer my raad nie. Hulle kyk nie na My vir leiding en raad nie. In plaas daarvan, leun hulle op die arm van die vlees. En elke keer wat hulle optree sonder om My te soek en hulle na die wêreld wend vir hulp, stapel hulle sonde op sonde. Hulle het hulle vertroue in die sterk arm van die Here verlaat.”

Vandag dink ons aan opstandigheid as om te weier om God se woord te gehoorsaam en ons te wend na dwelms, alkohol, hoerery en ander growwe sondes. Maar die opstandigheid waarna God hier verwys, is by verre baie ernstiger as hierdie dinge. Die Here se eie mense het gesê, “Laat ons nie God hiermee lastig val nie — ons het die wysheid en wil om dit op ons eie te doen.”

God se mense weet egter baie goed, dat hulle op die Here moet vertrou in elke situasie, maak nie saak hoe nietig dit is nie. Die Psalms herinner hulle gedurig hieraan: “Hoe kosbaar is u goedertierenheid, o God! Daarom skuil die mensekinders onder die skaduwee van u vleuels” (Psalm 36:8). “By U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil” (Psalm 57:2). “Want U was ‘n hulp vir my en in die skaduwees van u vleuels sal ek jubel” (Psalm 63:8).

Dit het so gebeur dat God se mense ‘n groot krisis beleef het. Die Assiriërs het oorlog teen Juda verklaar en die magtige vyand het vinnig nader gekom met duisende strydwaens. Vir Juda was dit die moeder van alle krisisse. Hulle situasie het heeltemal hopeloos gelyk.

Tog, het Juda hulle nie na die Here gewend in hulle krisis nie. Hulle het God geïgnoreer en liewer op hulle eie vernuf staatgemaak. Eerstens het hulle ambassadeurs na Egipte gestuur om Farao se leër te vra om vir hulle perde vir die oorlog te leen. Toe het hulle Egipte probeer omkoop om die Assiriërs namens hulle die stryd aan te sê. Kortliks, hulle het sterkte van die goddelose probeer kry: “[Hulle] gaan om na Egipte af te trek, en hulle raadpleeg my mond nie, om toevlug te soek onder die beskutting van Farao en om te skuil in die skaduwee van Egipte” (Jesaja 30:2).

Ek wonder waarom nie een van Juda se leiers gevra het, “Wat het ons goddelike vaders gedoen in sulke dreigende tye? Ons het immers ‘n groot geskiedenis van verlossings. Waar het hulle raad gevra? Hoe het hulle hulp in tye van nood gekry?”

Hulle mag Dawid se situasie onthou het, waar die Filistynse leërs deur die vallei van Refáim versprei het. Dawid was pas gesalf as koning van Israel en hy het nie geweet wat om te doen nie. Die Bybel sê, “Toe het Dawid God geraadpleeg en gesê: Sal ek optrek teen die Filistyne, en sal U hulle in my hand gee?” (1 Kronieke 14:10).

Dawid het die Here alleen gesoek vir leiding. Hy het nie gevra vir die raad van enige raadgewer nie, self al het hy baie wyse manner rondom hom gehad om te vra (en die Skrif sê daar is wysheid in baie raadgewers). Maar Dawid het in gebed tot God gegaan en vir spesifieke leiding gevra. En die Here het dit vir hom gegee: “En die HERE het aan hom gesê: Trek op, en Ek sal hulle in jou hand gee” (1 Kronieke 14:10). God het Dawid met ‘n groot oorwinning geseën, omdat hy die Here geraadpleeg het.

Maar die Filistyne het skielik hergroepeer. Nou het hulle teruggekom teen Israel met ‘n vars leër. Op hierdie stadium, kon Dawid geredeneer het, “Die strategie wat God teen hierdie vyand gegee het, het die eerste keer gewerk. Ons sal dieselfde plan weer gebruik.” Maar Dawid het geweier om op enigiets anders staat te maak as ‘n vars woord van God af. “Toe raadpleeg Dawid God weer, en God het aan hom gesê: Jy moet nie agter hulle aan optrek nie” (1 Kronieke 14:14).

Ek glo nie een van God se planne is dieselfde nie. En die Here het ‘n nuwe strategie vir Dawid hier gehad. Hy het hom beveel, “Trek om, van hulle af weg, en val hulle vlak voor die balsembosse aan. En as jy ‘n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse hoor, trek dan uit vir die geveg, want God het voor jou uit uitgetrek om die leër van die Filistyne te verslaan” (1 Kronieke 14:1-15).

Ek vra jou: watter militêre adviseur sou sulke raad gee? En wie kon so ‘n plan glo, sou hulle dit gehoor het? Ek stel myself voor waar Israel se kapteins sê, “Dawid, sê jy vir my ek moet rondsit en luister totdat die wind begin waai in die boomtoppe? Is dit dan wanneer ons veronderstel is om die Filistyne aan te val en te verwag dat God hulle in ons hande gee? Het jy mal geword?”

Ons God het altyd weë wat bokant ons menslike weë is. Sy planne mag heeltemal dwaas in die oë van mense wees. Maar ons Here werk bonatuurlik deur ons gehoorsaamheid aan sy woord deur geloof: “En David het gedoen soos die Here hom beveel het, en hulle het die leër van die Filistyne verslaan van Gibeon af tot by Geser” (1 Kronieke 14:16).

Asa was koning toe ‘n miljoen-manskap leër van Kusiete Israel aangeval het met talle strydwaens en perderuiters, “En Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God, want op U alleen steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom” (2 Kronieke 14:11).

In wese, het Asa geroep, “Here, ons het ons vertroue in U geplaas.” Hier was ‘n goddelike koning wat “gedoen [het] wat goed en reg was in die oë van die HERE sy God” (2 Kronieke 14:2). Asa het inderdaad “aan Juda gesê om die HERE, die God van hulle vaders, te soek en om die wet en die gebod te doen” (2 Kronieke 14:4).

Toe die krisis kom, het Asa reguit na God in gebed gegaan. Hy het nie nodig gehad om ‘n komitee byeen te roep en dae deur te bring in beplanning nie. Hy het baie wyse mense tot sy beskikking gehad — soldate, politici, stratege, raadgewers — maar hy het God eerste gesoek. Asa het gebid, “Here, wat moet ek doen?” God het gereageer deur vir Asa ‘n woord te gee waardeur Juda wonderbaarlik verlos is. “En die HERE het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan” (2 Kronieke 14:12).

Toe het ‘n ander krisis opgeduik. Ek glo hierdie beproewing was bedoel as ‘n toets vir Asa se geloof. Volgens die Skrif, het “Israel, opgetrek teen Juda” (2 Kronieke 16:1), en die stad Rama ingeneem. Maar Asa het hom nie weer tot God gewend soos Dawid gedoen het nie. In plaas daarvan, het hy sy eie plan gemaak. Hy het geredeneer, “Daardie miljoen-manskap mag van Kus, was ‘n ander saak. Toe het ek God nodig gehad. Maar hierdie leër van Israel is nie ‘n groot probleem nie. Ek kan dit op my eie hanteer.”

Hoe het Asa probeer om hierdie probleem op te los?  Hy het probeer om Aram om te koop om Israel aan te val. Asa het selfs die goud en silwer van die tempelskatkis en van sy eie fondse geneem om as omkoopgeld te dien. Toe het hy ambassadeurs gestuur na Aram se koning Bénhadad om sy vredesverbond met Israel te verbreek en hulle aan te val.

Dit het gelyk of die plan werk. Aram het teen Israel opgetrek, die Israeliete het Rama verlaat en Asa het die stad weer ingeneem. Asa se self-uitgedinkte plan, wat God heeltemal geïgnoreer het, het suksesvol gelyk. En die koning het homself gelukgewens met sy vernuf.

Maar die Here was bedroef. Hy het vir Asa gesê, “Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die HERE u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak. Was die Kusiete en die Libiërs nie ‘n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die HERE gesteun het...Hierin het U dwaas gewandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees” (2 Kronieke 16:7-9).

God het kortliks gesê, “Asa, eens op ‘n tyd het jy net op My vertrou. En weens jou vertroue, het ek ‘n groot leër in jou hande oorgelewer. Maar nou het jy op jou eie verstand en op die Arameërs staat gemaak. Jy weet dit was nie my pad nie. En Ek sal dit nie toelaat nie. Jy het dwaas opgetree, Asa. En van jou af, sal jy nie vrede hê nie, maar oorlog.”

Baie van ons is soos Asa. Ons het groot verlossing van God ontvang, en ons het Hom gedank met groot lofsange. Ons belowe, “Here, van nou af, ek sal nêrens heen gaan of enigiets doen, totdat ek van U raad gevra het nie. Ek gaan oor alles bid.” Maar dan kom ‘n ander krisis en skielik is dinge anders. Ons dink ons kan staatmaak op ons ou planne en suksesse. So, op die ou end neem ons sake in ons eie hande. Die Here mag toelaat dat ons self-gemaakte planne tydelik werk. Maar uiteindelik beland ons in totale verwarring.

Jy mag beswaar maak, “God het vir my ‘n goeie verstand gegee en ek is veronderstel om dit te gebruik. Hy wil hê ek moet dinge self uitmaak.” Ja, maar slegs nadat jy rigting in gebed verkry het. Ons kan nooit die gedagtes van God verkry deur op ons eie redenasie staat te maak nie. Die apostel Paulus vertel vir ons dat die vleeslike gedagtes nie die geestelike gedagtes kan verstaan nie (sien Romeine 8:5-7).

Kom ons veronderstel jy is enkellopend en jy het tot God gebid om ‘n wederhelf in jou lewe. Dit is ‘n goeie ding. Maar met verloop van tyd, het jy ongeduldig geword met die Here se tydsberekening. Jy het op God gewag, maar die regte persoon het steeds nie gekom nie. Toe het jy jou oog op ‘n sekere persoon geplaas en skielik het jy beplan om hom in ‘n strik te vang. Jy mag jou gade kry. Maar, soos Asa, sal jy ‘n swaar prys betaal, waarop jy nie gereken het nie, soos woede, misverstand en verwarring.

Nog erger, jy sal die Here bedroef. Jy sal sy wee tot jou hoor: “Jy het op die arm van jou vlees vertrou, selfs toe Ek jou gewaarsku het, dat dit dwaas is om dit te doen. Nou gaan jy die prys betaal, omdat jy nie ten volle op My vertrou het in alle dinge nie. Jy sal op die ou end in droefheid en verwarring beland.”

“Gaan nou in, skryf dit op ‘n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ‘n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid” (Jesaja 30:8). God het in wese gesê, “Ek wil hê elke geslag, van nou af tot aan die einde van tyd, moet my diepe droefheid oor hierdie soort opstandigheid ken. Skryf dit neer, Jesaja, sodat alle mense, van alle tye, my droefheid sal verstaan wanneer hulle op een of ander wêreldse voorsiening vertrou en nie op My nie.”

Die opstandigheid of rebellie wat God hier beskryf is ‘n daad van miskenning, ‘n weerstand teen sy algehele heerskappy en gesag in ons lewens. Dit is ‘n weiering om sy gedagtes in alle dinge te soek. Dit sluit nie net die groot dinge van die lewe in nie, maar ook die klein dingetjies: familiesake, hartseer en persoonlike belange. En dit sluit elke aspek van ons wese in — die geestelike, die fisiese, ons gedagtes, alles. Rebellie teen God se reëls beteken om te sê, “Ek kan dit self doen. Ek het nie nodig om God lastig te val nie.” Maar God wíl lastig geval wees.

Om dit eenvoudig te stel, as jy nie die Here soek vir al jou leiding nie – as jy nie tot Hom uitroep vir rigting nie, as jy nie op sy getrouheid vertrou nie, as jy dinge op jou eie laat gebeur — is jy in opstand. God verklaar, “Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ‘n opstandige volk wat wandel op ‘n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan” (Jesaja 65:2).

In die lig van God se waarskuwing, vra jouself af: is dit moontlik dat jy in opstand teen God is, ten spyte van jou toewyding, aanbidding en regverdige wandel? Jy mag bid, vas en kerk getrou bywoon. Maar, kan dit die rede wees waarom jy verwarring of stryd in jou huis, jou familie of jou werk beleef?

Ek vra dieselfde vrae vir bedienaars. Wanneer God na jou kyk, sê Hy, “My kind, somtyds doen jy steeds jou werk van bediening sonder om My te soek. Ek wil betrokke wees by alles, van die hare op jou hoof tot die sole van jou voete. As jy My nie vra nie of vertrou in die skadu van my vleuels nie, is jy opstandig.”

Ons Here wil ons Bewaarder weers. “Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE is jou Bewaarder” (Psalm 121:4-5). Die Hebreeuse woord vir bewaarder hier beteken wag, beskermer, bestuurder, leidsman. Ons Here is ‘n waaksame, beskermende Vader wat groot vreugde daarin vind om sy kinders te bewaar en te beskerm.

In Exodus, openbaar God homself in werklikheid deur ‘n nuwe naam: Jaloers. “Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers — ‘n jaloerse God is Hy” (Exodus 34:14). Let op dat hierdie naam in die konteks van ‘n waarskuwing openbaar is: “Jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie.” In tyd, het meeste Israeliete na “hoë plekke” of afgodsaltare gegaan om leiding te kry. Hulle het die Here met lippetaal gedien as dit daarby kom om Hom vir leiding te soek.

Dit was afgodsaanbidding, so eenvoudig soos dit. Slegs God kan die toekoms ken. En wanneer ‘n persoon na iets anders as God gaan vir leiding, dan aanbid hy daardie voorwerp. Dit is waar van alle vertroue op astroloë, horoskope of die sterre lees. Waarop jy ook al vertrou vir hulp, dit aanbid jy. Jy maak ‘n god daarvan.

Ons Here is uiters jaloers oor sy bewarende krag. En ons verag Hom wanneer ons onsself nie na Hom alleen wend vir hulp nie. God het Koning Saul om presies hierdie rede laat sterf: “En Saul het gesterwe weens ontrou wat hy teen die HERE begaan het, weens die woord van die HERE wat hy nie gehou het nie; en ook omdat hy die gees van ‘n afgestorwene om inligting gevra het, maar die HERE nie geraadpleeg het nie. Daarom het Hy hom omgebring en die koningskap laat oorgaan op Dawid die seun van Ísai” (1 Kronieke 10:13-14). God se woord het dit duidelik gemaak: Saul se oortreding was om raad te soek by iemand anders, in plaas van om die Here te vra. En God het hom daarvoor omgebring.

Jesaja het die verskriklike gevolge van Juda se weiering om God as hulle Bewaarder te vertrou, gelys: “Jou wederstrewigheid sal veroorsaak dat jy jou ore vir God se woord sluit. Jy sal nie meer die profete se waarskuwings hoor nie. In plaas daarvan, sal jy roep om ‘n ‘sagte’ evangelie en misleidende prediking wat jou opstandigheid regverdig. En omdat jy alle tugtiging verag, sal jy van die pad van geregtigheid af wegdraai” (sien Jesaja 30:9-10).

Uiteindelik het Jesaja verklaar dat God al hulle selfbeskermende mure sal afbreek: “Daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos ‘n los stuk wat wil val...waarvan die instorting heeltemal onverwags kom. Ja, Hy sal die verbreek soos die kruik van ‘n pottebakker verbreek word; wat sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen skerf gevind word...nie” (Jesaja 30:13-14). God het in wese gesê, “Ek gaan elke valse ding waarop jy vertrou in stukke breek. Jou planne gaan ineenstort.”

Maar toe het Jesaja God se deernisvolle hart tot sy mense geopenbaar. Hy het by Juda aangedring. “Jy hoef nie meer in verwarring te leef nie. En jy hoef nie hierdie skielike ineenstorting te beleef nie. God het vir ons ‘n weg daaruit voorsien.” “Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag” (Jesaja 30:15).

Hier is kortliks God se geheim tot geestelike krag: “Stil wees en vertroue sal jou krag wees.” Die woord vir stil wees in Hebreeus beteken rus. En rus beteken kalm, op jou gemak, vry van alle angs; om stil te wees, om te gaan lê met ondersteuning van onder.

Vandag het nie baie Christene hierdie soort stil wees en vertroue nie. Menigtes gelowiges is betrokke in ‘n waansin van aktiwiteite en is in ‘n malle gejaag na rykdom, besittings en plesiere. Selfs in die bediening, jaag God se dienaars rond met bekommernisse, vrese en soek antwoorde in konferensies, seminare en topverkoper boeke. Almal wil leiding, oplossings en iets om hulle gees te kalmeer, hê. Tog soek hulle dit in elke bron behalwe die Here. Hulle besef nie God het reeds ‘n woord deur Jesaja tot hulle gespreek nie: as hulle nie hulle tot Hom wend as hulle bron nie, sal hulle strewes eindig in hartseer en verwarring.

Jesaja beskryf wat God se geregtigheid veronderstel is om binne-in ons te verrig: “En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid” (Jesaja 32:17). As ons waarlik in geregtigheid wandel, sal ons lewens die vrug dra van ‘n kalm gees, stille hart en vrede met God.

Petrus praat van “die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God” (1 Petrus 3:4). So ‘n gees het niks te doen met ‘n temperament of persoonlikheid nie. Sommige mense is immers natuurlik geneig om kalm en skaam te wees, terwyl ander bloot morbied is. Nee, die sagmoedige, stille gees waarna Petrus verwys, kan slegs deur die Heilige Gees in ons geplant word. En Hy gee dit aan almal wat die Here ten volle vertrou in alle dinge.

As Jesaja egter rondom hom kyk, het hy gesien hoe God se volk na Egipte gevlug het vir hulp, waar hulle op mense vertrou het en op perde en strydwaens staatgemaak het. Die profeet het gewaarsku, “Ja, die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie gees nie; as die HERE sy hand uitstrek, dan struikel die helper, en wie gehelp is, val; en saam gaan hulle almal te gronde” (Jesaja 31:3).

Ambassadeurs het gekom en gegaan. Leiers het noodvergaderings gehou om strategië te beplan. Almal was paniekerig en het geween, “Wat kan ons doen? Die Arameërs gaan ons uitwis.”

Maar Jesaja het hulle verseker, “Dit hoef nie so te wees nie. Keer terug van julle afvalligheid af. Bekeer julle van julle opstandigheid om op ander te vertrou. Wend julle tot die Here en Hy sal julle met ‘n kombers van vrede bedek. Hy sal julle stilte en rus gee te midde van alles wat julle beleef.”

Rut is ‘n voorbeeld van hierdie soort vertroue. Nadat haar man gesterf het, het Rut by haar skoonmoeder, Naomi, wat heel bejaard was, gewoon. Naomi was begaan oor Rut se welstand en wou haar skoondogter se toekoms verseker. Daarom het sy Rut raad gegee om by die voete van die welgestelde Boas te gaan lê en hom te vra om sy verpligting aan haar na te kom, omdat hy haar losser was.

Daardie aand, na die dag se uitwanning klaar was, het Boas gaan lê “by die end van die hoop” (Rut 3:7) en ‘n kombers oor hom getrek. Die volgende oggend het hy verskrik wakker geword toe ‘n vrou by sy voete lê. (Daar was niks onsedelik oor Rut se teenwoordighed daar nie; dit was ‘n algemene gebruik van die tyd.)

Rut het vir hom gesê, “Brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser” (Rut 3:9). Sy het in wese gesê, “Sal jy die verpligting van ‘n losser vir my opneem? Sal jy vir my voorsien?” Kortliks, sy het gevra, “Sal jy met jy trou?”

Dit was geen manipulerende skema nie. Rut en Naomi het alles in goddelike orde gedoen. Ons kan daarvan seker wees, want Christus se bloedlyn kom deur Rut. Toe Rut teruggekeer huistoe, het Naomi gevra, “En toe, my dogter?” (Rut 3:16). Sy het met ander woorde gevra, “Sal ek jou verloofde Rut noem? Of is jy steeds weduwee Rut?”

Rut en Naomi het vir Naomi alles vertel wat gebeur het. Luister nou na haar goddelike skoonmoeder se raad: “Sit stil, my dogter, totdat jy weet hoe die saak uitval; want die man sal nie rus tensy hy vandag nog die saak afgehandel het nie” (Rut 3:18). Naomi het oor die saak gebid en God se leiding gesoek. En God het haar raad gegee. Hy het haar herinner aan die wet van die losser uit die familie (wat ‘n tipe en skaduwee van Christus was). So, Naomi was vol vertroue dat sy en Rut húlle deel gedoen het. Nou was dit tyd om stil te sit en God te vertrou om te doen wat Hy belowe het. Sy het in wese gesê, “Dit is nou alles in die Here se hande, Rut. Ontspan net en wees rustig. God sal bonatuurlik vir jou optree, so jy hoef nie bekommerd of angstig te wees, of enigiets te manipuleer nie. Laat rustigheid en vertroue jou sterkte wees. God sal nie Boas laat rus totdat hy ‘n ring aan jou vinger gesit het nie.”

‘n Kalmte en vrede het oor Naomi se huis neergedaal. Niemand het waansinnig vingernaels gebyt en gewonder, “Sal God dit doen? Wanneer sal dit gebeur?” nie. Hierdie twee getroue vroue kon ontspan, sing en die Here vir sy goedheid prys.

Wat van jou huis? Is jou huis ‘n rustige, vredevolle woning? Of is dit ‘n plek van twyfel, vrae, angs en rusteloosheid? Hardloop jy heen en weer bekommerd rond, “Hoe gaan ek die rekeninge betaal?” Wanneer moeilikheid kom, soek jy God ywerig voor enige ander bron? Gehoorsaam jy dan alles wat Hy vir jou sê om te doen? Laastens, is jy stil, rustig en vertrou jy Hom vir die uiteinde? As dit so is, sal jou huis kalm en rustig wees.

“Welgeluksalig is almal wat op Hom wag...jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep...en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan...Die lied sal by julle wees soos in die nag...en julle sal vrolik wees van hart” (Jesaja 30:18-19,21,29). Jesaja het in wese gesê, “As jy net op die Here wag — as jy weer tot Hom sal uitroep en sal terugkeer daarna om Hom te vertrou — sal Hy vir jou alles doen wat ek gesê het en meer.”

God kan net ‘n woord spreek en die vyand sal voor ons val: “Want vir die stem van die HERE sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy slaan” (Jesaja 30:31). Geliefde, daar is geen saak wat ons Vader nie kan oplos nie, geen stryd wat Hy nie vir ons met ‘n blote woord van sy lippe kan wen nie. Jesaja sê, “die asem van die HERE” sal alles in ons pad verteer (sien Jesaja 30:33).

Hierdie proses van om op die HERE te vertrou in alle dinge, is egter nie maklik nie. Onlangs in gebed, het ek die Here gesoek oor ‘n situasie in sake ons kerkgebou hier in New York Stad. Daar was moontlik ‘n maatskappy, wat ‘n vyftig-verdieping hotel bo-op ons gebou wou bou. (Die probleem het te doen met wat genoem word “lugregte” in die stad — dit is, die ruimte bokant bestaande geboue, wat bestaan uit potensiële ruimte vir geboue. Ons het nie die lugregte bokant ons gebou besit nie — dit was te duur vir ons om te koop — so ons kon nie hierdie maatskappy wetlik keer nie. Ruimte kom op ‘n premie in Manhattan, so selfs die lugruimte bokant gebou kan verkoop word as eiendom.

Ek het gebid dat nie een steen van ons gebou verwyder sou word nie. Ek het vir God gesê, “Ek vertrou U met hierdie dinge, Vader. Ek het U daaroor gesoek en ek het vrede daaroor.” Hier is hoe Hy my geantwoord het: “David, Ek is verwonderd dat jy My kan vertrou met jou eiendom, finansies en ander materiële dinge. Jy wil My egter steeds nie met jou fisieke gesondheid vertrou nie.

Ek was baie bewus daarvan dat ek binnekort sewentig sal wees. En ek was oorbesorg oor wat met my familie sou gebeur nadat ek weg is. Nou het die Here se oortuigende woorde my soos donderslag getref. Ek het alle materiële sake in sy hande geplaas, maar nie die ewige sake nie. Ek het besef, “Here, U wil hê dat ek U met alles vertrou, is dit nie so nie?”

Ja, geliefde, Hy wil dit alles hê — jou gesondheid, jou familie, jou toekoms. Hy wil hê jy moet Hom vertrou in elke saak. En Hy wil hê jy moet in stilte, vertroue en rus woon. So, gaan na jou binnekamer en kom alleen voor die Here. Bring alles na Hom toe. Hy het belowe. “Jy sal my woord agter jou hoor en jou wys watter pad om te volg. Dit is die weg — wandel nou daarin.”