DIE EERSTE WERK VAN DIE HEILIGE GEES

David Wilkerson (1931-2011)

Die profeet Jesaja profeteer wat gebeur wanneer die Heilige Gees op ‘n volk val. “Totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn ‘n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir ‘n bos gereken” (Jesaja 32:15). Hy sê in wese, “Wanneer die Heilige Gees kom, word dit wat eens ‘n dorre woestyn was ‘n oesland. ‘n Onvrugbare stuk grond loop skielik oor met vrugte en daardie vrugteboord sal groei tot ‘n bos; jy sal kan pluk van daardie bos jaar na jaar en voortdurend toeneem in jou vrugbaarheid.”

Wanneer die Heilige Gees kom, is sy eerste werk om sy kerk te reinig. Dit is wat gebeur het by Pinkster. Toe Petrus begin preek het met die Gees se salwing, was die mense diep getref en hulle het uitgeroep, “Wat moet ons doen?” (Handelinge 2:37). Petrus se antwoord was, “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes” (Handelinge 2:38). Duisende het daardie dag tot bekering in Christus gekom omdat hulle hul sondes erken het en vryheid wou hê.

Toe die Heilige Gees begin het om te deel met dinge in die kerk van Jesus Christus, het Hy liefdevol met elke individu gehandel en hulle van sonde oortuig van alle afgode, alle mate van self wat homself teen die kennis van God verhef het.

Jesaja gaan verder, “En die reg woon in die woestyn, en die geregtigheid hou verblyf in die vrugteboord” (Jesaja 32:16). Jesaja praat nie van ‘n eenmalige uitstorting van die Gees, wat mense aan mag dink as ‘n “herlewing” nie. Nee, hy beskryf iets wat blywende verandering bring.

“En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid” (32:17-18). Die Heilige Gees is die administrateur van die vrede van Christus – Hy deel vrede uit – en daar kan geen vrede wees sonder geregtigheid nie.

Ek moedig jou aan vandag om te bid vir meer van die Heilige Gees in jou lewe. Bid dat Hy jou siel in beroering sal bring en jou sal nader trek na jou binnekamer van gebed. Hy sal vir jou stille rus en versekering gee dat Hy jou sal deurdra, maak nie saak wat kom nie.