DIE GEES VAN WETTELOOSHEID

David Wilkerson

“Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk” (2 Thessalonicense 2:7).

Die Griekse woord wat Paulus in hierdie gedeelte gebruik vir ongeregtigheid beteken letterlik wetteloosheid. Daarom is hierdie verborgenheid een van wetteloosheid – optrede sonder wet of beperkinge.

Hierdie wetteloosheid is nie bloot ‘n rebellie teen die heerskappy van die mens nie. Dit gaan nie daaroor om teen burgerlike gesag te rebelleer of om ‘n gewelddadige misdaad te pleeg nie. Hierdie dinge ontlok wel God se toorn, maar die verborgenheid van wetteloosheid is baie dieper. Dit is ‘n blatante verwerping van die waarheid wat in Christus is – ‘n verwerping van God se Heilige Woord en Sy gebooie.

Hierdie gees se wetteloosheid vier hoogty in ons land vandag. Dit is die werklike mag agter die wetgewing wat God uit ons samelewing wil verban; dieselfde gees wat Satan gebruik het om Eva te verlei toe hy vir haar gesê het, “God sal jou nie straf vir ongehoorsaamheid nie. Jy kan die vrug eet en jy sal nie daarvoor gestraf word nie!”

Satan gebruik dieselfde leuen op Christene vandag; dag na dag, oortuig hy massas gelowiges dat hulle kan sondig sonder om enige straf te ontvang. Dit is ‘n demoniese skelmstreek om Christus se evangelie van genade te verdraai.

Dit is tragies dat talle louwarm Christene toegee aan hierdie gees van wetteloosheid. Paulus sê die Antichris sal aan bewind kom, omdat mense verblind en mislei sal wees deur hulle eie sonde (sien 2 Thessalonicense 2:9-10).

Satan sal massas mense mislei, net soos hy vir Eva mislei het, deur hulle te oortuig van ‘n subtiele, maar kragtige leuen: “God straf nie sonde nie!””

Paulus sê hierdie misleiding sal kom “omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (vers 10). Hy voeg dan by, “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo” (vers 11).

Die apostel sê in wese, “Diegene wat weier om God se woord te gehoorsaam of te eerbiedig, sal onder kragtige misleiding val. Eers sal hulle hul sonde oorsien en dit regverdig. Maar gou sal hulle aktief ‘n boodskap van maklike genade soek. Hulle sal in werklikheid ‘n genade uitdink wat verder strek as wat God bedoel het. Sy genade lei nooit tot bandeloosheid nie en lei altyd tot bekering!”