Die Eksklusiwiteit van Christus

Op Donderdag, 20 September, 2001, het die President van die Verenigde State ‘n kragtige toespraak gegee voor die gesamentlike sessie van die Kongress. Hy het Amerika gewaarsku dat ons nou in ‘n oorlog gewikkel is teen wêreldwye terrorisme. Die President het gesê hierdie oorlog is tussen vryheid en godsdienstige terrorisme. Die terroriste waarteen ons oorlog maak wil hulle godsdienstige geloof op die hele wêreld afdwing.

Dit is in der waarheid die erkende doel van alle Islamitiese ekstremiste. Hulle wil die Bybel met die Koran vervang. En hulle wil een godsdiens op die aarde afdwing: Islam.

Die huidige oorlog strek egter verder as hierdie konflik. Die oorlog waarin ons gewikkel is, was nog altyd, en sal altyd wees tussen twee ewige magte: Satan se owerhede en magte, en God se enigste Seun, die goddelike Christus. Laat my verduidelik.

Hierdie oorlog het eeue gelede in die hemel begin. ‘n Werklike oorlog het plaasgevind met die aartsengel Michael en ‘n leër van engele wat geveg het teen Lucifer en die rebelse engele wat hulle saam met hom geskaar het. “En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:7-9).

Lucifer, wat ons Satan noem, het die oorlog verloor. En hy was neergewerp saam met die ander rebelse engele (wat uit ‘n derde van al die engele in die hemel bestaan het). So het die oorlog op die aarde begin. Die duiwel het ‘n geheime, ondergrondse koninkryk gevorm met sy demoniese engele. En hy het ‘n oorlog teen God se mense begin deur die liggame van bose mense te beset.

Satan het sy eie godsdiens begin en diegene wat hy beset het, verenig in een wêreldwye liggaam. Hy het demoonbesete mense aangestel om profete, leraars en selfs heersers van nasies te wees. En hy het hulle uitgestuur om sy onheilige evangelie te verkondig. Maar die duiwel het ‘n probleem gehad. Hy kon nie bekeerlinge wen met sy leerstellinge nie. Hy kon niemand oortuig met sy evangelie nie. Waarom nie? Dit het geen lewe bewerkstellig nie. Dit kon nie vrede, blydskap of mag oor verslawende sonde bewerkstellig nie.

Satan moes hom daarom wend tot oorlogvoering. En sy wapens het geweld en vrees geword. Kortliks, die duiwel het ‘n leër van terroriste opgerig om teëstand te laat verbrokkel. En hy gebruik sy bloeddorstige leër om hele nasies oor te neem. Hy het samelewings onder sy demoniese heerskappy gebring en hy het miljoene sendelinge uit hierdie nasies vrygestel om sy evangelie te verkondig. Talle het sedertdien met hulle lewens betaal om sy een-wêreld godsdiens af te dwing.

Die oorlog wat Satan voer, was nog altyd teen God se mense. “En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het” (Openbaring 12:13). Hierdie vervolging teen God se kerk het begin in die wildernis. Satan het Egipte se Farao beset, sodat hy Israel kon vernietig deur slawearbeid. Die duiwel het geweet Christus sou deur die geslag van Israel kom. Daarom wou hy Israel vernietig om die geboorte van die “manlike kind” te keer.

Maar die Skrif sê ‘n “groot arend” het afgevlieg om God se mense te red: “Maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou kon word...” (Openbaring 12:14).

Die Here het sy kerk verlos uit Egipte en hulle bedek met goddelike vlerke van beskerming: “Want die Here se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel. Hy het hom gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel. Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels – die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie” (Deuteronómium 32:9-12).

Wat ‘n ongelooflike beeld. Soos ‘n kwaai moeder-arend, het God sy kerk opgetel en hulle deur elke beproewing gelei: by die Rooisee, in die woestyn en in die Beloofde Land. Hy alleen sou die “vrou,” wat die Christus sou baar, bewaar en beskerm.

Beskou hoe Satan ‘n stroom van versoekings gestuur het om Israel te verlei in die woestyn en in die  Beloofde Land.

Die Skrif sê vir ons die draak het Israel oorstroom met demoniese owerhede: “En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier” (Openbaring 12:15). Die doel van hierdie sataniese magte was om God se mense te verlei tot duiwelse afgodery. Ons sien dit gebeur toe die nasies Israel omsingel het en hulle uitgelok het met allerhande soorte sensualiteite.

Hierdie verskriklike demoniese stroom het voortgeduur dwarsdeur Israel se geskiedenis, van die tyd van die konings af tot by die profete. Dawid beskryf waar hy oorweldig was deur strominge van goddelose mense en diep waters. Net so skryf Jesaja, die vyand sal kom “soos ‘n saamgeperste stroom” (Jesaja 59:19).

Aan die einde van die Ou Testament, het die kerk gelyk of dit uiteindelik dodelik gewond was. Satan se vloed het pas amper God se mense verslaan. Teen hierdie tyd was Israel se aanbidding besoedel en gemeng met sensualiteit en afgodery. Die verskriklike toestand het veroorsaak dat God uitgeroep het tot sy mense, “Waar is die vrees vir My?” (Maleági 1:6). En teenoor die priesters het Hy gebulder, “o priesters wat my Naam verag...Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar...Ek het in julle geen welgevalle nie, sê die HERE van die leërskare, en in ‘n offer uit julle hand het Ek geen behae nie...

“Maar júlle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel...Julle vermoei die HERE met julle woorde...julle sê: Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die HERE, en in hulle het Hy ‘n behae” (Maleági 1:6-7,10; 2:8,17).

Aan die einde van Maleági, die laaste boek van die Ou Testament, sien ons ‘n ligstraal van hoop. Die Here verkondig in die laaste hoofstuk: “Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees...En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole op die dag wat Ek skep, sê die HERE van die leërskare” (Maleági 4:2-3).

God het ‘n geneesmiddel vir sy gewonde kerk. Die Son van Geregtigheid sou kom en oorwinning bring. Net toe die hel skynbaar gewen het, het die hemel uitgeroep, “Hulp is op pad. Moenie vrees nie. Die poorte van die hel sal nie oorwin teen God se mense nie.”

Jy sien, God het die hele tyd geweet hierdie demoniese stroom sou kom. Ons Here word nooit aan die slaap gevang nie. Hy ken die einde van die begin af. En Hy weet Satan se stroom teen die kerk moet verydel word voor dit hulle verteer.

Die Skrif openbaar die hulp wat aan die kom was: “En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Openbaring 12:16). Hulp het deur die opstanding van Christus gekom. Toe die “aarde haar mond oopgemaak het,” het dit die graf wat die Messias binnegehou het, oopgemaak. Satan kon nie Jesus verseël onder die aarde hou nie. God het die graf oopgemaak en Christus het opgestaan. En sy opstanding het die mag van Satan se stroom ingesluk. Die oorwinning van die kruis het die einde van alle teëstand van die hel vooraf bepaal.

Wat het volgende gebeur? “En die draak was vertoornd op die vrou, en het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openbaring 12:17). Wie is hierdie oorblyfsel van die vrou se saad? Dit is ons, die kerk. Die duiwel voer nou weer oorlog teen God se mense in hierdie laaste dae.

Maar Satan se aanvalle word nie gemik teen wat die wêreld die kerk noem nie. Sy stryd is nie teen godsdienstige stelsels nie. Satan val die heilige saad aan, die oorblyfsel wat Christus verheerlik. Hy voer oorlog teen diegene wat in Jesus Christus as Here glo en Hom verkondig.

Daar is een kwessie en saak in hierdie laaste oorlog.

Die kwessie in die middelpunt van hierdie oorlog is die goddelikheid van Jesus. Is Hy die Christus, die eniggeborene van die Vader, God in die vlees, die Verlosser van die wêreld? Of, was Jesus net nog ‘n profeet wat rond gegaan het en goed gedoen het? Was Hy ‘n gewone man, nie goddelik nie, nie die opgestane Verlosser wat saam met God in die hemel sit nie?

Die apostel Petrus getuig van die eksklusiwiteit van Christus: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Petrus maak dit absoluut eksklusief: geen ander naam onder die hemel bewerkstellig ewige verlossing nie. Jesus alleen is die Messias, die goddelike Seun van God. En Hy sal nie daardie heerlikheid met enige ander entiteit deel nie.

Net so stel Paulus dit, “En wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige” (Efésiërs 1:19-21). Paulus voeg dan by dat Jesus die eksklusiewe hoof van alle dinge is: “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Efésiërs 1:22-23).

Paulus toon ook aan dat elke skepsel Jesus eendag eksklusief as Here sal erken: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat go elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Filippense 2:9-11).

Elke tong in die skepping gaan getuig, nie dat Mohammed Here is nie, ook nie Allah nie, ook nie een van Hinduïsme se miljoen gode nie, maar dat Jesus Christus die een en enigste Lam van God is. Dit is die kwessie aan die hart van hierdie oorlog. Moet egter nie verkeerd verstaan nie: die huidige oorlog gaan nie oor ‘n naam nie. Dit gaan oor die goddelikheid van Jesus, die opgestane Here.

Op hierdie oomblik jaag die afvallige, ekumeniese kerk in die arms van Satan se strategie in vir ‘n een-wêreld kerk. Uiteindelik sal hierdie verenigde kerk die hele wêreld se belangrikste godsdienste insluit: Katolisisme, Griekse Ortodoksie, Islam, Buddhisme, Hinduïsme en selfs Protestantisme. En Satan sal een enkele kompromie maak tussen hierdie godsdienste om hierdie eenheid te bewerkstellig. Wat sal hulle saambind? Die naam van Jesus.

Natuurlik sal die Jesus wat hierdie groepe saambind ‘n ander Christus van ‘n ander evangelie wees. Hierdie naam sal egter veroorsaak dat eens-evangeliese denominasies met ander gelowe sal saamstem en sê, “Ons kan oor een ding saamstem: Jesus was ‘n leraar en ‘n profeet. En Hy is ‘n gees van menslike goedheid in almal van ons. Ons almal kan Hom aanvaar as ‘n heilige man.”

Stel jou voor, die Skepper van die heelal verkleineer tot dit. Jesus sal nie meer aanvaar word as die Christus, die goddelike Here nie. Die ekumeniese kerk sal wegdoen met alle idee’s van sy opstanding en reddende krag. In plaas daarvan, sal hulle Hom gebruik om ander te verenig in Satan se eie een-wêreld godsdiens.

Trouens, die wêreld kan ‘n Jesus wat net ‘n mens is, omhels. Satan het geen probleem daarmee nie. Hy kan die wêreld se bewondering en lof van net-‘n-mens Jesus aanvaar. Talle skrywers het in der waarheid Jesus se menslike werke geloof, maar sy goddelikheid verag. Sommige van die mooiste woorde wat ooit oor Hom geskryf is, was deur agnostiese bedienaars.

Kan jy Satan se “liefdesstrik” in al hierdie dinge sien?

Wanneer die duiwel se een-wêreld kerk uiteindelik sy boodskap dwarsdeur die wêreld uitbasuin, sal miljoene louwarm Christene mislei word. Hulle sal redeneer, “Hierdie alle-kerke eenheid moet reg wees. Sy leiers praat soveel van Jesus. Enigeen wat so baie van Jesus praat, moet ‘n wettige geloof hê.”

Hulle kon nie meer verkeerd wees nie. Die presiese mantra van Satan se duiwelse eenheid sal wees, “Jesus, Jesus, Jesus.” Vandag vra evangeliese leiers reeds. “Waarom kan alle groepe nie een in Jesus wees nie? Trouens, Jode erken Jesus as ‘n profeet. Moslems sien Hom as ‘n goeie man en ‘n wonderlike leraar. Selfs Sikhs en Hindus respekteer Jesus.”

Laat my hier stop om iets duidelik te maak: Ek is dankbaar vir die nasionale eenheid wat ontstaan het uit die tragedie van September 11. Ek is dankbaar dat Amerikaners van verskeie gelowe saam kan staan as ‘n verenigde nasie. Ek bid hierdie eenheid bly lank nadat ons droefheid bedaar het.

Maar die eenheid van godsdienste wat ons op die punt staan om te beleef, sal iets heel anders insluit. Wat ek voorspel, word bevat in Jesus se profesie: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?” (Matthéüs 7:22).

Amper alle godsdienste doen uitdrywings. En sekere kerke maak daarop aanspraak dat hulle groot suksesse kry in die uitdrywing van duiwels. Maar talle sodanige kerke doen hulle uitdrywings, leerstellinge en goeie werke in ‘n ander Jesus se naam. Net soos Christus daarop wys, sal hierdie mense by die oordeel daarop aanspraak maak, “Here, ons het al hierdie dinge in u Naam gedoen. Ons is Jesus-mense.” Maar die Here sal antwoord, “En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matthéüs 7:23).

Jesus sal vir hulle sê, “Ek ken julle nie. En julle ken My sekerlik nie. Ek was die lewende Seun van God, maar julle het vir almal vertel Ek was net ‘n mens. Julle het probeer om die krag van my evangelie weg te neem. Julle het die verkeerde Jesus gehad. Gaan nou weg van My af. Julle het geen deel in my koninkryk nie.”

Paulus waarsku ons om nie vervreemd te word van die “opregtheid teenoor Christus” nie (2 Korinthiërs 11:3). Die Griekse woord vir opregtheid in hierdie vers beteken eenvoud, eksklusiwiteit. Met ander woorde, “Christus is nie ‘n komplekse entiteit nie. Die waarheid oor Hom is baie eenvoudig: Jesus is God. Hy is goddelik, gebore uit ‘n maagd, gekruisig en opgewek uit die dood. Maar ek is bang julle word vervreemd van hierdie, enkele, eksklusiewe waarheid.” “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Korinthiërs 11:3).

Paulus waarsku oor bedienaars wat ‘n ander Jesus verkondig: “Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:4). Paulus het in wese vir die Korinthiërs gesê, “Julle luister na ‘n ander evangelie, nie die evangelie van Christus nie. Julle hoor van ‘n ander Jesus, nie die een wat julle gered het nie. En ek is bevrees julle gaan besoedel word deur hierdie ander Jesus, wat hoegenaamd nie die ware Christus is nie.

“Julle weet dit nie, maar julle word weggelei van die goddelikheid van Christus af. En ek kan nie glo julle verdra dit nie. Julle verdra hierdie leraars wat julle besoedel. Julle toets nie eers wat hulle sê om te sien of dit Skriftuurlik is nie. Op hierdie oomblik, verloor julle jul onderskeiding. Julle sit onder ‘n demoniese evangelie met ‘n ander Jesus wat verheerlik word. En julle weet nie waarheen dit julle lei nie.”

‘n Groot vervolging is aan die kom vir die toegewyde oorblyfsel van heiliges.

Satan se ekumeniese unie van kerke sal ‘n groot vervolging teweegbring. En die unie self sal die belangrikste vervolgende mag wees. Tans voer die Russiese Ortodokse Kerk druk uit op die regering om alle evangeliese kerke te sluit in daardie land. Hulle wil evangeliese Christendom heeltemal uit hulle midde uitroei.

Hier in Amerika sien ons die begin van dieselfde soort druk. ‘n Video-opname van ‘n netwerk TV onderhoud met ‘n welbekende evangelis is aan my gegee. Die persoon wat die onderhoud gevoer het, het die bedienaar prontuit gevra: “Sal Moslems gered word? En sal Jode gered word as hulle nie in Jesus glo nie?”

Duidelik was die evangelis in ‘n hoek gedryf. Hy het geweet as hy geantwoord het met Petrus se stelling, “Daar is geen ander Naam waardeur ons gered kan word nie, behalwe Jesus Christus, die Seun van God,” sou hy verag geword het. Die pers sou hom gekruisig het.

In plaas daarvan, was die evangelis geloof vir sy antwoord: “Moslems het Jesus lief. En Jode het die Gees van Jesus in hulle. Ja, beide groepe sal gered word.” Ek kon nie glo wat ek hoor wat hierdie toegewyde Christen leier gesê het nie.

Dit is onmoontlik om aanvaar te word deur die wêreld as jy standpunt inneem vir die goddelikheid van Christus. Jy sal vermy en verwerp word en ‘n teiken van bespotting gemaak word. Aan die ander kant, enige bedienaar wat deur die wêreld en deur enige ander godsdiens geprys word, het Christus se evangelie in gedrang gebring. So ‘n persoon preek ‘n ander Jesus.

Ek glo die hele wêreld sal dit die bepalende vraag maak in die dae wat voorlê: “Glo jy in die eksklusiwiteit van Jesus Christus? Gaan mense hel toe, omdat hulle nie glo dat Hy die enigste weg na verlossing is nie?” Ons sal hieroor gekonfronteer word deur ongelowige vriende, medewerkers en potensiële werkgewers. Hulle mag dit dalk nie in sulke letterlike terme vra nie, maar die vraag sal nietemin bly. En as ons ‘n standpunt inneem en antwoord, “Ja, ek glo Jesus alleen kan red,” sal ons as godsdienstige dwepers gesien word. Ons sal bespot en vervolg word, omdat ons polities inkorrek en onverdraagsaam is.

As evangeliese Christene, is ons hier by Time Square Church nie anti-Semities, anti-Islam of anti-enigeen nie. Ons glo God het die hele wêreld lief. Hy het Jode, Moslems, homoseksuele en ateïste lief. Maar as Christene, is ons verplig om oor geloof te verskil met elkeen van hierdie groepe, omdat ons op die Bybel staan as God se Woord.

Jy mag dink sulke vervolging sal nie kom tot in die verre toekoms nie. Maar op hierdie oomblik, is verskeie ekumeniese groepe besig om ‘n teologiese verklaring op te stel vir die een-wêreld kerk unie. En hulle hanteer wat hulle noem “die Jesus kwessie.”

Reeds het die Europese Unie van nasies wette opgestel waarin enige kritiek oor hul bedrywighede verbied word. Binnekort, sal niemand in staat wees om die unie in die openbaar te bevraagteken nie. Ek glo hierdie soort klimaat sal aanleiding gee tot die een-wêreld kerk. Die Europese Unie se wette is nou net een stap weg van die verbod op “godsdienstige dwepery” en om te proselitiseer in die naam van enige godsdiens.

Na my mening, is dit alles deel van Satan se toorn teen die heilige saad van Christus op aarde. Hy voer oorlog deur menigtes kwaad te maak vir Christene, ongeag hulle geloof. Meer en meer sien ons die duiwel massas mobiliseer om enigeen wat glo Jesus alleen het die mag om te red, te konfronteer. Skielik sal almal wat ons voorheen geïgnoreer het, prontuit vir ons vra, “Glo jy Jesus is die enigste weg na die hemel? Ek is ‘n goeie persoon, maar ek glo in niks nie. Sê jy vir my ek gaan hel toe, omdat ek nie glo jou Jesus is God nie?”

Om ‘n standpunt in te neem, mag ons ons werk, ons loopbane en ons vriendskappe kos. In sommige lande kos dit reeds Christene hulle lewens. Jesus is egter ons voorbeeld van hoe om te reageer. Toe die hoëpriester gevra het, “Is U die Christus, die Seun van die geseënde God?” het Jesus sonder aarseling geantwoord, “Ek is” (Markus 14:61-62).

Binnekort sal die hele wêreld vir ons vra om ‘n ander Jesus te aanvaar. Hulle sal druk op ons uitoefen om ons geloof in Jesus as Verlosser en Here eenkant toe te skuif. Hulle sal wil hê ons moet sy maagdelike geboorte, sy bonatuurlike krag, sy offerdood, sy opstanding en sy wederkoms ontken. As sy volgelinge, weet ons egter hierdie is die waarhede waarvan die ewigheid afhang. En ons moet gewillig wees om daarvoor te sterf.

Ek het reeds besluit hoe ek gaan antwoord. Aan enigeen wat hierdie vrae vra, sal ek met liefde en deernis verklaar: “Jy het die reg om te glo volgens jou keuse. Of, jy het die reg om nie te glo nie. Jy kan enige god aanbid, of jy kan niks aanbid nie. Ek sal nie inmeng met enige pad wat jy wil volg nie. Maar ek het ook die reg om te glo volgens my keuse. En ek glo daar is geen ander naam onder die hemel waardeur ons gered kan word as Jesus Christus nie. My God het almal lief. En die kruis van Christus is bewys van daardie liefde.”

Die Oorwinnaar in hierdie oorlog is reeds vooraf bepaal.

Die boek Daniël gee vir ons ‘n profetiese kyk oor hoe die huidige oorlog gaan eindig. Koning Nebukadnésar het ‘n droom gehad en Daniël het dit uitgelê:

“U, o koning, het ‘n gesig gehad – kyk, daar was ‘n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon...en sy voorkoms was vreeslik...Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei” (Daniël 2:31-33).

Die koning het gedroom van ‘n groot beeld in menslike vorm, helder, blink en vreeslik. Sy hele liggaam was gemaak van sterk metaal. Sy voete was egter van klei gemaak. Daniël het uitgewys dat hierdie beeld die koninkryke van die wêreld verteenwoordig het en die klei het die swakheid van die laaste wêreldmagte verteenwoordig. Hierdie koninkryk sou minder helder en verskriklik word soos die einde nader kom. Toe het Daniël voortgegaan:

“U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het....en dit het soos kaf geword van die dorsvloer in die somer, wat die wind wegneem...maar die klip wat die beel getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.” (Daniël 2:34-35).

Die klip of rots wat Daniël hier beskryf is niks anders as Jesus Christus nie. Hy is die Rots deur al die eeue heen. En Hy kom uit die hemel om alle aardse koninkryke te vernietig. Wanneer die wêreld dit sien gebeur, sal ons Here se goddelikheid onweerlegbaar wees. Elke knie sal voor Hom buig en elke tong bely dat Jesus Christus Here is.

Ons gaan nie die terroriste verslaan met ons wapens, bomme of missiele nie. Ons kan nie die wêreld deur menslike mag verlos van sulke gemene boosheid nie. God sê die koninkryk van sy Seun sal uiteindelik alle bose koninkryke verteer. Ja, daar sal geregtigheid wees. Maar dit sal kom vanaf die hemelse Vader daarbo.

Wat ‘n dag sal dit wees wanneer al die terroriste van die wêreld wakker word voor die oordeelstroon van Christus. Hulle sal dink, “Ons was die paradys aangebied vir ons opoffering. Ons was gesê ons sou pragtige vroue kry saam met weelderige kos en drank tot in alle ewigheid.” Maar skielik sal hulle besef dat die Naam wat hulle heeltemal probeer uitwis het, nou voor hulle staan as hulle Regter.

My boodskap aan jou kom neer op die volgende enkele vers: “Jesus antwoord hom: Ek is  die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Jesus se stelling hier is heeltemal eksklusief. Geen Moslem, geen Hindu, geen Jood, Geen Heiden, niemand kan na die Vader kom op enige ander manier as deur Christus nie.

Net soos Jesus vir sy twaalf dissipels gevra het, vra Hy vir ons vandag: “Wie sê die mense is Ek?” (Markus 8:27). Die dissipels het geantwoord, “Johannes die Doper, en ander; Elia, en ander: Een van die profete” (Markus 8:28). Maar Jesus se ware vraag aan sy volgelinge het net daarna gekom: “Maar Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?” (Markus 8:29).

Ons antwoord moet dieselfde wees as Petrus s’n: “U is die Christus” (Markus 8:29). Mag dit ons belydenis voor die hele wêreld wees, nou en vir ewig.