Die Enigste Hoop in die Komende Storm!

David Wilkerson

God het aan die profeet Sagaría belowe dat Hy in die laaste dae ‘n beskermende muur van vuur rondom sy mense sal wees: “En Ek sal vir hom wees, spreek die Here, ‘n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in” (Sagaría  2:5).

Net so, het Jesaja ook hiervan getuig: “Want U was...’n skaduwee teen die hitte – want die geblaas van die tiranne is soos ‘n stortreën teen ‘n muur” (Jesaja 25:4). “En daar sal ‘n afdak wees vir ‘n skaduwee bedags teen die hitte en vir ‘n skuilplek en toevlug teen die stortbui en die reën” (Jesaja 4:6).

Hierdie beloftes is bedoel om ons as “vooraf waarskuwings” te vertroos - want al die profete het gewaarsku oor ‘n groot storm wat in die laaste dae sal kom en hewig teen God se muur van beskerming sal woed.

Jesus sê inderdaad dat die komende storm so vreesaanjaend en oorweldigend sal wees, dat mense se harte sal beswyk as hulle dit sien ontwikkel (sien Lukas 21:26). As Jesus sê dat hierdie storm erg sal wees, dan moet ons weet dat dit ‘n ontsagwekkende oomblik in die geskiedenis sal wees. Die Bybel verseker ons egter dat God nooit sy oordeel op enige gemeenskap stuur tensy Hy nie eers sy plan aan sy profete geopenbaar het nie: “Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadbesluit aan sy knegte die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7).

Dit is ‘n wonderlike uiting van ons Here se groot liefde vir sy mense. En as jy die Bybelse profete se geskrifte noukeuring bestudeer, sal jy sien dat God konsekwent op hierdie manier optree. Net voor enige dreigende storm of oordeel, beveel Hy altyd sy profete om die mense te waarsku om hulle tot Hom te bekeer: “Ek het ook tot die profete gespreek, en Ek het gesigte vermenigvuldig en deur middel van die profete gelykenisse voorgedra” (Hoséa 12:10).

Verder is God getrou om in tye van oorvloed te spreek, voordat die woede van sy oordeel tref. Terwyl die stormwolke besig is om saam te pak, rig Hy profetiese stemme regoor die land op. En volgens die Skrif, wanneer ‘n sondige nasie voorspoed en vrede geniet het, het God sy profete beveel om hulle te waarsku dat die goeie tye gou tot ‘n einde sou kom: “Is dit nie so met die woorde wat die Here deur die diens van die vroeëre profete verkondig het nie, toe Jerusalem en sy omliggende stede nog bewoond en rustig was” (Sagaría 7:7).

Soms is God se boodskap so sterk, dat Hy sy woordvoerders beveel om hulle waarskuwings deurdringend en vurig te maak: “Daarom het Ek hulle neergekap deur die profete, hulle gedood deur die woorde van my mond” (Hoséa 6:5). Met ander woorde: “Die woord wat Ek vir jou stuur, sal so duidelik wees dat dit jou sal kasty indien jou hart oop is. Dit sal veroorsaak dat jy op jou aangesig val en jouself bekeer.”

Ons moet altyd die volgende in gedagte hou, God se enigste doel daarin om ons na Hom toe terug te roep, is om ons in stormagtige tye te beskerm. Dikwels in die Bybel se geskiedenis wanneer Hy hierdie waarskuwings gegee het, het die mense egter geweier om te luister: “En Hy het profete onder hulle gestuur om hulle na die Here terug te bring; en dié het hulle gewaarsku, maar hulle het nie gehoor gegee nie” (2 Kronieke 24:19).

Amper altyd het God se volk moeg geraak vir hierdie waarskuwings. Dit was veral waar wanneer ‘n profeet oor ‘n tydperk van ‘n aantal jare oor ‘n naderende storm geprofeteer het, terwyl daardie gemeenskap voortgegaan het om voorspoed en vrede te hê. Met verloop van tyd, het die mense die profete se stemme begin stil maak. Hulle wou dit eenvoudig net nie meer hoor nie.

Ons sien dit in Israel se reaksie op die profeet Jesaja. Die mense het vir hom gesê, “Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry” (Jesaja 30:10).

Kan jy jouself indink om ooit in so ‘n toestand te verval? Hierdie mense het geweet dat Jesaja die waarheid vertel het – dat ‘n groot storm aan die kom was – maar hulle het moeg geraak om dit te hoor. Hulle het verkies om “goeie dinge” te hoor. Die Hebreeuse woord vir “goeie” beteken “aangenaam, onverstoord.” Met ander woorde, het hulle vir Jesaja gesê, “Moenie enigiets vir ons preek wat ons lewens soos wat dit nou is, sal onstel of ontsenu nie.”

Vandag het hierdie toestand in die kerk van Jesus Christus ingesluip. Gelowiges wat al vir baie jare aan Jesus toegewy is, skakel hulle televisiestelle aan net om nog meer verslae van geweld, rampe, hongersnood, misdaad en onsedelikheid te sien. Na ‘n ruk, word hulle gedagtes vol van al die slegte nuus en hulle harte word verhard daarteen. Vir hulle is selfs die slegste nuusberig “net nog ‘n storie in die nuus.”

Ek wonder dikwels: Kan enigiets ons steeds ontstel? Ons het reeds van elke moontlike soort slegte nuus gehoor. Watter ramp of tragedie bly oor wat ons kan skok?

Geliefde, God word ontstel deur hierdie soort reaksie van sy mense! Ons sien dit in die waarskuwings van die profeet Esegiël. In die tydperk wat Esegiël geprofeteer het, was Israel voorspoedig en het vrede gehad met die nasies rondom hulle. Die Here het egter vir Esegiël beveel om hierdie boodskap oor te dra: “En Ek sal die land ‘n wildernis en ‘n woesteny maak, en aan sy trotse mag sal ‘n einde kom; en die berge van Israel sal woes wees...oor al hul gruwels at hulle bedryf het” (Esegiël 33:28-29).

Die profeet het kruis en dwars die land deur getrek en God se waarskuwings vir verskeie jare lank verkondig. Maar die mense het moeg geraak om na hom te luister. Gedurende daardie tydperk het nie een van Esegiël se woorde immers waar geword nie. In teendeel, die nasie het net nog meer voorspoedig geword.

Met verloop van tyd, het Esegiël se profesieë vir die volk ‘n bron van vermaak geword. Hulle het hom name agter sy rug begin noem – name wat waarskynlik soortgelyk was aan dié wat ons oor die jare genoem is: “oordeelsdagprediker,” “die man wat nooit glimlag nie,” “Mr. Slegte Nuus.” Esegiël het uiteindelik keelvol geraak en gesê, “Here, U het my mislei. Niks wat U vir my gesê het, het waar geword nie. En nou spot almal met my!”

“Kom tog en hoor wat die woord is wat van die Here uitgaan. En hulle kom na jou toe soos ‘n volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan...hulle hoor jou woorde maar hulle doen dit nie. Maar as dit kom – kyk, dit kom! – dan sal hulle weet dat daar ‘n profeet onder hulle gewees het” (Esegiël 33:30-33).

Laat my toe om vir jou te vra: Het jy by ‘n plek gekom waar jy in jou hart gesê het, “Ek het alles reeds gehoor. Ek wil niks meer hoor nie”? As dit so is, wees gewaarsku!

Soos met vorige gemeenskappe en gelowige liggame, is die kerk nie in ‘n bui om slegte nuus te ontvang nie.

Die grootste deel van die kerkgangers van vandag, verwerp terdeë alle profetiese waarskuwings van ‘n komende storm.Die Amerikaanse kerk is inderdaad die mees blatante “voel goed” kerk in die hele geskiedenis. Maar soos Israel, ervaar ons nou slegs die stilte voor die storm!

Terwyl Moses veertig dae op die berg deurgebring het, het Israel in ‘n gees van wetteloosheid verval. Die mense wou speel en ontspan en daarom het hulle alle goddelikheid laat vaar. Jy onthou die gevolge: Dit het in ‘n dronk, kaal orgie rondom die goue kalf geëindig.

Net soos vandag, werp Christene by die duisende die juk van Christus van hulle af en alle reëls en grense daarmee saam. Hierdie gesindheid is algemeen in baie boeke en tydskrifte in Christelike boekwinkels. Dit is amper asof ons leiers sê, “Ontspan, God is nie hardvogtig nie, Hy is ons Pappa, ons is sy kinders en ons is bedoel om onsself te geniet. Moenie dat enigiemand jou pret bederf nie.”

‘n Paar jaar gelede, het drie pastore van groot charismatiese kerke openlik verklaar dat hulle glo dat God ruk-en-rol en rap musiek sou gebruik om die volgende groot herlewing te bring. Een van hierdie bedienaars het selfs ‘n stelling gemaak dat God die Beatles sou gebruik om mense se harte vir die Heilige Gees oop te maak. Nee – nooit! Daardie jongmanne het seks en dwelms verheerlik. Hoe kan dit ooit die werk van die Heilige Gees wees?

Een Christen tydskrif het voorspel dat die volgende beweging in die kerk ‘n “nagklub” benadering sou wees – dienste wat dans, “amper-bier” alkohol en komediante sou insluit. Een pastoor het vir my vertel dat dit reeds in kerke dwarsdeur Engeland en Europa gebeur. Die kerke kan nie die mense se belangstelling hou nie – daarom verander hulle dit in nagklubs!

Daarmee saam, bedien talle “sondaar-vriendelike” kerke in Amerika nou koffie tydens hulle oggendienste. Die mense sit met hulle voete op stoele en staan nooit op vir aanbidding nie. By een so ‘n kerk, was ‘n besoekende gospel sanger gemaan om nie iets te sing wat sonde of Christus se bloed noem nie, omdat dit besoekers mag affronteer. Daardie kerkleiers het probeer om ‘n “vertroosting-sone” vir sonde te skep!

Jy mag dit moeilik vind om jou voor te stel hoe die Israeliete nakend rondom die goue kalf gedans het. Maar moenie vir een oomblik dink so iets kan nie in die kerk gebeur vandag nie. Binnekort gaan ons wellustige, sensuele en lasterlike vorms van godsdiens sien reguit uit die put van die hel. Die Bybel sê inderdaad dat ‘n tyd kom waarin God se mense nie meer verleë sal word en bloos nie. En tans is die kerk se onskuld weg – omdat ons reeds so baie gesien en gehoor het. Dit is egter net die begin!

Jy mag vra – waarom word so baie bedienaars en gelowiges mislei? Waarom is daar so min onderskeiding in God se huis? Waarom trek die mees bisarre, wêreldse bewegings so baie volgelinge? Ek glo die antwoord lê in die profesie van Amos:

“Kyk, daar kom dae, spreek die Here Here, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor” (Amos 8:11). Let op dat hierdie vers nie sê dat daar nie meer gepreek sal word nie. God sal nooit sy waarskuwings van sy kerk weerhou nie  –  omdat net sy waarheid ons kan vrymaak. Dit is waarom Hy sy profete, leraars en evangeliste stuur om die waarheid met ons te praat.

Nee, Amos se profesie gaan nie oor oppervlakkige, ligte prediking wat ons vandag hoor nie; dit sê nie dat daar ‘n gebrek sal wees aan waarheid nie. Wat die kerk vandag ervaar is eerder ‘n honger om te hoor! Daar is ‘n onwilligheid om die ware Woord van God te hoor. In plaas daarvan, sluit mense hulle oë en ore, terwyl hulle hul harte verhard en sê, “Ek wil nie meer hoor nie.”

Ek glo ons beleef op hierdie oomblik die stilte voor die grootste storm wat Amerika ooit getref het.

Ek het hierdie boodskap die eerste keer lewer as ‘n preek in Time Square Church op 4 April 1997. Net twee dae voor dit, op Vrydag, 2 April, het die aandelebeurs sy hoogste ooit van 7,000 punte bereik. Nuusuitsendings en tydskrifte het geroem: “Amerika geniet sy grootste voorspoed ooit. Werkloosheid het onder die 5% gedaal en daar is baie min arbeidsonrus. Winste is hoër as ooit tevore en mense se koopkrag het gestyg. Terselftertyd, is rentekoerse laag en huisverkope is aan die styg. Amerika ry op die kruin van ‘n voorspoedsgolf van goeie nuus, voorspoed en vrede.”

Dit alles klink soos goeie nuus, nê? Die Bybel sê egter wanneer mense roep, “Vrede en voorspoed!”, dan is skielike vernietiging op die punt om te tref.

Oor die jare, het ek briewe ontvang van mense wat sê, “Jy profeteer nou al vir jare oor die ‘stormwolke wat saampak’ en ‘n ‘komende ineenstorting.’ Al wat jy egter doen is om ‘n klomp Christene, wat jou woorde glo, bang te maak. Die teenoorgestelde het in der waarheid gebeur het. In plaas van ‘n storm, beleef ons ‘n oplewing in die ekonomie met rekordbrekende voorspoed. Daar is nie een teken op die horison wat ‘n komende krisis aandui nie.”

Trouens, die apostel Petrus het voorspel dat baie gelowiges op hierdie manier sou reageer: “Spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3-4). Met ander woorde: “Mense sal sê, ‘Waar is die sogenaamde storm? Alles gaan maar net aan soos dit nog altyd aangegaan het!’”

Geliefde, God het elke vorige samelewing geoordeel vir kleinder sondes as Amerika s’n. Beskou:

  • Geen ander nasie het meer baba’s doodgemaak deur aborsie as die Verenigde State nie. Ons grond roep uit met bloed van hierdie kinders! Ons sal eerder die lewe van ‘n walvis red, as een van ons eie baba’s.
  • Amerika het die wêreld se hoogste koers van ongehude swangerskappe.
  • Tienermisdaad in hierdie land is die hoogste in die vrye wêreld.
  • Amerikaners spandeer nou meer geld op hondekos as op buitelandse sendingwerk.
  • Ons het begin om homosekualisme en lesbiese liefde te verheerlik. Ons media prys die “dapperheid” van homoseksuele wat hulle seksuele oriëntasie openbaar maak – maar ons moet eintlik daaroor treur! TV se “Ellen” was as ‘n heldin geëeer toe sy op nasionale televisie uit die kas geklim het. Eens sou Christene dwarsdeur die land egter tot God om genade uitgeroep het oor sulke immoraliteit.
  • Netwerk nuusberigte wys beelde van halfnaakte gay vroue in Florida wat “Lesbian Pride Week” vier. ‘n Geraamde 30,000 vroue het bymekaargekom om hulle oor te gee aan dronk orgies elke hele nag vir ‘n week lank. “Dit is wonderlik dat ons almal hier saam is.” Maar dit moet God se hart breek! Radikale homoseksuele roep uit tot die samelewing, “Ek is in jou gesig!” Wat hulle egter regtig sê, is, “In u gesig, God!”
  • Amerika het God brutaal uit sy skole en howe geskop. Nou is daar selfs ‘n beweging om sy Naam van die Pledge of Allegiance en van alle V.S. munte af te haal. Mense wil nie selfs nie meer die noem van sy Naam hoor nie!
  • Vyftig miljoen Amerikaners rook nou dagga en miljoene meer is verslaaf aan heroïene, tik en ander harde dwelms.
  • Ons skole het bastionne van laster en agnostisisme geword. Ons kinders is beroof van alle morele standaarde en alle toegang tot God geweier – en hulle reageer deur meer gewelddadig en rebels te word.

Geliefde, God het Noag se samelewing, sowel as Sodom, vir kleiner sondes as ons s’n vernietig. Wat ‘n arrogansie om te dink dat terwyl hierdie samelewings ernstig geoordeel is, ons gespaar sal word!

Baie binnekort sal Amerika wakker word met nuus van rampspoed – en die storm sal skielik op ons wees!

Die Psalmis het beskryf hoe God se roede van oordeel oornag sal toeslaan: “Want in die hand van die HERE is ‘n beker, en die wyn skuim; dit is oorvloedig gemeng, en Hy skink daaruit; ja, die afsaksel daarvan moet al die goddelose van die aarde opslurp, uitdrink...En ek sal al die horings van die goddelose mense stukkend slaan...” (Psalm 75:9,11).

In Openbaring, word hierdie beker genoem “...die beker van sy toorn...” (Openbaring 14:10). Met ander woorde, dit is vol van God se toorn. Eenvoudig gestel, Amerika se beker van ongeregtigheid loop oor – en al ons sondes gaan lei tot sy heilige toorn!

Jy mag sê, “Waarom moet jy mense so bangmaak? Waarom kan ons nie net hierdie voorspoed geniet terwyl dit hier is nie? Jy moet bly wees oor al die goeie dinge wat gebeur, veral in New York Stad. Walt Disney het ingetrek en die eens toiingrige 42ste Straat oorgeneem. Nou is al die morsige en pornografiese winkels weg en alles in Times Square is familie-georiënteerd. Daar sal nie meer opstande hier wees met oor die duisend brande soos wat jy voorspel het nie. Ontspan pastoor, geniet dit!”

Nee – Mickey Mouse kan nie die komende storm keer nie! Trouens, Disney het een van die wêreld se mees verdorwe mediastelsels geword. Hulle films is vol homoseksualiteit, geweld en die okkult. Trouens, sulke besighede is die ware rede waarom God die storm sal stuur – en dit sal gou kom!

As ‘n jong seun onthou ek die skielike nuusberig wat ek gehoor het en Amerika se vredevolle sluimers eensklap verander het. Ons familie het op ‘n pragtige, vredevolle Sondagmiddag gery na ‘n plattelandse kerk waar my vader sou gaan preek. Ons het pas vir roomys gestop toe ‘n skielike nuusberig oor die motorradio uitgesaai is: “Ons onderbreek hierdie program om julle die nuusberig te bring: Japan het Pearl Harbor gebom!” Ek onthou steeds die kyk op Pa se gesig; dit was pure ongeloof.

Daardie nag by die kerk, was almal verward. “Wat is aan die gebeur?” het hulle hardop gewonder. “Hoe kon ons so skielik gebom word? In die opeenvolgende dae, het ons tye gehad waarin ons die vensters van ons huise en skole moes bedek om geen lig deur te laat nie. Almal het ‘n skielike bomaanval gevrees!

En geliefde, so sal dit skielik wees wanneer die storm toeslaan. Dit sal inkom soos ‘n dief in die nag en skielike paniek en ongeloof bring. Op hierdie oomblik mag jy dink, “Laat dit kom! As rampspoed tref, sal ek dan daarmee deel. Trouens, ek is in God se hande. Ek sal gereed wees – so ek gaan nie daaroor bekommerd wees nie. Jesus sal my deurdra.”

Laat my jou vra: Waarom beveel God sy profete om hulle waarskuwings van die dakke af te verkondig? Hy wil sy mense waarsku –  om ons aan te spoor om Hom te soek. Hy wil ons oortuig van sonde oor ons pogings om Christus se juk af te gooi en met die wêreld te heul. Hy wil hê ons moet ons oë op Jesus hou – om die hemelse dinge te soek – omdat dit die enigste dinge is wat staande sal bly in die komende storm.

Laat my toe om jou die enigste hoop te midde van die komende storm te gee!

Net voor sy dood en opstanding, het Jesus die vreeslikste storm in die vooruitsig gesien. Hy het gesien wat voorgelê het: Jerusalem sou deur magtige leërs omsingel word, die tempel sou verwoes word, die stad sou heeltemal afgebrand word en duisende sou sterf op kruise wat deur die invallende vyand opgerig sou word. Die hele gemeenskap was op die punt om in duie te stort.

Jesus was die verpersoonliking van God se liefde. En tog het Hy gewaarsku, geprofeteer en geween oor sy samelewing, omdat Hy geweet het wat sou kom: “Want daar sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matthéüs 24:21-22).

As jy daaraan dink, was Jesus se tyd baie soos ons s’n. Vrede, kalmte en voorspoed het geheers. Kinders het in die strate gespeel. Daar was nêrens enige tekens van oordeel nie. Jesus het egter sy samelewing beskryf as ‘n geslag van adders: priesters wat weduwees besteel het, spotters, lasteraars, egbrekers, kindermishandelaars, ‘n korrupte kerk vol geldwisselaars, ‘n bediening gevul met wolwe in skaapsklere, valse getuies, leuenaars, bedrieërs, skynheiliges, liefhebbers van genot, hoereerders en bedorwe kinders. Hy het gewaarsku, “Julle is op die punt om omsingel te word met vyandige leërs. Berei nou julle harte voor, want daar is ‘n storm aan die kom.”

Terwyl ek hierdie boodskap voorberei het, was ek oorweldig deur ‘n onheilspellende gees. Al waaraan ek kon dink, was die kerk se vreeslike toestand en hoe die duiwel subtiele euwels gebruik om God se uitverkose mense te mislei. Christene is klaarblyklik meestal op hulle eie behoeftes gefokus – “my behoeftes, my probleme, my verlede, my toekoms – hoe my ouers my seergemaak het, hoe die kerk my verwond het en hoe my vriende my gefaal het.” God se mense huil nie meer oor ‘n sterwende wêreld nie!

Vir ‘n rukkie het dit my oorweldig. Toe het die Heilige Gees aan my gewys hoe ons Here op die komende storm gereageer het. Die apostel Johannes skryf, “Want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld” (1 Johannes 4:17). Die eenvoudige waarheid is dat ons Jesus se gedagtes in alle dinge moet hê – anders sal ons harte beswyk!

Die Bybel gee geen bewyse dat Christus terneergedruk, vreesagtig of wanhopig was nie. Hy het nie paniekerig geword of moed verloor nie. Ten spyte van alles wat Hy sien kom het, het Hy die uiteinde geken. Hy het geweet dat die poorte van die hel nie God se mense sou kon oorwin nie!

Dawid gee ons ‘n duidelike beeld van Jesus se gesindheid ter aankoue van die komende storm. Hy praat profeties van Christus en sê, “Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie” (Handelinge 2:25). Die letterlike betekenis hier is, “Ek was altyd in sy teenwoordigheid en het sy aangesig aanskou.” Dawid het Jesus aangehaal, “Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop” (Handelinge 2:26). Hier is die geheim: Jesus het die Vader altyd voor sy oë gehou!

Jesus het gedurigdeur skuilplekke uitgekies om met sy Vader afgesonder te wees. En dit was net nadat Hy in God se teenwoordigheid was, dat Hy uitgekom het om te bedien, terwyl Hy ten volle oortuig was dat sy Vader altyd met Hom was: “Hy is aan my regterhand – en niks op hierdie aarde kan my laat wankel nie!” Die Griekse woord vir “wankel” beteken “steur, skud, ontstel.” Jesus het bedoel, “Nie een van hierdie probleme, euwels of komende gebeurtenisse kan my terneergedruk maak of my vertroue skud nie. My Vader is in algehele beheer.”

Geliefde, as ons die storm wat kom, gaan trotseer, dan moet ons voorbereid wees sodat niks ons gees sal ontstel nie. Die enigste manier om dit te doen is om tyd in die Vader se teenwoordigheid deur te bring en sy aangesig te aanskou. Ons moet afgesonder wees met Hom – op ons knieë – totdat ons heeltemal oortuig is dat Hy aan ons regterhand is!

God sê baie duidelik vir ons, “Moenie onsteld of verontrus wees deur enigiets wat jy sien nie. Hou jou oë op My gefokus – en jy sal jou vreugde behou.” Volgens Dawid het Jesus getuig, “U sal My vervul met vreugde by u aangesig” (Handelinge 2:28).

Dit is asof Christus vir ons sê, “Ek het alles wat jy gaan beleef in die laaste dae reeds beleef. Ek het dieselfde onheilspellende gevoelens gehad omdat Ek die naderende storm gesien het. Maar Ek het in die teenwoordigheid van my Vader gaan skuil en Hy het al my bekommernisse weggeneem! Hy het my die uiteinde van alles laat sien. En in sy teenwoordigheid het ek al die vreugde, hoop en rus wat ek ooit tot die einde nodig sou hê, gevind. Ek het vrede en vreugde omdat Ek by Hom was.” “Ook sal my vlees nog rus in hoop” (Handelinge 2:26).