DIE GEHEIM TOT ‘N OORWINNENDE LEWE

David Wilkerson (1931-2011)

“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid, en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (Judas 20-21).

Terwyl ek hierdie verse in Judas gelees het, het ek gehoor hoe die Gees saggies gefluister het: “David, ek wil hê dat jy die volheid en vreugde van my liefde sal ervaar. Jy het die teologie reg. Maar jy het nog nooit die ware rus in jou siel ervaar wanneer jy jouself in my liefde bewaar nie. Tot nou toe was jy nog net tot by jou enkels in my liefde, maar daar is ‘n hele oseaan van my liefde waarin jy kan swem.”

Die Bybel is vol van waarhede oor God se liefde. Ek erken egter dat ek myself soms veroorloof om te wonder hoe God my ooit kan liefhê. Dit is nie dat ek aan sy liefde twyfel nie. Dit is meer ‘n mislukking van my kant af om myself in die wete en versekering van sy liefde vir my te bewaar.

Die openbaring van God se liefde kom gedeeltelik wanneer ons weergebore word. As jy vir die meeste Christene sou vra wat hulle weet van God se liefde vir hulle, sou hulle sê, “Ek weet God is lief vir my, omdat Hy sy Seun gestuur het om vir my te sterf en vir my sonde te betaal.” Hulle sal Johannes 3:16 aanhaal: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Dit is ‘n wonderlike oomblik wanneer jy hierdie waarheid verstaan. Skielik besef jy, “God het my liefgehad toe ek ‘n verlore sondaar en ‘n vreemdeling was. Hy het sy liefde vir my bewys deur sy eie Seun vir my op te offer.”

Om die liefde van God egter te verstaan, is die geheim van ‘n oorvloedige lewe. Menigtes word geestelik koud en lui omdat hulle onbekend is met die Vader se liefde vir hulle. Hulle weet nie dat hulle grootste wapen teen Satan se aanvalle juis is, om ten volle bewus te wees van God se liefde vir hulle deur die openbaring van die Heilige Gees.